'n Hoofweg Uit Egipte

God se verbintenis daartoe om ons ongeredde geliefdes terug te bring
David Wilkerson

Jesaja 19 bevat ‘n verbysterende profesie wat elke verlore kind van God en elke afvallige in die wêreld aangaan. Hierdie hoofstuk bevat ‘n tweeledige profesie, gerig op beide letterlike Israel en geestelike Juda – die kerk van vandag. Moffat se vertaling maak dit duidelik in sy kragtigste vorm.

Dit word genoem, “’n Profesie oor Egipte.” Dit is so verreikend, so ongelooflik, dat ons dit skaars sal glo. Tog word alles wat Jesaja voorspel het in hierdie hoofstuk, bevestig deur Christus self in die Nuwe Testament.

Die profesie fokus op ‘n hoofweg wat God gebou het uit Egipte, deur Sirië, na die Beloofde Land. Dit is ‘n geestelike hoofweg waarop menigtes verlore kinders na die Here sal terugkeer.

Egipte is ‘n tipe van die wêreld en sy slawerny. Farao en sy baie towenaars en sieners is ‘n tipe van Satan en sy demoniese hordes. Assirië is ‘n tipe van tugtiging en God se roede van teregwysing. God het gesê, “Wee Assur! die roede van my toorn en stok is hy...” (Jesaja 10:5).

Hou asseblief in gedagte dat wat tussen Israel, Egipte en Assirië gebeur het, was “voorbeelde en skaduwee’s van hemelse dinge.” Paulus het gesê, “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11).

Hier is die profesie:

(1) Die Gees van die God sal inrol soos ‘n wolk oor hierdie wêreldse toneel en elke afgod skud en al die moed van die rebelle breek.

“En die gees van Egipte sal radeloos word in sy binneste, en sy planne sal Ek verwar...” (Jesaja 19:3).

Wat ‘n kragtige woord. Die afvalliges, wat teruggegaan het na Egipte toe (die wêreld) om hulle oor te gee aan hulle begeertes, sal moed verloor. Hulle sal heeltemal verward wees. Hulle hardkoppige gees, hulle uiterlike fasade van rebellie – sal verdwyn. Daar is nou reeds hierdie groot skudding van alle afgode – die verbreking van hoogmoedige geeste en trotse kyke. Die Gees van God beplan om dinge baie ellendig te maak vir almal wat teruggedwaal het na die wêreld toe. God sal hulle vreugde in hulle plesier wegneem, hulle selfgesentreerde planne verwar en hulle trots afbreek – so sal hulle gedryf word tot gedagtes van terugkeer na die Vader se huis.

(2) God het ‘n plan van geestelike verskrikkings geopenbaar om vrees in Satan se koninkryk in te boesem en die goddelose te laat sidder.

“In dié dag sal die Egiptenaars wees soos die vroue: hulle sal bewe en vrees vir die handgeswaai van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle swaai. En die land Juda (God se kinders) sal vir die Egiptenaars ’n skrik wees: as iemand daarvan melding maak by hulle, bewe hulle vanweë die besluit van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle geneem het” (Jesaja 19:16-17).

Laat ons ophou om die mag van Satan te noem. Laat ons nie val vir die leuen dat hy en sy demoniese hordes die kinders van die Almagtige kan teister net soos hulle wil nie.

Laat ons nie glo dat die wêreld en die duiwel ons ongeredde geliefdes in slawerny hou nie. God het ‘n heerlike plan – ‘n plan om diegene wat weggedwaal het, uit die duiwel se kloue te haal. Teen die tyd dat God klaar is met Sy plan, sal die wêreld sy gesteelde gevangenes teruggee. Ons ongereddes sal teruggebring word.

Hierdie profesie sê vir ons dat dit die duiwel is wat sal sidder. Hy en sy koninkryk sal bewe van vrees met die blote noem van God se heilige kinders wat heerskappy deur geloof inneem. Die goddeloses gaan skud en bewe in ons teenwoordigheid soos ‘n vrou wat met vrees getref is, wanneer ons die profetiese beloftes van Jesaja en Christus toeëien.

Die profesie sê dat die wêreld en die duiwel angsbevange sal wees en sal sidder oor ‘n plan van God wat teen hulle beraam het. “Die Egiptenaars...skrik ...vanweë die besluit van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle geneem het” (Jesaja 19:17).

