Die Jagter

‘n Boodskap van hoop vir almal wat deur Satan versoek word
David Wilkerson

Jy het seker al gehoor van die snuffelhond van die hemel. Dit is die Gees van God wat ‘n mens opspoor en nooit met hom moed verloor nie. Hy gee nooit op nie totdat Hy hom vind. Waaroor ek nou met jou wil praat, is die jagter van die hel, wat die kosbaarste kinders van God jag deur hulle te soek en te vernietig. Dit is die Duiwel self.

Eens op ‘n tyd was sy naam Lucifer, en hy was ‘n uitverkore, magtige heerser by God. Hierdie Môrester, soos Jesaja hom noem, was ‘n helder ster in God se hemel, ‘n magtige engel, ‘n hoogwaardigheidsbekleër en uitverkore. Maar hy het hoogmoedig en trots geword

Die Bybel sê, “Trotsheid kom voor die verbreking, en ‘n hoogmoed kom voor die val.” Voor Lucifer neergewerp was uit sy hoë posisie, het hy deur God se koninkryk gegaan en jag gemaak op ‘n derde van God se engele. Diegene wat hy deur hoogmoed of misleiding gevang het, was saam met hom uit die hemel geskop. Moenie vir een oomblik dink hy het jag gemaak op die geringste onder hulle en hulle mislei nie. Ek glo die meeste van hulle was net soos hy self – uitverkore, soos die Môresterre. Hy het gejag om die mees talentvolle, die bruikbaarste van hierdie vlammende, vurige bedienaars van die Here te mislei.

“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies...” (Jesaja 14:12).

Lucifer het bekend geword as Belial, of Satan. In die Ou Testament het Satan ‘n tipe owerspelige vrou geword. Hy was toe en is nou ‘n misleier, en mislei mense met sonde en slawerny.

Onlangs, het die Gees van die Here my gelei na Spreuke 6:26:

“’n Ander se vrou maak jag op ’n kosbare lewe.”

Die ander man se vrou – Satan – sal jag maak op die kosbare lewe! Met ander woorde, hy gaan agter diegene aan wat die mees geliefd en die kosbaarste is vir God. Hy jag die goeie kinders, die onskuldiges, die belangrikstes vir die koninkryk van God.

Dit is waarom diegene wat seksueel pervers is, en oorgegee is aan hulle sondes, agter onskuldige kinders aangaan. Dit is Satan wat in hulle werk om jag te maak op die kosbare lewens en hulle te vernietig.

Waarom word soveel onskuldige Christen meisies verlei deur die mees goddelose, vulgêre bendelid-tipes? Dit is omdat die duiwel self hierdie kosbares jag. Satan lei ‘n leër demoniese jagters, wat rondgaan en die kosbaarste lewens soek om te verlei, te vang en te verslaaf.

Die woord “kosbaar” beteken “waardevol, geliefd en hooggeag.” Die dierbaarste vir die hart. Die mees hooggeagte weens ‘n geestelike of morele eienskap.”

Satan kom soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. En hy wil die graagste die kosbares verslind. Ek het in ‘n kamer in Spaanse Harlem gesit en geween terwyl ek gekyk het hoe vyf doofstommes vuil naalde in hulle are insteek. Hulle was dwelmverslaaftes – “mainliners.” Ek het gewag vir ‘n kans om teenoor hulle te getuig, maar hulle het vergeet ek was in die kamer. Terwyl ek gekyk het, het ek gedink, “Het hulle nie genoeg probleme nie? Hulle kan nie hoor nie; hulle kan nie praat nie. Hulle deel hierdie innerlike hartseer, en kyk na hulle!” Hulle was soos diere! Maar God het ‘n spesiale liefde vir hierdie soort mens. Hierdie doofstommes was God se spesiale kinders, en Satan het agter hulle aangegaan en hulle mislei! Hulle was verstrik en slawe van hulle gemaak deur die owerspelige.

