Bylgode

David Wilkerson

O God, waarom het U vir altyd verstoot? Waarom rook u toorn teen die skape van u weide? Dink aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Sion waar U op gewoon het. Hef u voete op na die ewige puinhope: alles het die vyand in die heiligdom verniel. U teëstanders het binne-in u vergaderplek gebrul; hulle het hul tekens as tekens gestel. Dit lyk soos wanneer iemand byle omhoog hef in ’n digte plek bome. En nou — die houtsnywerk daarvan het hulle alles met byl en hamers stukkend geslaan. Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot die grond toe het hulle die woonplek van u Naam ontheilig. Hulle het in hul hart gesê: Laat ons hulle almal saam onderdruk! Hulle het al die vergaderplekke van God in die land verbrand. Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie. Hoe lank, o God, sal die teëstander smaad aandoen, sal die vyand u Naam vir altyd verag?” (Psalm 74:1-10).

Dawid het vir ons ‘n ongelooflike profesie gegee oor toestande in God se huis in die laaste dae.

Hy het geprofeteer dat God se toorn sal rook teen die skape van Sy eie weide, teen ‘n gekoopte, verloste volk, ‘n volk by wie Hy gewoon het.

Hy het geprofeteer in die Berg Sion (Sy kerk), sou daar ‘n kanker van verwoesting versprei. In sy woorde, “Alles het die vyand in die heiligdom verniel.”

Hy het geprofeteer, “Daar is teëstanders wat brul binne-in u vergaderplek.” Ek sien dit as die duiwel self, wat sy eie sedelike standaarde in die vergaderplek van die skape wil instel.

Dawid het ook geprofeteer, “Hulle het hul tekens as tekens gestel.” Dit is die standaarde van die brullende leeu wat bedryf word in God se huis. Demoniese magte stel hulle eie bose standaarde in as ‘n nuwe rigting vir hedendaagse Christene. Dit is nie die standaarde van die leeu van Juda nie; liewer, dit is demoniese, duiwel-geïnspireerde standaarde uit die put van die hel. Hierdie standaarde word op hierdie oomblik ingestel. Die vyand sê, “Hierdie standaarde is van God af! Gaan daarmee saam! Kom – geniet nuwe sedelike vryheid!”

Dawid het ook geprofeteer dat hierdie teëstanders wat al hierdie nuwe standaarde instel, eintlik misleiers is wat ‘n byl in hulle hande ronddra. Hulle is soos een wat “byle omhoog hef in ’n digte plek bome. En nou — die houtsnywerk daarvan het hulle alles met byl en hamers stukkend geslaan” (Psalm 74:5-6).

Dawid het geprofeteer hulle doel is om al die ou standaarde af te breek, te verbrand en te vernietig. “Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot die grond toe het hulle die woonplek van u Naam ontheilig” (Psalm 74:7).

“Hulle het in hul hart gesê: Laat ons hulle almal saam onderdruk!” (Psalm 74:8).

“Ons sien nie ons tekens nie” (Psalm 74:9).

Met ander woorde, al die ou standaarde van heiligheid en afsondering is besig om te verdwyn. Ons herken nie langer die ou tekens of standaarde wat ons vaders gehad het nie.

Die vyand is vasbeslote om die huis van God te verontreinig en om ons hedendaagse jeug volkome te onderwerp met nuwe en goddelose standaarde wat hy self uitgedink het. Die hordes van die hel kom as bylgode om al die ou standaarde af te breek.

Wie is hierdie assistente van Satan wat rondgaan in die Here se vergaderplekke met byle, hamers en hamerbyle – en wegkap aan ons sedelike standaarde? Wie is hulle wat Christus se vereiste vir heiligheid en afsondering afbreek? Dawid het gesê, “Alles het die vyand in die heiligdom verniel”

Hulle is die engele van lig en valse profete wat deur Satan mislei is en wie nou beset word deur die gees van die bylgode. Hulle is so blind, dat hulle nie eens weet dat hulle die presiese standaarde wat Christus ingestel het, afbreek nie. Baie van hulle word bedrieg om te glo dat hulle nuwe standaarde ‘n nuwe soort Christelike sedelikheid verteenwoordigheid, waar dit in werklikheid, leerstellinge van duiwels is. Soos geprofeteer, die leerstellinge van duiwels het sekerlik verskyn in God se huis in die laaste dae. “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Timótheüs 4:1-2).

