Vreemde Wierook

David Wilkerson

Ek wil praat oor ‘n verskriklike gruwel in die huis van God waarmee nie afgereken word nie. Ek het die geblaas van God se toorn teen hierdie sonde in my eie lewe gevoel. Die Heilige Gees het my tot in die dieptes van hierdie verskriklik ding geneem en dit aan my geopenbaar – en my geroep om daaroor te preek!

Dit het te doen met die ander kant van gebed! Die donker, goddelose, sondige kant! Dit is ‘n gruwelike soort gebed! Gebed uit die hart en lippe van ongewyde, onheilige Christene.

Dawid het gesê, “Luister tog na My gebed met onbedrieglike lippe...hom as skuldige...sy gebed sonde...” (Psalm 17:1 en 109:7)

God het sy volk Israel gewaarsku, “En as julle hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen...” (Jesaja 1:15-16).

God kon dit glad nie duideliker gemaak het nie; dit is nie nodig vir nog meer gebed nie – maar vir heilige gebed! Wat ‘n vreesagtige profesie is dit – God se kinders sprei hulle hande uit met gebed en smeking in groot en toenemde getalle, maar God luister nie! Dit is omdat daar vir ons gesê is dat niemand kan opgaan na die heilige berg van God behalwe diegene wat rein hande en suiwer harte het nie. Hierdie smekende menigtes het onrein hande en goddelose harte gehad. God het gesê, “Ek verdra...nie...Ek is moeg om dit te dra” (Jesaja 1:13-14). “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel” (Spreuke 28:9).

Om owerspelige, hoererende, kompromiemakende Christene op te roep tot gebed, is om hulle in ‘n sonde teen God te lei wat erger is as al die ander booshede in hulle lewens gekombineerd. Ons beter by die waskom uitkom voor ons die goue altaar van wierook nader. Om gebed aan God te bied met onrein lippe en deur besoedelde hande op te hef, kan Sy toorn laat neerdaal en verskriklike oordele laat gebeur.

God se Woord vergelyk gebed met wierook – ‘n geur wat opgaan voor God na die troon. Dawid het gebid, “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer...” (Psalm 141:2).

Johannes het alle twyfel daaroor weggeneem: “En toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twinig oudelinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebed van die heiliges is...” (Openbaring 5:8). Ek glo hierdie wierook sluit al die gebede, al die lofprysing van God se kinders in.

I. Die bied van besoedelde gebede aan ‘n heilige God is ‘n onuitspreeklike gruwel in die hemele!

Nie ‘n enkele verdorwe gebed val onskuldig op die grond nie! Elke gebed van onrein lippe van ‘n Christen word versamel in ‘n wierookbak van ‘n engel – en eendag moet hulle die verterende vuur van ‘n heilige God deurstaan.

Dit is ‘n toneel in Openbaring 8 – so verstommend, so ontsagwekkend, dat ek dit nie kan begryp nie! “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee. En ’n ander engel het gekom en met ’n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God. En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing. En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas. En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ’n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand” (Openbaring 8:1-7).

In Openbaring 5 beskryf Johannes die donderende, jubelende stemme van die lewende skepsels, die ouderlinge, en tienduisende engele – duisende der duisende van hulle sing almal met ‘n luide stem, “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.”

Wat ‘n luide, heerlike toneel soos elke skepsel in die hemel hulle stemme verhef het met konserte van lof. “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier-en-twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid” (Openbaring 5:13-14).

In Openbaring 6 hoor ons ook die luide geroep van die martelare onder die altaar, “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” (Openbaring 6:9-10).

In Openbaring 8 is die hele hemel stil! Vir amper ‘n halfuur lank kniel die ouderlinge in stille verwondering. Die lewende skepsels, die gérubs, die serafs, is almal stil en sprakeloos. Die martelare is stil verwonderd. Engele kore sing nie; die harpe is eenkant neergesit; en daar is nie ‘n geluid in die hemel nie. Alles is stil! Waarom? Dit is omdat die sewende seël gebreek is en hulle het die skrikwekkende oordele geskryf gesien op die sewende dokument. Sewe engele met sewe basuine staan gereed om dood, verwoesting en vurige oordele op die aarde neer te werp.

