Blaas die Basuin in Sion

Want die dag van die Here kom
David Wilkerson

“Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby” (Joël 2:1).

O Sion, heilige volk van God, ontwaak met die geklank van die basuin, want die dag van die Here is naby, en ons Koning kom in heerlikheid met Sy leërskare om Sy koninkryk te vestig.

O julle sluimerende heiliges van die Allerheiligste God, skud julleself wakker en hou op met julle goddelose dade, en trek aan die volle wapenrusting van God; want die vyande van God is vasbeslote om oorlog te maak teen die Here en Sy heiliges. “’n Dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag...kom ’n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie. Voor hom uit verteer ’n vuur, en agter hom brand ’n vlam...Vir hom bewe die volke van angs, alle aangesigte verbleek” (Joël 2:2-6)

Sion, het jy nie gehoor dat “Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in” (Joël 2:10).

Aangesien die elemente binnekort gaan smelt met hewige hitte, waarom lê die kinders van die Here op beddens van gemak en gaan sorgeloos voort om te eet en te drink en plesierig te wees? Het jy nie gehoor dat die basuin blaas nie, O Sion? Het jy so verblind geword deur voorspoed, so doof deur die begeertes en sorge van hierdie wêreld, dat jy nie kan hoor nie? Kan jy nie die tye onderskei nie; weet jy nie die dag van die Here staan voor die deur nie? Is dit ‘n tyd om gemaklik te wees, om al jou tyd en energie te gee aan jou eie belange? Sal jy voortgaan dae sonder tal en Sy aangesig nie soek nie; sal jy aanhou om Hom wat jou uit slawerny geroep het, te vergeet? Sal jy Sy Woord, Sy huis, Sy binnekamer verwaarloos? Sal jy jouself troos deur te sê, “Hy kom nie! Oordeel is nie naby nie! Ek sal verslap, my lewe en plesiere geniet, en by Hom wees wanneer ek klaar my eie belange gedien het?

Die Gees het gesê, “Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat” (Joël 2:12-14). Hy is reeds besig “en maak ’n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word” (Eségiël 9:4).

“Blaas die basuin op Sion, heilig ’n vasdag, roep ’n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek” (Joël 2:15,16).

Waar is die priesters van die Here wat veronderstel is om te ween tussen die pilaargang en die altaar? Waar is daardie profete wat ontwaak het en wat uitroep, “o HERE, spaar u volk” (Joël 2:17). Die priesters slaap! “En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede” (Jesaja 64:7). Christus, die Bruidegom het Sy hemelse kamer verlaat en Hy het uitgegaan om Sy bruid te ontmoet. En selfs nou roep die Gees van die bruid uit om te ontwaak en uit te gaan om Hom, wat haar siel liefhet, te tegemoet te gaan. Sou die herders nie op hulle aangesigte voor God lê en ween, hulle sonde en die sondes van God se kinders bely nie? Sou die priesters van die Here nie die bruid wakker maak nie? My God, hoe blind het U herders geword. Terwyl leërs van Satan hulleself gereed maak om oorlog te voer teen die hemel, terwyl die leërs en waens van God in rangorde marsjeer na die laaste skermutseling, speel die herders. “Mensekind, profeteer teen die herders van Israel; profeteer en sê vir hulle, die herders: So spreek die Here HERE: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie? Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie” (Eségiël 34:2,3).

Hulle draai om op hulle sagte beddens, voed hulleself op die vet van die skape. Hulle versamel hulle manlike skape by die sportvelde. Hulle gaan voort om te jag en vis te vang, maar nie vir mense nie. Hulle hou daarvan om partytjie te hou, te sosialiseer en te ontspan voor hulle afgode. “So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak. My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek” (Eségiël 34:5,6).

