Koning Jesus Heers

David Wilkerson

“En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê:  Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Johannes die openbaarder het ‘n hemelse visioen gesien van Christus wat gekroon word as die Koning van die Heelal. Die Heilige Gees het die dooie liggaam van Jesus lewend gemaak; Hy het die laaste vyand oorwin, die dood – en het triomfantlik opgestaan!

Die toneel wat Johannes nou sien, is Christus se wederkoms om Sy troon op te eis. Dit was ons Here se kroning as Koning van die Konings! Daar was luide stemme dwarsdeur die hemel, jubelende lofsange van engele, sérafs, gérubs, en die hele leërskare van heerlikheid. Koning Jesus, die verheerlikte mens, het teruggekeer as Here van alles. Wat ‘n donderende verwelkoming moes dit nie gewees het nie – met al hemelse stemme wat hard uitroep, “Die koninkryk van hierdie wêreld, is nou die koninkryk van Christus – en Hy sal vir ewig heers!” Die vier-en-twintig ouderling het van hulle sitplekke afgeval, op hulle aangesigte gelê en aanbid – en uitgeroep, “Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het” (Openbaring 11:17).

Ons kan nie Jesus Christus as Koning kroon nie! Hy is reeds Koning! Ons kan Hom nie Here van alles maak nie – Hy is reeds Here van alles – God die Vader het Hom terug in heerlikheid ontvang – Hom as Koning en Here van alles gekroon – en Hom al die mag van die godheid gegee! “Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon” (Kolossense 1:19). “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik...wat die Hoof is van alle owerheid en mag” (Kolossense 2:9,10). “Want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is. Wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Homen tot Hom geskape” (Kolossense 1:16).

Paulus het dieselfde visioen gehad – van Christus wat nou sit as Koning en Here oor alle dinge. Hy praat van die uitnemende grootheid van sy krag vir ons. “En wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerhede en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Efésiërs 1:19-23).

Jy kan ophou om die beeld voor te hou van ‘n nederige, sagmoedige Nasaréner wat by die deur van jou hart staan, met die hoop dat jy Hom Here van jou lewe sal maak. Hy is nie langer die verwerpte man nie – Hy is die Erekoning in die hemel! Hy het uit die graf uitgekom met volle opstandingskrag – Hy het opgevaar na Sy ewige troon – Hy het al die krag en heerskappy opgeneem – en Hy op hierdie oomblik heers Hy oor al die magte en koninkryke van die heelal. Die laaste vyand was die dood, en Christus het selfs dit Sy voetbank gemaak!

As dood die LAASTE VYAND was, dan was alle ander vyande verslaan. Christus is nie vasgevang in ‘n handgemene stryd met Satan nie. Die oorlog is veby – Satan was verslaan en Christus het hom neergewerp met skandelike oneer. Die hakskeen van Christus het die slang se kop vermorsel. “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde” (Openbaring 12:7-9). “Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het” (Kolossense 2:15). “Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap en die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag” (Openbaring 12:10).

Ons het steeds mense op hierdie aarde wat speel met die gedagte om Christus in hulle harte toe te laat. Hulle mag selfs so ver gaan as om daaraan te dink om Hom te kroon as Here van hulle lewens. Dit is amper asof hulle vir Hom sê, “Jesus, as U u kaarte reg speel, sal ek U dalk net laat binnekom! As U vir my geluk gee, as U my genees, as U ‘n paar gebede beantwoord, as U vir my ‘n teken of twee wys, vir my ‘n wonderwerk gee – kan U dalk net op die ou end as Koning van my lewe gekroon word.”

Hoe belaglik blind is ons! Daar sit Hy nou, in al Sy ontsagtlike krag en heerlikheid – met al die leërskares van die hemel wat by Sy voete aanbid – met die vier-en-twintig ouderlinge wat op hulle aangesigte voor Hom lê – met God wat al die magte van die godheid aan Hom geskenk het – met ‘n gewonde en verslane duiwel wat van Sy teenwoordigheid af wegvlug – en al die owerhede en magte in die hemel en op die aarde wat voor Sy mag en majesteit buig!

En hier is ‘n leërskare blinde, vleeslike, louwarm Christene en half besluitelose sondaars – wat dink hulle doen Hom ‘n guns deur Hom te laat heers in hulle lewens. Hoe dwaas, as Hy met net een blaas van Sy neus koninkryke en heersers kan wegblaas. “Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie! Al die nasies is voor Hom soos niks; as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken” (Jesaja 40:15,17).

