Gee aan God Volle Beheer | World Challenge

Gee aan God Volle Beheer

David WilkersonSeptember 26, 2005

Die meeste lesers weet dat die Hooggeregshof van die Verenigde State beslis het dat die Tien Gebooie nie in enige hofgebou van die regering vertoon mag word nie. Hierdie historiese beslissing is breedvoerig deur die media gedek. Maar wat beteken hierdie beslissing?

‘n Hof is die plek waar wette afgedwing word. En die Tien Gebooie verteenwoordig God se morele wet, wat nooit verander nie. Dit is vasgestel soos die wet van swaartekrag. As jy daardie wet veronagsaam, is dit soos om uit ‘n hoë gebou uit te spring. Jy kan die wette wat jou raak veronagsaam, maar daar is sekerlik gevolge wat jy sal moet dra.

Eenvoudig gestel, die Tien Gebooie is ewige wette wat deur God ontwerp is om die samelewing daarvan te weerhou om homself te vernietig. Tog, is dit verstommend dat baie sandstraal maatskappye huidiglik aan die werk is om daardie Gebooie te verwyder — so wel as God se Naam — waar dit ookal in marmer of beton van hofgeboue gegraveer is.

Wat ‘n tekenende beeld van die toestand van ons samelewing. Hierdie onveranderlike wette was oorspronklik op klip gegraveer deur die vinger van God. En nou word hulle van die klip verwyder deur die wet van die mens.

Ek hoor sommige Christene sê, “Wat is so erg daaraan? Ons is nie onder die wet nie. Waarom moet dit ‘n kwessie wees?” Ek krimp ineen wanneer ek dit hoor. Nee, ons is nie onder die Hebreeuse wet nie, wat beteken die 613 addisionele gebooie wat deur Joodse rabbi’s bygevoeg is. Maar elke Christen is onder die gesag van God se morele wet, wat opgesom word in die Tien Gebooie. Geen gelowige kan die pleeg van owerspel, diefstal en moord regverdig nie.

Ek wonder wat deur God se gedagtes gaan terwyl hierdie sandspuiters sy wette voor ons oë uitwis. Weereens, sê sommige gelowiges, “Ons het nie nodig om die Gebooie te vertoon nie. Al wat regtig vir ons nodig is, is dat dit in ons harte geskryf staan.” Dit is nie wat God se Woord sê nie. Dink aan die sigbare teenwoordigheid van die Gebooie wat God daarvoor bedoel het, toe dit aan sy volk gebring was:

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees...Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte jou huis en op jou poorte skrywe...en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronómiun 6:6, 8–9, 7).

Die verskriklike werklikheid is dat goddelose magte in ons samelewing God verwerp het. Alle melding van Hom word nou van ons skole, ons howe en ons publieke instellings verwyder. En binnekort sal dieselfde magte probeer om die woorde “Een nasie onder God” van die Eed van Getrouheid onwettig te verklaar.

Ek glo hierdie waansin sal nie vir lank onbeantwoord bly nie. Neem byvoorbeeld wat onlangs in Europa gebeur het. Verlede jaar het die Europese Unie ‘n grondwet probeer afdwing waarin God openlik verwerp word en Europa sekulêr gedefinieer word. Die bevel het misluk, maar hulle wat aan die voorpunt daarvan is, sal dit sekerlik weer probeer; hulle sal nie ophou totdat daar van God se Naam regdeur Europa afstand gedoen is nie. Hulle het hulle bedoelings duidelik gemaak en in wese verklaar, “Laat God sy hemel hou. Gee ons die aarde. Hou godsdiens uit ons gesigte uit.”

In werklikheid, as jy God nie in jou midde wil hê nie, sal Hy nie net eenvoudig weggaan nie. Beskou wat in Europa gebeur het sedert daardie grondwet bekend gestel is. Duitsland en Frankryk beleef massiewe werkloosheid. Welsynkostes styg hewig. Regerende liggame word verlam en daar is oral ongelooflike verwarring. Tog is dit net die begin van ‘n selfs groter vrees en chaos wat oor alle mense kom wat God openlik verwerp.

Dieselfde anti-God gees wat in Europa aan die werk is, is ook in Amerika aan die werk en dit is veronderstel om ons te bedroef. Die Bybel waarsku keer op keer oor hierdie saak. Waarom het God Noag se geslag veroordeel deur ‘n vloed te stuur? Waarom is Sodom en Gomorra vernietig? Dit het alles gebeur as gevolg van wetteloosheid. Die Bybel sê dat diegene in daardie samelewings ‘n wet vir hulself word en die godvresendes word daardeur ontstel. Lot wat in Sodom gebly het, was gepynig oor hulle wettelose werke (sien 2 Petrus 2:8).

