Nie Elke Beproewing is ‘n Toets Nie | World Challenge

Nie Elke Beproewing is ‘n Toets Nie

David WilkersonOctober 17, 2005

God het geen behae in die beproewings van sy kinders nie. Die Bybel sê Christus het simpatie met ons in al ons beproewings en word aangeraak deur ons gevoel van swakheid. In Openbaring 2:9 vertel Hy vir die kerk. “Ek ken jou...verdrukking en armoede...” Hy sê in wese, “Ek weet wat julle deurmaak. Julle mag dit dalk nie verstaan nie, maar ek weet alles daarvan af.”

Dit is noodsaaklik dat ons hierdie waarheid verstaan, omdat die Here wel sy mense toets en beproef. Die Skrif sê, “Want U het ons getoets, o God, U het ons het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter” (Psalm 66:10). “Sodat die beproefheid van julle geloof...deur vuur gelouter word” (1 Petrus 1:7). “Die Here toets die regverdige” (Psalm 11:5).

Inderdaad, elkeen wat Jesus volg, sal verdrukkings beleef. Die Psalmis skryf, “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige” (Psalm 34:19). Paulus praat van “uit groot verdrukking en benoudheid van hart...met baie trane” (2 Korinthiërs 2:4). En Hebreërs beskryf heiliges wat “gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel” en “’n groot lydensworsteling deurstaan het” (Hebreërs 11:37, 10:32).

In werklikheid, die Bybel sê baie oor lyding, beproewing en swaarkry in die lewens van gelowiges. Volgens die Psalmis, “Want my siel is sat van teëspoede, en my lewe raak aan die doderyk” (Psalm 88:3). Net so beskryf Dawid dat hy “bange node” (71:20) verduur het.

Ek kan nie ‘n enkele volgelinge van Jesus noem wat nie al hierdie dinge wat die Skrif noem, verduur het nie: beproewings, verdrukkings, swaarky, lyding en benoudhede. Ek weet ek kan saam met Dawid sê, “Ek het groot en pynlike probleme en beproewings verduur.” En ek weet dat baie ander wat hierdie boodskap lees, kan sê, “Dit beskryf my lewe op hierdie oomblik. Ek beleef verskeie angstige beproewings en verdrukkings.”

Om hierdie rede, moet elke Christen weet en aanvaar dat God ‘n doel met al ons lyding het. Geen toets kom in ons lewens in sonder dat Hy dit toelaat nie. En een van God se doelwitte agter ons beproewings is om in ons ‘n onwrikbare geloof te skep. Petrus skryf, “Sodat die beproefheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:7). Petrus noem hierdie ervarings “vuurgloed van vervolging(s)” (1 Petrus 4:12).

Paulus getuig dat hy verdruk was met beproewings, maar steeds sy wedloop voltooi het en die gelooftoets geslaag het. Hy skryf, “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Timótheüs 4:7). Natuurlik weet Paulus dat hy steeds baie werk gehad het om te doen. Daar wat groot beproewings en lyding wat vir hom gewag het. Maar hy was in staat om eerlik te sê:

“Ek mag Christus dalk nog nie so vasgegryp het soos ek wat wil nie en ek is nog nie volmaak nie. Maar wanneer dit by geloof kom en om God deur elke beproewing te vertrou, weet ek in wie ek geglo het en ek is oortuig. Wanneer die vyand inkom soos ‘n saamgeperste stroom, weet ek die Here sal hom op die vlug laat slaan. En ek het dit alles geleer in die vuuroond van verdrukking.”

Ek het ‘n soortgelyke getuienis as Paulus. Deur die genade van God, het die Heilige Gees my in staat gestel om deur ‘n aantal beproewings te kom in die afgelope jare en die moeilikste was seker die dood van ons twaalf jaar oue kleindogter, Tiffany. Die Here het krag en geloof voorsien deur daardie pynlike ervaring sodat ek daardeur kon kom en sê, “Ek weet in wie ek geglo het en ek weet dat Hy ‘n plan het. God sal nie toelaat dat hierdie soort diepe seerkry oor my en my familie kom sonder dat daar ‘n doel agter is nie. O, Here, ek gee dit aan U oor in geloof.”

Dink aan jou eie huidige verdrukking of beproewing. Het jy twyfel, vrees of woede gehad terwyl jy dit verduur het? Het jy God beskuldig dat Hy te veel op jou gelaai het en jou sonder rede in jou beproewing geplaas het? Is jy op die punt om moed te verloor, terwyl jy dink, “Ek was so getrou om te bid, die Bybel te lees en kerk toe te gaan, maar niks werk nie?”

Of, kan jy steeds na die hemel kyk en sê, “Ek weet die Here is goed. En ek gaan Hom deur alles vertrou. Ek sal nie in twyfel leef nie. Hy sal my deurdra, ter wille van sy heerlikheid.” As dit jou beskryf, dan het jou geloof die vuur deurstaan. Maar as dit nie is nie, moet ek jou vra: hoeveel meer beproewings en verdrukkings sal jy verduur voor jy in staat is om te sê, “Ek het die geloof behou”?

In der waarheid, nie al ons beproewings is toetse van geloof nie. Dikwels is die Here agter iets anders aan wanneer ons in die vuuroond van verdrukking is. Inderdaad, hoe nader jy aan Christus wandel, en hoe dieper jou beproewings is, hoe meer werk Hy in jou om iets anders as geloof in jou te bewerkstellig.