Wat is hierdie plan wat die hel sal teister?

(3) God se Gees sal buite die mure van die kerk beweeg en ‘n Heilige Gees herlewing na die wêreld stuur – reg op Satan se gebied.

Al die mure en grense word afgebreek. Die duiwel kan nie langer vir die wêreld sê, “Dit is ons gebied. Dit is ons koninkryk – bly weg!” nie.

Elke kroeg, elke bordeel, elke dobbelplek word aangeval. Die Heilige Gees het neergedaal soos ‘n wolk op elke afvallige, elke swerwer, elke verlore kind van God. Of dit sou dwelmslawe wat dwelms op dakke gebruik; owerspelers en hoereerders in geheime hotelkamers of in geparkeerde karre by inry-teaters; alkohol en wyndrinkers in kroeë en restaurante; passiemal seksmisbruikers wat sit in vuil filmsale; wilde partytjies; orgies, of wedrenbane – niemand, geen plek is buite bereik van die bearbeiding, swewende Gees van almagtige God nie.

“Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan ’n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek!” (Jesaja 65:1).

Geen afvallige of verlore kind van God hoef kerk toe gaan om onder die Heilige Gees oortuiging van sonde te kom nie. Daar is selfs groter oortuiging van sonde waar daar geen prediker of getuie is nie. Die profesie is duidelik – God gaan die wêreld binneval en swewe oor die hele gebied van Satan – deur demoniese magte te terroriseer en die gevalle en afvalliges te oortuig van sonde.

Luister na hierdie ontsaglike profesie:

“In dié dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän spreek en by die HERE van die leërskare sweer” (Jesaja 19:18).

Dink daaraan! Vyf stede, verteenwoordigheid al vyf sintuie. Reg in die middel van die duiwel se gebied waar die afvallige mense hulle sinne oorgee – sal God begin optree en diegene soek wat in hulle harte, steeds lojaal is en in die innerlike die taal van geloof spreek.

Kyk hierna: “In Egipteland... wat die taal van Kanaän spreek en by die HERE van die leërskare sweer” (Jesaja 19:18).

‘n Ontsaglike Belofte – ‘n Altaar in Egipte!

“In dié dag sal daar ’n altaar wees vir die HERE binne-in Egipteland” (Jesaja 19:19).

Wie sal dit glo? ‘n Herlewing in die wêreld! Voor hulle ooit teruggaan kerk toe – terwyl hulle steeds op die duiwel se gebied is – ‘n altaar vir die Here, die taal van geloof spreek, en lojaal is aan die Here.

Eségiël het voorspel dat God ‘n heiligdom sou wees vir Sy volk terwyl hulle in ballingskap en gevangenskap was. Sonde het hulle in gevangenskap gebring; hulle was onder die roede van God; tog, het Hy belowe om hulle te beskerm, hulle bymekaar te maak, en ‘n nuwe hart in hulle te plaas.

Dit, is ook ‘n tweeledige profesie. God is selfs meer besorgd oor geestelike Israel, en Hy het belowe om al die bannelinge en gevangenes terug te bring in hierdie laaste dae.

“Omdat...Ek vir hulle ’n kort rukkie ’n heiligdom geword het in die lande waar hulle gekom het — daarom sê: So spreek die Here HERE: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee...En Ek sal hulle een hart gee, en ’n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ’n hart van vlees gee, sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal vir my ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees” (Eségiël 11:16-20).

‘n Nuwe Verwikkeling

‘n Ironiese verwikkeling vind plaas, beide in die kerk en in die wêreld. Jy kan nou kerkgaande Christene die taal van Egipte hoor praat – ongeloof, murmurering, materialisme en sensualiteit. Daar is talle sensuele Christene wat oor neig na die wêreld toe. Dit is verstommend dat mens nou die afvalliges, die verlorenes sien – wat terug neig na die altaar, en in liefdevolle terme praat oor die Verlosser, terwyl hulle diep in hulle harte steeds lojaal is aan die Here hoewel hulle steeds in die wêreld is.

Moenie jou onbekeerde of afvallige geliefde veroordeel op uiterlike voorkoms nie. Talle van hulle huil hulleself aan die slaap. Ek kan nie begin nie om die aantal gevangenes te noem wat teenoor my bely dat hulle na God uitroep vanuit hulle selle. Jy kan na een kyk wat hard en  onbereikbaar voorkom, maar innerlik mag hy dalk wanhopig uitroep na die hemel.

