‘n Goedkoop Afslag Evangelie

Gee Rekenskap van Jou Bestuurderskap
David Wilkerson

“En Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was ‘n ryk man wat ‘n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis. En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie” (Lukas 16:1–2).

Jesus het gepraat van ‘n sekere ryk man wat ‘n berig gehoor het dat een van Sy bestuurders sy besittings verkwis het. Daarom het Hy hom ingeroep om rekenskap van homself te gee. Hy het gesê, “Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.”

Hierdie gelykenis is baie belangrik vir die liggaam van Christus huidiglik. Dit is die tragiese storie van ‘n bedienaar van God wat sy krag en salwing verloor en op die ou end ‘n afslag evangelie aanbied. Die ryk man van hierdie gelykenis is Christus self, in wie al die rykdom van die heerlikheid woon. Die bestuurder wat besig is om gestroop te word van sy gesag, is iemand wat toevertrou is met die hantering van die Woord van God, maar wat skuldig bevind is daaraan dat hy sy Here se hulpbronne verkwis het.

Hierdie bestuurder was skuldig aan die verkwisting van sy Heer se besittings, ‘n aanklag wat teen menigtes van die hedendaagse bedienaars, Christen-werkers en gemeentelede gelê kan word. Watter verkwisting sien ons in God se koninkryk vandag!

1. God se uitverkore dienaars verkwis tyd, die kosbaarste hulpbron wat die hemel ooit toevertrou het aan die sorg van die mensdom.

God-gesalfde herders, leraars en evangeliste is net so skuldig as die plesiersoekende menigtes in die kerkbanke. Bestuurders van die evangelie behoort die tyd uit te koop en nie soveel daarvan verkwis op stokperdjies, sport, vermaak en televisie nie. Wys vir my ‘n man van God wat voor die TV-afgod sit, kosbare ure verspeel, sy siel en verstand pynig met die verdorwenheid van die hel – en ek sal vir jou ‘n onregverdige bestuurder wys vir wie God binnekort tot rekenskap sal roep en hom stroop van alle geestelike gesag.

Hierdie bestuurder het iemand geword wat versot was op homself. Hy het sy Meester se hulpbronne geneem en vir homself aangewend. ‘n Mens sou dink dat al die rykdom syne alleen was, op die manier wat hy rondgegaan het en hulpbronne verkwis en vrye loop gegee het aan sy luste.

Ons sien die jammerlike spektakel in die kerk vandag van Christene wat rondhardloop en goddelike hulpbronne verkwis sonder die wete dat God van hulle rekenskap gaan eis oor die verkwisting.

2. Krag, nog een van Christus se heerlike hulpbronne, word ook dwaas en selfsugtig verkwis.

Die krag-makelaars in God se huis is diegene wat hulle Meester se krag verkwis om hulleself te bekragtig. Hulle wil bekend en gerespekteerd wees as profete, as mense van die uur, opgekyk word na as magtige krygers van geloof, aksie en krag. Hulle is lief vir die applous van mense, die helde-verering; hulle hou daarvan om rond te loop en daardie selfgoedkeurende woorde te hoor, “Kyk! Daar is hy! Daar loop daardie magtige man van geloof, aksie en krag!” Paulus het sulke verering van bedienaars verwerp. Ons moet eer gee aan wie eer toekom, en dit is Christus alleen.

Gelowiges wat nie onderskei nie, maak klein godjies van selfbekroonde profete, genesers en leraars van nuwe openbarings.

Verkwiste krag besoedel die bediening en die huis van God. Oppervlakkige Christene word aangetrek deur krag soos bye aangetrek word na heuning. En dit is ‘n skrikwekkende beskuldiging teen ‘n afvallige kerk om Christene te hoor sê, “Sjoe, het hy nie soveel krag nie!” – in plaas van te fluister in heilige eerbied, “Sjoe, is hy nie vol van Jesus nie! Is Christus nie so wonderlik geopenbaar in hom nie! Hy maak Jesus so werklik!”

Die ware bestuurder van die evangelie soek nie krag om te vertoon voor die oë van nuuskierige skares nie. Menigtes mag God se magtige genesende krag aanskou, soos toe Jesus die siekes genees het. Tog hoor jy Hom oor en oor sê, “Moenie vir iemand vertel nie.” God vertrou Sy grootste krag toe aan diegene wat hospitale binnegaan, wat na die strate, na privaat wonings en in die geheim, weg van alle goedkeurende oë en klappende hande gaan, om vestings neer te werp, demone te bind, gevangenes vry te laat, die siekes te genees en ‘n ware en onbekende bedienaar van Christus se genesende krag te wees. Die ware gawe van genesing word nie geopenbaar in ‘n windmakerige atmosfeer nie, maar word slegs geopenbaar wanneer dit gebruik word deur nederige dienaars wat totaal jaloers is vir die verheerliking van God alleen – soos Christus was.

