Die Laodicensiese Leuen

David Wilkerson

Broers en susters – dit is die LOUWARM GESLAG. Jy hoef nie ‘n teoloog te wees om te begryp dat ons by die Laodicensiese era aangekom het, waarvan Jesus geprofeteer het in die laaste sou ontstaan. Vergelyk bloot wat Jesus gesê het oor die louwarm Laodicensiese kerk met dit wat vandag die Kerk van Jesus Christus genoem word. Jesus waarsku dat hy wat ore het, moet luister na wat die Heilige Gees sê oor hierdie godsdienstige stelsel.

Jesus het duidelik gewaarsku dat ‘n kerk sou ontstaan in die laaste dae van die beskawing wat daarin sou roem dat dit ryk, toeneem in getalle en selfgenoegsaam is. Met ander woorde, ‘n kerk met groot invloed, wat toeneem in sigbaarheid en mag, terwyl alle teregwysing en ondersoekende kritiek afgewys word.

Jesus het van hierdie kerk gesê, “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie...” (Openbaring 3:17). Hoe jammer is dit dat hierdie spesifieke kerk, arrogant en roemryk, deur so baie Christene wat nie onderskei nie, geag word as die heerlike laaste-dae kerk van krag en heerskappy wat die wêreld sal onderwerp en Koning Jesus sal terugbring. Dit is die Laodicensiese leuen! Een dierbare siel het die volgende geskryf, “Meneer, besef jy nie dat ons volgende president ‘n Geesvervulde man wat in tale praat sal wees nie? Weet jy nie dat al hierdie groot bouprojekte van evangeliste deur God beveel is nie? Die Here lei leiers op en stuur groot projekte van stapel sodat hulle in regeringsposisies kan inskuif – nadat hulle alles van groot finansies en konstruksie geleer het. Die kerk gaan die regering oorneem – Geesvervulde leiers gaan die wette maak, wegdoen met aborsie, pornografie en misdaad. God het ‘n magtige kerk opgerig om nou heerskappy in te neem.

Die belangrikste element in die konsep van “die Koninkryk van God op aarde” is van ‘n volmaakte regverdige heerskappy, waarin alle nasies omhels word; waaronder alle ongeregtigheid, onderdrukking en twis sal ophou, die booshede van armoede sal ongekend wees en alle mense sal in vrede en voorspoed lewe as broers.

Wat my ontstel, is dat talle fundamentaliste nou soortgelyke Pollyanna uitkyke het oor die rol van die moderne Amerikaanse kerk. Dit lyk vir my of hulle roem, “Ons het sukses bereik! Ons het 30 tot 40 miljoen evangeliese mense. Ons het bekoorlike, gewilde, geartikuleerde leiers. Ons het die geld, die vaardighede en toenemende getalle wat by ons sal aansluit – laat ons heerskappy inneem!”

Ek het herders van groot Charismatiese kerke hoor roem, “Ek gaan die grootste kerk in Amerika bou, omdat getalle mag en invloed beteken. Ons moet ‘n groot en magtig genoeg kerk hê om sedelikheid en die wil van God op ons land en ons gemeenskappe af te dwing.” Dit is so blatant, so grootpraterig!

Hierdie trotse, ryk, arrogante kerk begeer nou mag. Nie die mag van God nie – maar politiese mag. Dit begeer die Wit Huis, kongres en die Hooggeregshof. Aangesien ons misluk het om ‘n Jona-tipe herlewing van bekering en ‘n verandering in die harte van mense te bring, sal ons, volgens sommige, die regering oorneem en geregtigheid wetlik instel.

Dit klink so vroom, so geestelik en lewensnoodsaaklik. Soos Israel, vra baie van God se kinders vir ‘n Vorstelike kansel – met ‘n geestlike leier wat die verskanste magte van goddeloosheid sal ontwortel en ‘n nuwe sedelike stelsel sal instel. Die beskuldigende vinger van die bulderende profete en wenende wagte moet vervang word met die verfynde pen van Christen kongresverteenwoordigers wat sedelike wette tot uitvoering sal bring.

Glo dit of nie – dit is presies hierdie kerk wat God uit sy mond gaan spuug.