Ek onthou twee klein kindertjies, ‘n seun en ‘n dogter, miskien vier en vyf jaar oud, wat gesit het op ‘n bouvallige derde verdieping woonstel in Brooklyn. Ek het daarheen gegaan om ‘n dwelmverslaafde te gaan haal wat gered was, om hom in die program op te neem. Die moeder was ‘n prostituut, uit op die strate met besigheid. Die vader was ‘n dwelmverslaafde, in die tronk. Jose en ek was op die punt om te vertrek toe ek teruggekyk het na daardie twee verskrikte kinders wat alleen op die bank gesit het. Ek het gesê, “Jose, jou ma is op die strate; jou pa is in die tronk. As ons loop, wie gaan na jou broer en suster kyk? Hy het na ‘n muwwerige melkhouer en ‘n paar Oreo koekies op die tafel gewys en gesê, “O, daar is kos. Hulle kyk na hulleself.” Ek kon nie daar weggaan nie! Net toe het die moeder teruggekeer. Sy wou nie hê ons moes daardie kinders wegneem nie, want sy het hulle nodig gehad om voort te gaan om maatskaplike toelaes te kry, sodat sy dwelms kon koop! Toe ons vertrek het, het ek na daardie twee kosbare lewens gekyk en gedink, “O God, hulle is die kosbare lewens waaragter Satan aan is!” Ek kan jou nie vertel hoe bedroef my hart was nie!

‘n Assemblie van God bedienaar van Brooklyn het twee tiener seuns na my kantoor gebring – 15 en 16 jaar oud. Hule het oorkant my lessenaar gesit. Hierdie bedienaar het sy kop op my lessenaar neergesit en geween. “Broer Dave,” het hy gesê, “Ek het jou boek, The Cross and the Switchblade, gelees; ek het daaruit gepreek. Ek het die tronk besoek en opgestaan vir die kinders van ouers in my gemeente. En as jy vir my gesê het wat ek gister uitgevind het, sou ek dit nooit geglo het nie! Die sersant het my na ons buurt se Polisiestasie ontbied. Hy het my seuns onder arres gehad. Hy het hulle moue opgerol en vir my hulle arms gewys. ‘Weet jy nie jou seuns is dwelmverslaafdes nie?’ het hy gevra. Ons het agtergekom hulle druip en hulle oë was dikwels glaserig, maar nooit het ek gedroom dit kon dwelms wees nie. Ek kon nie glo dit kon in my eie huis gebeur nie!”

Ek het gekyk hoe daardie vader kniel en sy hande op sy seuns plaas. “Seuns,” het hy gepleit, “As julle enigsins enige liefde vir my of julle moeder het, laat Broer Dave julle asseblief plek gee. Kom asseblief na Teen Challenge toe en verander julle lewens! Asseblief! Ek kan dit nie meer verdra nie!” Hulle het hom net aangestaar met ‘n ongevoelige gluur, so hard soos klip. Die vader het op die vloer neergeval, oorweldig deur sy droefheid. Ek het daardie seuns sien opstaan, na hulle pa loop – vir hom lag – en by die deur uitloop.

Ek kon daardie herder nie troos nie. Hy het opgestaan, sy kop geskud en by die deur uitgestap. Al daardie jare het ek gedink aan daardie twee kosbare predikerseuns – hoe Satan agter hulle aangekom het. Twee kosbare lewens by wie die owerspelige gekom en op jag gemaak het. Wat het Satan in daardie twee kinders gesien wat hom bang gemaak – en hom gedwing het om al die magte van die hel teen hulle te laat kom?

