Die Ongelooflike Seën Om In Christus Te Wees!

David Wilkerson

Vandag leef die kerk in ‘n tyd van geweldige lig. Met so baie lering tot ons beskikking, het die Heilige Gees die ongelooflike seëninge van Jesus se werk aan die kruis aan ons geopenbaar.

Tog was daar ‘n tyd toe Christus se wonderlike werk vir die wêreld verborge was. Daardie tydperk het bekend gestaan as die Donker Eeue, waartydens die betekenis van die kruis vir die oë van die mensdom versluier was.

Die meeste preke gedurende daardie tyd het gefokus op God se toorn en veroordeling. Die pouse en priesters het ‘n evangelie van werke verkondig en die mense het deur ‘n verskeidenheid van werke probeer om vrede met God te maak. Hulle het myle ver gereis na tempels, hulle het gekniel en afgode van klip aanbid en lang gebede herhaal. Tog het al daardie dinge net die mense se slawerny vererger en dit het die begrip van baie verduister.

Selfs vandag, met al die lerings wat daar beskikbaar is, verstaan baie Christene steeds nie die belangrike aspekte van Christus se werk vir ons nie. Ek sou graag oor een van hierdie aspekte wou praat — naamlik, wat dit beteken om “in Christus” te wees.

Om in Christus te wees, is die enigste fondament waarop ‘n heilige lewe gebou kan word. Sonder hierdie fondament, sal ons op ons vlees vertrou en probeer om heiligheid in onsself te bewerkstellig. Maar ware heiligheid word slegs verkry deur kennis van die rykdom van God in Christus Jesus.

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn, en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe" (Titus 2:11–12).

Net die genade van God kan ons leer hoe om heilig te wees. Slegs as ons verstaan watter seëninge aan ons behoort wanneer ons in Christus is, sal ons op ‘n stewige fondament kan bou: “Aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid" (Kolossense 1:27).

God het met Jesaja gepraat oor ‘n sekere Dienaar wat sy hart verbly het.

“Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het" (Jesaja 42:1). Wie is hierdie kosbare Een vir wie God ondersteun en elke sy treë bewaar?

Matthéüs antwoord ons: “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Heilige Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het" (Matthéüs 3:16–17).

Die Hebreeuse woord vir “Ek ‘n welbehae het” beteken hier “verheug.” God bedoel daarmee, “My siel is verheug in my seun, Jesus Christus.”

Dwarsdeur die Ou Testament, was daar tallose vee aan die Here geoffer. Tog het geeneen van hierdie offers enige vreugde aan die Here verskaf nie. “Want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem...brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie" (Hebreërs 10:4, 6).

In die volgende vers lees ons egter die wonderlike woorde van Jesus: “Toe het Ek gesê; Kyk, Ek kom...om U wil te doen, o God" (Hebreërs 10:7). Christus het na die aarde gekom om te doen wat geen diere-offer kan doen nie: “Daarom sê Hy as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei" (Hebreërs 10:5).

God het ‘n fisiese liggaam vir Jesus op aarde voorberei. Dit sou die volmaakte offer voorsien vir alle tye. “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring" (1 Petrus 3:18).

Van die grondlegging van die wêreld het God net een plan gehad om die gevalle, sondige mensdom te versoen.

God se plan om die mensdom te red, was eenvoudig. Hy het gesê, “Ek gaan my eie Seun as ‘n Verlosser stuur. En nadat Hy gesterf, opgestaan en voor My in heerlikheid staan, sal Ek net Hom erken!”

Slegs Christus, wat die wese van God is, kan ooit voor die Vader staan. God die Vader sou Christus alleen erken, die dienaar wat Hom behaag en waarin Hy hom verheug!” Die Here het gesê, “My seun is die enigste waardige offerlam. Hy sal in Homself diegene bymekaar maak wat van Hom afgesny was deur die sonde en sal hulle met My versoen.”

Wanneer Jesus sê, “Maar U het vir My ‘n liggaam berei" (Hebreërs 10:5), het Hy nie net van ‘n menslike liggaam gepraat nie, maar ook van ‘n geestelike liggaam. En hierdie liggaam het bestaan uit almal wat in Hom geglo het: “Dit is een liggaam" (Efesiërs 4:4) — en almal wat “in Christus is” deur geloof word in hierdie geestelike liggaam in gebore: “Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene" (Efesiërs 5:30).

Ja, daar is ‘n fisiese mens in die hemel: Jesus, die Seun, wat sit aan die regterhand van die Vader. Maar Hy word nie fisies in die wêreld gesien nie. Die werklikheid is, ons wat Christus se liggaam op aarde is, is die enigste Jesus wat hierdie wêreld ooit sal sien.

In Miga 6 het ‘n teruggevalle Israel gevra, “Hoe kan ons voor ‘n heilige God staan?”

“Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die Here ‘n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?" (Miga 6:6–7).

In hierdie gedeelte het die Israeliete ‘n goeie vraag gevra: “Hoe kan enige mens ‘n heilige God nader? Hoe kan ons Hom ooit tevrede stel en deur Hom aanvaar word? Watter soort offer verlang Hy van ons? Ons bloed, ons liggaam, ons kinders?”

Ons weet dat selfs ons goeie werke, ons goedhartige natuur en vrygewigheid soos ‘n besoelde kleed in God se oë is. So, hoe word ons dan deur God aanvaar? Paulus skryf, “Hy [het] ons begenadig...in die Geliefde" (Efesiërs 1:6). Ons word aanvaar slegs as ons “in die Geliefde” is – dit beteken, in Christus, as deel van sy liggaam.

“Om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig" (Efesiërs 1:10, kursief myne). “Want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader" (Efesiërs 2:18). Eenvoudig gestel, ons het geen ander toegang tot God as om in Christus te wees nie.

As jy jou hart volkome aan Jesus gegee het, het jy dalk ook al dieselfde vraag as die Israeliete gevra: “O, God, hoe kan ek U tevrede stel? Hoe kan ek ooit voor U staan met al my tekortkominge en foute? Elke keer wat ek dink dat ek vordering maak, neem ek twee treë terug. Moet ek meer Bybel lees of meer tyd in gebed spandeer? Here, wat wil U van my hê?”

God antwoord ons soos Hy Israel geantwoord het: “Ek wil nie een van jou offers of jou goeie werke hê nie. Ek erken net die werke van My Seun, wat my verbly en tevrede stel. Tog, het Ek jou gekies as my Seun se geliefde bruid.”

“Jy sien, Ek het jou uitgekies van voor die grondlegging van die wêreld af om met Hom te trou. Ek het jou bekoor en jou oortuig en deur My Gees het ek jou na Hom toe gebring. Hoe kan Ek my nie verbly in my Seun se bruid nie, die bruid van my keuse? Ek kan nie my eie vlees haat nie.”

Jesus het tot die Vader gebid: “En alles wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne; en Ek is in hulle verheerlik" (Johannes 17:10). "Sodat die liefde waarmee U my liefgehad het; in hulle kan wees, en Ek in hulle" (Johannes 17:26). Christus het dit baie duidelik gemaak: As ons een is met Hom, geniet ons dieselfde liefde van die Vader wat Hy ook geniet. God verheug Homself in ons net soveel soos in sy eie Seun! Hy sê, “Ek het diegene lief wat in My Seun is, want almal wat Syne is, is Myne!”

Die Bybel leer ons ook dat God ons Vader is, net soos Hy Christus se Vader is. Jesus getuig: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God" (Johannes 20:17).

Probeer jy hard om God tevrede te stel? Gaan jy deur seisoene waarin jy voel dat jy Hom verheug en ander waarin jy voel dat jy Hom mishaag? Geliefde, ons moet feite bo ons gevoelens stel. En dit is ‘n feit dat God se genoë met ons niks te doen het met ons strewes, intensiteit of goeie voornemens nie. Dit het alles te doen met ons geloof.

Die skrywer van die brief aan die Hebreërs praat oor dieselfde kwessie. Hy sê, wanneer ons weg beweeg van die fundamentele leerstelling waarin ons deur God in Christus aanvaar word, dan keer ons onsself van die Here af en dan keer ons terug na die slawerny van die wet en die vlees. “Want ons wat geglo het, gaan die rus in... want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne" (Hebreërs 4:3, 10). Die Skrif maak dit duidelik: Die bewys van geloof is rus.

Eenvoudig gestel, die enigste manier om jou strewe, geswoeg en bekommerde siel tot rus te bring, is om oortuig te wees, “Ek is in Christus - en in Hom is ek aanvaarbaar vir God en behaag ek Hom. Hy verbly Homself in my, ongeag of ek opgewek of neerslagtig is. Dit maak nie saak hoe ek voel nie, ek weet wat my posisie in Christus is - dat ek saam met Hom in hemelse plekke sit.”

Hoe kan ons die versekering hê dat ons waarlik “in Christus” is?

Daar is baie bewyse daarvan om “in Christus” te wees. Laat my drie duidelike bewyse vanuit die Skrif aanhaal. (Neem asseblief kennis dat hierdie bewyse bykomend tot die volgende is: Dat jy jou sonde bely het, alle goddeloosheid verwerp het, Christus vertrou vir ewige redding en Hom toegelaat het om jou uit die duisternis oor te bring na sy koninkryk van lig.)

1. Jy is in Christus as jy gedurigdeur in die proses is om vernuwe te word. Diegene wat “in Christus” is, rus nie op ‘n eenmalige bekeringservaring nie. Hulle is gedurigdeur besig om uit te roep om deur die Heilige Gees verander en vernuwe te word. Hulle daaglikse gebed is, “Here, verwyder van my alles wat nie soos U is nie. Herskep my in die beeld van u Seun.”

“Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword" (2 Korintiërs 5:17). “Nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees; wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser" (Titus 3:5–6).

“Wedergeboorte” beteken hier “nuut maak” of “opwek en iets nuuts maak.” Paulus sê, “Die Heilige Gees werk in jou en gee jou ‘n ‘makeover.’” Christus het die Heilige Gees sonder mate — en omdat ons deel is van sy liggaam, vloei sy Gees af na elkeen van ons. Soos wat ons in Christus is, word ons deur sy Gees gevoed en herskep na die beeld van Jesus self.

2. Jy is in Christus as jy jou lewe deur die Skrif laat beheer. Eer en vrees jy God se Woord? Gaan jy daagliks na die spieël van die Bybel om daardeur verander te word?

“Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is" (1 Johannes 2:5). Die Skrif maak dit duidelik. Ons weet dat ons in Christus is as ons sy Woord liefhet en gehoorsaam. En volgens Johannes is dit ook hoe God se liefde in ons volmaak word.

Paulus skryf, “Bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle" (2 Thessalonicense 3:1). Die gedeelte “snelle loop” beteken om geen opposisie in jouself te ervaar nie. In wese het Paulus gesê: “Soos jy God se Woord lees of hoor, laat dit jou beheer. Eer dit en maak dit die reël van jou lewe.”

Christene haal dikwels die vers aan: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak" (Johannes 8:32). Maar die belofte hang af van twee voorafgaande verse: "As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels" (Johannes 8:31).

Die gedeelte “as jy in my woord bly,” beteken “as jy in my bevele leef en dit onderhou.” Met ander woorde: “As jy in My is, sal Ek my waarheid aan jou openbaar. Maar Ek sal dit nie aan jou openbaar as jy nie van voorneme is om daarvolgens te leef nie. “Jy sal die waarheid ken, alleenlik nadat jy jou verbind het om dit te gehoorsaam.”

3. Jy is in Christus as jy naasteliefde by jou geloof gevoeg het. Die Woord sê as jy nie naasteliefde of onvoorwaardelike liefde het nie, kan jy nie in Christus wees nie.

“En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kan versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie" (1 Korintiërs 13:2).

Jy kan ‘n talentvolle prediker of ‘n kragtige evangelis wees... jy kan ander gesond maak deur jou geloof... jy kan berge versit deur ‘n enkele woord... jy kan God se Woord verkondig met krag en salwing... maar as jy geen liefde vir ander het nie, beteken dit niks nie.

“As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van Sy Gees gegee het" (1 Johannes 4:12–13).

Paulus noem ‘n aantal van die “vrug van naasteliefde,” maar ek wil net op een fokus.

As jy die volgende vrug dra, dan het jy die duidelikste bewys dat Christus in jou woon. Dit is eenvoudig die volgende: “Die liefde... word nie verbitterd nie" (1 Korintiërs 13:4–5).

Die Griekse woord vir “verbitterd” is paraxuno. Dit kom van ‘n kernwoord wat “suur” en “vinnig of skielik” beteken. Dit het nietemin ook ‘n addisionele kern betekenis van “een wat naby is.” Saamgevoeg, word hierdie betekenisse baie duidelik. Om verbitterd te wees is om “vinnig te reageer” met “suur” opmerkings, of ‘n “kwaai woedeaanval” — en dit mik jy alles op iemand wat naby aan jou is!

Kortliks sê die Bybel, “As jy in Christus is, dan het jy mense onvoorwaardelik lief — en sal jy nie langer maklik verbitter word nie.

Ek glo ons grootste toets van hierdie vrug kom van diegene wat die naaste aan ons is — ons huweliksmaat, ons kinders en ons vriende. So, het jy ‘n kort humeur? Hoe vinnig ontvlam jy in ‘n woedebui? As jy in Christus is, sal ‘n stem in jou binneste opkom wanneer jy kwaad is. Dit sal uitroep, “Here, help my! Heilige Gees, maak my kalm!”

Jy mag dalk nie perfek wees nie. Maar as jy in Christus is, dan is jy gedurigdeur besig, om deur die krag van die Heilige Gees, met hierdie kwessies in jou lewe te deel. Dit maak nie saak wat jou worstelstryd is nie, deur geloof, kan jy heeltemal deur die Vader aangeneem word — omdat Christus in jou is.

Dit is nou tyd om jou te verbly in jou geseënde posisie in Christus. Jy is die hemelse Vader se geliefde kind - sy genotvolle dienaar, wat gedurig verander word na Sy seun se beeld — alles omdat Christus in jou is. Dank Hom vir sy ongelooflike gawe aan jou — en laat jouself toe om deur sy Woord en Gees verander te word. Halleluja!