Hulle oë is toegepleister, hulle sien nie

“Die wat afgodsbeelde maak, is self almal niks; die dierbare gode van hulle kan nie help nie. Die wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie, kan nie verstaan nie; die wat sulke gode het, word teleurgestel. Wie maak nou ‘n god, giet ‘n beeld wat nie kan help nie! Almal wat so ‘n god aanhang, word teleurgestel: dit is gode wat deur mense gemaak is. Wanneer die wat hulle aanhang, bymekaarkom vir ‘n beslissing, staan hulle verbyster en verleë.

“Die ystersmid vat ‘n stuk gereedskap en werkskaf in die gloeiende kole. Met hamers vorm hy die beeld, met sy gespierde arm maak hy die beeld: die smid eet nie en word swak, hy drink nie water nie en raak uitgeput.

“Die ambagsman wat hout gebruik, meet met sy maatlyn en merk die beeld se buitelyne af. Hy bewerk hom met beitels en trek sy mate met ‘n passer af. Hy maak hom in die vorm van ‘n mens, ‘n pragtige mens wat in ‘n huis moet woon. Die ambagsman kap vir hom seders af, of hy kies sipresse of eike en laat hulle groot word in die bos, of hy plant ‘n lourierboom, en die reën laat dit groot word. Dit dien as vuurmaakhout vir die mens; iemand vat daaraan en maak hom warm, of hy maak ‘n vuur om brood te bak, of hy maak ‘n god en aanbid dit, hy maak ‘n beeld en buig daarvoor. ‘n Deel van die hout verbrand hy: hy maak kos daarmee gaar, hy braai vleis en eet tot hy genoeg het; hy maak hom ook warm en sê: “Dis lekker! Ek is warm, ek geniet die vuur!” Van die hout wat oorbly, maak hy ‘n god, ‘n beeld, hy buig voor hom en aanbid hom, hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!

“Sulke mense weet nie wat hulle doen nie, hulle het nie insig nie, hulle oë is toegepleister, hulle sien nie, niks dring tot hulle verstand deur nie. Hulle kom nie tot besinning nie, hulle het te min kennis en verstand om te sê: “’n Gedeelte van die hout het ek verbrand, ek het op die kole kos gaar gemaak, ek het vleis gebraai en geëet, en moet ek nou van wat oor is ‘n afskuwelike afgod maak, moet ek voor ‘n stuk hout buig?

“Iemand wat hom met as besig hou, laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings. Hy kan homself nie red nie, hy vra homself nie af: “Is dit nie ‘n leuen waarmee ek my besig hou nie?” (Jesaja 44:9-20).

U het nou net die ongelooflikste verhaal gelees wat in God se Woord opgeteken is. Hier is ‘n afgedwaalde seun van Israel, hy kap ‘n boom af, gooi ‘n stuk in die vuur waarop hy sy kos kook; en maak ‘n beeld van die res – en noem dit sy god! Hoe kan ‘n regdenkende mens so blind, so dom, so sonder onderskeiding wees?

Dit is die gevolg van iets wat God gedoen het. Hy het hierdie man se oë toegepleister sodat hy nie meer kon sien of onderskei nie. Hierdie man het hom met as besig gehou, sy oë was blind en sy hart was mislei. Hy het ‘n leuen gelewe, hy besef nie dat hy hulp nodig het nie – want hy is onbewus van sy bejammerenswaardige toestand.

Ons kyk na hierdie verstandelose man en ons sien ‘n onbeskryflike blindheid. Tog sê God, niemand is so blind as sommige van sy eie diensknegte nie.

“Luister, julle dowes, kyk, julle blindes, dat julle kan sien. Is daar iemand so blind soos my dienaar, so doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Is daar iemand so blind soos die een wat vir sy sonde gestraf is, so blind soos die dienaar van die Here? Julle het baie gesien, maar julle slaan nie ag daarop nie, julle het gehoor, maar julle luister nie. Die Here het vreugde daaraan om getrou te wees, Hy laat sy woord roem en eer ontvang. Maar sy volk is as ‘n stuk buit weggevoer, hulle word almal in gate gevange gehou, hulle is in gevangenisse opgesluit. Hulle het buit geword, en niemand red hulle nie, hulle het gevangenes geword, en niemand sê: “Laat hulle teruggaan!” nie. Wie van julle neem dit waar? Wie van julle gee aandag en luister met die oog op wat voorlê? Wie het van Jakob ‘n gevangene gemaak, wie het vir Israel oorgegee aan die wat buit gemaak het? Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het? Ons wou nie sy wil doen nie, ons wou nie na sy woord luister nie. Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam: die geweld van oorlog. Daar was vlamme rondom hulle, maar hulle wou nie verstaan nie; dit het hulle gebrand, maar hulle wou dit nie ter harte neem nie” (Jesaja 42:18-25).