Wat is Rusland, met haar missiele en wapentuig? Sy is ‘n druppel in ‘n emmer! Wat is China, met haar ontelbare leërs? Niks! Wat is Amerika? Wie is die wêreldleiers wat nasies laat sidder? Niks! Hulle is stof – soos niks vir Koning Jesus! “En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?” (Daniël 4:35).

Die Kerk is blind vir die huidige heerlikheid van Christus se heerskappy!

Ek sê dat Christus nie net sal heers dwarsdeur ewigheid in die Paradys nie, maar dat Hy nou reeds heers, nadat Hy al sy vyande oorwin het!

Tog is daar ‘n sluier oor ons oë, wat ons daarvan weerhou om Christus se huidige koninklike heerlikheid te aanskou en toe te eien. Ons misluk om Hom te sien as ‘n HEERSENDE KONING – nou! Dit is ‘n sluier van ongeloof. Dit is dieselfde sluier wat Israel weerhou om die Here se heerlikheid te aanskou wat op die gesig van Moses geblink het. Moses was ‘n vorige keer op die berg, afgesonder met God – maar sy gesig het nie geblink nie. Toe het God hom weer teen die berg opgeroep – en hierdie keer het Hy Moses in ‘n skeur van ‘n rots verberg en vir hom gesê: “Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep...my heerlikheid verbygaan” (Exodus 33:19-22).

Die wet kon nie die gesig van Moses laat blink nie, maar ‘n visioen van God se grootheid, barmhartigheid en genade het! Die kinders van Israel kon dit nie verdra om te kyk na die weerkaatsing van die heerlikheid van die Here se heerlikheid in die gesig van Moses nie. Hulle het geëis dat hy daardie heerlikheid met ‘n sluier toemaak! Die heerlikheid op sy gesig het hulle sondige harte veroordeel. Dit het hulle bang gemaak! Hulle het verkies om op ‘n afstand te aanbid. “Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word...tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart” (2 Korinthiërs 3:14,15).

Die Jood is steeds agter ‘n sluier van ongeloof. Die gelowiges staan verstom en sê, “Waarom kan die Jood nie Christus, die Koning wat kom, in die Ou Testament sien nie?” Ons stem saam met Paulus: “Ja, die Jood is blind vir Christus in die Ou Verbond.” Maar wat van ons? Ons het ook ‘n sluier van ongeloof oor ons harte. Ons is blind vir die heerlikheid van God in Christus Jesus! Ons geestelike oë het katarakte – ons sien so min!

Die sluier word weggeneem in Christus! Wanneer een hom tot die Here bekeer, is die sluier veronderstel om verwyder te word (2 Korinthiërs 3:16). Paulus maak dit duidelik dat gelowiges behoort in te kyk in Christus se groot en koninklike heerlikheid – en daardeur verander te word! “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18).

Ons is veronderstel om elke dag te verander! Ons behoort na die heerlikheid van God te kyk in die aangesig van Jesus Christus – die heerlikheid wat God Hom gegee het as Here en Koning van alles – en verander te word deur daardie visioen van wie Hy is!

Ons word almal verander op een of ander manier. Ons word meer en meer soos Jesus – meer en meer stralend, vertrouend en heilig. Of, ons word meer en meer soos die wêreld. Die Bruid van Christus verander elke dag – groter afsondering, groter honger en dors, groter liefde vir Sy Woord, groter begeerte vir heiligheid. Die vleeslike, wêreldgesinde Christene verander ook vinnig. Meer materialisties, meer liberaal, meer sensueel, meer soos die goddelose skare rondom hulle.

Nie een van ons het al die heerlikheid van God in die aangesig van die Here Jesus Christus gesien nie! Ons ongeloof verhinder ons om al die krag en heerlikheid te sien wat nou Syne is! Ons nader Hom, of erken Hom, of dien Hom nie werklik as Koning en Here en Heerser oor alles nie!

Ons ongeloof maak sy verskyning in die binnekamer!

Ons skryf nie aan Hom toe al die krag, heerlikheid en mag wat Syne is nie. Ons sien onsself nie waar ons in die teenwoordigheid van ‘n heersende Koning kom nie. Hierdie magtige Koning, met alle krag in die hemel en op die aarde, sê vir ons dat Sy oë op ons is en Sy ore oop is vir ons versoeke! Hy sê vir ons sodra Hy ons hoor, hét ons die versoek wat ons van Hom vra.