‘n Enkele eenheid van God se heilige krag wat nie gebruik of toegeëien is vir die uitsluitlike verheerliking van Christus nie, is verkwis. Dit is ‘n onregverdige bestuurder wat op homself spandeer wat nie aan hom behoort nie. Hierdie mense maak egter steeds groot name vir hulleself deur die Here se heerlikheid en krag te steel om hulleself te groot te maak.

3. Geloof is nog ‘n hulpbron van Christus wat verkwis word deur Christene vandag.

Alle ware geloof kom van Christus af! Wanneer jy praat van die rykdom van God in Christus Jesus, moet jy geloof insluit. Ons word gered deur die geloof van Christus. Maar daardie kosbare geloof wat versigtig geïnvesteer moes wees, word verkwis op nietighede. Die helde van die elfde hoofstuk van Hebreërs het hulle geloof toegeëien en koninkryke oorwin, die bekke van leeus toegestop, die krag van die vuur uitgeblus, hulle dode teruggekry en het uiteindelik marteling, bespotting, slae, boeie en gevangenskap verdra.

Vandag, word Christus se geloof meer as dikwels verkwis op self! Eieprestasie, sukses, toename in goedere, aardse rykdom en eindelose voorspoed met volmaakte gesondheid en wolklose geluk! Self kanaliseer geloof om homself te verryk.

Waarom is dit so dat Christene in allerhande soorte geloof kan investeer in ‘n poging om voorspoedig en gelukkig te wees, maar kan nie geloof hê vir die redding van hulle huis en hulle bure nie? Waarom so min geloof gespandeer daarop om die heiligheid van Christus te ontvang? Waarom so min geloof om ‘n verlore wêreld te evangeliseer?

Een van hierdie dae, binnekort, gaan God ons met ons geestelike rûe teen die muur laat staan en maak dat ons rekenskap gee van die manier waarop ons Sy kosbare geloof hanteer het. Het ons dit op nietighede verkwis, asof geloof net bestaan om die lewe vir ons makliker te maak? Sal ons Here nie, met deurdringende oë, vir ons vra waarom ons nie Sy rykdom wyslik gebruik het nie? Wat van die tyd wat binnekort gaan aanbreek, wanneer demoniese legioene vrygelaat word op hierdie geslag, en die heersers van duisternis hulle onheilspellende koninkryk uitbrei, die vure van die hel en versoekings woed, die leërs van Satan teen ons opmars, en die spotters en folteraars en die antichriste opstaan om die kinders van God te teister? Sal God se volk, God se bestuurders, op die voorste linies wees en ‘n magtige strook van geloof vorm vir die verheerliking van Christus, of sal hulle voor die Regter staan om gestroop en uitgewerp te word oor verkwisting? Mag God ons help.

Die groot les

Die groot les in hierdie gelykenis gaan verder as die tragedie van ‘n kerk wat Christus se rykdom op eiebelange verkwis; dit gaan tot by die verdorwe denkwyses van Christen bestuurders wat gestroop is van goddelike gesag. Bestuurders van die evangelie wat tyd, geloof, krag en ander goddelike hulpbronne verkwis, sal uiteindelik hulle geestelike gesag in Christus verloor en sal losgelaat word om in hulle eie planne en skemas aan te pak. Hulle sal hulle salwing verloor en rondskarrel, ‘n evangelie uitdink wat hulle eiebelange bevorder.

“Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg” (Lukas 16:3).

Bestuurders wat hulle Meester se rykdom verkwis en hulle salwing verloor, sal uiteindelik heeltemal oorgegee word aan selfbehoud.

Die primêre belang is dan nie, “Wat kan ek vir my Here doen?” nie, maar, “Wat kan ek vir myself doen?” Dit sluit in gemeentelede sowel as bedienaars.