Ek ken afvallige dwelmslawe wat bedwelm sou raak op heroïen, dan drom hulle saam soos hulpelose baba’s in ‘n donker kamer en bid hardop, “O God, moenie moed verloor met my nie! Ek is verslaaf; ek is so hulpeloos – maar ek het U steeds nodig; Ek respekteer U en het U steeds lief. Wees asseblief geduldig – red my – bring my terug.”

Dit mag dalk nie by jou teologie inpas nie, maar ons geseënde Here het self ‘n altaar in Satan se gebied opgerig. Geen sondaar, geen afvallige hoef ver te soek om weer by God uit te kom nie. Hy kan by enige kroeg kniel. Hy kan uitreik te midde van dwelms, prostitusie en goddeloosheid – en die Gees van God en ‘n altaar daar ontdek – net daar!

Waarom is hierdie altaar in die wêreld? Dit is vir die onmiddellike redding van diegene wat om hulp roep – in die wêreld.

“En dit sal wees ’n teken en ’n getuie vir die HERE van die leërskare in Egipteland; as hulle die HERE aanroep vanweë die verdrukkers, sal Hy aan hulle ’n redder stuur en ’n stryder wat hulle sal verlos” (Jesaja 19:20).

“En die HERE sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hul tot die HERE bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees” (Jesaja 19:22).

Nou sien ons die Here, deur Sy Gees, wat oor die hele wêreld sweef en verkondig, “Die hele wêreld is nou onder my bevel. Die altaar is enige plek waar die gebroke mensdom uitroep om hulp. Ek sal uitreik en soek na almal in die wêreld wie se hart steeds smag na God.”

(4) Die beste van alles – God het ‘n hoofweg uit Egipte gebou. Dit gaan deur Assirië, dan na die Beloofde Land.

“Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.

Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis” (Jesaja 43:18,19).

“In dié dag sal daar ’n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die HERE dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ’n seën in die midde van die aarde, omdat die HERE van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jesaja 19:23-25).

Die Egiptenaar hier, is die afvallige, die afgedwaalde kind van God wat teruggegaan het na die wêreld. Die Assiriër hier, is die kind van God wat verpletter en geestelik lam is deur die tugtiging en teregwysing van die Here. Dit is nie dat hy wêrelds is nie, maar bloot te oorweldig deur swaarkry, droefheid en eensaamheid. Dit het veroorsaak dat hy afgedwaal het tot in ‘n bewusteloosheid.

Ons moet die waarheid vertel aan diegene wat terugkom na die Here. Die pad terug na Egipte gaan deur Assirië. Jy moet onder die liefdevolle roede van teregwysing kom; want die wat God liefhet, tugtig Hy.

Niemand kan die beloofde land van vrede en rus binnegaan nie behalwe op die weg van teregwysing. Jy kan vir sondaars en afvallighes sê dat dit maklik is om daardie hoofweg terug na die Here se teenwoordigheid te reis – maar jy vertel nie die waarheid as jy nie vir hulle sê dit is nie ‘n maklike pad nie.

Ja, jy kan ontsnap uit die wêreld en sy gewoontes, sy slawerny en vrees. Ja, die pad na heiligheid en geluk is oop vir almal. Ja, die Heilige Gees roep die verlorenes om te kom. Maar die pad lei eers na die roede van teregwysing. Dit moenie gevrees word nie. Dit is ‘n reinigende proses om die wêreld uit jou te kry sodat jy die beloofde land van God se teenwoordigheid kan geniet. As jy jou onderwerp aan Sy tugtiging, sal jy deurbreek na vreugdes wat jy nog nooit voorheen beleef het nie.

Die belofte is dat dat die afvalliges en die gebrokenes en die wanhopiges sal terugkeer en die Here aanbid.

Wat is hierdie drieledige alliansie waarmee God ons so geseën het? Dit is:

Eerstens – gaan na die altaar terwyl jy steeds in Egipte is – vir bevryding.

Tweedens – keer terug na die Here se liefdevolle tugtiging.

Derdens – eis die beloofde rus vir God se kinders op.