Jesaja beskryf die toestand in God se huis, soos dit vandag daar uitsien! Daar is byna geen onderskeiding oor nie! Luister weer na die profeet: “My boodskapper – My boodskapper, wat Ek gestuur het – BLIND.” Verder sê hy: “Jy sien baie dinge. (Jy hardloop van een seminaar na ‘n ander. Jy lees soveel boeke. Jy hoor so baie oor waarheid en Openbaringe, maar jou lewe bly onveranderd). Maar jy sien dit nie in nie.”

God se kinders word oorweldig deur sterk winde, deur golwe van leerstellinge. Leerstellinge in verband met bose geeste, het baie mense gevange geneem in gevangenisse van wanhoop. Bekeerlinge word ‘n prooi van nuwe leringe en ‘n prooi van Satan.

Daar is so min predikers met onderskeiding wat kan sê, “Dis genoeg! Dis verkeerd!” So min wat uitroep, “Gee hulle terug!” So weinig met wysheid en onderskeiding wat die gevangenes kan bevry.

Waar kom hierdie blindheid onder God se diensknegte vandaan? Dit is as gevolg van sonde in die harte van die herders en dit is sonde in die harte van gelowiges, wat hierdie gebrek aan geestelike onderskeiding veroorsaak. Jesaja sê: “In wie se weë hulle nie wou wandel nie, en wie se wet hulle nie wou gehoorsaam nie.”

Johannes profeteer van ‘n Laodisiaanse kerk van die laaste dae wat geheel en al blind is, maar dit nie weet nie. “Julle sê: ‘Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal” (Openbaring 3:17).

Die wêreld besoedel feitlik alles in God se huis, en baie min mense merk dit op. Waarom? Jesaja sê: “Daar was vlamme rondom hulle, maar hulle wou nie verstaan nie, dit het hulle gebrand maar hulle wou dit nie ter harte neem nie” (Jesaja 42:25).

Ons het geleer om ons sonde te verskoon. Spesiaal ontwerpte danse, word in menige Charismatiese kerke toegelaat – dit is so onskuldig, so strelend, maar in sommige gebiede het dit gelei tot Saterdagaand danse, wat deur die kerk geborg word. Dit is nog ‘n tree wat blindes neem in die rigting van die wêreld. ‘n Begeerte na plesier word gebore, binne in die heiligdom. Spontane dans in die Gees kan ‘n pragtige lofoffer wees, maar ontwerpte danse in God se huis het die geur van vleeslike manipulasie.

Duisende predikers en leke-predikers het TV skywe aangekoop wat in staat is om pornografie van “playboy-type” sateliet kanale te ontvang. Manne van God, in groeiende getalle, staan op hulle kansels, preek oor die regverdigheid van ‘n heilige God, en gaan sit dan voor Satan se afskuwelike afgod en drink die sielsverwoestende pornografie in.

Wie kan onderskei dat Satan hierdie wapens gebruik om gelowiges van hulle geloof te beroof, hulle vrede te vernietig, hulle heiligheid te versteur, hulle families te verwoes en die bedienings te ruïneer. Waar is die herders wat uitroep: “Gee terug die onbesoedelde huise! Gee vir ons die huise sonder afgode, geweld en vrye geslagsomgang.”

Baie christelike egpare drink, woon nagklubs by en hou graag partytjies. In die Here se huis sien jy hulle met opgehewe hande terwyl hulle die Here prys. Hoe klap hulle hande! Hoe sing hulle Hosanna! Wat ‘n wonderlike geluid maak hulle vir die Here, maar hulle kan nie meer onderskei tussen reg en verkeerd nie, sensueel of geestelik nie. Jesaja waarsku:

“Ellende wag vir die wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter (Jesaja 5:20).

Ongelukkig is daar so min herders oor met onderskeiding wat hulle kan terugroep uit hulle dwaling. Dit is tragies dat baie opregte Christene gaan val, hulle sal tot niet gaan, want sonder onderskeiding sal dit byna onmoontlik word om die demoniese aanvalle die hoof te bied, wat self nou toeneem. Die Woord sê:

“Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; die wat aan die verbond getrou is, sterf sonder dat iemand begryp” (Jesaja 57:1).

Waarom word soveel opregte Christene vandag mislei deur selfsugtige leringe, wat op die vleeslike ingestel is? Omdat daar geen begrip en onderskeiding meer is nie. Daar is ‘n gedaante van Godsaligheid sonder enige krag, daar is so min ware heiligheid.

“Iets vreesliks en afskuweliks het in die land gebeur: die profete tree vals op, die priesters regeer met hulle eie gesag, en my volk hou daarvan! Maar wat sal julle doen as die einde kom? (Jeremia 5:30-31).