O blinde herders van Sion, julle is geroep om God se kinders byeen te roep vir ‘n heilige byeenkoms – nie vir dwase pret en speletjies nie! “Mensekind, profeteer en sê: So spreek die HERE. Sê: ’n Swaard, ’n swaard is skerpgemaak en ook geskuur; om ’n slagting aan te rig, is dit skerpgemaak, om soos weerlig te wees, is dit geskuur. (Of moet ons bly wees ...?)” (Eségiël 21:9,10). Jy is deur die Here van die leërskare beveel om gesig in die grond te druk met nederigheid, gebrokenheid en bekering. Kla jy, O man van God? Is jy beskaamd, o julle landbouers van Sion? Word wakker julle drinkers van wyn, want die vyand het na die land gekom en julle weet dit nie. Daar sal gehoor word “die gejammer van die herders, want hulle heerlikheid is verwoes” (Sagaría 11:3).

Die wingerd lê braak; die saad verrot onder die kluite; die sprinkane het die lande opgevreet; en niemand treur nie! Elke mens soek sy eie belang; die liefde van baie word koud; en blydskap verdwyn uit die seuns van God. Dit is omdat daar geen herder op die kansel is wat ontsteld is nie; niemand wat die geluid van Sion se basuine hoor nie; niemand wat hulleself reinig van alle ongeregtigheid en die dag van die Here met krag verkondig nie! “Sy profete is ligsinnig, trouelose manne, sy priesters verontreinig wat heilig is, hulle verkrag die wet” (Sefánja 3:4).

Hy kon die afvallighede van hierdie land genees het as die Here se herders wakker was en gewaak het. Maar die wagte se oë het swaar geword van die vaak en die priesters het geweier om Sy Naam magtig aan te roep. Sy toorn kon afgewend gewees het as daar bedienaars in die huis van die Here was wat op hulle aangesigte geval het, die hemele gesmeek het om die volk te vergewe en te genees.

Waarom verlaat die kinders die weë van die Here? Waarom is die jongmense snoesig met die dogter van Babel en gaan hulle saam met die goddeloses? Waarom is hulle so kwaad, so sonder geloof, so vas in hulle wêreldse weë? Dit is omdat daar geen duidelike en plegtige woord van die kansels van die land af is nie. Bedienaars, belas met hulle eie twyfel en sondes, staan voor die magte van die duisternis, vreesbevange, want hulle het hulle geestelike gesag verloor.

‘n Heilige oorblyfsel van getroue herders is steeds in die land. Hulle ween vir die skape; hulle treur oor die sondes van God se kinders; hulle het teruggekeer na die Here met al hulle mag – maar hulle is slegs ‘n veragte groepie. Talle profete het sakke vol wind geword, en God se volk hou daarvan so.

Die gemeente van Sion is bederf! Die dag van die Here lê voor die deur; en die land is verleë; daar is leegheid en verwoesting wat dreig van oral af – tog neem die Here se volk dit nie ter harte nie. Die kerk is in die vallei van besluitneming; die Gees het voortgegaan om die slapendes wakker te maak – maar daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. Naderende oordeel? Nie totdat hulle die einde van hulle gunsteling televisiereeks gesien het nie. Nie tot die laaste drek van plesier uitgewring is nie. Nie totdat die maklike lewe eb en verdor nie. Nie totdat alle vleeslike begeertes en ambisies vervul is nie. “Moenie ons onderbreek nie, O God,” blyk hulle te sê, “want die Here se koms of ‘n skielike oordeel sal ons alles ontsê waarop ons harte ingestel is.”

O julle afvallig Sion, sal jy nooit terugkeer na die Here met jou hele hart en al die owerspel, die hoererye, die plesiermalligheid laat staan nie?

God sal omverwerp!

