Hou Op Om Jouself Te Veroordeel

David Wilkerson

Ek voel so skaam as ek terugdink aan my vroeë bediening – omdat ek so baie opregte mense veroordeel het. Ek het goed bedoel en dikwels was my ywer eerlik en goed bedoel. Maar hoeveel mense het ek onder verskriklike veroordeling gebring omdat hulle nie voldoen het aan mý idee van heiligheid nie!

Jare gelede het ek teen grimering vir dames en teen kort rokkies gepreek. Ek het alles veroordeel wat nie op my “wettige” lys was nie. Ek het in die verlede ‘n paar baie kragtige preke gepreek en homoseksuele, geskeides, drinkers en kompromie-makers veroordeel. Ek is steeds ernstig verbind aan die idee dat bedienaars moet uitroep teen die inbreuk wat sonde en kompromie maak in die lewens van Christene. Ek hou steeds nie van Christen vroue wat hulleself grimeer soos straatvroue nie. Ek hou steeds nie van mini-rokkies nie. Ek glo, meer as ooit, dat God egskeiding haat. Ek is steeds verbind aan die idee dat God sonde of kompromie nie sal oorsien nie.

Maar deesdae – dring God my om op te hou om mense wat misluk te veroordeel, en in plaas daarvan, aan hulle ‘n boodskap van liefde en versoening te verkondig. Waarom? Omdat die kerk vandag vol Christene is wat belas is met berge skuld en veroordeling. Hulle het nie nóg ‘n preek oor oordeel en vrees nodig nie – hulle is reeds met genoeg vrees en angs gevul. Hulle het nie nodig om te hoor dat ‘n prediker vir hulle sê hoe kwaad God vir hulle is nie. Hulle is reeds te bang vir God se toorn. Hulle moet die boodskap hoor wat Johannes verkondig het –

“Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Johannes 3:17).

Jesus het vir ‘n owerspelige vrou gesê, “Ek veroordeel jou ook nie – Gaan en sondig nie meer nie.” Nou waarom kan ek, en al my medebedienaars nie dieselfde liefdevolle boodskap verkondig aan die menigte duisende wat vandag in vrees vir owerspel leef nie? Waarom veroordeel ons steeds geskeide Christene wat weer trou – as hulle werklik berou gehad het en vasbeslote is om nie meer op daardie manier te sondig nie?

Onlangs het ‘n tienjarige seun my voorgekeer ná ‘n veldtog en my gesmeek om na sy storie te luister. Hy was histeries. “My Ma en Pa het twee jaar gelede geskei. Ma is ‘n goeie Christen en sy het met ‘n goeie Christen man getrou. Ek bly nou by Ma en my stiefpa, en ek het hulle baie lief. Maar my ma is altyd hartseer en sy huil baie – want ‘n bedienaar het vir haar gesê sy leef in sonde. Gaan my ma hel toe omdat sy geskei en met ‘n ander geskeide man getrou het? Ek is verward want hulle is albei sulke goeie Christene.”

Ek het vir daardie seun gesê wat ek vir die hele wêreld wil sê. “As sy geskei het as gevolg van haar eie owerspel en weer getrou het – leef sy in owerspel. God haat owerspel. Maar, as sy berou het, vergewe God haar en sy begin weer oor soos ‘n weergebore Christen. Sy leef nie in sonde wanneer dit onder die bloed van Christus en vergewe is nie. Sy kan ‘n nuwe lewe begin sonder skuld of veroordeling. As Jesus moord, bedrog leuens, diefstal ens. vergewe – vergewe Hy ook owerspel.”

Dit verwonder my dat ons as bedienaars so gewillig is om na Afrika te gaan om vergifnis aan die “heidene” te verkondig, maar so onwillig is om vergifnis en versoening te verkondig aan Christene by die huis. Een bedienaar het teenoor my gekla oor al die geskeide, gebroke, beswaarde mense in sy nuwe gemeente. Ek het gedink, “My broer, jy behoort dankbaar te wees dat God jou in so ‘n vrugbare veld geplaas het. Hulle is die mense wat jou hulp die nodigste het. Hulle het ‘n man van God nodig om hulle te wys hoe om weer van nuuts af te begin.