Hierdie onbeskryflike stilte het iets te doen met gebed! Dit het te doen met wierook. Die tyd het aangebreek vir ‘n heilige God om elke gebed van Sy kinders na sy altaar te bring vir regverdige oordeel. Hy gaan Sy verterende vuur onder die wierook plaas om die geur te toets! Sal dit ‘n lieflike geur wees – of ‘n stank in Sy neus? “En ’n ander engel het gekom en met ’n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê” (Openbaring 8:3).

Daar word twee soorte wierook genoem in God se Woord. Een is rein – die ander word vreemd genoem. God het beveel dat slegs rein wierook aan Hom geoffer moet word op die goue altaar. “En jy moet dit met suiwer goud oortrek... Sit dit dan voor die voorhangsel wat voor die ark van die Getuienis is, voor die versoendeksel wat oor die Getuienis is, waar Ek met jou sal saamkom. En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek; elke môre as hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek. En as Aäron teen die aand die lampe opsteek, moet hy dit aan die brand steek as ‘n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die HERE in julle geslagte. Julle mag daarop geen vreemde reukwerk of brandoffer of spysoffer bring nie. Julle mag ook geen drankoffer daarop uitgiet nie” (Exodus 30:3-9).

Jy sal geen vreemde gebede op my altaar offer nie! Daar was ‘n doodstraf op almal wat vreemde wierook tot God geoffer het. In die Ou Testament, het God vir ons Sy hart probeer wys teen verdorwe gebed. Hy wou vir ons wys hoe ernstig hierdie saak van verdorwe gebed in Sy oë is. Dit word duidelik gesien op die manier waarop God afgereken het met die twee seuns van Aäron. “En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE. Toe sê Moses vir Aäron: Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik. Maar Aäron het stilgebly” (Levitikus 10:1-3).

Daar, voor die altaar van wierook, het die twee seuns van Aäron gelê. Twee jong priesters wat gewaag het om God te nader om wierook met besoedelde hande en harte te offer. Hulle word uit die voorste deel van die heiligdom uitgesleep. Aäron moes geween het! Hoe skrikwekkend! Watter soort God is dit? Biddende mans doodgemaak by die altaar.

Moses bring plegtig die Woord, “God sê – diegene wat My nader, moet My heiligheid eerbiedig! Ek sal nie toelaat dat dit iets lighartigs onder my volk is nie!” Mag God ons sien wat ‘n heilige lewe-en-dood saak gebed is.

Die woord vreemd beteken, om ‘n owerspeler te wees, om ‘n vreemdeling of buitestander te wees. Dit was wat hulle geword het. Hulle het hoereerders en afgodedienaars, sowel as wederstrewig en owerspelig van hart geword. Hulle was priesters wat vreemdelinge van God geword het weens hoogmoed en sonde wat nie laat staan is nie. Dit is wat jy is en wat jy geword het, wat jou gebed maak wat dit is: heilig of vreemd! Sonde wat nie laat staan is nie, word ‘n vesting van Satan; en dit besoedel alles wat jy na God bring.

Watter vreemde wierook stroom uit die lippe van baie kompromie-makende dienaars van die Here vandag. Baie beraad wederstrewigheid. Baie het die vrees van God verloor. Hulle het geen visie van die heiligheid van God nie. ‘n Heilige man van God keer mense weg van sonde; ‘n verdorwe bedienaar veroorsaak dat baie struikel. “My verbond met hom was die lewe en die vrede; en Ek het dié aan hom gegee tot vrees; en hy het My gevrees en vir my Naam gebewe. Betroubare regsleer was in sy mond, en onreg is op sy lippe nie gevind nie; in vrede en opregtheid het hy met My gewandel, en baie mense het hy van ongeregtigheid teruggebring. Want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ’n boodskapper van die HERE van die leërskare” (Maleági 2:5-7).

God sonder egbrekers uit as diegene wat Hy nie langer hoor nie. Hulle wierook is vreemd; hulle gebede en trane is ‘n gruwel. God se hart is siek van dit alles. “En boonop doen julle dít: julle bedek die altaar van die HERE met trane, met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aanneem as welgevallig nie. En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond” (Maleági 2:13-4).