Maar wie glo dit werklik? Dit is vir ons baie moeilik om selfs te glo dat die Erekoning van die Hemel daar in daardie binnekamer is, wat sit in al Sy prag as ‘n majesteuse Koning, wat ons uitnooi om met vrymoedigheid in Sy koninklike hofsaal in te kom om al die barmhartigheid en genade te ontvang wat ons ooit sal nodig hê in ons tyd van swaarkry.

Die sluier van ongeloof is oor ons harte! Wys vir my een gelowige in hierdie wêreld wat verseker en bewus it dat die oomblik wat hulle afsonder met God deur gebed en gemeenskap, die Koning van die Hemel net daar in die daar werklik teenwoordig is om Sy ewige kragte te gebruik om hulle onthalwe. Hoeveel mense glo dat so ‘n glorieryke Koning vir Sy kinders wag om in sy teenwoordigheid in te kom met lof – en dat Hy Hom verbly in daardie gemeenskap – en dat Hy Sy teenwoordigheid manifesteer en openbaar op intieme maniere?

As ons werklik geen sluier van ongeloof oor ons harte het nie, sou ons Hom nader as die Een wat nou heers – as Een wat die volheid van die godheid besit en wag om gebruik te word om ons onthalwe! Ons sou aanbid met die wete dat ons werklik in Sy teenwoordigheid is. Ons sou Hom prys, met die wete Hy is net daar om ons lofoffer dadelik aan te neem. Ons sou in geloof vra met die wete dit is klaar gedoen – omdat Hy ons verhoor en al die mag het om dit uit te voer. Om uit Sy teenwoordigheid te gaan sonder om te glo Hy het ons gehoor en sal ons verhoor, is om nie te glo Hy is daar of dat Hy Koning van alles is nie!

As Hy in my bly – doen Hy so as Koning oor alles! Wanneer ek my aan Hom oorgegee het, het ek Hom nie Koning gemaak nie! Hy het my lewe oorgeneem – as Koning! God het Hom gekroon – nie ek nie! Hy het reeds ‘n koninkryk. Ek was bloot oorgebring uit my koninkryk van duisternis tot in Sy wonderbare koninkryk van lig. Ek moes sterf om in Sy koninkryk in te kom! Wanneer jy sterf vir sonde – wanneer jy saam met Christus sterf – word jy opgewek in Christus se koninkryk waar Hy reeds heers!

Maar Christus se koninkryk is binne-in my! Al sy krag as Koning is binne-in my! Dit bly altyd Sy krag! “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efésiërs 3:20). Daardie krag is Syne – die koninklike krag van God.

Ons bewys dat die sluier oor ons harte is deur die manier waarop ons lewe!

Ek het nog nooit gehou van die term, “Koningskinders” nie. Dit klink te ligsinning en onmajestueus vir my. Verder word dit so verkeerd toegepas, met die fokus op rykdom en materiële dinge. Ons is egter die kinders van die Erekoning van die Hemel, maar ons lewe asof ons verlaat en hulpeloos is.

So min van ons is bewus daarvan dat ons die geliefde kind van ‘n magtige Heerser is wat om ons onthalwe met ‘n ysterstaf heers. As ons werklik die sluier afgehaal gehad het, en as ons Christus vir ons sien heers het, sou ons verontwaardig word oor elke sataniese poging om ons skade aan te doen! Ons sou opstaan met ‘n geestelike verontwaardiging en verklaar: “Duiwel, jy kan nie dit aan my of my familie of iemand wat aan my behoort, doen nie! Ek is die kind van die Koning van hierdie heelal en Hy sal jou verpletter op my woord. Ek bind jou; ek dryf jou uit; ek stuur jou terug na jou die duisternis, in Sy almagtige Naam!”

Ons sou nie gaan lê soos swak en verwarde kinders nie – en die magte van die duisternis toelaat om ons te teister, oor ons te loop, ons te verwar, en ons te beseer, en ons gedagtes, ons huise, ons maats, ons kinders skade aan te doen nie. In plaas daarvan, sou ons in geloof opstaan, met volle versekering en rus in die heerlikheid en mag van ons gekroonde Koning! Koning Jesus sou ons rus wees! Koning Jesus sou ons stryd stry. Hy sou die vyand op die vlug laat slaan! Ons sou volkome vertroue hê vir oorwinning in alles, omdat ons ten volle vetrou op Sy almagtige krag.