Ek is ‘n gelukkig getroud en God help my dat ek en Gwen altyd saam sal wees tot die dood ons skei. En ek verag egskeiding met ‘n passie. Maar dit pla my dat die kerk gewillig is om almal wat ‘n fout gemaak het “af te skryf.” Die kerk bied troos en vertroosting aan almal wat “die onskuldige slagoffers” is. Die vrou wie verneuk is. Die man wie se vrou weggeloop het. Al die kinders wat met die egskeidings seergekry het.

Maar wat van al die “oortreders” – die sondaars, diegene wat een of ander onskuldige geliefde seergemaak het. As een uit elke drie huwelike nou eindig in egskeiding, beteken dit dat miljoene mans en vroue “Die skuldige party” is. Ek is nie gewillig om moed te verloor met die skuldiges nie. Die dief wat Christus vergewe het by Golgota was nie ‘n onskuldige slagoffer nie. Nee! Hy was ‘n oortreder – hy was ‘n krimineel. Maar in sy sonde het hy hom met geloof tot Christus gewend. Hy was vergewe en saam met Christus hemel toe geneem.

Wat van homoseksuele en lesbiërs – en alkoholiste? Sal om hulle te veroordeel enigsins iets goeds uitrig? Nee! ‘n Duisend keer nee! Christus het nie gekom om hierdie sondaars te veroordeel nie, maar om hulle met liefde te red. God haat homoseksuele dade, maar Hy verag nie mense wat nie die manlike of vroulike rolle naleef nie.

Verlede week, het ‘n lieflike 19-jarige verpleegster my voorgekeer ná ‘n veldtog. Tranerig, het sy ‘n jammerlike belydenis uitgesnik – “Mr. Wilkerson, ek is ‘n lesbiër. Ek voel so vuil en onrein. Die kerk wat ek gewoonlik bywoon het my gevra om nooit weer terug te kom nie. Die bedienaar het gesê hy kan nie ‘n kans waag met my wat dalk ander in sy gemeente sal verlei nie. Ek voel asof selfmoord die enigste uitweg is. Ek leef in volkome vrees en veroordeling. Moet ek myself doodmaak om vrede te vind?”

Sy het aangehou om van my af weg te deins asof sy te onrein was om in my teenwoordigheid te wees. Ek het haar gevra of sy steeds Jesus liefhet. “O, ja,” het sy geantwoord. “Elke oomblik wat ek wakker is, roep my hart uit tot Hom. Ek het Christus lief met alles wat in my is – maar ek is verslaaf aan hierdie verskriklike gewoonte.”

Hoe pragtig was dit om haar gesig te sien ophelder toe ek vir haar sê hoe lief God haar het – selfs in haar stryd. Ek het vir haar gesê, “Moet nooit jouself oorgee aan jou sonde nie. God trek ‘n lyn net daar waar jy is. Enige momentum na Hom toe, word as geregtigheid gereken. Enige skuif terug oor daardie lyn, weg van Hom af, is sonde. As ons tot Hom nader, nader Hy na ons. Behou jou geestelike momentum! Hou aan om Jesus lief te hê – selfs al het jy nie volkome oorwinning nie. Aanvaar Sy daaglike vergifnis. Leef een dag op ‘n slag! Wees oortuig dat Jesus sondaars liefhet – so Hy moet jou ook liefhê!”

Sy het geglimlag van verligting en gesê, “Mnr. Wilkerson, jy is die eerste bedienaar wat my ooit ‘n bietjie hoop gegee het. Diep in my hart weet ek dat Hy my steeds liefhet – en ek weet Hy sal my ‘n verlossing van hierdie verslawing gee. Maar ek word so veroordeel deur almal. Dankie vir u boodskap van hoop en liefde.”

Leser van hierdie boodskap – lewe jy nou onder veroordeling? Het jy teen die Here gesondig – het jy die Heilige Gees in jou lewe bedroef? Voer jy ‘n verlore stryd teen ‘n oorweldigende versoeking?