Aan die einde van die Boek van Genesis, het God ‘n klein, onbeduidende volk gebruik om ‘n onderrig nasie te word. Hy wou ‘n volk oprig wat lewende voorbeelde van sy goedheid vir die heiden wêreld kon wees. Derhalwe, om so ‘n getuienis op te stel, het God sy volk in omstandighede ingelei wat buite hulle beheer was. Hy het Israel geïsoleer in ‘n woestyn, waar Hy alleen hulle enigste bron van lewe sou wees, terwyl Hy vir al hulle behoeftes sou sorg.

Israel het geen beheer oor hulle oorlewing in daardie verlate plek gehad nie. Hulle kon nie die beskikbaarheid van kos of water beheer nie. Hulle kon nie hulle bestemming beheer nie omdat hulle geen kompasse of kaarte gehad het nie. Hoe sou hulle eet en drink? Watter rigting sou hulle inslaan? En waar sou hulle beland?

God wou dit alles vir hulle doen. Hy sou hulle elke dag deur ‘n wonderbare wolkkolom lei, een wat in die nag gegloei het en die duisternis voor hulle verdryf het. Hy sou hulle met die brood van engele uit die hemel en water uit ‘n Rots voorsien. Ja, elke behoefte sou deur die Here voorsien word en geen vyand sou in staat wees om hulle te verslaan nie.

“Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig” (Deuteronómium 4:36). God se volk sou sy woorde, wat hulle lei, hoor en daarom sou hulle kon getuig, “Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jý gehoor het?” (sien Deuteronómium 4:32–34).

Die nasies wat antieke Israel omring het, was vol “ander gode,” afgode gemaak van hout, silwer en goud. Hierdie gode was stom en nie in staat om te sien of hoor nie, hulle het nie die vermoë gehad om die mense wat hulle gedien het lief te hê, te lei of te beskerm nie. Tog sou enige van daardie nasies na Israel kyk en ‘n spesiale volk, wat God deur ‘n droë woestyn gedra het, sien. Hulle sou ‘n God sien wat met sy mense gepraat het, wat liefgehad en gevoel het en een wat gebede beantwoord het en wonderwerke gedoen het. Hier was ‘n lewende God, een wat sy mense in al die besonderhede van hulle lewens gelei het.

Dit was die rede waarom God Israel opgerig het: om vir ‘n heiden wêreld te wys hoe die ware, lewende God was. As Hy na die nasies gekyk het, het Hy ‘n menslike ras gesien wat vol geweld en wetteloosheid was en netelige gode wat hulle nie kon help nie, aangeroep het. Dit was ‘n wêreld vol rusteloosheid, strewe en goddelose mense, wat afgedwaal het soos skape sonder ‘n herder.

Daarom het God ‘n volk opgerig wat deur Hom opgelei kon word. Daar moes ‘n volk wees wat onder sy gesag sou leer, wat Hom volkome sou vertrou en Hom volle beheer van elke aspek van hulle lewens sou gee. Daardie volk sou sy getuienis vir die wêreld word.

Waarom wou God volle beheer oor ‘n volk hê? Waarom het Hy aandgedring op hulle volkome vertroue in alle dinge? Dit was omdat net God die pad geken het. Net Hy alleen het hulle toekoms geken en die mag gehad om hulle in sy volkome rus in te bring. En Hy sou die onmoontlike, wat nodig was om hulle daar te kry, verrig.

Dit is waarom Israel in situasies, wat hulle nie kon beheer nie, geplaas was. Hulle het beproewings beleef wat hulle nie kon verstaan nie en ver bokant hulle vermoë was om te kon hanteer. God het in hulle in hierdie krisisse laat beland om geloof in hulle op te wek. Hy wou hulle deur hierdie ervarings lei om hulle vertroue op te bou, sodat hulle ongeag die toekoms, kon sê, “God het ons gered en Hy sal ons weer red. Hy het ons deur die plae van Egipte en uit Farao se slawerny uitgebring. Al die eer en heerlikheid aan die Here in ons huidige krisis.”

Geliefde, dit is steeds die manier waarop God geloof in sy mense vorm. Hy bring ons in vurige beproewings wat ons nie in ons eie krag kan oorleef nie. Ons beleef swaarkry wat nie opgelos kan word, behalwe deur wonderwerke van verlossing nie. Jy sien, soos Israel, is ons voorbeskik om God se “trofee mense” te wees. Hy wil ons sy voorbeelde vir ‘n verlore wêreld maak: mense wat aan die einde van hulleself gekom het, wat ondeurdringbare berge, seë wat onmoontlik was om oor te steek en onmoontlike woestyn belewenisse voor hulle gesien het en wat verklaar het, “Dit is te veel vir my. Dit gaan wonderwerke kos om my hierdeur te dra. Ek kan dit nie op my eie hanteer nie, en ek kan nie dit uitreken nie. Geen persoon of instelling kan my red nie. Die Here is my enigste hoop. Ek moet volle beheer van my lewe en toekoms aan Hom gee. Ek gaan Hom die hele pad vertrou.”