“Gods of a New Age” is ‘n hartverskeurende film wat die misleiding van duisende van ons jongmense wat hulle siele en verstand aan die Indiese Gurus oorgee, uitbeeld. Ek is geskok oor die algehele gebrek aan onderskeiding onder die jeug van ons volk. Kan dit die gevolg wees van die blindheid en gebrek aan onderskeiding in die kerk? Jesaja sê:

“Die wat oor my volk moet waak, is almal blind, hulle weet niks nie. Hulle is almal stom honde, hulle kan nie blaf nie; hulle lê net, hulle wil net slaap. Hulle is gulsige honde, hulle ken nie so iets soos genoeg kry nie. Hulle is herders sonder insig, hulle slaan elkeen sy eie koers in, elkeen is op sy eie voordeel uit” (Jesaja 56:10-11).

Die gebrek aan onderskeiding onder God se volk was ook die foltering van die siel van Jeremia. Israel se blindheid oorweldig hom as hy uitroep:

“O die krampe in my ingewande, o die benoudheid in my hart! My hart bons wild, ek kan dit nie tot bedaring bring nie, want ek het die geluid van die ramshoring gehoor, en die oorlogskrete! Die val van die een stad na die ander word uitgeskreeu, die hele land is verwoes. Met een slag is my wonings vernietig, in een oomblik my woonplekke. Hoe lank sal ek nog die vyande se vaandel sien, die geluid van die ramshoring hoor? My volk tree dwaas op, hulle erken My nie, hulle is moedswillige kinders, sonder enige begrip van wat Ek doen. Hulle is net slim as dit kom by verkeerd doen, van goed doen wil hulle niks weet nie” (Jeremia 4:19-22).

“… tempelprostitusie, en omdat wyn en drank hulle lewe in beslag neem, soek my volk leiding by ‘n stuk hout, verwag my volk dat ‘n stok dinge aan hom bekend sal maak. Omdat ‘n hoergees die priesters beetgepak het en hulle aan hulle God ontrou geword het” (Hosea 4:11-12).

Lees dit weer: “’n Gees van hoerery het hulle verlei. Hulle het gehoereer en van God af weggedwaal.” ‘n Man van God met geheime sonde in sy lewe, ‘n sensuele man se geestelike verstand is toegesmeer! Hy is blind, ontdaan van alle geestelike kennis en wysheid.

“In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. Hule het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen (Efesiërs 4:17-19).

Verhard , vereelt, terwyl hulle hulself oorgee an sensualiteit – en elke vorm van onreinheid en onkuisheid van harte lus beoefen.

Timoteüs waarsku teen “die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Timoteüs 4:2). Hierdie leuenaars sluit manne van God in, wat mislei is deur leuengeeste en demoniese leringe. Hierdie huigelagtige diensknegte van God het geen onderskeiding nie – maar vertoon ‘n valse vrede.

“Hier volg die inhoud van die verbond wat God Moses beveel het om te maak … Pas op dat daar nie dalk onder julle ‘n man of ‘n vrou, ‘n familie of ‘n stam is wat vandag afvallig word van die Here ons God en die gode van daardie nasies gaan dien nie. As daar so iemand is, so ‘n gifwortel wat alles kan vergiftig, kan hy homself dalk probeer gerusstel wanneer hy hierdie woorde hoor, en kan hy dalk sê: ‘Ek is veilig al volg ek my eie harde kop.’ Maar dit sal lei tot ellende en swaarkry” (Deuteronomium 29:1, 18-19).

Op die oomblik is die kerk tot oorlopens toe vol met sulke aanwakkers van rebellie.

“… moet jy nie na hom luister nie. Die Here jou God stel jou net op die proef om vas te stel of jy Hom liefhet met hart en siel. Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang. Daardie profeet of droomuitlêer moet doodgemaak word, want hy het jou aangehits om in opstand te kom teen die Here jou God wat jou uit Egipte laat trek het en jou bevry het uit die plek van slawerny. Daardie man wil jou laat optree in stryd met die wil van die Here jou God wat Hy aan jou geopenbaar het. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei” (Deuteronomium 13:3-5).

Jeremia waarsku teen God se woede teen hierdie raadgewers van rebellie. Gananja het vrede en voorspoed verkondig toe God woede en oordeel wou hê, Jeremia sê vir hom:

“Die Here het jou nie gestuur nie, en jy het hierdie mense ‘n leuen laat glo … Kyk, ek is op die punt om jou van die aarde af te verdelg. Jy sal vanjaar nog sterf want jy het opstand teen die Here gepreek” (Jeremia 28:15-16).