Dit is baie duidelik dat God se Woord voorspel dat leuengeeste leerstellinge van duiwel sal instel in die laaste dae. Daar sal skynheiliges wees wat gebrandmerk is in hulle gewete wat misleiding in God se huis sal verkondig en doen. “Want ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:2-4). “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:13-15).

Is dit nie duidelik uit hierdie geopenbaarde waarhede nie dat daar diegene sal wees wat hullself sal vermom as dienaars van die geregtigheid wat eintlik dienaars van Satan is? Hierdie goddelose engele van die lig praat so mooi van Jesus; en volgens Paulus die Apostel, gebruik hulle goddelose metodes om die goeie te laat voortkom. “En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig. Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is ’n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:8-18).

Wie beskryf Paulus hier? Sekerlik nie Christene met rein harte nie. God het nog altyd mense gehad na Sy eie hart. Hy praat van hierdie engele van die lig wat probeer om kwaad wil gebruik om goed te voort te bring. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. Verteenwoordig onder hierdie is sommige van die nuwe Christen punk rock groepe en wêreldsgesinde musikante wat, volgens die Woord van God, ‘n keel het wat ‘n oop graf is, en die stank van die dood is op alles wat hulle doen. Hulle tonge bring ‘n evangelie vanuit misleide lippe. Paulus het gewaarsku dat die gif van die slang op hulle lippe is. En hulle standaarde lei tot misleiding en verwoesting van menigtes.

Van wie praat ek wanneer ek van bylgode praat? Wie is hierdie vyande van God, wat rondgaan en God se heilige standaarde afbreek en afkap? Die Bybel is duidelik oor die antwoord. “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God” (Jakobus 4:4).

Ek glo diegene wat ‘n bespotting maak van ons Here se gebod om uit die wêreld te kom en afgesonder en rein te wees, het die gees van die bylgode op hulle. Daar is slegs een heilige standaard wat die bylgode wil afkap meer as al die ander saam, en Satan sal die Skrif verdraai op elke moontlike manier om dit af te kap. Dit is 2 Korinthiërs 6:14-18. “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”

Dit is die heilige standaard van die Leeu van Juda, wat ek sien Satan en sy bylgode wreed aanval. God vra vir afsondering, en daar is geen verbykomkans om hierdie eis nie, maak nie saak hoeveel mense die mengsel met die wêreld wil regverdig nie.

Diegene wat soek om die heilige standaarde van Christus af te breek, stel voor dat Jesus ‘n vriend van sondaars was wat nie net saam met hulle geëet en gedrink het nie, maar wat in hulle koninkryk geleef en beweeg het. Niks kan verder van die waarheid af wees nie! Toe Jesus op hierdie aarde gewandel het, was elke heiden beskou as ‘n sondaar. As ‘n Fariseër se kleed selfs net die vlees van ‘n heiden aangeraak het, het hy gedink hy is so onrein dat hy so ver gegaan het om sy kleed te gaan was so gou as moontlik. Jesus het met sondaars gekommunikeer en gesê Hy is hulle vriend en Saligmaker. Hy het die huise van heidene binnegegaan om te eet. Maar nooit het Hy hulle lêplekke van ongeregtigheid binnegegaan of deel gehad aan hulle gees nie. Verder maak Paulus dit duidelik dat daar ‘n muur tussen Christus en die goddelose was. “Want so ‘n Hoëpreister was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die heidene geword het” (Hebreërs 7:26).

Christen Ouers het hulle gesag geabdikeer!

Baie Christen ouers word mislei en bedrieg deur die gees van die vyand. ‘n Eli-gees verblind die oë van menigtes van Christen ouers. Eli het twee seuns gehad wat goddeloos en verdraaid geword het en wat heeltemal mislei was deur Satan. “Dié dag sal Ek aan Eli vervul alles wat Ek oor sy huis gespreek het, van begin tot end. En Ek sal hom te kenne gee dat Ek sy huis gaan oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seuns skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie” (1 Samuel 3:12-13).