God is glad nie beïndruk met sy se kerk se opgeblase agting van homself nie. Die Laodicensiese louwarm kerk is geensins bestem tot enige heerskappy, krag en gesag nie. Dit is bestem tot oordeel! Dit is die ergste soort geestelike blindheid om saam te stem met diegene wat roem dat die hedendaagse Amerikaanse kerk, Charismaties of andersins, sy beste uur beleef. Watter ontsaglike gebrek aan geestelike onderskeiding. Ek, moet saamstem met wat Jesus gesê het van hierdie laaste-dag kerk.

Jesus skeur die fasade af en ontbloot die waarheid van die Loadicensiese kerk. Hulle is nie wat hulle dink hulle is nie – hulle is nie wat hulle sê hulle is nie. Hulle is nie ryk nie – hulle is arm! Hulle is nie aan die toeneem nie – hulle is ellendig en op die punt om vir altyd verwerp te word! Hulle is nie sterk en het nie niks nodig nie – maar liewer, hulle is nakend, skandelik! Hulle is nie ‘n kerk met nuwe openbaring en diep Skriftuurlike insigte nie – Jesus sê HULLE IS BLIND! Hulle sal nie die werktuig van Christus se heerskappy op aarde wees nie, maar liewer die voorwerp van Sy toorn en weersin.

God se kerk is ‘n triomfantlike, veragte, vervolgde oorblyfsel.

Jy kan seker wees dat God ‘n volk vir Hom in hierdie laaste dae besit, maar hulle is ‘n veragte, heilige en afgesonderde oorblyfsel. Hierdie heilige oorblyfsel volk wandel in die lig en geniet groot onderskeiding. Hulle sien die hedendaagse Laodicensiese kerk deur die oë van Jesus en hulle sal nie mislei word deur die prag, grootte en uiterlike grootsheid van gewilde godsdiens nie. Die ware kerk is onsigbaar; hulle is berouvol; hulle verlang na die wederkoms van Christus, die Geliefde.

Die ware kerk kan glad nie die guns en welwillendheid van die wêreld geniet nie. Glo ons en bewe ons vir God se Woord of nie? Wanneer sal ons werklik besef waarteen Jesus diegene, wat hulleself verloën, hulle kruis opneem en Hom volg, gewaarsku het? Jesus het gesê, “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal julle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie” (Johannes 15:18-21).

Praat van wat sal gebeur met heiliges in die laaste dae, Jesus het gesê, “Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam” (Lukas 21:12).

Jesus het verder gegaan en gewaarsku van verraad, en “hulle sal van julle doodmaak. En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam” (Lukas 21:16,17).

Paulus stel dit uitdruklik, “En almal wat godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (1 Timóthéüs 3:12).

Dit is absoluut onmoontlik vir die ware kerk of enige van sy leiers, om goedgekeur of aanvaar te word deur die wêreld. ‘n Goddelike man, ‘n goddelike kerk, sal vervolg en belaster word deur die wêreld, deur sy konings en heersers. Jesus sal geen uitsonderings toelaat op hierdie reël nie – want Hy het gewaarsku, “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vader het net so aan die valse profete gedoen” (Lukas 6:26).

Wee hierdie Laodicensiese kerk en sy politiese aspirasies! As die wêreld jou aanvaar, kan dit slegs die gevolg wees van die verwydering van skande van die Kruis. Vir amper twee duisend jaar lank, was die kerk van Jesus Christus verwerp en vervolg deur die wêreld. Die bloed van miljoene verwerpte martelare roep van die grond af uit. Vir eeue, is Gees-geleide mans en vroue van God op die brandstapel verbrand, middeldeur gesaag, agtervolg en gejag soos diere. Goddelike heiliges was onthoof; ander was verdrink; baie ander was vir die leeus gegooi. Die Bybel sê hulle almal het in geloof gesterf en die wêreld was hulle nie waardig nie. Moet ek nou glo dat Jesus van gedagte verander en besluit het om die eeue af te sluit met ‘n louwarm, ryk, gepamperlangde, roemryke, selfgesentreerde kerk? Sal die laaste leër van God bestaan uit werkers wat in wyke stemme werf? Sal die sielewenners vervang word met mense wat petisies opstel en na die hoofweë en buitewyke gaan en handtekeninge soek vir een of ander maatskaplike saak?

God se groot saak is met die kerk wat sê hulle is gedoop met die Gees!