Al wat jy moet doen, is om God se Woord te ondersoek en jy sal ‘n God van genade, liefde en eindelose deernis ontdek. Dawid het gesê:

“As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word” (Psalm 130:3-4).

‘n Ontstelde vrou wat na my kantoor gekom het, het gesnik, “Mnr. Wilkerson, eens het God my van alkoholisme genees. Maar onlangs het ek moedeloos geword en teruggegaan na drank. Nou kan ek nie stop nie. Ek het die Here so sleg teleurgestel dat opgee al is wat ek nou kan doen. Na alles wat Hy vir my gedoen het, is dit erg om te dink hoe ek Hom teleurgestel het. Dit help nie – ek sal dit nooit maak nie.”

Ek is oortuig dat daar meer geestelike mislukkings is as wat baie van ons besef. En daar is ‘n demoniese strategie om mure rondom sulke mislukkings te bou om die wat verslaan is ver weg van God te hou. Maar ons hoef nie die duiwel toe te laat om ons tydelike nederlae in ‘n permanente muur te verander nie.

Ek glo daar is letterlik miljoene mense soos die jong matroos wat gekom het om my te spreek. Met trane in sy oë, het hy gesê, “My pa is ‘n bedienaar, maar ek het hom so verskriklik teleurgestel. Ek is so swak dat ek bang is ek sal nooit die Here kan dien soos ek behoort te doen nie. Ek word so maklik deur sonde verlei.”

Belydenisse soos hierdie is tragies, maar ek het groot bemoediging met die wete dat sommige van die grootste manne en vroue van die Bybel tye van mislukking en nederlaag beleef het.

Sou jy Moses as ‘n mislukking beskou? Nooit! Hy was vir Israel wat Washington en Lincoln tesame was vir Amerika – en baie meer. Maar kyk noukeurig na die groot wetgewer se lewe. Sy loopbaan het begin met ‘n moord, gevolg deur ‘n veertig jaar van wegkruip vir die gereg.

Moses was ‘n man van vrees en ongeloof. Toe God hom geroep het om die Israeliete uit slawerny te lei, het hy gepleit, “Ag, Here, ek is nie ’n man van woorde nie ... ek is swaar van mond en swaar van tong ... stuur tog deur wie U wil stuur” (Exodus 4:10,13). Dit het God kwaad gemaak (4:14). Sy hele lewe lank, het Moses daarna verlang om die Beloofde Land binne te gaan, maar sy mislukkings het hom buite gehou. En tog, het God Moses se getrouheid vergelyk met Christus s’n in Hebreërs 3:1,2. Sy mislukkings het Moses nie uit God se Heldesaal gehou nie.

Ons dink gewoonlik aan Jakob as die groot gebedskryger wat met die engel van die Here geworstel en oorwin het. Jakob was ‘n visioen gegee van die hemel met engele wat op en af geklim het. Tog was hierdie man se lewe gevul met skreiende mislukkings en die Skrif steek nie een van hulle weg nie.

As ‘n jeugdige, het Jakob sy blinde vader mislei om sy broer se erfenis te steel. Getroud, het hy sy vrou, Lea, verag terwyl hy ‘n groot geheime liefde vir haar suster Ragel gekoester het. Hy het nie sy verantwoordelikheid as ‘n man aanvaar nie. Na die geboorte van elke manlike kind, het Lea aanhou sê, “Nou eindelik sal my man aan my geheg wees” (Génesis 29:34). Maar in werklikheid – het Jakob haar gehaat.

Hier was ‘n man vasgevang in ‘n web van bedrog, knoeiery, diefstal, ontrouheid en poligamie. Nietemin, ons aanbid steeds die God van Abraham, van Isak en van Jakob.

Koning Dawid, sanger van psalms en magtige kryger, het homself verlustig in die wet van die Here en het die houding ingeneem van ‘n regverdige man wat nie tussen sondaars wou staan nie. Hoe skokkend is die swakhede van hierdie vername man egter. Nadat hy Batséba van haar man Uría gesteel het, het hy daardie niksvermoedende man na sy dood gestuur in die voorste linies van sy leërmag. Die profeet Natan het gesê hierdie dubbele sonde het groot geleentheid gegee vir die vyande van die Here om te laster.