Eli het waarskynlik het nooit een keer sy seuns bestraf vir hulle verdorwe sedelike standaarde nie. Ek vind vandag dat selfs die mees toegewyde ouers terughoudend is om hulle kinders teë te gaan. Ouers lyk bang om hulle kinders te dissiplineer weens vrees om hulle te verloor.

Dawid het sy seun Adónia verloor. Sy eie seun het in die voetstappe van Absalom gevolg, homself verhoog en probeer om die troon by sy vader te steel. Waarom? “En sy vader het hom sy lewe lank nie gekrenk deur te sê nie: Waarom maak jy so? Bowendien was hy ook baie mooi van gestalte, en sy moeder het hom ná Absalom gebaar” (1 Konings 1:6).

Te veel ouers is doof en stom. Tieners beplak hulle kamermure met plakkate van duiwelbesete, heavy metal rock sterre. Selde eis ouers van hulle, “Wat maak dit op jou muur?” Min vaders eis ‘n verduideliking van hulle tieners oor hulle aktiwiteite.

Selde loop moeders en vaders in die slaapkamers van hulle kinders in, gaan hulle musiekversameling van plate en kassette na en vra opreg waarom hulle demoniese liedjies versamel en na vulgêre lirieke luister. Ek vra vir jou, Pa, Ma, het jy tyd afgestaan om uit te vind waarna jou kinders luister? Het jy hulle al ooit tot rekenskap geroep? Het jy al ooit vir ‘n verduideliking gevra? Of – sien jy dit oor en weier jy om hulle onder kruisverhoor te neem? Het jy dit net laat verbygaan as iets waardeur die jongmense gaan en sê jy vir jouself, “Dit is is net ‘n stadium van ontwikkeling. Hulle sal dit ontgroei. Dit is hierdie nuwe geslag en ek verstaan dit nie, maar ek wil nie inmeng nie. Trouens, dit is slegs ‘n tydelike situasie en almal lyk of hulle dit doen, so dit kan seker nie só sleg wees nie.”

Dit is tragies dat die meeste ouers vandag, insluitend herders, geen idee het waarby hulle kinders betrokke is nie. Dikwels, word hulle mislei deur hulle kinders – bedrieg – en baie van die kinders blyk skepties te wees oor hulle ouers se onderskeidingvermoë. En dikwels is daar baie min belangstelling by ouers in wat hulle kinders doen.

Dit is tyd vir Christen vaders en moeders om ‘n standpunt in te neem teen die stroom gemors en onsedelikheid wat op ons kinders afgedwing word. Ouers wat ‘n standpunt inneem mag hulle dalk vasloop in ‘n tydelike gees van rebellie, maar op die lang duur, sal hulle hul kinders red van die hel.

Hoeveel langer sal Christen ouers toekyk en toelaat dat die bylgode van hierdie eeu wegkap aan die sedes van hulle beleërde jeug?

Ek blameer vleiende predikers!

Ek betreur die feit dat so baie evangeliste en herders weier om sonde uit te wys en die mense op hulle ongeregtighede te wys. Daar is so min profete vandag, so min vreeslose predikers op die kansel, so min wat in die bresse tree en waarsku teen die vyand, “O God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak. Hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land” (Psalm 79:1,2).

Ons jongmense verval vandag – daar is geestelike dood oral – so baie word slagoffers van demoniese magte – die wilde diere van die land (die magte van die duisternis) verslind hulle – en dit lyk of daar geen menslike gesag is om die vyand weg te jaag nie. “Die HERE sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word; op een pad sal jy teen hom uittrek en op sewe paaie sal jy voor hom uit vlug — en jy sal ’n skrikbeeld vir al die koninkryke van die aarde word. En jou lyke sal as voedsel dien vir al die voëls van die hemel en vir die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak” (Deuteronómium 28:25-26).