Die dooie, koue, liberale kerk was lank gelede reeds oorgegee aan sy sondige weë – dit is nie God se hoof bekommernis in hierdie laaste dae nie. Daar is hele denominasies wat heidens geword het – die Gees van God het hulle jare gelede verlaat. Maar God se fokus is op beide die geörganiseerde en ongeörganiseerde evangliese en Charismatiese kerke, huisselgroepe en bedienings. Dit is uit die Charismatiese liggaam van gelowiges waaruit al daardie voorspoedspredikng ontstaan het. Diegene wat daarop aanspraak maak om Gees-gedoop te wees en -gelei word, is diegene wat sê, “God wil hê jy moet ryk wees met baie goed en selfgenoegsaam in alles wees.” Dit is uit hierdie liggaam wat die nuwe leerstellinge van aardse heerskappy gebore is.

Ek is nou al ‘n Charismatiese prediker vir meer as 30 jaar en ek kan saam met Paulus getuig, “Ek praat meer in tale as julle almal.” Maar ek is bedroef oor die misleidings en valse leerstellinge wat nou so baie Charismatiese gelowiges wat nie onderskei nie, wegsleep. Menigtes van hulle word gekul, mislei, bedrieg en weggesleep deur leerstellinge van duiwels.

Wat God verag, is DIE MENGSEL wat ingelyf word in Charismatiese kringe. Mengsel is sinoniem met louwarmheid. ‘n Mens kry hierdie mengsel oral waar jy deesdae kyk. Woon ‘n sogenaamde Christen rock konsert by, byvoorbeeld. Wat ‘n ongelooflike mengsel! Hulle begin gewoonlik met, “Ons is hier net om Jesus te bedien – om Hom te verheerlik.” Jy sal mooi woorde hoor oor heiligheid, bekering en alles vir Jesus gee. Dan, skielik sal dit lyk of die gees van Elvis Presley op hulle neerdaal en hulle word reg voor jou oë verander na jolige, onbeskaamde, sensuele harde rockers. Voor die geleentheid verby is, sal jy hulle hoor roem, “Ons gaan Jesus neem waarheen die kerk nooit gaan nie. Na kroeë, sekulêre konserte en MTV! Ons bid dat God vir ons die oor van die wêreld sal gee. Ons wil dieselfde skare bereik wat die wêreld bereik.”

As ek moet glo wat Jesus gesê het – sou hulle gestenig word met tamaties en van die verhoog afgeboe word deur daardie wêreldse klomp – dit is, as hulle werklik in die Gees bedien het. Hoe meer hulle vir Jesus sou sing, hoe meer sou hulle gehaat en verag word. Evangelie sangers wat geprys en aanvaar word deur die wêreld, het die teenwoordigheid van Jesus – presiese dit wat verwerping veroorsaak – verloor. Die evangelie van Jesus Christus is aanstootlik vir die Jood en dwaasheid vir die heiden.

Die Laodicensiese leuen sluit in verwerping van Christus se skielike naderende wederkoms.

Kan jy glo wat hulle nou verkondig? Hulle sê, “Jesus kan nie kom totdat ons die aarde onderwerp het nie. Hy kan nie kom nie, totdat ons heerskappy geneem het en Hom teruggebring het na ‘n wêreld wat ons onderwerp het.” Hulle bespot die idee van ‘n naderende, onverwagte koms van Christus. Jesus sê dit is “’n slegte dienskneg” wat in sy hart sê, “My Heer vertraag Sy koms” (Matthéüs 24:8).

Hierdie soort lering is ‘n direkte gevolg van geestelike verdraaiing, louwarmheid en moeg wees van kruis-dra. Wanneer liefde vir Jesus aan die brand is, is daar ‘n verlange na sy spoedige wederkoms – daar is ‘n smagting “om by Hom te wees, om Sy heerlikheid te sien!” Maar nou, omdat sonde toeneem, word die liefde van talle koud; selfopoffering en selfverloëning word verwerp; en die kerk jaag daarna om die eer en krag van hierdie wêreld te soek.

Hulle bespot nou die idee van gelowiges wat “verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink” (1 Korinthiërs 15:51,52). Hulle het die koms van die Here uitgestel tot in die verre toekoms en hulle primêre belang is nie wat Christus doen nie, maar wat die kerk doen. Die huidige belang is nie intern nie, maar ekstern – om nuwe lede bymekaar te maak, om toe te neem in invloed en om ‘n aardse koninkryk te vestig.

Jesus het gesê, “Kyk, Ek kom gou” (Openbaring 21:12). Paulus het geskryf, “Want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag...Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie” (1 Thessalonicense 5:2,4). Petrus het ook die Here se skielike terugkeer bevestig: “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag” (2 Petrus 3:10).