Ek het die Heilige Gees gevra waarom hierdie bestuurder hom nie bloot bekeer het en homself aan die genade van die Meester oorgegee het nie. Waarom het hy dadelik uitgegaan en begin om planne te maak en te konkel om homself en sy toekoms te beskerm? Die antwoord, glo ek, is dat hy te ver gegaan het en homself buite die bereik van verlossing geplaas het. Eiebelang het hom verhard – hy was oorgegee aan ‘n verdeelde hart. As jy dink selfgesentreerde predikers en gemeentelede is nooit buite bereik van verlossing nie, dan ken jy nie jou Bybel nie. So was daar Ananías en Saffíra; so was daar Alexander en Himenéüs wat Paulus oorgegee het aan die Satan sodat ander kan vrees; so was daar diegene in Romeine 1, wat van die geloof af weggeval het tot in die dieptes van ‘n onbetroubare verstand.

Ek sê vir jou, met ‘n bedroefde hart, dat daar tans in hierdie land gemeentelede, bedienaars en bedienings is waarmee God moed opgegee het. Hulle is diegene wat mislei is deur leuengeeste, nadat hulle keer op keer gewaarsku is deur die Heilige Gees en deur profete van God om hulle te bekeer en te verneder. Hulle het behep geraak met self: hulle het begin hoereer met hout en klippe, het bouers geword van tempels en monumente van eie prestasie; en hulle het ‘n lewe van gebrokenheid en nederigheid verwerp.  Hulle het die binnekamer laat staan vir hulle belange en die werke van hulle eie hande! Hulle het God se geld, God se geloof, God se tyd en God se krag roekeloos verkwis.

Van dwarsoor hierdie land hoor ek van biddende, geheiligde mense dieselfde ding wat ek by my hemelse Vader hoor. Diegene wat met God wandel, in die Gees lewe, voel instinktief dat God al die gruwels op die kansels, in predikers en in sommige gewilde bedienings ontdek het en dit verafsku.

Nie almal is verdorwe nie, dank God! Daar is ‘n groeiende oorblyfsel van bekerende heiliges en bedienings wat teruggekeer het na geregtigheid en gebed. Maar die ware liggaam van Christus moet bid vir goddelike wysheid om te onderskei wie gestroop is van geestelike gesag en leiding. Toenemende aantalle biddende Christene deel nou die ware smart van God oor al die kompromieë en mengery met die wêreld, en hulle harte roep uit dat God binnekort daarmee sal afreken. Ek glo bo alle twyfel, dat Hy op die punt is om presies dit te doen! As God Babel in een uur kan laat val, kan Hy sekerlik die gemors in Sy tempel binne ‘n oomblik skoonmaak.

Die meeste van die hedendaagse bestuurders wat deur God gestroop is van alle geestelike bruikbaarheid, is nie so wys soos die onregverdige bestuurder nie – hulle weet nie dat dit alles verby is nie. Hulle is nie bewus dat hulle gestroop is van hulle bestuurderskap nie. Maar jy kan agterkom dat dit verby is deur die mensgesentreerde planne en skemas wat hulle bekendstel. Die Here se belange is nie meer belangrik nie; die enigste ding wat nou vir hulle belangrik is, is hulle volgende projek. Hulle het een mensgesentreerde projek klaargemaak, net om nog een te begin, nog meer skouspelagtig as die vorige een.

My hart roep uit, “O, my geseënde Redder, wanneer sal God se kinders wakker word en begin om te onderskei dat al hierdie waansinnige spandering, bouery en wêreldsgesindheid ‘n onbeheerste verkwisting verteenwoordig deur Christene en bedienings wat gestroop is van die Heilige Gees en wat op die punt is om tot verantwoording geroep te word? Wanneer sal God se kinders ophou om sulke dwaasheid te ondersteun? Wanneer sal die ware liggaam van Christus wakker word en daarteen uitroep en sê, ‘Genoeg!’?”

Is daar geen profete van God oor in die land nie? Is daar geen herders met genoeg Heilige Gees onderskeiding en geestelike gesag meer oor om hierdie volk wakker te maak uit die gevaarlike verkwisting van ons Here se hulpbronne nie? Dit is jammer, maar waar, dat sommige van die heel bekendste nasionale bedienings vandag nie meer God se ware Woord kan hoor nie. Ek is nie hulle regter nie, maar deur hulle dade is dit duidelik dat sommige nie meer getugtig kan word nie, aangesien hulle verblind word deur hulle raadgewers, verblind word deur ambisie, verblind word deur die gode van sukses en mag.