So, watter keuse het Israel gemaak? Hulle het met uitbarstings van ongeloof en wantroue gereageer — tien sulke uitbarstings. En ten slotte het God gesê, “Genoeg.” Beskou die Bybel se opsomming daarvan: “En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:19). Dit is jammer dat daardie antieke Israeliete nie voorbeelde geword het van ‘n volk wat totaal op hulle Here kon vertrou nie, maar voorbeelde van ongeloof geword het.

Hierdie laaste-dag mense sou opgerig word deur Christus self. En hulle sou regeer word deur God, gelei word deur die Heilige Gees en heeltemal oorgegee wees aan die Here op elke gebied van hulle lewens. Jesus het dit vir ons gedemonstreer deur heeltemal afhanklik van die Vader te lewe. Hy het nie net as die laaste Adam verskyn nie, maar as die laaste “voorbeeld mens,” die laaste voorbeeld waarna God gesoek het: een wat sy Vader volle beheer van sy lewe gegee het.

“Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Johannes 6:38). “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie...omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:19, 30).

Ons weet dat Jesus heeltemal afhanklik van die Vader was en Hy is ons voorbeeld van oorgawe en vertroue. Inderdaad, Hy maak dit duidelik dat so ‘n lewe vir ons moontlik is. Die meeste Christene stem saam en sê, “Ja, dit hoe ons moet strewe om te wandel. Ons behoort nie met vrees en angs te leef, tewyl ons ons probleme op ons eie probeer oplos nie. Ons moet ons lewens en sorge liewer in sy hande plaas.”

As ons dit werklik uitgeleef het, sou God teen hierde tyd die kaptein van ons siele gewees het. Maar is Hy? Vir baie in die kerk, is die antwoord duidelik nee. Ons sing liedere oor Jehovah Jireh, ons Voorsiener en noem al die name van God op — El Shaddai, Adonai, Jehovah, Elohim — sowel as die wonderlike name van Christus: Messias, Here van die here en Koning van die konings. Tog, so gou as wat ons volgende krisis plaasvind, kla en bevraagteken ons God se getrouheid. En ons gee in aan twyfel en vrees, terwyl ons op ons verstand vertrou om ‘n uitweg te probeer vind.

Baie Christene lees die Bybel gereeld, glo dit is God se lewende, geopenbaarde Woord vir hulle lewens. Hulle lees oor en oor in die Skrif van geslagte wat God se stem gehoor het. Hulle lees van God wat herhaaldelik met sy volk gepraat het, met die volgende frase wat keer op keer herhaal is: “En God het gesê...” Dieselfde Christene lewe egter asof God nie meer vandag met sy mense praat nie.”

‘n Hele geslag van gelowiges het geleer om besluite op hulle eie te maak, sonder om te bid of God se Woord te raadpleeg. Baie besluit eenvoudig wat hulle wil doen en vra dan vir God om dit te onderskryf. Hulle beweeg kragtig vorentoe en hulle enigste gebed is, “Here, as dit nie U wil is nie, keer my dan.”

Ons lewe nou in ‘n tyd waarna verwys word as die “oogwenk generasie.” Mense maak groot besluite in ‘n oogwenk. ‘n Topverkoper boek is oor hierdie konsep geskryf, getiteld, “Blink: The Power of Thinking Without Thinking.” Die teorie is, “Vertrou jou instinkte. Oogwenk besluite is bewys om die beste te wees.”

Dink aan al die gejaagde “oogwenk taal” wat ons elke dag hoor: “Dit is die aanbieding van die eeu. Jy kan oornag ‘n fortuin maak. Maar jy het net ‘n kort tyd waarin jy dit kan doen. Doen dit nou!” Die dryfkrag daaragter is, “Oogwenk, oogwenk, oogwenk!”

Daardie denkwyse het begin om die kerk te infekteer en raak die besluite wat nie net deur “oogwenk Christene” gemaak word nie, maar deur “oogwenk bedienaars.”  Talle verslae gemeentelede het vir ons geskryf en dieselfde storie vertel: “Ons pastoor het teruggekom van ‘n kerkgroei konferensie en het onmiddellik aangekondig, ‘Van vandag af gaan alles verander.’ Hy het besluit dat ons oornag een van die populêre soort kerke gaan word! Hy het nie eers vir ons gevra om daaroor te bid nie. Ons is almal verward.”