Die profesie bevestig deur Christus

Ek het jou aan die begin van hierdie boodskap gesê dat die Here Jesus Christus self hierdie heerlike profesie bevestig. Die bevestiging word gegee in twee gelykenisse van ons Here in Lukas 15. Hier is selfs groter bewyse dat ons Here ‘n verbintenis gemaak het om ons afvallige, afgedwaalde geliefdes terug te bring. Dit bevestig Jesaja se profesie dat die wêreld moet prysgee wie die Here najaag om te red.

I. Die Goeie Herder sal nie ophou soek totdat Hy die verlore skaap gevind het nie!

“Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?” (Lukas 15:4).

Hoe lank sal die Here agter ‘n afgedwaalde, verlore geliefde aangaan? Todat Hy hulle vind!

Ons verloor moed met ons geliefdes. Ons word gewoond aan hulle verlorenheid. Dit pla of bekommer ons nie meer nie. Dit lyk of ons die verskriklike gevaar waarin hulle verkeer nie wil besef nie.

Dank God, ons Herder gee nooit moed op met hulle nie. Hy jaag hulle altyd na; Hy raak nooit moeg nie, en sluimer of slaap nooit nie. Hy bly op hulle spoor – verlang na hulle en sê, “Verlore, maar steeds Myne! Ek sal soek en Ek sal vind.”

God se optrede word nie beperk deur ons gebede nie.

Die Here beperk Homself nie tot ons gebede nie. Ons behoort te bid vir verlore vriende en familie, maar dit lyk of ons dink God hou op om hulle te soek as ons nie bid nie. Wanneer ons nie vir hulle bid nie, kom ons onder ‘n wolk van skuldgevoelens. Ons word diep veroordeel.

God het vir ons hierdie wonderlike beloftes en profesieë gegee, nie om Hóm te dring nie, maar om óns geloof te versterk in Sy vermoë om hulle te vind en terug te bring. Ons moet bid met vrymoedigheid, maar slegs dat ons ongereddes ontvanklik sal wees wanneer die Herder na hulle toe kom.

Of ons vir hulle bid of nie, die Goeie Herder stel dit uitdruklik, “Ek sal hulle gaan soek – totdat Ek hulle vind...” Dit is ‘n verbintenis wat Hy gemaak het deur genade alleen. Ons self word nie gered deur verdienste nie, en ons kan ook nie ons na verlore geliefdes uitreik deur die verdienste van ons gebede alleen nie. Hy het belowe om hulle te soek – deur genade alleen.

As die Here vir ons gewag het om te bid, sou niemand bekeerd geraak het nie. God bou nie op sulke swak fondamente nie. Dit is nie deur werke nie, insluitend gebed, maar deur genade alleen.

Bid oortuiging van sonde op die afvalliges en verlorenes af. Bid vir oop harte en afgebreekte trots. Maar bid nooit, “Here gaan agter hulle aan; soek hulle” nie. Dit sou ongeloof wees, omdat Hy reeds belowe het om die werk van ‘n getroue herder te doen.

II. Die vrou wat ‘n silwer munt verloor het, sal nie ophou soek tot sy dit vind nie!

“Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?” (Lukas 15:8).

In hierdie gelykenis, plaas ons Here ‘n groot waarde op dit wat verlore was. Weereens gaan die soektog voort totdat sy dit vind!

Miskien sou die verlore skaap kon terugdwaal na die trop toe, maar wat kan ‘n verlore muntstuk doen om gevind te word? Niks! Die muntstuk is hulpeloos!

Ek glo ons geseënde Here soek selfs die hulpeloses. Diegene sonder krag, heeltemal swak en magteloos. So baie word verswak deur sonde, hulpeloos verlore, en nie in staat om uit te reik nie. Vir hulle sê ek – iemand wat die plek ernstig skoonmaak deur na jou te soek. En die Gees sal nie ophou totdat jy gevind en herstel is nie. “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe” (Romeine 5:6).

Verlore – in die huis

Dit is ook ‘n woord van bemoediging vir diegene wat verlore in die huis is! Die skaap was ook verlore vir die wêreld. Die muntstuk was verlore binne-in die huis.

Ek glo ek ontmoet die mees hulpelose mense in die huis van God. Hulle woon kerk by; hulle is deel van die versameling gelowiges. Hulle is soos een van tien, om dit so te stel. Steeds het hulle min of geen geloof nie. Hulle het geen krag, geen bruikbaarheid nie. Hulle is nie ver in een of ander afgeleë land soos die verlore seun nie. Hulle is naby die altaar, naby die Here se tafel, naby al die ander. Maar hulle is net so verlore soos die skape en die verlore seun wat in Lukas 15 genoem word.