Sommige van hulle sal nou nie eens ‘n profeet ontvang nie – hulle is so belangrik en magtig, so selfversekerd, so ryk, so invloedryk, so vas in hulle weë, so toegewyd aan hulle eie planne, drome en skemas – dat hulle nie meer kan hoor nie.

Hulle oë is gesluit; hulle ore is toe; en hulle weet nie dat die heerlikheid hulle verlaat het en Íkabod bokant hulle deure geskryf staan nie! So seker as wat die onregverdige bestuurder geval het, sal hulle ook val. God gaan hulle voorsiening afsny en sal ‘n ding so ontsagwekkend doen, dat die ore van almal wat dit hoor, sal tuit.

Ek roep biddende heiliges dwarsdeur hierdie land om te begin vas en bid vir ‘n reiniging binne-in God se huis en onder al die bedienaars en bedienings. Mag dit begin by my en die bediening wat aan my toevetrou is. Ek het daardie reiniging net soveel of selfs meer nodig as al die ander. Bid vir die heilige vuur van Sy heiligheid om vrees in al die kansels in te boesem. Bid dat God die bedienings sal red wat steeds gered kan word, dat God die hardnekkige wil van ego-gesentreerde mense sal verneder en verbreek, dat daar bekering en ‘n terugkeer na reinheid en eerlikheid sal wees. Bid dat hulle baie gou sal reageer. Sluit aan by ander biddende gelowiges en neem heerskappy en trek hierdie gruwels om. Geen verkwisting meer van die Here se hulpbronne nie! Geen samespanning meer met diegene wat ongeërg is oor die Here se belange – maar wat ander mense gebruik om hulle eiebelange te bevorder. Geen vertroue meer in diegene wat ‘n goedkoop, afslag evangelie aanbied nie!

God, gee vir ons ‘n aantal profete en herders en evangeliste, rein, afgesonder, gebroke, heeltemal oorgegee aan die heerlikheid van Jesus, wat kan uitvaar teen sonde en verdorwenheid en kan veroorsaak dat al die owerspelige, egskeidende, louwarm Christene in die huis van God bewe! Ek glo God se kinders roep uit na leiers wat voorbeelde van heiligheid kan wees en hulle kan lei tot ‘n dieper wandel met Christus. Ek dink die gemeente smag na God meer as talle op die kansel. Jong bedienaars vertel vir my hulle kan nie ouer manne van God kry na wie hulle kan opkyk as rolmodelle van heiligheid en reinheid nie. Die mense wil verder gaan in God – hulle wil vuur op die kansel en oortuiging van sonde in die kerkbanke hê. Hulle wil hê die Gees van God moet hulle kerk wakker maak en die verdorwenheid uitdryf. Ten minste, dit is wat ek hoor van diegene wat vir my skryf.

‘n Goedkoop, afslag evangelie van kompromie

Hierdie spandabelrige bestuurder het gesê, “Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang” (Lukas 16:4).

Hy het voortgegaan om sy Meester se skuldenaars te kontak en vir hulle afslag aan te bied. Die skuldenaar wat sy Meester se eenhonderd vate olie geskuld het, was gesê hy hoef slegs vyftig te betaal. Hy het nog ‘n goeie transaksie beklink vir ‘n skuldenaar wat meer as ‘n honderd sakke koring geskuld het. Hy was gesê hy hoef slegs tagtig sakke terug te betaal. Hy het wonderlike, afslag transaksies vir alle skuldenaars aangebied.

Wanneer die Heilige Gees ‘n mens of bedienaar verlaat, en self is in beheer, word allerhande soorte kompromieë aangebied aan skuldenaars. Dit is waarom ons deesdae so ‘n goedkoop, afslag evangelie hoor van so baie kansels af.

Nou kom ons by die hart van die boodskap van hierdie gelykenis. Hierdie gestroopte bestuurders gaan rond en beklink aanloklike transaksies met skuldenaars wat soek na ‘n goedkoop manier om te betaal. Wie wil die volle prys van algehele oorgawe betaal as daar ‘n aanbod is om die boek skoon te maak met ‘n afslag verlossing? Wie wil die lyding van Christus vol maak, wanneer jy kan vol maak op lekkernye? Waarom die dood, die Kruis, skande en verwerping verdra as jy bloot jou regte kan opeis en in die paradys kan insweef sonder pyn of opoffering? Staan in die ry, heiliges – dit is winskopie-evangelie-tyd!