God sonder ook diegene uit wat sonde begin oorsien het. Dit het te doen met ‘n permissiewe gesindheid teenoor egskeiding. Dit het te doen daarmee om vir wêreldsgesinde Christene te sê dat God steeds ‘n behae in hulle het. Dit het te doen met bedienaars wat weier om vir God se kinders die verskil tussen die heilige en die onheilige te wys. “Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat ’n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie. JULLE vermoei die HERE met julle woorde. Nogtans vra julle: Waarmee vermoei ons Hom? Deurdat julle sê: Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die HERE, en in hulle het Hy ’n behae; of waar is anders die God van die reg?” (Maleági 2:16-17).

Die profeet Esegiël was ‘n visie gegee van die ouderlinge van Israel wat wierook offer – selfs deur hulle gedagtes en verbeeldings het hulle heeltemal verdorwe geraak deur sonde. Leiers, bedienaars, biddend – terwyl hulle harte vol afgodery en goddeloosheid was, “Daarop bring Hy my by die ingang van die voorhof. Ek kyk toe — en daar was ’n gat in die muur. En Hy sê vir my: Mensekind, breek tog deur die muur heen. En ek het deur die muur heen gebreek, en kyk, daar was ’n deur. Daarop sê Hy vir my: Gaan in, en kyk na die growwe gruwels wat hulle hier doen. Ek gaan toe in en kyk — en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was. En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan, en Jaäsánja, die seun van Safan, onder hulle; en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van reukwerk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink: Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat” (Eségiël 8:7-12).

Hulle het gedink, “God sien ons sonde oor. Solank ons bid, wierook offer, is God tevrede.” Dit is nie toevallig dat die Woord verklaar, “Jaäsánja...onder hulle...” Jaäsánja beteken “God hoor!” Watter arrogansie veroorsaak sonde. Hulle het werklik geglo dat God hulle gebed verhoor het, hoewel hulle oorlaai was met sonde.

God het Sy kinders beskuldig van besoedelde gebede voor afgode van goud, silwer en materialisme. Deur die profeet Eségiël, roep God uit teen heilige wierook brand voor die selfgesentreerde gode van hierdie eeu. Dit is ‘n uitroep teen diegene wat gebed gebruik om selfsugtige doelwitte te bereik – wat gebed gebruik om hulleself te verryk – wat slegs bid om iets uit God te kry. “Daarby het jy jou versiersels uit my goud en my silwer geneem wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van manne gemaak en daarmee gehoereer. En jy het jou veelkleurige klere geneem en dié beelde omhul; jy het ook my olie en my reukwerk voor hulle neergesit. En my brood wat Ek jou gegee het – fynmeel en olie en heuning waarmee Ek jou gespysig het – dit het jy voor hulle neergesit as ‘n lieflike reuk; ja, so was dit, spreek die Here HERE” (Esegiël 16:17-19).

“Jy offer my wierook voor hierdie afgode,” het God gesê, “En jy het gesit op ’n pragtige bed waarvoor ’n tafel reggemaak is en waar jy my reukwerk en my olie op neergesit het” (Esegiël 23:41).

II. Heilige wierook geoffer deur heilige hande het die priester teen oordeel beskerm.

“En die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie” (Levitikus 16:12-13).

Die versoendeksel verteenwoordig die teenwoordigheid van Christus. As die priester suiwer wierook, suiwer mantels gehad het, kon hy met vrymoedigheid na die troon van genade gaan om barmhartigheid te verkry. Hy sou nie sterf nie, maar sou die heerlikheid van Sy teenwoordigheid sien.

Ons praat so onverskillig van Pappa God; ons praat so arrogant daaroor om ons regte te verkry; ons probeer selfs om God deur gebed te manipuleer. Mag God vandag diegene genadig wees wat geen ontsag, geen vrees vir die versoendeksel het nie. Jy sê, God handel nie meer so ernstig met Sy kinders nie. Niemand sterf onder genade nie. Onder genade, lei vreemde wierook tot “twee maal gestorwe, ontworteld!”

Johannes het eens met sy kop op die boesem van Jesus gelê. Johannes het Hom geken in Sy menslikheid maar nie in Sy heiligheid nie. Op die eiland Patmos het hy ‘n visioen van Christus gehad, nou verheerlik, en dit was ‘n verpletterende visioen. Christus het nou oë wat vlam soos vuur – voete soos blink koper wat gloei in ‘n oond – en Sy stem was soos die geluid van baie waters. En Johannes het by Sy voete neergeval soos ‘n dooie man. Jy kan nie ligsinnig en lighoofdig wees wanneer jy ‘n visioen van Sy heiligheid het nie.