Dit kom neer op die volgende: Glo jy aan Hom is ‘n koninkryk gegee? Glo jy saam met die leërskare van die hemel en die vier-en-twintig ouderlinge dat Hy heerskappy oor alles geneem het – dat al die koninkryke van hierdie wêreld Syne is, dat Hy nou heers as Here oor alles? Indien wel, glo jy Hy het al die mag van die godheid in Sy hemelse liggaam? Glo jy Hy het die duiwel en al sy magte oorwin? Glo jy Hy het die laaste vyand – die dood – oorwin?

As Hy Koning is – as Hy alle mag het – as die hele heelal Syne is – as almal in die hemel, op die aarde en onder die aarde buig voor Sy krag – en as dieselfde Koning woning in my gemaak het – en as Hy nou my Koning en Here is en in my heers met heerlikheid en krag – WAT SOU EK VREES? Wat sou my kon skade doen? Alle dinge is nou moontlik! Alle dinge is onder Sy gesag en heerskappy.

Waarom is daar dan so baie Christene wat lewe in nederlaag, eensaamheid, desperaatheid en ‘n verlore stryd voer teen versoeking – met geen rigting, geen vrede, geen sekuriteit, geen wonderbare rus nie? Dit is omdat hulle ‘n sluier van ongeloof oor hulle oë en harte het! Hulle het ‘n heersende Koning en weet dit nie! Hulle het alles wat hulle nodig het, maar nie kan sien nie. Hulle het alle mag oor al die planne van die vyand, maar is blind daarvoor! Deur die verwarrende wyse waarop Christene nou lewe, sê ons vir God en vir die hele wêreld, “Ons het geen Koning nie! Ons is sonder krag! Daar is geen leërs aan ons kant nie! Ons is aan die genade van ons vyande uitgelewer!”

Dit is ‘n infame leuen! Dit is ‘n belediging van ongeloof vir die Erekoning van die Hemel! Ons staan in die hofsaal van Koning Jesus – met die hemelse leërs wat voor Hom neerval en Sy opgang tot mag verkondig. En terwyl hulle roep, “Hy het alle heerskappy aanvaar!” – staan ons daar soos verlore, hulpelose kinders met ‘n kappie oor ons koppe, sonder om iets te sien of te hoor!

Dawid het uitgeroep, “Die HERE is Koning; laat die volke bewe...laat die aarde sidder...Die HERE is groot in Sion, en verhewe is Hy bo al die volke...Laat hulle u grote en gedugte Naam loof” (Psalm 99:1-3). “Die HERE is Koning; Hy is met hoogheid bekleed. Die HERE Is bekleed, Hy het Hom met sterkte gegord...Vas staan u troon van ouds af; van ewigheid af is U” (Psalm 93:1).

Die getuienis van elke gelowige behoort te wees: EK GLO KONING JESUS HEERS NOU IN GLORIERYKE MAG! Jesaja het gesê, “Hoe lieflik op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7). Dawid sê, “Sê onder die volke: Die HERE is Koning” (Psalm 96:10).

Die sluier van ongeloof is die heel duidelikste in God se huis wanneer ons aanbid!

Die Heilige Gees moet bedroef wees by die aanskoue van soveel versluierde gelowiges wat kom om die Koning van die Hemel te ontmoet! Hy het belowe om ONDER Sy kinders te wees, enige plek waar twee of drie saamkom in Sy Naam. MAAR ONS DADE BEWYS ONS GLO DIT NIE! Hoeveel van ons weet iets van die krag en mag wat Koning Jesus in Sy huis wil vrystel wanneer gelowiges in Sy Naam saamkom? Hoeveel van ons kan deur geloof, die duisende strydwaens nou rondom ons sien? Hoeveel sien Koning Jesus op Sy groot wit perd en Sy seëvierende leër lei?

Elisa het daardie leër gesien: “En meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa” (2 Konings 6:17).

Dawid het gesê die waens van die Here is duisende derduisende. Hulle is waens van vuur en hulle word gery deur die wêreld se magtigste soldate. “Die waens van God is tienduisende, duisend maal duisende; die HERE is onder hulle...” (Psalm 68:18).

Trek God ‘n laer rondom ons of nie? Hy het nie net ons huis omring met vuurwaens en leërs van engele nie -  Hy sit daar onder hulle op Sy koninklike perd, as Bevelvoerder van Sy leër!” “Hef op jul hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd. Hef op jul hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare – Hy is die Erekoning!” (Psalm 24:7-10).