Waar, o waar is die kinders van God met heerskappy en gesag wat sal opstaan en hierdie magte van die duisternis sal wegjaag van God se volk af? “Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie” (Psalm 74:9).

Ons het oorgenoeg vleiery op ons kansels. Ons het herders en evangeliste nodig wat jaloers is met die jaloesie van ‘n heilige God. God is liefde! Hy is ook heilig! Ons het ‘n hele geslag jongmense wat slegs gehoor het dat God liefde is, en hulle het min of geen konsep van die skrikwekkende waarheid dat hulle eendag voor die oordeesltroon moet staan en rekenskap gee van hulle dade.

Genadiglik, in die laaste paar maande, het God talle herders en evangeliste opgerig wat God se hartsgeroep vir heiligheid en bekering gehoor het en hulle bulder vreesloos teen die sondes in God se huis. Hulle word bespot en getart, maar God het hulle moed gegee, en dit is hulle wat die wagte van hierdie laaste uur is.

‘n Waarskuwing vir die jeug!

Satan en sy byldemone het twee doelwitte – twee dinge wat hulle moet doen om volle beheer oor die jeug te kry. Eerstens, hulle moet ‘n gees van rebellie op die kinders plaas. Tweedens, hulle wil die jeug doop met ‘n gees van hardkoppigheid.

Daar is ‘n demoniese doop. Satan probeer om soveel jeug as wat hy kan te dompel in die donker water van rebellie en hulle uit daardie donker water uit te haal, vol van ‘n gees van hardkoppigheid.

Hy kan nie hierdie doel bereik voordat hy eers die teer, gewillige hart vir God afgesny en weggekap het nie. Hy moet al die heilige standaarde wat verkondig word afsny en wegkap. Dit is waarom hy alles binne sy vermoë doen om God se heilige altaar af te breek en dit te vervang met sy eie afgode.

Luister na hierdie skrikwekkende woorde: “HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel! Ons het geword soos hulle oor wie U nie van ouds af geheers het nie, oor wie u Naam nie uitgeroep is nie” (Jesaja 63:17,19).

Die gevaar daarin om jou siel en verstand te vul met die musiek en sedes van duiwels, is dat jy net soos die bylgode sal word. Jou eie sedelike standaarde sal afgesny en vernietig word. Jy sal stadig verander en op die ou end dieselfde gees hê as hulle wat die regverdige standaarde in God se huis wil vernietig.

Ek is geskok deur die hardkoppigheid van Christen jongmense wat so verslaaf is aan wêreldse musiek en sedes, hoewel dit duidelik die gees van hierdie eeu is. Hoe hardkoppig sal hulle hul standaarde verdedig. Hulle verag enigeen wat waarsku teen hulle aktiwiteite. Hierdie hardkoppigheid bekommer my meer as hulle kompromie. Wat het gebeur met die teer harte vir God? Wat het gebeur met die gewillige, rein hart wat rebellie en mengsel met die wêreld teëgestaan het? Het die hart nou verdeeld en rebels geword? “Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp” (1 Samuel 15:22,23).

Eeue gelede het Moses geprofeteer van ‘n laaste dag wanneer God se seuns en dogters sou afdwaal na nuwe gode van die nuwe eeu. “As Ek nie vir die terging van die vyand bedug was nie, dat hulle teëstanders dit sou misverstaan en sê: Ons hand was hoog, en die HERE het dit alles nie gedoen nie. Was hulle wys, hulle sou dit insien, hulle sou op hulle einde let.” (Deuteronómium 32:27,29).

“Hulle het verderflik teen Hom gehandel — die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek — ’n verkeerde en verdraaide geslag. Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hý nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hý jou nie gemaak en jou toeberei nie?” (Deuteronómium 32:5-6).

“Hy het hom gevind in ’n woestynland en in ’n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel. Soos ’n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels — die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie” (Deuteronómium 32:10-12).

“Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop — jy het vet geword, dik geword, spekvet geword — en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag. Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg. Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie. Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het. Toe die HERE dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters. En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ’n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie” (Deuteronómium 32:15-20).

Die Bybel sê dat hulle offer aan duiwels wat nie God was nie – aan gode wat hulle nooit voorheen geken het nie – aan nuwe gode wat onlangs gekom het.