God het besluit om al die altare en wierook offers van diegene wat weier om in heiligheid voor Hom te wandel, te oordeel, neer te werp en te vernietig. Die vloek van die Mosaïese verbond het ingesluit ‘n dreigement dat God die altare sou verloën en die wierook van die Israeliete sou vernietig as hulle in ongehoorsaamheid wandel. “As julle ook hierom nie na My luister nie, maar julle teen My versit, sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ék sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes. En julle sal die vlees van julle seuns eet, en die vlees van julle dogters sal julle eet. En Ek sal julle hoogtes verwoes en julle sonpilare verdelg en julle lyke op die lyke van julle drekgode gooi; en my siel sal ’n afsku van julle hê. En Ek sal julle stede puinhope maak en julle heiligdomme verwoes en julle lieflike geur nie ruik nie. Ja, Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan” (Levitikus 26:27-32).

Kyk nou weer na daardie gedempte toneel voor die altaar van God in Openbaring 8. Ek hoop jy kan sien ek wat sien! Ek sien twee soorte wierook. Daar is die baie wierook wat aan die engel gegee is. Vir my verteenwoordig dit die besmette gebede van Laodicensiese Christene. Daar is ook die wierook wat reeds op die altaar brand – die rein, heilige wierook van die heiliges. Die vuur op daardie altaar het nog nooit uitgebrand nie – daardie rein, heilige gebede is voortdurend ‘n lieflike geur vir die Here.

Die engel was aangesê om hierdie baie wierook, hierdie baie gebede, met die wierook wat reeds op die altaar is te meng. Maar toe God se verterende vuur dit aangeraak het, het iets gebeur.

Vir eeue lank, het die rook van die wierook van heilige gelowiges die versoendeksel omhul. Dit was aanvaar; dit was ‘n skild teen oordeel. Maar kyk nou na wat gebeur; die engel gooi skielik die wierookbak weg uit God se teenwoordigheid – tot op die aarde – en verskriklike oordele breek uit.

Verdorwe gebede beskerm nie teen oordeel nie – dit veroorsaak oordeel! “En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing. En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereedgemaak om te blaas. En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand” (Opebaring 8:5-7).

Dit is waar dat God oordeel stuur om die gebede te wreek van die regverdiges en die martelare. Maar die Woord openbaar ook dat hardkoppige en onbekeerde harte vir hulle toorn opgaar vir die dag van oordeel. “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ’n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God” (Romeine 2:4-5).

Die gebede van die selfsugtige ambisieuse mense word opgegaar as soveel vreemde wierook; en eendag sal ons heilige God dit alles uitstort op hulle hoofde met angs, toorn en grimmigheid. “Maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is — grimmigheid en toorn; verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek” (Romeine 2:8-9).

Dink aan die verskriklike effek van verdorwe gebede. Nie net hoor God nie hierdie soort gebede nie – nie net is Hy moeg daarvoor nie – nie net is dit vir Hom ‘n gruwel nie – dit bring God se wee-wee-wee oor hulle wat op die aarde lewe. Hulle open die putte van die hel!

Ek hoor dit gesê word, “As Christene almal sal bid – sal God hierdie land van oordeel spaar.” Ons vergeet om by te voeg, “...as hulle hul bekeer en hulle sonde bely en laat staan!” Maar God hoor en verhoor slegs heilige gebede uit heilige harte. Laat miljoene kerkgangers bid! Laat menigtes louwarm Christene bid en hulle hande uitstrek en roep om genade en seën. God sal dit alles by Sy mond uitspuug.

Besmette gebede van sondige lippe beskerm nie teen oordeel nie. Dit veroorsaak oordeel! “Verder het die HERE vir my gesê: Daar is ’n sameswering ontdek onder die manne van Juda en onder die inwoners van Jerusalem: hulle het teruggekeer na die ongeregtighede van hulle voorvaders wat geweier het om na my woorde te luister, en agter ander gode aan geloop om dié te dien. Die huis van Israel en die huis van Juda het my verbond verbreek wat Ek met hulle vaders gesluit het. Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek bring ’n onheil oor hulle, waaruit hulle nie sal kan uitkom nie; dan sal hulle na My roep, maar Ek sal na hulle nie luister nie” (Jeremia 11:9-11).