Jesus het die kerk by Sardis gewaarsku om altyd waaksaam en vol verwagting te wees – en om hulle te bekeer, of onverhoeds betrap te word. “Bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie” (Openbaring 3:1-3).

Waarom sou enige Christen waak en waaksaam wees as Christus se koms uitgestel word tot een of ander uur in die verre toekoms? Gaan ons hedendaagse, louwarm predikers glo, of sal ons rus in ons geloof in wat Jesus gesê het, “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matthéüs 24:44).

Jesus het ons gewaarsku, “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie” (Matthéüs 25:13). Dit is die manier waarop die Nuwe Testamentiese, apostoliese Christene in die eerste eeu gelewe het. Hulle het ook Paulus se intense begeerte om “heen te gaan en met Christus te wees” gehad. Hulle was besig om die Here se werk te doen en om Sy gebooie te gehoorsaam – maar soos Abraham, het hulle uitgesien na ‘n stad wie se bouer en maker God is.

Die koninkryk heerskappy predikers vergeestelike alles wat te doen het met Christus se spoedige wederkoms. Maar hoe vergeestelik jy hierdie mees praktiese gebod van Jesus – “Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak! (Markus 13:35-37).

Die kroon van geregtigheid wat die Regter sal gee op daardie dag word gereserveer slegs vir “ALMAL WAT SY VERSKYNING LIEFGEHAD HET!” (2 Timóthéüs 4:8). Ek vra jou, verwag jy sy spoedige terugkeer? Smag jy daarna? Is Sy koms om Sy uitverkorenes bymekaar te maak steeds jou hoop? Dit was vir Paulus, wie geskryf het, “Terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:13).

Die heel laaste woorde van Jesus in die Bybel is, “Ja, Ek kom gou” (Openbaring 22:20). Die Gees en die bruid sê, “Kom!” (Openbaring 22:17). Wat sê jy?

Wie dink jy is dit wat twyfel in die bruid se gedagtes plaas oor die spoedige terugkeer van haar Geliefde? Wie is dit wat poog om haar gedagtes aards te hou – nie gefokus op die heerlikheid van haar Christus nie, maar op haar eie heerskappy en plek in hierdie wêreld? Wie sou die bruid laat voel soos ‘n verlate weduwee – verlaat deur haar Bruidegom omdat sy nog nie selfversekerd en dominerend is nie?  Sekerlik nie die Heilige Gees nie – omdat die Gees roep, “Kom, Here Jesus, kom gou!”

Het die Here Sy kerk beveel om Sy koms uit te stel en in plaas daarvan ‘n aardse koninkryk van geregtigheid op te rig – of het Hy ons beveel om olie in ons lampe te gooi, wakker te wees en gereed te wees vir Sy koms op enige tydstip? Laat die Woord dit antwoord! “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop” (Lukas 12:35,36). Toe het Christus hierdie drie woorde bygevoeg, “Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien” (Lukas 12:37). Waarom waak, waarom waaksaam wees, waarom die lendene omgord, waarom in ‘n staat van gereedheid te wees, waarom daarna uitsien – as Christus se koms uitgestel is na die verre toekoms en gewag moet word op die militante aksies van die kerk?

Die Here het geweet wat sou met die kerk gebeur wanneer dit gesê word, “Die Here vertraag sy koms.” Daar sou roekeloosheid wees; daar sou ‘n geëet en gedrink wees, dronkenskap; daar sou ‘n nie ‘n dringenheid wees om gereed te maak nie. “Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie, en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot maak van die ontroues. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word” (Lukas 12:45-47).

Sulke onkunde van haar ware geestelike toestand is moontlik vir die kerk slegs as die Heilige Gees bedroef is en Sy stem stilgemaak is. As die Gees van God nie kan spreek nie, dan koester hulle hul misleidings en word hulle obsessief met hoogmoed en word hulle arrogant en grootpraterig wanneer die oordele van God op die punt is om los te breek.

Dank God, daar is ‘n geheiligde, afgesonderde oorblyfsel wat die stem van die Heilige Gees hoor en hulle kan nie mislei of onverwags gevang word nie. Hulle is die wagte wat die planne van die duiwel agtergekom het; en hulle is dapper genoeg om die skuimende leerstellinge van duiwels te openbaar. Diegene wat hoor wat die Gees sê, weet wat die Here op die punt is om te doen. Hulle sien die naderende storm – hulle hoor die gedonder nader kom – hulle weet God is gereed om die huis van God en hulle land in die besonder te oordeel.