Net ‘n paar jaar gelede, was die wagwoord onder Christene, “Het jy oor die saak gebid? Het jy die Here daaroor geraadpleeg? Omring jou broers en susters jou met gebed? Het jy goddelike raad ontvang?”

Ek vra jou, is dit jou gewoonte? In die laaste jaar, hoeveel belangrike besluite het jy gemaak waar jy die saak eerlik na God geneem het en opreg gebid het? Of hoeveel van daardie besluite het jy “binne ‘n oogwenk” gedoen? Die rede waarom God volle beheer oor ons besluitneming wil hê, is om ons van rampe te red — waar meeste van ons “oogwenk besluite” in elk geval beland.

Daar is geen formule om heeltemal afhanklik van die Here te leef nie. Al wat ek jou kan bied, is wat God my op hierdie gebied geleer het. Hy het vir my twee eenvoudige dinge gewys oor hoe ek volle beheer aan Hom moet oorgee.

Eerstens, ek moet oortuig wees dat die Here angstig en gewillig is om sy wil aan my bekend te maak, selfs in die kleiner besonderhede van my lewe. Ek moet glo dat die Gees wat in my bly, God se wil vir my ken en dat Hy my leiding gee en met my praat.

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Johannes 16:13–14). Jesus vertel vir ons dat die Heilige Gees aan ons die gedagtes en wil van God sal oordra. “Sodra Hy (jou stem) hoor,  antwoord Hy jou...en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop!” (Jesaja 30:19, 21).

Miskien beleef jy op hierdie oomblik een of ander beproewing, miskien een wat deur ‘n oogwenk besluit veroorsaak is. Ewenwel, beloof die Here jou, “Jou innerlike oor sal my Gees met jou hoor praat, ‘Gaan soontoe. Doen dit. En moenie dat doen nie...’”

Tweedens, ons moet met onwrikbare geloof bid vir krag om God se leiding te gehoorsaam.  Die Skrif sê, “Maar jy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6–7).

Wanneer God ons beveel om iets te doen, het ons krag nodig om op koers te bly en Hom ten volle te gehoorsaam. Oor vyf dekades van lewe in die bediening, het ek geleer dat Satan en die vlees altyd twyfel en vrae in my gedagtes sal plant. En ek het krag uit die hemel nodig om nie “ja” te sê vir ‘n situasie waar Jesus “nee” gesê het nie.

Baie van ons bid, “Here, ek weet wat U vir my gesê het. Maar ek is steeds nie seker of dit U stem was wat gepraat het nie. In werklikheid, ek is nie seker dat ek geestelik genoeg is om selfs U stem te kan hoor nie. Maak asseblief vir my die deur oop of toe in hierdie saak.”

Dit is nie die geloofsreaksie wat Hy van sy kinders wil hê nie. Jy kan bid soveel jy wil, vir ure en selfs vir dae aaneen, terwyl jy ween en pleit. Maar as jy nie in geloof bid nie — glo dat die Heilige Gees jou sal lei, soos Jesus beloof het — sal jy nooit die gedagtes van God aan jou oorgedra kry nie. Hy wag totdat Hy sien dat jy jouself daartoe verbind om alles, wat Hy vir jou sal sê, te aanvaar en om sonder om vrae te vra, te gehoorsaam. Ons reaksie teenoor Hom moet wees, “Here, U is die Kaptein van my redding. Laat U wil in my lewe geskied.”

Soms, mag God vir jou vra om iets te doen wat totaal onredelik is. Vir ‘n plattelandse prediker soos ek, was dit vir my totaal onredelik om my klein dorpie te verlaat en New York Stad toe te kom om vir bendelede te kom preek. Alles was vir my onredelik om vertel te word, “Gaan na Brooklyn, na die Fort Greene behuisingskema en verkondig die evangelie aan die Mau Mau bende.”

Daar was net een rede waarom ek gegaan het: omdat God so gesê het. Dit was waar ek Nicky Cruz ontmoet het. Nou, na dekades, hou daardie honderde duisende wat na Jesus gekom het as gevolg van daardie onredelike leiding, steeds aan om te vermenigvuldig.

God mislei nie sy mense nie; Hy het belowe om sy wil duidelik te maak aan almal wat Hom soek. En wanneer ons Hom volle beheer van ons lewens gee, sal ons sy stem agter ons hoor wat sê, “Dit is die weg, geliefde dienaar. Wandel nou daarin met vertroue. Ek het alles onder beheer.”

Download PDF