In Exodus 37:29 lees ons dat die heilige salfolie en die suiwer wierook die werk van ‘n apteker was. In Klaagliedere 10:1 word dit gesê, “Dooie vlieë laat die salf van die apteker stink...” In Hebreërs, is ‘n apteker een wat olie en wierook meng. Die engel van Openbaring 8 is God se apteker, die een wat die wierook meng. Maar hy sal nie die vreemde, stinkende wierook meng met die dooie vlieë nie.

Daar was tye in my wandel met God – en ek sê dit met skaamte – toe daar dooie vlieë in my wierook was. My gebed was ‘n stank in Sy neusgate, omdat ‘n boesemsonde aan my vasgeklou het. Ek het ‘n oseaan trane gestort oor die sonde, maar ek wou dit nie regtig laat staan nie.

Bemoedig jy ander om te bid terwyl jy vuil vlieë in jou eie wierook het? Glo jy God gaan jou gebede aanvaar wanneer die dooie vlieë van boesemsonde, wat jy weier om te laat staan, dit laat stink voor Sy troon? Wees eerlik! Is daar ‘n dooie vlieg in jou wierook? Is dit sonde wat jou gebedslewe verhinder?

God sal sekerlik die gebed en uitroep van ‘n berouvolle hart hoor. Hy hoor selfs die sondaars se gebed van verootmoediging. Maar Hy sê Sy ore is geslote vir die verdorwe, besmette gebede van ongehoorsame en wederstrewige Christene. “Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep” (Psalm 34:16).

Maar luister na wat God vir Sy kinders in Israel gesê het wat gruwels gepleeg het: “En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Is dit dan vir die huis van Juda te gering om die gruwels te doen wat hulle hier bedrywe, dat hulle die land met geweld gevul en My nog meer geterg het? En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou! Daarom sal Ék ook in grimmigheid handel; my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; en al roep hulle hardop voor my ore, nogtans sal Ek na hulle nie luister nie” (Esegiël 8:17-18).

III. Die Apostels het geprofeteer dat in die laaste dae, daar ‘n skeiding sal wees in die kerk aangaande gebed!

Die apostels van ons Here Jesus waarsku duidelik dat sommige hulleself sou oorgee aan begeertes en wêreldsheid en hulle gebede sou ‘n bespotting word. Maar ander sou opstaan, hulleself in die liefde van Jesus bewaar – hulleself opbou in heilige geloof – bid in die Heilige Gees! “Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel. Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie. Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees biden julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (Judas 17-21).

Die streep is duidelik getrek. Diegene wat nie die Heilige Gees het nie, verslaaf is aan begeertes en wêrelds is, sal voortgaan om die Here met vreemde wierook te terg. God waarsku hulle sal voortgaan om te bid uit gewoonte. Dit sal leë woorde wees, leeg en kragteloos. Hulle sal gestroop word van alle onderskeiding. God het deur Jesaja gesê, “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ’n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil” (Jesaja 29:13-14).

Jesaja sê hulle gebed is ‘n bespotting omdat hulle lieg. Hulle sondes getuig teen hulle. Hulle bid leuens – en dit is ‘n bespotting! “Maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie. Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede — ons ken hulle: die afval en verloëning van die HERE en afwyking van agter onse God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart” (Jesaja 59:2,3,12,13).

Ons het ‘n heilige middelaar, Christus ons Here. Hy doen voorbidding vir Sy kerk! Hy het die Heilige Gees gestuur om ‘n volk te soek wat in die allerheiligste sal inkom met rein wierook! Die Heilige Gees weet hoe om te bid volgens die wil en gedagtes van God. Ek weet nie hoe om te bid nie, maar as ek na die Gees se lig kom, as ek Hom toelaat om my te deursoek, my te ondersoek, my te oortuig van sonde, my te bestraf, as ek my onderwerp aan Sy leierskap en my sondes laat staan – sal ek bid in die Heilige Gees volgens die volmaakte wil van God! “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree” (Romeine 8:26-27).

Wat hoor ek die Gees vir my en vir die kerk sê, is, “Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jakobus 4:8).