Verbeel jou die vername koning staan by die kis van sy dooie, ongehude kind, ‘n gesteelde vrou aan sy kant en ‘n wêreld vol vyande wat God vloek weens sy berugte sondes. Dawid het as ‘n volslae mislukking daar gestaan. Tog het God Dawid ‘n man na sy eie hart genoem (1 Samuel 13:14). Hy het die moordenaar Moses en die bedrieër Jakob ook geseën, omdat hierdie manne geleer het hoe om voordeel te trek uit hulle mislukkings en oor te gaan na oorwinning.

As jy moedeloos is oor jou mislukkings, het ek goeie nuus vir jou. Niemand is nader aan die Koninkryk van God nie as die man of vrou of jongmens wat nederlaag in die oë kan kyk, leer om dit te aanvaar en aanbeweeg na ‘n lewe van vrede en oorwinning. Hier is die program om dit te doen.

1.Moenie bang wees vir mislukking nie. Vrees lyk soos ‘n outomatiese reaksie. Toe Adam gesondig het, het hy probeer om vir God weg te kruip. Toe Petrus Christus verloën het, was hy bang om Hom in die oë te kyk. Toe Jona geweier het om vir Nineve te preek, het sy vrees hom na die oseaan gedryf om van die teenwoordigheid van God af weg te vlug.

Maar God het vir my ‘n waarheid gewys wat my baie keer gehelp het: Iets baie erger as mislukking is die vrees wat daarmee gepaard gaan. Adam, Jona en Petrus het van God af weggehardloop, nie omdat hulle hul liefde vir Hom verloor het nie, maar omdat hulle bang was Hy was te kwaad vir hulle om te verstaan. Satan gebruik sulke vrees om mense te laat dink dit is nie die moeite werd om te probeer nie.

Daardie ou “aanklaer van die broeders” wag vir jou soos ‘n aasvoël om op een of ander manier te misluk. Dan gebruik hy elke leuen in die hel om jou te laat moed verloor, om jou te oortuig dat God te heilig is of jy te sondig is om te kan terugkom. Of hy maak jou bang dat jy nie perfek genoeg is nie, of sê vir jou dat jy nooit bo jou mislukking sal uitstyg nie.

Dit het veertig jaar geneem om die vrees uit Moses uit te kry en hom bruikbaar te maak in God se program. In die tussentyd, moes God se verlossingsplan vir amper ‘n halwe eeu vertraag word terwyl een man geleer het hoe om sy mislukking in die oë te kyk. As Moses of Jakob of Dawid homself oorgegee het aan mislukking, sou ons dalk nooit weer gehoor het van hierdie manne nie. Tog het Moses weer opgestaan om een van God se grootste helde te word. Jakob het sy sonde in die oë gekyk, was herenig met die broer wat hy verneuk het en het nuwe hoogtes van oorwinning bereik. Dawid het in die huis van God ingehardloop, aan die horings van die altaar vasgegryp en teruggekeer na sy beste uur. Jona het teruggeloop op sy voetstappe, gedoen wat hy aanvanklik geweier het om te doen en ‘n hele stad-staat tot bekering en verlossing gelei. Petrus het bo die as van verloëning uitgestyg om ‘n kerk na Pinkster te lei.

2.Ten spyte van mislukking, hou aan vorentoe gaan. Dit is altyd na ‘n mislukking wat ‘n mens sy grootste werk vir God doen.

Twintig jaar gelede het ek in my karretjie gesit en huil – ‘n verskriklike mislukking, het ek gedink. Ek was sonder formaliteit uit ‘n hofsaal gegooi nadat ek gedink het ek was deur God gelei om teenoor sewe tienermoordenaars te getuig. Ek het my foto in die poniekoerante gesien met die opskrif, “BYBELSWAAIENDE PREDIKER ONDERBREEK MOORDSAAK.” My poging om God te gehoorsaam en daardie jong misdadigers te help, het gelyk of dit in ‘n verskriklike mislukking geëindig het.