Die Laodicensiese kerk het homself uitverkies, sonder enige leiding van die Heilige Gees, nie om lig te gee vir die wêreld nie, maar om dit te onderwerp. Sy het die grootste lerares van leuens geword in die heelal. Sy het volle vertroue in haar eie krag en wysheid, terwyl sy anti-Chris valshede meng met die waarheid van die evangelie. Sy het besluit om die groot onderskeid wat Christus tussen die kerk en die wêreld opgerig het, af te breek.

Ons moet vashou aan die apostels se konsep van Christus se koninkryk.

Die apostels het in die bonatuurlike persoon van die Koning, ‘n voorafskaduwee gesien van die grootheid en heerlikheid van Sy koninkryk (2 Petrus 1:16). As die vleesgeworde Seun van God, wat alle mag in die hemel en op aarde het, kan Sy koninkryk, hoewel op aarde, nie vergelyk word met die aardse koninkryke nie. Sy simbool was die Heilige Stad, die Nuwe Jerusalem wat van God af neerdaal uit die hemel. En, net soos die Koning ‘n mens was wat uit die dood opgewek is en onsterflik gemaak is en so God se volmaakte heerser deur al die eeue kan wees, so moet almal wees wat Sy helpers in die administrasie van Sy heerskappy sal wees. Sy konings en priesters moet soos Hy gemaak word; en slegs onder so ‘n hemelse regering sou ‘n volmaakte sosiale orde gevestig kon word en alle nasies sou woon in vrede onder Sy septer.

Die apostels het altyd baie duidelik onderskei tussen die Here se huidige priesterlike werk in die hemel, wat begin het met Sy hemelvaart en Sy toekomstige koninklike werk hier op aarde. Hy het na die Vader gegaan om die groot Hoëpriester gemaak te word, wat altyd intree in die allerheiligste. Wanneer hierdie werk van voorbidding klaar sou wees en die kerk, Sy liggaam, versamel en volmaak gemaak word, dan en slegs dan, sal Hy na vore kom om Homself op die troon van Sy heerlikheid te stel en Sy werk as Regter en Koning te begin (Matthéüs 25:31). By Sy hemelvaart, was Hy beklee met alle gesag, maar Sy huidige uitoefening daarvan is voorsienig en onsigbaar. Sy gesag is nou reeds oppergesag – hoewel die wêreld Hom nog nie ken of erken as die Koning nie. Die sfeer van Sy sigbare heerskappy is nou in die kerk self, waar Sy wil bekend gemaak word deur die Gees in die verkiesing van sy bedienaars en in sy hele administrasie. Eers wanneer Hy terugkeer en die koninkryk in besit neem, sal Sy heerskappy oor die nasies geopenbaar word en alle menslike heersers sal Hom as die bron van hulle gesag erken. Dan sal Hy Sy “groot mag aanneem en as koning heers.” Tot daardie tyd moet die kerk in die wêreld wees soos Hy daarin was, goddelike aansprake wat nie erken word nie, verwerp en blootgestel word aan vyandskap en minagting. Eers wanneer Hy Sy koninklike posisie inneem, kan die kerk saam met Hom heers.

Dit is die apostoliese konsep van Christus se koninkryk. Dit verskil grootliks met die diegene wat onderrig dat Christus die kerk beveel het om die koninkryk te administreer in Sy afwesigheid en alle nasies tot gehoorsaamheid te bring – om Hom terug te bring as Koning na ‘n wêreld waarin alle vyande reeds onder Sy voete gestel is. Hulle onderrig dat Christus slegs kan terukeer nadat alle nasies in Hom glo en geregtigheid en vrede die hele aarde vul. Dit is ‘n radikale afwyking van wat die apostel onderrig het.

Rome het hierdie leerstelling van heerskappy eeue gelede ontwikkel. Dit was geformuleer deur Augustine in sy “Stad van God.” Die kerk het toe daarop aanspraak gemaak om namens Christus te heers in Sy afwesigheid. Hulle het die leerstelling verder deurgetrek tot sy logiese gevolgtrekking, deur die absolute oppergesag van sy biskop – die Pous – te laat geld.