Parkeer jouself voor jou TV, gooi jou siel en gedagtes toe met die gemors uit die put van die hel – gaan voort, geniet al die gure films, die R-en X-gegradeerde teaters – draf saam met die skare, drink rook, gaan na nagklubs, vertel vuil stories – skei, verneuk, hoereer – spandeer en koop en maak skuld – moenie bid nie, moenie vas nie, moenie ween nie, moenie oor laste, heiligheid en afsondering praat nie! Waarom? Omdat dit die dag is van ‘n goedkoop, afslag, pynlose, kragtelose, besoedelde evangelie! Dit word elke dag van die week aangebied op radio en televisie, tydens veldtogte en in kerke dwarsdeur die land.

“En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het...En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang” (Lukas 16:8,9).

Verstaan nou goed. God prys nie die bestuurder se bose planne nie, en Hy prys ook nie sy dade op sigself nie. Hy prys slegs die slim manier waarop die onregverdige bestuurder homself verdoem het. Die Heer het die manier waarop hy sy verdoemenis verseël het, geprys. Met ander woorde, “Jy het gedink dit was slim om afslag transaksies aan te bied. Maar wanneer dit alles in duie stort – en dit sal – sal jy en almal wat deel gehad het aan jou oneerlike aanbiedinge, teikens in Satan se woonplek wees.”

Wat God vir ons sê, is dat daar geen kortpaaie is nie, geen halfprys toewydings, geen maklike, pynlose paaie na die hemel is nie. Ons gaan die volle prys betaal; dit beteken om ons kruis op te neem, onsself te verloën en Hom te volg tot in die volheid en opstandingslewe. Op die Oordeelsdag sal al die gestroopte en kragtelose bestuurders voor Christus se oordeelstroon staan, en nie net in Sy vlammende oë moet kyk nie, maar ook in al die arme, verlore kinders van die koninkryk wat hulle mislei het met hulle gedeeltelike evangelie. Watter geskreeu sal gehoor word! Hulle sal dan hulle valse profete verwerp en uitroep, “Bedrog! Bedrieërs! Wrede herders! Seun van Íkabod! Uitvinder van leuens! Jy het ons met blindheid geslaan met jou halwe waarhede!”

Al waarop jy sommige manne van God en sekere bedieninge kan komplimenteer, is hulle verstandigheid en slimheid om vir hulleself en vir hulle volgelinge ‘n afslagprys wandel met Jesus te voorsien. En dit is baie slim, die manier die Skrif verdraai en verbuig word om dit so reg en goedgekeur deur God te laat klink. Dit het nou so ver gegaan dat baie willens en wetens kan sondig en nie veroordeel word nie. Hulle kan saam met afvallige Israel sê, “Ons is verlos! – om al hierdie gruwels te doen” (Jeremia 7:10). Leerstellinge van duiwels en leerstellinge van valse sekuriteit word gebied aan diegene wat kies om vleeslike, sensuele lewens te leef.

Die onregverdige bestuurder het gedink hy het sy toekoms verseker – maar dit was ‘n valse sekuriteit. Hy was steeds dieselfde, slinkse, bedrieglike, sensuele man wat hy nog altyd was; en die vriende waarmee hy saamgegaan het, was van dieselfde soort – almal van hulle verblind deur valse sekuriteit. Jy kan seker wees hy het ‘n hoë prys vir sy dwaasheid betaal. Wie kan twyfel dat die Meester die afslag transaksies, wat deur die onregverdige bestuurder aangebied is, verwerp het? Ek glo die Meester het die volle paaiement afgeëis.

God sê vir hierdie ryk, Laodicensiese kerk eeu, met so baie goed en wat so roem dat hulle niks nodig het nie – julle is in werklikheid ‘n ellendige volk, arm, miserabel, blind en naak. En totdat alle louwarmheid laat staan is, sal God dit en alles wat dit verteenwoordig uit Sy mond spuug. Daardie vreesvrystelling vind reeds plaas.

God, gee vir ons getroue bestuurders! Gee vir ons heiliges op die kansels en in die kerkbanke, wat sal terugkeer na die Here met hulle hele hart, die afgode afbreek, en met berou voor U teenwoordigheid sal neerval. En God, bring terug die evangelie van geregtigheid, van afsondering van die wêreld, van heilige gebooie van liefde – en wek ‘n skare van oorwinnaars op wat hulle lampe sal gereedmaak om die Bruidegom tegemoet te gaan. God, bring ons tot by die Kruis, by die dood van self, tot waar ons onsself dood ag vir sonde deur geloof, en opstanding in die realm van die ewige lewe in Christus.