Ek sidder om te dink aan hoeveel seën ek sou misgeloop het as ek opgegee het in daardie donker uur. Hoe bly is ek vandag dat God my geleer het om my mislukkings in die oë te kyk en voort te gaan met Sy volgende stap vir my.

Ek weet van twee uitstaande manne van God – beide wat in die sonde verval het wat Dawid met Batséba gepleeg het. Een bedienaar het besluit dat hy nie kon aangaan nie. Vandag drink en vloek hy die Christus oor wie hy eens gepreek het. Die ander man het berou gehad en homself bekeer en oor begin. Hy is nou hoof van ‘n internasionale sendingprogram wat duisende vir Christus bereik. Sy mislukking is agtergelaat. Hy hou aan om vorentoe te beweeg.

In my werk met narkotiese verslaafdes en onverbeterlikes, het ek opgelet dat die meeste van hulle wat terugkeer na hulle ou gewoontes, sterker as al die ander word wanneer hulle hul mislukkings in die oë kyk en terugkeer na die Here. Hulle het ‘n spesiale bewustheid van die krag van Satan, ‘n volkome verwerping van vertroue in die vlees.

3.Ten spyte van mislukking, hou aan om te aanbid. Daar was slegs een pad vir Moses om in oorwinning te bly, omdat hy ‘n ingesteldheid gehad het soos so baie van ons vandag. Hy het voortdurend met die Here gekommunikeer, “van aangesig tot aangesig soos ’n man met sy vriend spreek” (Exodus 33:11). Moses het daardie innige vriendskap met God gehandhaaf. Ek glo die geheim van heiligheid is baie eenvoudig: Bly naby Jesus. Bly in sy aangesig kyk totdat jy word soos die beeld wat jy aanskou.

Een aand het ‘n histeriese vrou my op die straat voorgekeer en ‘n verskriklike belydenis uitgeblaker. Terwyl sy my mou so hard vasgeklou dat ek bang was sy skeur dit, het sy gesê, “Mnr. Wilkerson, ek beleef die donkerste uur van my lewe. Ek weet nie watter kant toe om te gaan nie. My man het my verlaat en dit is alles my skuld. As ek dink aan hoe ek God en my familie teleurgestel het, is dit amper onmoontlik vir my om in die nag te slaap. Wat op aarde gaan ek doen?”

Ek was gelei om vir haar te sê, “Vriendin, hef nou dadelik jou hande op, hier op die straathoek en begin om die Here te aanbid. Sê vir Hom dat jy weet jy is ‘n mislukking, maar dat jy steeds baie lief is vir Hom. Gaan dan huistoe en gaan op jou knieë. Moenie God vir iets vra nie – hef net jou hart en jou hande op en aanbid Hom.”

Ek het daardie dame op die straathoek gelaat met haar hande na die hemel opgehef en trane wat teen haar wange afgeloop het, terwyl sy die Here prys en reeds die oorwinning wat begin het om terug te stroom na haar lewe gesmaak het.

Laat my nou praat oor jou mislukking. Is daar probleme in jou huis? Het een of ander veragte gewoonte jou lewe so stewig vasgegryp dat jy dit skynbaar nie kan breek nie? Word jy in jou gedagtes en gees gefolter? Het God vir jou gesê om iets te doen wat jy nagelaat het om te doen? Is jy buite die wil van God? Spook gedagtes van wat jy eens was by jou? Of visies wat jy kan wees?

Aanbid dan die Here te midde van jou mislukking! Prys Hom! Verhoog Hom!

Dit alles mag klink soos ‘n oorvereenvoudiging, maar die pad rondom mislukking is eenvoudig genoeg vir kinders, dwase en PhD’s om suksesvol te volg. Christus sê,

“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Johannes 6:37).

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matthéüs 11:28).

Moenie bang wees vir mislukking nie. Hou aan ten spyte daarvan. Aanbid God totdat oorwinning kom.

Die moeilikste deel van geloof is die laaste uur. Hou aan en jy sal nog jou beste uur beleef.