Ons Koning kom na Sion om te heers met ‘n ysterstaf. As Sy volk hulle nie sal verneder, hulle sondes bely en laat staan nie, sal Hy skielik na Sy tempel kom om te oordeel. Barmhartigheid en genade oor almal wat Hom Here en Koning kroon. Vrede en rus en blydskap vir almal wat Hom met hulle hele hart, verstand, siel en krag soek. Groen weivelde, lewende water, herstel van al die kinders van God wat hulle tot Hom bekeer van alles wat van hierdie wêreld is: sy weë, sy dinge, sy gees en sy verleiding. “Soos ’n herder vir sy trop skape sorg op die dag as hy onder sy verspreide skape is, so sal Ek vir my skape sorg; en Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, op die dag van wolke en donkerheid. Op ’n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei, en op die hoë berge van Israel sal hulle weiplek wees. Daar sal hulle lê op ’n goeie plek en wei in ’n geil weiveld op die berge van Israel” (Eségiël 34:12,14).

Maar vinnige oordeel en smart oor almal wat die ore toedruk en die verstand toesluit vir die geluid van die basuin in Sion! Hy sal die verleiers van die mensdom omverwerp. Hy sal die skynheilige en die koud-hartiges omverwerp. Die louwarmes sal Hy uit Sy mond uitspuug. Hy sal almal wat die waarheid in ongeregtigheid onderdruk, oorgee aan Satan. Hy sal almal wat God geken het, maar Hom nie as God verheerlik het nie, maar verwaande dwase wat die skepsel meer as die Skepper aanbid, oorgee aan ‘n onbetroubare verstand. Hy sal die lui herders omverwerp wat hulleself gevoed het en nie hulle skape nie. “Daarom, o herders, hoor die woord van die HERE: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, omdat my skape ’n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie – daarom, o herders, hoor die woord van die HERE! So sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie” (Eségiël 34:7-10). Hy sal almal omverwerp wat die waarheid van God verander het in ‘n leuen. Dit is ‘n dag van vreesvrystelling! Miljoene wat gespot het met die basuingeluid en wat volhard het in hulle dwaasheid en apatie, sal oorgegee word aan die toorn wat kom. “Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in. En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die HERE sal ’n toevlug wees vir sy volk en ’n skuilplek vir die kinders van Israel” (Joël 3:15,16).

Die Verlosser het gekom!

“Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die HERE” (Jesaja 59:20). “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word (Jesaja 60:1,2). Die kinders van die Here, die seëvierende bruidskap sal hulle oë ophef en sing, “Ons Koning kom. Hy kom ons ons te red! Ons ons te versorg! Om ons in die oorvloed van Sy heilige stad in te bring!”

En die oorwinnaars sal saamkom; hulle sal soos een word en geopenbaar word aan die wêreld as die liggaam van Christus op aarde. Maar die liggaam sal binnekort met sy Hoof verenig word. Die hoof van hierdie glorieryke liggaam is die Verlosser van Sion, en Hy sal skielik verskyn in Sy tempel om Sy troon te vestig. Hulle harte sal nie vrees nie, hulle wat verlang na Sy koms. Hulle sal Sy lof besing totdat Hy kom. Hulle sal Hom aanbid tot die oomblik van die opstanding. Hulle dae van rou sal verby wees. Die heerlikheid van die Here sal altyd op hulle wees, en soos hulle die dag sien naderkom, sal hulle harte jubel van blydskap. Wanneer Hy deur die donker wolke van oordeel breek, sal die verlostes magtig uitroep – want hulle sal skielik voor Sy heerlike teenwoordigheid staan; hulle sal liefdevol na Sy majestueuse gesig kyk; en hulle sal voor Hom neerval met sang en met gejubel verkondig, “Ons het verdra vir die vreugde wat op ons gewag het! Dit is ons blydskap! Christus, Koning van die Hemel! Hosanna aan Hom wat ons uit groot oordele gered het, wat ons in die vure bewaar het, wat ons verlos het met ‘n verhewe en magtige hand.”

Waar daar eens vrees vir dood en verwoesting was, sal daar nou net die uitnemendheid van Sy ewige blydskap wees. Hy sal ons voete plant in ‘n glorieryke land en Hy self sal ons heiligdom wees. Nie meer gehaat, nie meer swaarbelaai met lyding, nie meer bekommernis of benoudheid oor enige môres nie – want ons sal tuis wees by Hom! Ons sal die melk van die hemel drink en die voedsel van engele eet. Ons sal glad nie terugkyk nie; die vrese en onheilspellende voorbodes sal vir altyd weg wees.