‘n Verslaggewer het eenkeer gevra, “Mnr. Wilkerson, wat is die ergste ding wat al ooit met jou gebeur het? Die slegste belewenis wat jy ooit gehad het?” Ek dink altyd aan die volgende ontmoeting. Ek het pas ‘n diens verdaag in ‘n groot gimnasium en was op die punt om van die verhoog af te loop toe ‘n tienermeisie vorentoe gekom en ‘n jongman, wat duidelik blind was, gelei het. Hy was omtrent 6’2’’, vel en been. Sy hare was besig om uit te val; sy oë was gesonke. Ek het gedink hy het terminale kanker gehad. Dit het gelyk asof hy deur chemoterapie gegaan het. Hulle het voor my gestaan, hand aan hand, en sy het gesê, “Dit is my kêrel, Jimmy. Hy is sewentien.” Toe het sy ‘n jammerlike storie vertel van hoe hy ‘n gesonde, robuuste voetbalspeler was in sy hoërskoolspan. Hy was een van die goeie seuns in die skool en in die kerk. Hy het na ‘n partytjie gegaan waar die meeste partytjiegangers acid en crack gebruik en dagga gerook het. Hulle het by hom aangedring om dit te probeer, en uit nuuskierigheid en groepsdruk, het jy ‘n tablet acid gesuig. Iemand het strignien bygesit. Hy het omgedop in ‘n verskriklike periode van stuiptrekkings en moes hospitaal toe gejaag word. Trouens, die jong meisie het vir my gesê, hy was pas twee dae gelede uit die hospitaal ontslaan. Sy verstand was steeds beneweld, sy sig weg.

Sy het gesê, “Hy het jou boek, The Cross and the Switchblade gelees in die Engelse klas maande gelede. Ek het hom na u gebring want ek het hom steeds lief. Ek wil hom terughê!” Ek het na daardie uitgebomde skepsel gekyk en woedend geword vir die duiwel. Ek het agter die gordyn ingegaan en gehuil, toe het ek teruggekom en vir hom gebid. “O God, verlos hom!” Ek het ernstig gebid, maar toe ek my oë oopmaak, het ek besef hy het nie ‘n woord gehoor van wat ek gesê het nie. Hy was weg, heeltemal weg!

Ek weet nie wat ooit met daardie jongman gebeur het nie, maar ek glo met my hele hart in die genesende krag van God. Die beste wat ek kon doen, was om hom voor te stel aan ‘n herdersvriend van my en ‘n groep jongmense wat hom aangeneem het. Ek weet hy sou met gebed bedek word. Ek het ‘n gevoel ek gaan hom eendag ontmoet, en hy gaan by sy volle verstand wees. Ek sal Jimmy nooit vergeet nie – daardie goeie, uitverkore jongman agter wie Satan aangegaan het om te mislei en te vernietig.

Hoe waar, die owerspelige maak jag op die kosbare lewe. Menigtes onskuldige, rein jongmense word gejag deur Sataniese magte en word verlei met dwelms en alkohol – met die enigste doel om die mees geliefde, kosbaarste van God se kinders tot skande en verwoesting te bring.

Onlangs het die Heilige Gees my gelei tot ‘n genesende waarheid. Hy het my gelei in ‘n bediening van versoening en herstel, om vir mense te wys dat God nie gevrees behoort te word soos een of ander wrede regter nie. In plaas daarvan, verlang Hy na die liefde en vriendskap van al Sy kinders wat afgedwaal het.

Eerstens, bo alles – sommige van die mees goddelose sondaars op aarde vandag, was eens op ‘n tyd die kosbaarste lewens in God se oë.

Eens op ‘n tyd was hulle onskuldige kinders, vol van die gawe van lewe. Jesus het van die kinders gesê, “...aan hulle behoort die koninkryk van God.” Satan het begin jag maak en die kosbaarste onder die kinders uitgesoek om te mislei, te wond en hulle van God af weg te keer met die slawerny van sonde. Hy gaan agter die kosbare lewe aan!

In ‘n onlangse veldtog het ‘n jongman van ongeveer 25 jaar oud bely hy was ‘n heks en wou Christus in sy lewe aanvaar. “Waarom,” het ek hom gevra, “sou ‘n heks Christus wou hê?” Toe het hy die gehoor vertel van ‘n nagmerrie wat hy beleef het die vorige nag. Demone het na hom toe aangekom, geklee in ‘n gryserige, demoniese klere. Bang, het hy die naam, “Jesus!” uitroep. Hulle het teruggedeins. Weer het magte bymekaargekom om sy liggaam te beset. Harder as voorheen, het hy dieselfde naam “Jesus!” uitgeroep. Hulle het almal weggevlug. Wat ‘n heerlike gesig, om die bekering van hierdie jong heks te aanskou. Jesus het die duiwel en al sy impi’s verdryf.