Hulle praat nie meer met God nie en Hy praat nie meer met hulle nie. Van hulle sê Jesaja, “maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:2). Maar Sy Woord staan steeds vir die verlore skape “van die huis” van Israel. Hy sal soek totdat Hy vind.

III. Die Here roep Sy volk om te juig saam met Hom oor die terugkeer van diegene wat verlore is!

“En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers...” (Lukas 15:5).

Dit is meer as gelykenisse van die vind van verlore skape, verlore muntstukke of wegloop seuns. Dit is die verhaal van God se jubelende hart – Sy uiterste blydskap om die verlorenes weer te herstel.

Hy het nie die verlore skaap geslaan nie. Die gedagte aan wraak teenoor die verlore muntstuk is selfs te dwaas om aan te dink. Selfs die teruggekeerde verlore seun was genooi tot in die vader se huis om te juig en bly te wees. Geen skuld, geen toorn, slegs versoenende liefde.

God openbaar aan ons Sy hart. Hy is die verlangende Vader wat met liefde wag vir die verlore seun. Christus is die Herder wat teer die beseerde skaap terugdra na die trop. Daar is selfs groter gejuig oor die vind van die hulpelose muntstuk.

Juig saam met My.

Nie net juig ons Here oor die verlorenes wat terugkeer nie – ons word beveel om saam met Hom te juig.

“En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was” (Lukas 15:6).

Is daar enige skaap te verlore, te ver heen, dat ons volmaakte Herder hom nie kan vind en herstel nie? As Hy Homself verbind het om te soek todat die verlorene gevind is – is daar enige vraag oor die resultaat? Geen! “Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (Jesaja 40:11).

So, ons behoort nou reeds te begin juig! Want Hy wat belowe het, sal sy woord nakom. Hy het vir ons Sy groot en kosbare beloftes gegee om ons verlore geliefdes terug te vind en terug te bring – sodat ons verby alle teenoorgestelde omstandighede kan kyk en, deur geloof, juig in die vervulling van Sy Woord.

Moenie langer hartseer of neerslagtig wees oor ons verlore en afgedwaalde geliefdes nie. Die liefdevolle Herder van die hemel agtervolg hulle nou reeds ten volle. Hy sal die aarde deursoek vir hulle, indien nodig. Hy weet waar hulle is – Hy wag net om hulle op Sy skouer te tel op die regte oomblik. Hy het elkeen in sig – maar Hy wil hê die lesse moet eers geleer word. Op net die regte tyd, sal die Herder Sy hand uitstrek en hulle red. En hulle sal gereed wees – want Hy het vir ons gesê Hy SAL hulle vind. Hy wag totdat hulle hulle “fut verloor” en ophou weerstaan.

‘n Hoofweg wat oorstroom

Ek sien deur geloof, daardie hoofweg van heiligheid – uit Egipte – oorstroom word van verlorenes op hulle pad terug huistoe! As net een verlore skaap wat terugkeer met berou, groot gejubel in die hemel veroorsaak, met engele aan die brand met lofprysing, hoe sal dit wees wanneer menigtes van die verlorenes terugkeer na Sion?

Geen wonder nie Satan het so ‘n groot woede. Geen wonder nie die duiwel en sy demoniese hordes bewe. Vyandige vestings val. Die vyand se houvas word gebreek. Die verleier word geopenbaar. God word verhef onder die heidene. Die Gees is aan die werk by die poorte van die hel. Die heiliges begin om heerskappy te neem deur geloof. Daar is ‘n nuwe lied om te sing – a lied van die Here se verlostes wat herstel word!

“Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af. Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het” (Jesaja 43:4-7).

‘n Paar laaste beloftes

Van die profeet Jesaja –

“Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie...want die Here het ’n behae in jou, en jou land sal getroud wees. Want soos ...die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees” (Jesaja 62:4,5).

“Want soos ’n verlate vrou en ’n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en soos ’n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God. Vir ’n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader. In ’n uitstorting van toorn het Ek vir ’n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser” (Jesaja 54:6-8).

“En dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel — selfs die dwase sal nie dwaal nie. Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel; en die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (Jesaja 35:8-10).