Waarom vrees ons doodgaan? Waarom hou ons styf vas aan hierdie vlietende lewe? Waarom vrees ons om in die ewigheid in te gaan? Wie sou die stad van goud en die ewige plesiere van Sy koninkryk verruil vir die nietige, verrottende, verdorwe bestaan hier op aarde?

Opstandingslewe

Het ons Here nie vir ons gesê dat Hy die opstanding en die lewe is nie? En dat wie lewe en glo in Hom sal nooit sterf nie, maar die ewige lewe hê? Daardie ewige lewe moet geniet word op hierdie oomblik! Die Here wil Sy seëvierende oorblyfsel in die KRAG VAN ‘N ONVERNIETIGBARE LEWE inbring.

Dit is groter as die Pinksterkrag. Groter as krag om die siekes te genees, duiwels uit te dryf, en om groot werke te verrig. Dit is groter as getuieniskrag, en selfs groter as die krag om dooies op te wek. Binnekort, baie binnekort, sal die kragte nie meer nodig wees nie, omdat ‘n nuwe wêreld gebore sal word. ‘n Wêreld kom waar daar geen beperking op die mate van die Gees sal wees nie. Dit sal nie nodig wees om duiwels uit te dryf, die siekes te genees, of die dooies op te wek nie. Geen getuies sal dan nodig wees nie. Dit is ‘n ewige wêreld waar ewige lewe onvernietigbaar sal vloei in almal wat verlos is. Ons kan net raai oor hoe dit sal wees in die volle krag en heerlikheid van die ewige lewe.

God wil Sy heilige oorblyfsel in die krag van die ewige lewe inbring, nou al. Nie dat ons nie sal sterf nie, maar dat die krag van die ewige lewe so toegeëien sal wees in hierdie lewe – dat daar ‘n volle en algehele skeiding sal wees van hierdie wêreld en sy eise. God wil ‘n vrye volk hê, ‘n heilige oorblyfsel totaal losgemaak van alles wat aards en tydelik is. Dit is moontlik om te beweeg in so ‘n opstandingsrealm wat ons heeltemal buite tyd, bo die denke van hierdie wêreld, bo die slawerny van gesondheid, veiligheid en dood self plaas.

Daar is vryheid in die toeëiening van hierdie krag van die onvernietigbare lewe. Om te lewe met ‘n oog gevestig op die ewigheid, gefokus op die troon van God, is om te lewe sonder vrees van wat mense kan doen aan hierdie menslike liggaam. Om te lewe in ‘n opgestane toestand van gedagte is om liggies vas te hou aan alles wat in en van hierdie wêreld is.

Is Jesus Christus meer vir Sy kinders as die lewe self? Ja – o ja – Hy is vir ons die ewige lewe! Roep hardop, O heiliges van God; verkondig dit aan die wêreld, die vlees en die duiwel: “Ek sal nooit sterf nie! Ek behoort nie aan hierdie verlore en sterwende wêreld nie! Ek is nou al, in Christus, ‘n ewige wese. My gees sal altyd by Hom lewe, en Hy sal vir my ‘n glorieryke nuwe liggaam volgens Sy eie beeld gee! Is dit nie die grootste krag wat God aan die mensdom kan gee – om hom ‘n ewige wese te maak, ‘n nimmer-sterwende siel wat vir ewig in Sy teenwoordigheid sal lewe nie? Die lewe wat ek sal ervaar in die ewigheid vloei nou al in my vanaf God se troon. Ek het nou al die erns van daardie erfenis.