Het Satan teen hierdie seun gekom en probeer om hom te beset omdat hy inherent sleg was en ‘n bose saad in hom gehad het? Was hy bestem om ‘n kind van Satan te wees? Wat was daar wat die duiwel so aangetrek het na hierdie spesifieke jongman, wat hom laat aanval het met al sy demoniese magte en probeer het om sy verstand te vernietig? Hierdie jongman was op ‘n vroeë ouderdom so ‘n kosbare siel met soveel potensiaal om iets vir die koninkryk van God te doen, dat Satan agter hom aangekom het! Die egbreekster, Satan, het hom gejag en hom in mislei omdat hy as kind sy Bybel uitgeneem het na die uitgestrekte velde – en God aangeroep het om hom die Evangelie te laat verkondig.

Nicky Cruz, voormalige Mau Mau bendeleier, was gebore in ‘n huis van heksery. Sy ma was betrokke in die okkult. Nicky was een van 17 kinders en toe hy nog net ‘n kind was, het hy sy ma hoor sê dat hy ‘n ongewenste kind was. Nicky sou op die strate van New York beland, vol haat en mislei deur Satan. Die koerante het Nicky eens beskryf as ‘n verlore kind met die “hart van ‘n moordenaar.” Voor ek hom ontmoet het, het hy reeds ‘n aantal mense doodgesteek.

Nou, laat my jou ‘n vraag vra. Was dit omdat hy ‘n goddelose saad in hom gehad het dat hy op die strate beland het met ‘n moordenaarshart? Die eerste keer wat ek hom ontmoet het, het hy in my oog gespoeg en gesê, “Gaan hel toe!” Hy was so vol bitterheid, haat en woede. Ek het gedink hy was die laaste mens in die wêreld wat gered kon word in New York.

Wat was dit omtrent Nicky wat die duiwel gesoek het? Daar moes iets gewees het op ‘n vroeë ouderdom! Was dit omdat hy, nadat hy by sy ma gehoor het hy was ongewens, in die kamer ingegaan het en na God uitgeroep het, en God sy roepstem gehoor het? God het die potensiaal gesien van ‘n vurige evangelis wat die koninkryk van die duiwel kon skud. En die duiwel het dit ook gesien! Daarom het hy agter daardie kosbare lewe aangegaan!

Ma’s en Pa’s met dwars of goddelose kinders wat in sonde lewe, deur watter verskriklike trauma wil die Satan jou graag sit! Deur jou te probeer vertel dat daar êrens in jou stamboom ‘n bose saad was wat uiteindelik uitgekom het in een of twee van jou kinders. Het jy al ooit gevra, “Waarom moes dit my kinders wees?”

‘n Paartjie het my kantoor binnegekom en so hard gehuil dat hulle nie eens met my kon praat nie. Toe hulle gekalmeer het, het hulle vir my ‘n harverskeurende storie vertel. Twee weke tevore het hulle ontdek dat hulle seun, wat onderwys gestudeer het, ‘n homoseksueel was. In hulle wanhoop en gebrokenheid, het hulle besluit om die familie se probleem met hulle dogter te deel. Toe sy na klaar na hulle geluister het, het sy geantwoord, “Wel, as hy vir julle die waarheid vertel het, kan ek netsowel ook. Ek is ‘n Lesbiër.” Nou het hulle voor my gesit, gebroke en in trane.

Dit is waarom ek soveel liefde vir homoseksuele en Lesbiërs het, en almal wat deur Satan gebind is. Omdat daar êrens agter dit alles moeders en vaders is wat huil en hulleself veroordeel en vra, “Wat het ons verkeerd gedoen?”