Die ware profete het die herders beskuldig vir die blindheid van Israel. Jeremia bulder:

“Die herders het dom (dof) geword en het die Here se aangesig nie gesoek nie; daarom was hulle nie suksesvol nie. En hulle kudde is verstrooi”

“Die baie regeerders het my wingerd verniel, my lande vertrap, my pragtige land ‘n verlate woestyn gemaak wat treur, wat verlate voor My lê” (Jeremia 12:10).

“Ellende wag vir julle, herders deur wie die skape uit my kudde doodgemaak en verstrooi word, sê die Here” (Jeremia 23:1).

“My volk was skape wat weggeraak het: hulle herders het hulle laat verdwaal, hulle in die berge laat rondswerf; die skape het van die een berg na die ander toe geloop en vergeet waar hulle rusplek is” (Jeremia 50:6). Satan val die Herders aan!

As Satan een herder kan mislei, hom kan verblind vir een immoraliteit, dan beroof hy hom van geestelike onderskeiding en daardie man sal rebellie van die kansel af verkondig.

Ek weet! Ek was eenmaal een van hulle! Ek het geskeides bemoedig, want my eie huwelik was wankelende. Ek kon God se kinders nie op hulle foute wys nie, as gevolg van die rebellie in my siel.

Al hierdie liberale, wellustige, gemaklike prediking van vandag kom uit die harte van herders wat gebind is deur sonde. As gevolg van wat in hulle harte is, verkondig hulle kompromie. Hulle kan nie in alle eerlikheid God se volk op hulle sonde wys nie, want daar is diep verborge sonde in hulle eie lewe.

Luister na God se Woord:

“Profeet en priester is albei godloos, Ek tref hulle sondes selfs in my huis aan, sê die Here” (Jeremia 23:11).

“… want van Jerusalem se profete af het godloosheid deur die hele land versprei” (Jeremia 23:15).

“Die visioene van jou profete was vals en misleidend: hulle het nie jou sondes blootgelê sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbaringe wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei” (Klaagliedere 2:14).

Die Heilige Gees is tans besig om ‘n heilige rein oorblyfsel van herders en diensknegte op te rig wat gesalf is met geestelike onderskeiding! Hulle sal die oorblyfsels van God se volk met hernude begrip lei.

So sal hulle bediening wees:

“Net die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok het die dienswerk in my heiligdom onderhou toe die Israeliete My verlaat het. Hierdie priesters mag in my teenwoordigheid kom en die dienswerk vir My verrig, hulle mag in my diens staan en vir My vet en bloed as offer aanbied,” sê die Here my God. Hulle mag in my heiligdom kom, hulle mag na my altaar toe kom en My daar dien, die diens tot my eer daar verrig. Die priesters moet my volk onderrig oor die onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie en hulle leer om te onderskei tussen wat rein en wat onrein is” (Esegiël 44:15-16, 23).

“Die Here sê: Roep uit volle bors, moet niks verswyg nie! Laat jou stem hoor, duidelik soos ‘n ramshoring! Wys my volk op hulle oortredinge, die afstammelinge van Jakob op hulle sondes (Jesaja 58:1).

God se getroue herders het die oproep tot bekering gehoor en hulle het reageer. Dit verbly my om die baie briewe te lees wat ons kantoor binnestroom, van herders en Christen werkers wat bely dat hulle afgedwaal het en sonder vuur of salwing is. Nou verlang hulle na ware reiniging en heiligheid. Hulle wil ‘n herlewing van geregtigheid in hulle kerke en gemeenskappe sien.

Ware onderskeiding lê daarin dat ‘n mens persoonlike sonde in jou hart sal sien en sal uitwerp. Dit laat ons ook sien hoe ver van reinheid ons afgedwaal het en laat ons terugkeer na die nou pad.

“So sê die Here die Almagtige: Julle moenie luister na wat die profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree. Hulle wek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie.

“Hulle hou aan om vir die wat My minag, te sê: ‘Die Here sê daar sal vrede vir julle wees.’ Vir die wat hardkoppig is, sê hulle: ‘Daar sal nie ‘n ramp oor julle kom nie.’ Wie het in die raadskamer van die Here gestaan? Wie het alles gesien? Wie het gehoor wat Hy sê? Ja, wie het na sy woord geluister, wie het dit gehoor? Kyk, die gramskap van die Here laat ‘n stormwind waai, ‘n orkaan sal op die goddeloses afkom. Die toorn van die Here sal nie ophou voordat Hy sy plan uitgevoer het en gedoen het wat Hy besluit het nie. Daar kom ‘n tyd dat julle dit alles goed sal verstaan.

Ek het nie hierdie profete gestuur nie, tog het hulle met ‘n boodskap rondgehardloop; Ek het nie met hulle gepraat nie, tog het hulle as profete opgetree. As hulle in my raadskamer gestaan het, sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het, van hulle sondige dade af” (Jeremia 23:16-22).