Wanneer die eerste liefde koud word en die wederkoms van die Here onbepaald uitgestel word, word die Laodicense moeg om die kruis te dra en begin vra, “Is hierdie teleurstellende woorde van die Here en van die apostels nie beperk tot hulle eie tyd nie? Moet hierdie vyandigheid van die wêreld teenoor die kerk voortduur tot die einde toe? Hoe is dit konsekwent met sy hemelse sending en die evangelie van liefde? Het Hy nie gesê die evangelie is soos die suurdeeg wat die meel insuur en soos ‘n mosterdsaad groei en ‘n boom word nie? Het Hy nie gesê dat “alle mag is nou Myne” nie? Het Hy Homself nie “die Prins van die konings van die aarde” genoem nie? Moet die sterk man, Satan nie gebind word voor ons sy goed kan steel nie? En in die vierde eeu, toe Konstantyn, die Romeinse keiser, ‘n gelowige geword het en Christendom die Vorstelike mag daaragter gehad het, het dit amper die universele geloof geword dat lyding en vervolging verby was. Vanuit alle Christen kwartiere was daar ‘n jubelende geroep wat opgegaan het, “Satan is gebind; die dag van triomf het gekom; Christus heers deur Sy kerk!” Nou kan die profesieë vervul word: “En die nasies...sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde.” Wat ‘n misleiding was dit op die ou end!

Die Laodicense erken nie Satan as god van hierdie wêreld nie!

Daar is ‘n praktiese ontkenning van die mag van Satan as “die prins van hierdie wêreld.” Hulle kan nie sy bestaan ontken nie, want daarvan was duidelik getuig deur die Here en die apostels. Ook kan hulle nie sê dat sy mag omvergewerp is en dat hy nie langer gevrees moet word nie. Die heilige Paulus het hom “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4) genoem en die heilige Johannes het gesê dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19). In Openbaring (12:3), verskyn hy onder die simbool van die draak as die aktiewe vyand van God en van Sy Christus, en van hier af na die omverwerping van die antichris en totdat hy self gebind word (Openbaring 19:20). Maar ten spyte van al hierdie duidelike stellings en die voortgesette erkenning van verskeie vorme van Sataniese aktiwiteit in individue, sê die Laodicense nou, “Satan heers nie meer nie; hy is gebind; hy kan nou geen effektiewe teenstand meer bied teen ons eenheid of ons sendingaktiwiteite en ons vestiging van die koninkryk nie.” Daar is min ooreenstemming oor die tyd toe hy gebind was. Hulle argumenteer, “Hoe kan die koninkryk van God gevestig word solank as wat Satan en sy engele steeds mag het op die aarde?”

Deurdat hulle glo hulle is nie langer blootgestel aan die aanvalle van hierdie subtiele en magtige teëstander nie, sien hulle nie die behoefte vir spesiale waaksaamheid nie. As die sterk man gebind is, kan die kerk sonder probleme sy goed roof; as hy van die aarde af gewerp is, kan die kerk nou daarvan besit neem. Wat ‘n subtiele verdraaiing van waarheid is dit!

Watter ongelooflike arrogansie, hulle roem dat haar biskoppe nou reeds hulle plekke onder die prinse van die aarde inneem. Die kerk hou op om ‘n pelgrim en ‘n vreemdeling te wees; sy is die bruid van die Heerser in die hemel, verhef om by Hom te sit op Sy troon, die wêreld moet onderwerp wees aan haar en daarom behoort alle uitnemendheid en eer aan haar leiers as die edelmanne van die Koning. Watter arrogansie!

Christus se koninkryk was nog nooit – en sal nooit – van “hierdie wêreld” wees nie!

Jesus het gesê, “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie...Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Dit handel die saak vir my af, net soos dit behoort te doen vir alle gelowiges wat bewe vir Sy Woord.

Maar ek, ek kies om saam met Christus te sit in hemelse plekke en om onder diegene te wees waarvan Enos geprofeteer het, “Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisentalle” (Judas 14).

Die Laodicense kan hierdie teenswoordige wêreld en al sy koninkryke en heerlikheid maar kry. Dit is bestem om te brand, volgens Petrus. “Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van oordeel en die verderf van die goddelose mense” (2 Petrus 3:7). Hoeveel duideliker kan dit wees? “Die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Petrus 3:10).

Laat die seëvierende kerk saam met Petrus verkondig, “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woord” (2 Petrus 3:13).

Kerk van Jesus Christus – laat niemand jou mislei aangaande die Here se wederkoms nie! Kry vertroosting uit ons Here se belofte: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aardsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:16-18).