Eindtyd Waardes

David Wilkerson

God doen ‘n verborge werk in ons dag. Hy rig ‘n honger volk op wat meer en meer ontevrede raak met die vleeslike wêreldstelsel soos dit nou bestaan – selfs in die kerk.

Hierdie God-honger mense sê onder mekaar. “Dit is nie al nie. Daar is iets meer. Die grootheid en die sensasionalisme van dit alles het ons leeg en droog gelaat. Ons wil meer hê. Meer as vermaak. Meer as groot, spoggerige geboue. Meer as ‘n oppervlakkige bekende-persoonlikheidsevangelie. Ons wil dieper waardes hê. Ons wil Jesus sien. Ons wil vlekkelose klere van geregtigheid hê. Ons wil teruggaan daarna om dinge in volkome afhanklikheid van God te doen.”

Ek sien dit alles in die land vandag – ontnugterde Christene soek na realiteit. Die mense in die kerkbanke begin vas en bid. Dit is hulle wat nou ween tussen die voorportaal en die altaar. En hulle smag na meer diepte en meer ewige waardes van die kansel af. As die bedienaar van hulle kerk op dieselfde egosentriese wyse voortgaan en duur drome najaag, sal hulle weggaan en gaan soek na ’n plek waar hulle diepste geestelike behoeftes aangespreek word.

Ek weet dit vir ‘n feit dat menigte bedienaars dieselfde desperate honger het as ek na ‘n dieper werk van God in die kerk en bediening vandag. Dit lyk asof dit ‘n geheime ondergrondse netwerk van mense van God is wat hulleself stroop, hulleself verneder en terugkeer na die binnekamer van gebed. Onlangs het ek ‘n aantal bedienaars van verskeie denominasies, wat tussen 6 tot 8 ure per dag bid, ontmoet. Hulle vas. Sommige van hierdie dierbare manne van God is bedroef oor toestande in die kerk vandag. God openbaar aan alle biddende mense dat ‘n heerlike nuwe werk van die Gees op die punt is om na vore te kom. God gaan alles skud wat geskud kan word. Hy sal die ou politiese, afvallige, predikerstelsel afbreek. Hy sal die formele, superkerk struktuur onterf. Hy sal almal wat betrokke is by selfbevorderende bedienings uit Sy teenwoordigheid wegjaag.

Wees eerlik, heiliges van God.

Is jy werklik tevrede met die godsdienstige stelsel vandag en veral in jou kerk? Sommige is. Maar die meeste mense kry nie hulle behoeftes aangespreek nie. Ek glo ons het die pad van ware geestelikheid byster geraak. Die geestelike honger van soveel Christene vandag, is ‘n direkte gevolg van in die vlees wees – om koninkrykswerk in ons eie krag te doen, met wêreldse metodes. Ons waardes word verdraai.

Ons behoort ons te skaam! Ons verruil tydelike waardes vir ewige waardes. Ons het evangeliste en leraars wat daarin spesialiseer om vir gelowiges te vertel hoeveel God hulle skuld. Materiële seëninge word vergroot, geestelikes verminder. Volgens sommige, is dit ons reg om ryk, suksesvol en immuun teen lyding te wees.

Hierdie leraars verwys na hulleself as voorbeelde van die voorspoedsgeloof. “Kyk na my,” word gesê, “Ek bewys die beloftes. Ek leef goed. Ek word nooit siek nie. Ek het geen onbetaalde rekeninge nie. Ek ry die beste karre. Ek woon in die mooiste huis. Dit werk vir my, glo dus soos ek, en jy kan alles kry wat ek het.”

Oë soos ‘n vlam van vuur

Geliefdes, hoeveel van daardie leerstellinge sal staande bly voor die oordeelstroon van Christus? Daar is ‘n toemenende innerlike wete binne-in my dat die grootste deel van ons hedendaagse, selfgesentreerde leerstellinge verteer gaan word voor die vlammende oë van die Seun van God.

Johannes, in sy visioen van die Seun van God, het ‘n asemrowende gesig gesien.

“...Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam...” (Openbaring 1:14).

Johannes gaan verder en sê, “En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete” (Openbaring 1:17).

Sal enige van ons, as leraars en evangeliste, in staat wees om te staan voor daardie deurdringende oë van vlammende vuur? Kan enige Christen Hom in die oë kyk? Geen ego kan Sy blik weerstaan nie. Geen selfgesentreerde drome kan verborge bly nie. Alle boesemsondes sal openbaar word as ‘n verskriklike gruwel in Sy oë.

Al die dinge wat ons bymekaargemaak het, sal brand. Al die groot werke wat ons vir Hom gedoen het, soveel ywer en sweet – sal dit ook brand?

Hoe belangrik is wat jy doen vir God se koninkryk? God kan jou die begeerte van jou hart gee, maar hongersnood in jou siel stuur. God het Israel bygestaan in hulle begeerte om ‘n koning te hê, maar Hy het hulle later getugtig vir hulle selfsugtige motiewe.