Ek kan afkyk na hierdie ou sonde-vervloekte wêreld en juig, “O wêreld van goddeloosheid en woonplek van duiwels – jy het geen reg of houvas op my nie! Ek is vrygemaak van jou krag. Selfs die graaf in jou stof kan my nie gevange hou nie. Ek is nou reeds toegerus uit die hoogte met onvernietigbare lewe, die lewe van God wat geen begin en geen einde het nie!”

Kry ‘n houvas op die ewige lewe, seëvierende oorblyfsel! Die lewe wat jy nou leef in die vlees is maar ‘n wasem wat binnekort sal verdwyn en weg wees. Ewige lewe vloei van God se troon en dit is ook ‘n vrug wat die verlostes vir ewig sal eet van die boom van die lewe. Maar God wil aan ons openbaar dat dit moontlik is om nou al van daardie vrug te eet, in die Gees, deur geloof. Watter onuitspreeklike blydskap om afgesonder te wees met Hom in die binnekamer, en om vir ure te drink van daardie fontein van ewig lewe en te eet van die vrug van die boom van die lewe. Jy kan uit daardie gebedskamer uitkom, reeds in die hemelse plekke in Christus Jesus. Die wêreld verloor sy bekoring. Die hart word gespeen van alles wat eens dierbaar geag is. Die liefdes en begeertes word verander na die hemelse koninkryk, na die opstandingslewe.

Honger harte – Word versadig!

Die seëvierende oorblyfsel sal meer en meer honger en dors in die laaste dae voor verwoesting plaasvind. Die Heilige Gees sal in Christus se bruid ‘n oorweldigende begeerte skep vir heiligheid, reinheid en openbaring. Hier en daar dwarsdeur die land, word die diep hunkeringe en dors van die regverdiges gesien. Radikale skeiding van die wêreld en al sy afgode en plesiere vind plaas. Die uitroep is vir ‘n gees van wysheid en openbaring in die kennis van Christus. Materiële dinge verloor hulle waarde vir hierdie bruidskap. Hulle harte word bearbei deur die Gees tot ‘n lewe van gebed en gebrokenheid voor die troon. Selfsugtige begeertes, selfgesentreerde planne word laat vaar en die volmaakte wil van God is al wat nou saak maak. Die mens-koninkryk van sukses, ambisie, en bevordering is ‘n doodskoot gegee en die heerlikheid van God het eerste geword. Daar is die geklank van aanbidding en die kroning van Christus en die onderwerping aan Sy heerskappy.

In hierdie laaste dae voor die slagting, berei die geseënde Saligmaker ‘n fees vir goeie dinge; nie die armoedige elemente van hierdie wêreld en die dwase materialisme wat deur diegene sonder onderskeidingsvermoë gesoek word nie, maar die seën en vreugdes van die hemel self. Die seëvierende oorblyfsel kan enige vuuroond beleef met heeltemal tevrede, geruste harte.

Blaas die BASUIN IN SION – God het ‘n vaste oorblyfsel, gewas in Christus se Bloed, geklee met onbevlekte klere, afgesonder vir die Koning van die Hemel, met brandende lampe hoog opgelig, wat uitgaan om die Bruidegom in die krag van onverganklike lewe tegemoet te gaan! Drink julle vol heiliges van God – drink van die fontein van die ewige lewe!

Uit haar uit, My volk!

“Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4).

Gaan uit die slapende dooie kerke uit. Gaan uit die hebsugtige, voorspoedsgesinde kultusse uit. Gaan uit die louwarm, sosialiseringsgemeentes wat die heerlikheid van die Here verloor het uit. Gaan uit kompromie-makende, sondebelaaide liberale tempels uit. Gaan uit die Maria-aanbiddende Katolieke kerk uit. Gaan uit enige en alle kerke en groepe waar daar geen Heilige Gees vuur is, geen treffende oortuiging van sonde, geen honger vir heiligheid is nie. Gaan uit die wettiese kerke en gemeentes uit wat verlossing deur werke verkondig. “Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die HERE: Hy gee hom sy verdiende loon. Babel was in die hand van die HERE ’n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het; die nasies het van sy wyn gedrink; daarom het die nasies rasend geword. Skielik het Babel geval en is verbreek. Huil oor hom; gaan haal balsem vir sy pyn! Miskien sal hy gesond word” (Jeremia 51:6-8).