Ek wil deel wat die Heilige Gees vir my gegee het in antwoord op hierdie dilemma. Is dit die ouers se skuld? Was daar ‘n latente saad van goddeloosheid wat skielik by hulle uitgekom het? Nie altyd nie. Laat my jou die heerlike nuus van Jesus Christus vertel – daardie kind was kosbaar! ‘n Kosbare geliefde in die oë van God. En of jy dit weet of nie, liewe ouer, daardie kind is steeds geliefd by God omdat Hy glad nie opgee wanneer Hy eenkeer gesê het, “Ek sien die potensiaal!” nie. Hy sal nie opgee totdat daardie kind Hom totaal verwerp nie. Hy sal aanhou kom en kom en kom. Dit is waarom dit so belangrik is om vas te hou, om aan te hou bid. Hulle is steeds kosbaar in God se oë maak nie saak waar hulle is of wat hulle gedoen het nie. Die egbreekster, Satan, kom om jou kind wat so kosbaar is in God se oë te mislei. As hulle nie so kosbaar was nie, waarom sou Satan agter hulle aangaan met soveel demoniese woede?

Dié van julle wat vasgevang is in sonde, het jy al ooit gewonder waarom jý van alle mense, is soos jy is? As jy by dwelms betrokke is, het jy al ooit gewonder, “Waarom ek? Wat het ek gedoen dat ek ‘n dwelmverslaafde moes word?” Drink jy en kan jy dit nie los nie? Is jy ‘n homoseksueel or ‘n Lesbiër? Die duiwel sal na jou kom met sy leuens. Hy sal sê, “Jy moes boos gewees het toe jy ‘n kind was!” Hy sê vir die homoseksueel, “Jy was so gebore! Jy kon jouself nie h elp nie. Jy was bestem om so te wees. Jy is ‘n frats! Jy is ‘n niksnut! Nutteloos!”

Maar dit is alles leuens! Die waarheid is, jy was gejag deur Satan want jou lewe was kosbaar. Jy was ‘n uitverkore werktuig, veel geliefd by die Here. Hy het jou potensiaal gesien, en Hy sien dit selfs nou.

Hier is ‘n kragtige boodskap van die Here:

“Sy oog sien allerhande kosbare dinge...” (Job 28:10).

As dit waar is, dan behoort ek en jy na die verlorenes te kyk deur die oë van Jesus. Wanneer jy iemand straat-af sien strompel, weet dat die belangrikste rede waarom Satan agter hulle aan is, is weens hulle potensiaal. Dit was ‘n kosbare lewe, en die duiwel het uitgegaan om dit te probeer mislei en dit te probeer vernietig. Satan weet as hulle ooit in God se koninkryk inkom, het hulle groot potensiaal vir God! God sien jou nie vir wat jy geword het nie, maar vir wat Hy weet jy kan wees, deur Sy genade. God het dit baie duidelik vir my gemaak dat daar sondaars is wat hierdie boodskap moet hoor. Hulle moet weet hulle kan opstaan en met vertroue sê, “Die enigste rede waarom die duiwel so erg op my afkom, is omdat hy iets in my gesien het wat hom bang gemaak het. Hy wou my slegs hê omdat ek ‘n kosbare juweel in God se kroon was. En ek sal nie meer mislei word nie!”

Nog ‘n feit – die heiligste, gelowigste kinders van God word die ergste versoek.

Die Bybel sê, “Die Here tugtig hom wat Hy liefhet...” Jy kan daar byvoeg, “Die Satan jag hom wat die Here liefhet!” Ons moenie dink dat wanneer ons versoek word, dit een of ander vreemde ding is wat met ons gebeur nie. Dit is glad nie vreemd nie. Daar is ‘n rede voor.

Dink aan Josef. Wat ‘n goddelike, sedelike mens. Die Bybel sê van hom, “En die HERE was met Josef, sodat hy ’n voorspoedige man was... en dat die HERE alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak, het Josef guns in sy oë gevind...ja, die seën van die HERE was by alles wat syne was...” (Génesis 39:2-5).

En skaars het jy dit gelees, of jou oë val op die volgende vers:

“Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my...” (Génesis 39:7).

Waarom Josef? Daar was baie mans in hierdie huishouding. Sy kon enige man kry wat sy wou gehad het. Toe Josef uit haar greep af weggevlug het, het sy geroep na die “huisgenote” (Génesis 39:14). Maar daar was slegs een waaragter sy aan was, die kosbaarste van almal – Josef. Die egbreekster wou slegs die kosbare lewe hê!