Is jy in een of ander kompeterende resies? Doen jy dinge vir God net om by ander by te bly? In die ewigheid, as jy terugkyk – hoe noodsaaklik sal dit alles dan werklik wees?

Kinders van God, wat is die goeie van wat ek en jy doen? Is ons motiewe gebaseer op ewige waardes? As ons werklik glo die einde van alle dinge is op ons, wat behoort ons te doen om ons waardes te reinig? Wat gaan dit verg om ons wakker te maak en ons uit die geneigdheid van gerief en gemak te kry?

Ek bely teenoor jou dat dit my jare geneem het om slegs vir ewige waardes te leef. Ek is bedroef as ek terugdink aan die tyd en geld wat ek vermors het om iets tasbaars vir God te probeer bou. Ek wou iets hê wat mense kon sien. Hoe belangrik het ek gedink was daardie geboue vir God se koninkryk. Ek het myself oortuig, “God verdien die beste.” Hy verdien wel die beste – maar nie in bakstene, sement en staal nie. Hy verdien die beste van ons tyd en oorgawe. Dank God vir die dag toe die Gees aan my openbaar het hoe oppervlakkig my waardes was. Ek het 20 jaar deurgebring met programme, geboue bou en dwarsoor die wêreld rondreis om vir God te probeer wys hoe belangrik ek vir Sy koninkryk was. Die hele tyd het my reputasie as ‘n bedienaar van geloof en visie gegroei. Tog, na elke nuwe projek, het ek teleurstelling beleef. Die een gebou was skaars klaar en ek was gereed om nog iets te beplan. Ek was ‘n idee-man vir God. Ek het meer idees gehad as enige ander prediker in Amerika. Idees oor hoe om te evangeliseer. Hoe om Nuwe Testamentiese programme te organiseer. Die programme en idees was suksesvol genoeg om my te verstrik en my op die trapmasjien van bedrywigheid te hou.

Maar die heeltyd het my hart gesmag na meer. Ek het geweet die seën was nie in bouery nie. Nie in een of ander goed beplande skema om die verlorenes te bereik nie. Nie in grootheid en nie in aktiwiteit nie. Ek het op die harde manier ontdek dat die heerlikheid van God, die vrede en blydskap van die Gees, daarin was om heeltemal gestroop, ontledig en volkome swak gemaak te wees. God moes al my waardes ontbloot. Hy het sy vlammende oë op my siel gerig en vir my gewys ek beter my ou maniere van dinge doen, verwerp, of verlore raak in ‘n doolhof van selfopgelegde aktiwiteite.

Nou is my grootste blydskap om op Hom te wag vir leiding. Ek het tyd gemaak om alleen saam met Hom te wees en het my siel voorberei om in Sy stille teenwoordigheid te bly. Hy laat my beleef wat die Gees vir hierdie geslag sê. Hoe meer Hy my leegmaak, hoe meer vul Hy my met ‘n begeerte om slegs op Hom te vertrou vir alles. Ek sien nou dat die Here die heeltyd besig was om op my te wag om al my planne, al my ambisies neer te lê en aan Hom oorgee te word as ‘n slaaf. Die sweet is nou weg – die druk is weg. Hy herskep al my waardes.

Die laaste skudding

Wat sal gebeur wanneer God begin om alles te skud wat geskud kan word? Wanneer alle valse waardes neertuimel en aardse drome en planne hulle betekenis verloor? Dit is jammer dat die meeste van God se kinders op die ou end ontsteld en verward sal wees. As die wêreld in die era van ekonomiese ineenstorting bewe – wanneer vervolging selfs in beskaafde lande begin plaasvind – wanneer regerings struiptrekkings kry en waggel op die rand van algehele ineenstorting – hoeveel Christene sal die toets oorleef?

Baie van God se kinders gaan wonder waar hulle is. Bedienaars wat gevang word in die strik van menslike visie sal die bediening verward verlaat, met al hulle werk verniet. Menigtes sal vra, “Waaroor gaan dit alles? Wat gebeur? Wat hou die toekoms in? Waar is ons? Wie kan vir ons die gedagtes van God vertel?”

Ons beweeg vinnig na dit wat ons as die eindtyd beskou.

Ons beter ‘n hemelse visie van heiligheid en nederigheid hê. Die tyd van beproewing kom op ons neer teen die spoed van weerlig. Dit gaan meer as ‘n doktriene of ‘n spesifieke leerstelling verg om ons deur te dra. Ons gaan werklik moet weet wie die Here in Sy volheid is. Ons beter ons oë gerig hou op ewige waardes. Slegs geestelike dinge gaan oorbly. Slegs geestelike mense sal verstaan wat gebeur en nie beswyk nie. Ons moet inskakel by die gedagtes van die Gees sodat ons nie omvergegooi sal word deur radikale veranderinge wat kom nie. Ons moet onsself bring by die plek waar ons niks het om te verloor nie. Ons moet wegloop van al die gemors in ons lewens – ons gaan dit alles in elk geval verloor.