Toe Hy gesê het, “Hy sal onder hulle wees” – watter vorm dink jy het Hy bedoel? Net as ‘n verheerlikte mens? As een sonder ‘n koninkryk, sonder leërs, sonder alle mag en krag? Nee! Hy is in ons midde AS ‘N HEERSENDE KONING!

Jesaja het Hom in al sy koninklike heerlikheid gesien en hardop uitgeroep, “En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek” (Jesaja 40:5).

Dawid het Hom gesien ry deur die hemele op Sy wit perd, en heers met magtige krag. “Van Hom wat ry in die hoogste hemele, wat uit die voortyd is; kyk, Hy verhef Sy stem, ‘n magtige stem” (Psalm 68:34).

Jesaja het hierdie Erekoning gesien rondry – EN AFGODE NEERWERP! “Kyk, die HERE ry op ‘n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte smelt in sy binneste” (Jesaja 19:1).

Sien jy die leërs geklee in wit? Sien jy Hom onder hulle? Sy GROOT WIT PERD GEREED VIR OORLOG? “En ek het gesien, ek kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin” (Openbaring 6:2).

Heiliges van God, ek sien Hom! My sluier is weg! Hy is hier! Hy is op hierdie oomblik met jou! Hy is hier om elke vyand op die vlug te laat slaan! Hy is hier in mag en heerlikheid! Hy is hier om te oorwin en om elke vyandige vesting neer te werp! Open jou oë! Kry die sluier af! Glo wat Hy gesê het: “Ek sien Hom, op Sy wit perd, met ‘n boog in Sy hand, ‘n oorwinnaar!” Hoe kan jy in Sy heerlike teenwoordigheid wees en nie aangeraak word nie?

Ons is genooi na die bruilofsmaal van die Lam!

“En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! Want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdig dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf – salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God” (Openbaar 19:6-9).

Wat ‘n gesig sal dit wees, wanneer al die verlostes van alle ouderdomme by die Here se tafel sit! Menigtes geklee in wit – met harte brandend van verlange na die aankoms van hulle Geliefde!

Moses is daar! So ook Abraham, Josua, Koning Dawid, Noag, Rut, Johannes die Doper, al die apostels, martelare, Luther, John Wesley, al die sendelinge van al die eeue, die Bloedverlostes van elke stam en volk en elke oorwinnaar van hierdie laaste tyd – en jy – en ek!

Die luide en deurdringende geluide van baie basuine en blaashorings sal weerklink! Watter verwagting! Die bruid is op die punt om die Bruidegom te ontmoet! Die Vader is op die punt om die Koning in die banketsaal in te bring – na die bruilofsmaal! En, met ‘n donderende stem wat magtig en triomfantlik klink, sal die Vader hardop roep – “KYK, JULLE KONING! DIE EREKONING!” “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig” (Openbaring 19:11).

Wat ‘n donderende verwelkoming sal Koning Jesus ontvang! Koning Dawid sal uitroep, “Sion juig oor hulle Koning” (Psalm 149:2). Daardie heilige plek sal weerklink met lof!

“HIER KOM HY!” – die verlostes sal met gejubel roep.

* Die helder Môrester!

* Die klokke op Sy perd lui dit uit, Heilig is die Here!”

* Leërs geklee in wit omring Hom – leërs meer as waaraan jy kan dink.

* Daar is krone op Sy hoof!

* Hy is geklee in heerlike wit!

* Sy naam is DIE WOORD VAN GOD!

* Sy oë is vlamme van vuur!

* Wat ‘n GROOT WIT PERD!

* Watter geroep van danksegging! Watter magtige Hosannas sal gehoor word!

* Kyk na Hom, Heiliges – ONS KONING KOM INGERY – so ‘n liefdevolle, triomfantlike glimlag! Al die vyande is weg! Die Koning is verenig met Sy bruid!

AS HY ONS KONING IS, AS HY NOU HEERS IN HEERLIKHEID – DAN BEVEEL HY ONS OM ONS STEMME OP TE HEF EN HOM HARDOP TE PRYS!

“Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning! Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter. Want die HERE het ‘n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil. Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde” (Psalm  149:25).

Ek sê vir jou op die gesag van God se Heilige Woord: Koning Jesus het jou huis met ‘n leër van witgeklede, koninklike ruiters op perde omring – en Hy sit nou majestueus op Sy groot wit perd! Geen vyand in die heelal waag dit om naby jou te kom nie! Demone het van vrees gevlug! Owerhede en magte van duisternis is in wanorde – Satan sidder – want die Erekoning is hier! Sien jy Hom?!