Christen, Satan sal die ergste versoekings teen jou werp op die hoogtepunt van jou bruikbaarheid vir God. Een oomblik sal jy tot God uitroep in geregtigheid, heiligheid en honger, en dan skielik, word jy in ellendige versoeking gedompel. Is dit omdat jy koud van hart geword het? Of ‘n goddelose streek ontwikkel het? Is jy afvallig? Dit is nie altyd nie, hoewel dit soms die oorsaak is. Dikwels is dit omdat Satan, die owerspelige, agter die kosbare een aankom! En die ergste ding wat kan gebeur, is vir jou om te dink dat wanneer dit gebeur, jy minder heilig, minder gesalf, minder geliefd of waardevol vir die koninkryk van God is. Kan jy nie sien dat Satan bloot agter die keur van God se dienaars aangaan nie?

Dit is altyd waar dat ons verlok word deur ons eie begeertes en versoek word – maar dit is Satan wat daardie vlamme aanblaas met ‘n betowerende beeld. Die mees goddelike, kosbaarste van God se kinders sal getuig van die verpletterende versoekings en beproewings wat teen hulle gewerp word tydens hulle mees intense geestelike tye. O, hoe jag die egbreekster die goddelike, kosbare lewe!

Beskou Job. Waarom was hierdie man versoek soos geen ander man in sy geslag? Omdat sy heiligheid die vyand gelok het! Nie omdat hy sonde in sy lewe gehad het of omdat hy na die wêreld oorgeleun het nie. Job was in ‘n vuuroond van beproewing gewerp bloot omdat hy so ‘n voorbeeld van ‘n kosbare, goddelike lewe was – en Satan kon nie versadig word totdat hy ‘n kans gehad het om agter hom aan te gaan nie.

Dink aan God se enigste geliefde Seun, die Kosbaarste van Almal. Hy kom uit die doopwaters, die Heilige Gees daal neer soos ‘n duif en God sê, “Dit is my geliefde Seun. Dit is die Kosbaarste Een sedert die skepping van die aarde.” En wat gebeur dadelik? Hy word in die woestyn ingelei om versoek te word deur die duiwel! Satan kom agter die kosbaarste lewe aan!

Deur Jeremia, het God vir die Israeliete gesê, “Julle het afvallig geword! Julle het met julle harte teen My gedraai. Maar Ek het julle in die palm van my hand gegraveer! Julle is steeds vir my kosbaar!” God was bedroef oor hulle sondes, maar as Sy kinders, was hulle steeds innig geliefd.

God het ‘n baie eenvoudige manier gevind vir al Sy kosbare kinders om uit die strik van Satan uit te kom.

Dit is die raad wat ek vir my vier kinders gegee het:

“Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp...” (Psalm 72:12).

Ek het vir my kinders gesê, “Wanneer julle in die nood is, wanneer julle ly, bel my. Ek sal daar wees! Ek gee nie om waar ek is nie, ek sal kom!” Ek is net ‘n aardse vader. Hoeveel te meer gee die hemelse Vader om!

Die Woord van God sê, “...Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë” (Psalm 72:12-14).

God sê, “Julle almal wat arm is, almal wat behoeftig is, wat hulpeloos lyk – die vyand het aangeval. Julle het in sy strik getrap! Weet julle nie julle bloed is vir my kosbaar nie! Al wat julle moet doen, is om uit te roep na My en Ek sal julle verlos uit die strik van Satan!”

Dawid het gesê, “Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos” (Psalm 34:6).

Jy hoef nie baie kennis te dra van godsdienstige terme, of teologie, of veel van die Bybel nie. Dit kan later kom. Die een ding wat jy moet weet is dat, maak nie saak wat jy gedoen het nie, hoe goddeloos jy was nie, of die lelike dinge wat jy gedoen het nie, jy is en sal altyd kosbaar wees in Sy oë. Christus het gesê, “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe...” (Openbaring 3:20).