Hoeveel van God besit jy in hierdie laaste uur van disintegrasie en vrees? Hoe aards is jy? Hoe verbygaande is jou begeertes? Is jou waardes gesif en gereinig deur die Gees van die almagtige God? Hoeveel van die wêreld interesseer jou – hoeveel tyd word gebruik om agter dinge aan te jaag wat nie nou saak maak nie?

Eindtyd Rusteloosheid

Jy sal weet as die Gees jou uit die oppervlakkige Christelikheid rondom jou roep. Jy sal weet as die Here jou wil aanraak op ‘n bonatuurlike manier. Jy sal weet as Hy jou uit die gewone roep. Hy sal jou nes omkrap. ‘n Onverklaarbare goddelike rusteloosheid sal oor jou kom. Jy sal ongeïnteresseerd raak in wat jy besig is om te doen. Al jou suksesse sal jou leeg en onvervuld laat voel. Niks wat jy gedoen het of besig is om te doen, sal die behoefte vir realiteit in jou binneste versadig nie. Jy sal ervaar dat ‘n baie diep behoefte binne-in jou nog nie aangespreek is nie – vrae wat nog nooit beantwoord was nie. ‘n Skadu van ontevredenheid sal oor jou hele lewe gegooi word.

Dit is ‘n teken dat God op ‘n bonatuurlike manier met jou werk en probeer om jou los te maak van alles wat jy dierbaar ag. Dit is Sy manier om vir jou te wys dat jou behoeftes in werklikheid geestelik en nie fisies is nie.

Heiliges, die sleutelwoord is honger. Hy het belowe om die honger hart te versadig. Ek was nog nooit so honger vir God nie. Daardie honger oorweldig my somtyds. Elke uur wat ek wakker is, reik my hart uit na Hom. Omdat Sy gedagtes altyd in my gedagtes is, het die dinge van die wêreld hulle waarde verloor. Ek sien materiële dinge soos Paulus – niks anders as die drek van die wêreld nie. Ek word ‘n niemand – en dit voel so goed.

Ervaar jy ook hierdie oproep tot ‘n dieper wandel met God? Is jou siel honger vir meer van die Gees in jou lewe? Indien wel, beëindig die burgeroorlog binne-in jou deur alles wat jy het aan die Meester oor te gee. Die smart gaan weg die oomblik wat jy alles aan Hom onderwerp. Jy kan ware vrede en geluk ken die oomblik as jy ophou om te probeer om iemand te wees. Soek niks anders as Jesus nie en jou lewe sal nuwe betekenis kry.

Moenie nog ‘n uur mors nie

My grootste droefheid is dat dit my so lank gevat het om uit God se pad uit te kom. Ek het jare vermors deur dinge bloot uit deernis te doen. Ek was geestelik blind, sonder om te weet dat God duidelik elke tree rig wat ek gee. Ek het ‘n internasionale kansel gehad – gepreek vir duisende – met stampvol altare. Dank God, Hy het my gewys daar was meer. Die getalle en die skares het niks beteken nie. Ek wou sien dat mense die Here beter leer ken. Ek wou niks meer te doen hê met oppervlakkige besluite nie. God moes my manier van dink heeltemal verander, en nou, soos Gideon, weet ek dat groot nie altyd die beste is nie.

Moenie dat dit met jou gebeur nie. Neem voorraadopname van jou lewe en waardes. Sonder jouself alleen met God af in die binnekamer. Bid ywerig vir geestelike honger. Vra God om vir jou ‘n gees van droefheid te gee oor so baie tyd verkwis is. Bid vir ‘n groter begeerte na Sy Woord. Bid vir ‘n gebroke hart. Bid vir ‘n skoonmaak en ‘n reinigende werk in jou lewe. Maak dan gereed om in die vuur van beproewing gewerp te word.

“...Hy sal die seuns van Levi reinig...” (Maleági 3:3).

Ek kan jou vertel dit is die moeite werd! Die reiniging sal nie vreugdevol lyk nie, maar eerder smartlik. Maar jy sal binnekort die Here prys vir die resultate in jou lewe. Al die angstigheid sal weg wees. Al die wêreldse ambisie sal sterf. Jou geestelike oë sal geopen word vir waarheid. Die Gees sal jou ‘n openbaringskennis gee. Jy sal die rykdom van hierdie wêreld vir die ware rykdom in Christus Jesus verruil. Jy sal elke oggend wakker word met ‘n oorvloedige blydskap. Jou siel sal uitroep – “Ek het gekry waarna my siel gesmag het. Rus – heerlike rus in my Here.”

Jy kan saam met Dawid, die Psalmis sê – “Versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig...” (Psalm 16:11).

Skriftelike bewyse

*“...Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word... So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee....” (Romeine 14:10-12).

*“En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid...” (1 Petrus 4:7).

*“Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord...” (Romeine 13:12)

*“Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen...” (1 Korinthiërs 3:11-15).