Gaan uit die leerstellings uit wat begeerte na geld, roem, en sukses aanmoedig. Gaan uit die mensgesentreerde godsdienstige instellings uit wat twee maal gestorwe en by die wortels uitgeruk is. “Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die HERE!” (Jeremia 51:45).

Gaan uit en verlaat die valse profete wie se oë op die goud en die eer is. Gaan uit en verlaat enige bedienaar of evangelis wat jou op jou gemak stel in Sion en wat Christene vertroos met valse sekuriteit. “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE!” (Jesaja 52:11).

“Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou” (Openbaring 18:5). Wie se sondes? Die sondes van die afvallige, louwarm kerk en die gesamentlike sondes van ‘n land wie se beker van ongeregtigheid vol is. Hoe durf ons glo dat God nie ons ongeneeslike goddeloosheid gesien het nie! Die mense van Ninevé en Sodom roep uit vir geregtigheid. Hulle is ons aanklaers. Ninevé het hulle na een preek bekeer – Amerika verwerp ‘n oorvloed van evangelie oproepe en waarskuwings. Sodom het geen evangelie gehad nie; dit het geen leërs of predikers gehad nie; en ook was sy luggolwe nie vol waarskuwings van naderende oordeel nie. Soos met Sodom, soos met Ninevé, sowel as met Jerusalem en Juda, het ons sondes die hemel bereik en God het Sy oordele vasgestel. Húlle is almal weg, en nou staan óns by Sy oordeel.

Wie sal wakker word, luister na die Here se oproep om uit te kom en af te sonder, en hulleself van al die ongeregtighede van die kerk en samelewing reinig? Moenie doen soos Israel gedoen het en dink die oordeelsdae is ver weg nie. “Mensekind, kyk, die huis van Israel sê: Die gesig wat hy sien, is vir baie dae, en hy profeteer van tye wat ver is. Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Geeneen van my woorde sal meer uitgestel word nie; wat Ek as woord spreek, dit sal gebeur, spreek die Here HERE...” (Eségiël 12:27,28).

Woorde van vertroosting vir Sion – God se heilige oorblyfsel

“Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur geregtigheid. En die sterke word tot vlas en sy werk tot ’n vonk, en hulle sal altwee tesame brand sonder dat iemand uitblus” (Jesaja 1:27,31).

“Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde” (Jesaja 12:6). “Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas. Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos. En dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel — selfs die dwase sal nie dwaal nie. Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel; en die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (Jesaja 35:3,4,8-10).

“’n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ’n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. O Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ’n hoë berg! O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! Kyk, die Here HERE sal kom as ’n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (Jesaja 40:6-11).

“Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere. My oorwinning is naby, my heil trek uit en my arms sal die volke oordeel; op My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop. Slaan julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die hemel sal soos rook verdwyn en die aarde soos ’n kleed verslyt en sy bewoners soos muskiete sterwe; maar my heil sal vir ewig bestaan en my geregtigheid nie verbreek word nie” (Jesaja 51:3,5,6).

“Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7).

“DIE Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ’n jaar van die welbehae van die HERE en ’n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ’n gewaad van lof vir ’n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ’n planting van die HERE, tot sy verheerliking” (Jesaja 61:1-3)

“Steek óp die banier na Sion toe! Vlug, bly nie staan nie! Want Ek bring ’n onheil uit die Noorde en ’n groot verwoesting” (Jeremia 4:6).

“En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die HERE sal ’n toevlug wees vir sy volk en ’n skuilplek vir die kinders van Israel” (Joël 3:16).

“Maar op die berg Sion sal daar ontkoming wees, en dit sal ’n heiligdom wees; en die huis van Jakob sal sy besittings in besit neem” (Obadja 1:17).