Waarom staan Hy? Waarom klop Hy? Omdat dit ‘n kosbare lewe is, en Hy sal nie laat los nie. Hy kom nie om iemand rond te stoot nie, maar keer op keer sal Hy kom en tot jou hart spreek. “Roep My nou aan in jou nood!” fluister Hy. Daar is so baie wie kosbaar in Sy oë is. As jy ‘n sondaar is, was jy dalk in ‘n kerk waar mense jou veroordeel en afgesit het, jou vuil en onrein laat voel het. Maar al wat hulle gedoen het, was om jou te oordeel oor hoe jy aan die buitekant lyk. God doen nie dit nie. Hy sien jou potensiaal. Wat Hy in jou lewe kan doen, wat ‘n lewe van ‘n aangename geur jy steeds kan wees. Hy sal jou blydskap en prag pleks van die onreinheid en vuilheid en as gee. Hy sal jou vrymaak.

Ek word herinner aan Israel, een van die karakters in my boek. Hy het teruggegaan na sy bende en was gevange geneem saam met ‘n ander jongman wat ‘n seun deur die kop geskiet het. Israel was agt tot tien jaar gegee as ‘n medepligtige aan moord. Al daardie jare wat hy in die tronk was, het ek geween en vir hom gebid. Toe hy uit die tronk kom, net Nicky hom gekry en vir hom gebid. En Israel het gesê, “Nicky, ek onthou die dag wat ek saam met Broer Dave gekniel het. Ek kan nie wegkom van die Heilige Gees nie. God het my teruggeroep, en ek weet Hy het my steeds lief!” Nou preek Israel, net soos Nicky. Hy is nog ‘n kosbare siel wat verlos is uit die strik van die duiwel. Ek glo dat voor Jesus kom, sal daardie strikke oopgaan oral in die wêreld. God gaan mense wys dat hulle deur Hom liefgehê word – kosbaar is in sy oë.

Ek lees die getuienis van ‘n jongman wat ‘n karnavalkoningin was. Hy het ‘n geslagverandering van ‘n man na ‘n vrou gehad, maar hy het tot bekering gekom. En toe dit gebeur, het hy teruggegaan daarna om ‘n man te wees. God het hom sy manlikheid teruggegee. ‘n Paar jaar gelede, as jy hom gesien het, sou sy gesê het, “Daar is ‘n kind van die duiwel vir hierdie lewe en die ewigheid!” Maar iewers binne-in daardie hart het God iets raakgesien. Daar was ‘n kosbare lewe daar weggesteek. Nou verkondig daardie man die evangelie.

Daar is so baie kosbare siele wat God wil red. Al wat dit verg is om te erken, “Ek het ‘n goddelose, bose mens geword. Ek was mislei deur die duiwel. Diep in my hart weet ek egter dat dit wat jy sê die waarheid is. Ek is nie regtig vuil, aaklig, hatig nie. Dit is nie die ware ek nie, omdat daar tye is wanneer ek weet ek kan ‘n nuwe mens wees.” Dit is die Here wat probeer om vir jou te wys hoe kosbaar jy in Sy oë is.

Jy bekeer jouself die oomblik wat jy vir God vra dat jy jou sonde sal begin haat. Hy sal reageer, die presiese oomblik wat jy ‘n stap van geloof neem. Die Gees van God self sal oor jou kom en jou wil vrymaak van die mag van die bose. Dit is geloof alleen wat iemand red en bewaar van die mag van sonde en Satan.

Moenie die duiwel se leuens glo dat jy te ver heen, te sondig is – om ‘n kind van God te wees nie. Jy moet – nou dadelik – die feit aanvaar dat Satan jou in slawerny en hardheid wil hou omdat jy so ‘n “groot vis” is. Met ander woorde – regtig kosbaar is vir God.

Jy kan vry wees – op hierdie oomblik! Roep uit, in jou hart na God! Glo God se Woord as dit belowe dat Hy geloof in jou sal giet as jy Hom vra om dit te doen. Dan sal die ware jy – die goddelike – die kosbare, nuwe jy – vrygestel word!

Jy is kosbaar vir God – moenie dit vergeet nie!