God sê, “Hulle maak My jaloers met hulle gode.” Wat Hy sê is eenvoudig. “O dat julle My sou liefhê soos julle jul afgode liefhet. O dat julle soveel tyd saam met My sou deurbring as wat julle luister na julle musiek. O dat julle My sou verdedig en so hardkoppig vir My en My heilige standaarde sou wees as wat julle is om ‘n julle eie nuutgevonde standaarde te verdedig.”

God sê in wese – “Hulle is nie getrou aan My nie. O, ja, hulle is getrou aan hulle afgode. Hulle is fanaties oor hulle musikante en groepe. Hulle is so getrou aan hulle vriende – maar so troueloos teenoor My.”

Ek het onlangs ‘n veldtog gehou in Toronto en ek was werklik geskok oor die gesindheid van so baie Christen jongmense wat my verbaal aangeval het omdat ek die aandag gevestig het op die toenemende onsedelikheid onder Christen rockgroepe. Niemand wou luister nie, tot op daardie laaste dag van my veldtog. Dit het so gebeur dat op daardie dag ‘n sogenaamde Christen punk rock groep van die Verenigde State ‘n plaat in Kanada vrygestel het wat so blatant goddeloos was dat selfs hulle geskok was. Die titellied het ‘n vier-letter seksuele vloekwoord ingesluit. Baie van hulle het na die altaar gekom daardie aand, geween en vir my gesê, “Broer Dave, nou weet ons waarvan jy praat. Dit is nou werklik van die duiwel af. Ons het nooit geweet dit sou só ver gaan nie. Dit kan nie van God af wees as hulle vloek en vier-letter woorde gebruik soos hulle dit nou doen nie.”

Ek het jongmense lief met my hele hart, maar ek sal nie toekyk hoe hierdie bylgode deur die huis van die Here gaan en probeer om elke standaard wat God opgerig het deur die eeue af te breek nie. Ek vra ouers en herders en evangeliste om nou standpunt in te neem, voor dit te laat is! Hoe ver moet dit gaan? Hoe goddeloos moet dit word? Hoe blatant verdorwe moet dit wees voor ons die hand daaragter sien?

Word wakker, kerk van Jesus Christus, en neem heerskappy en gesag deur die krag van die Heilige Gees, en laat ons hierdie bylgode teëstaan en hulle uitdryf terwyl daar steeds tyd is.

Die afgelope tyd was ek elke denkbare soort naam genoem. Ek is beskuldig van ‘n senuwee-ineenstorting en dat ek net ‘n ou, kwaai doemprofeet is. Ek gee werklik nie meer om wat mense my noem nie. Ek voel in my innerlike die vurige toorn van God teen die verdorwe standaarde wat in die kerk van Jesus Christus insluip, en ek is ontsteld oor die skaapagtigheid en lafhartigheid op soveel kansels. Hierdie nuwe standaarde is nie van God af nie, en ek gee nie om hoeveel Jesus-woorde hulle byvoeg en hoeveel hulle hulleself regverdig oor hulle sedelike standaarde nie – ek sien die slang daarin!

Ek vra alle jongmense dieselfde vraag wat Jesus vir Petrus gevra het: “Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei. Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op. Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei” (Johannes 21:15-17).

Dit is die vraag van die uur! Dit gaan verder as of Christen rock musiek goddeloos is of nie. Dit gaan selfs verder as die dubbele standaarde en die afgodery van hierdie eeu. Dit is bloot, “Het jy Jesus lief meer as al hierdie ander?” Jesus het gesê, “As jy My liefhet, sal jy My gehoorsaam.”

Ek sien in al die sedelike agteruitgang in die kerk vandag ‘n gebrek aan liefde vir Jesus Christus.

Maar ek profeteer ook dat God op die punt is om al die gemors uit Sy huis te vee, en Hy rig nou reeds ‘n heilige oorblyfsel op wat leef in ‘n toestand van bekering en tot God uitroep soos nooit tevore nie vir herlewing, vir geregtigheid, en vir ‘n ware visie van die hart van Jesus.