Moet tog nie verkeerd verstaan nie: wanneer ons geloof wyfel, sal toetse van geloof kom. Ons sal nooit heeltemal sonder toetse wees nie. Maar God het ‘n ander doel met ons beproewings: Die Vader is besig om ‘n bruid vir sy Seun voor te berei. En Hy wil meer van ons in ons beproewings hê as groter geloof.

Hierdie bruid gaan geweldig beproef word en haar liefde vir die Bruidegom sal deur die vuur kom. Haar vertroue in Hom sal gelouter word deur vure, vloede en verdrukkinge. Tog, hierdie beproewings bestaan nie om haar liefde en toewyding te toets nie. Dit gaan eerder oor ‘n liefde wat reeds ten volle toegewyd is. Laat my verduidelik.

Ek glo baie mense wat hierdie boodskap lees, is ten volle toegewyd aan Christus. Jesus is die groot liefde van jou lewe en jou vertroue in Hom floreer. Sekerlik is daar steeds tye waartydens jy weet dat daardie vertroue getoets word. Maar God wil iets anders van jou hê, iets meer. Sy voorbereiding van die bruid vereis dat hy ‘n bonatuurlike werk in jou doen.

Hierdie bruid — Jesus se uitverkore geliefde — moet verteer word met ‘n liefde om met haar Bruidegom te wees. Sy moet gespeen word van alle ander aantrekkings. Sy moet obsessief wees met ‘n begeerte om altyd in sy liggaamlike teenwoordigheid te wees. Paulus verwys na hierdie verlange as hy skryf van sy eie begeerte “om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon” (2 Korinthiërs 5:8). “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (Filippense 1:21).

Dit was nie ‘n morbiede fiksering met die dood aan Paulus se kant nie. Die apostel het duidelik ‘n vol, bruikbare lewe geleef. Maar, hy het gesê, “Iets in my verlang om by die Here te wees, waar Hy is. Ek verlang om aangesig tot aangesig met Hom te wees.” Om so ‘n aanspraak te maak, moes Paulus heeltemal gespeen wees van hierdie wêreld en sy aanloklikhede.

Tans is God aan die werk om ‘n nuwe wêreld voor te berei — ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde — vir sy mense. En hierdie nuwe skepping sal ‘n Nuwe Jerusalem bevat, insluitend ‘n huis vir Christus se bruid. Jesaja het hierdie nuwe wêreld, wat God skep, gesien en die aanskoue daarvan moes hom oorweldig het. God het deur die profeet gesê, “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees” (Jesaja 65:17–18).

Hier maak God ‘n kragtige verklaring aan die bruid van Christus. Hy sê in wese, “Te midde van jou huidige beproewing, vestig hierdie waarheid in jou gedagtes: die huidige wêreld is nie jou huis nie. Alles wat jy sien gaan tot niet gaan — aarde, maan, son en sterre. Ek skep ‘n nuwe wêreld, waar daar geen vure, vloede, duiwels, beproewings of verdrukkings is nie.”

Verstaan jy die boodskap? Jou beproewing gaan eindig en jou swaarkry sal verbygaan. Daarom, fokus jou oë op Christus en rig jou liefdes daarop om die ewigheid saam met Hom deur te bring in die nuwe wêreld. Volgens Hom, sal die wêreld waarin ons nou swoeg en sweet, met al sy pyn en hartseer, nie onthou word wanneer daardie dag kom nie. Dit sal nie eers ons gedagtes binne-kom nie! (sien Jesaja 65:17).

Geliefde, dit vertel vir my dat die beproewing wat baie mense nou deurgaan, nie ‘n toets is nie — dit is opleiding. Ons word voorberei vir ‘n wêreld waar daar geen pyn meer sal wees nie. En daardie wêreld gaan bevolk wees met splinternuwe liggame. Paulus vertel vir ons dat die liggaam wat in die graf neerdaal, nie die een sal wees wat by die graf uitkom nie. Ons gaan nuwe liggame hê, een met die DNA van Christus self.

Abraham is ‘n voorbeeld van iemand wat gefokus was op die wêreld wat kom. Die Bybel sê van hom, “Deur geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte...Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebreërs 11:9–10).

Abraham het ‘n groot geloofstoets geslaag toe hy in gehoorsaamheid aan God sy seun Isak as offer aangebied het. Maar selfs meer as sy beproefde geloof, was Abraham gespeen van hierdie wêreld — ‘n feit wat bewys was toe hy sy seun opgeoffer het. Hy het geloof gehad dat daar ‘n groter doel was as die een wat hy kon sien. Hy was werklik ‘n man wat in die wêreld was, maar nie deel daarvan was nie, omdat hy sy burgerskap in ‘n ander wêreld gesien het.

Beskou nou wat Hebreërs van Christus sê: “Daarom het Jesus ook...buitekant die poort gely” (Hebreërs 13:12). Jesus het as ‘n buitestander gely — altyd aan die buitekant van die formele godsdiens, buite die aanvaarde samelewing. Tog, was Christus ook “buitekant” in die sin dat Hy geen plek op hierdie aarde gehad het nie, selfs nie ‘n plek om sy kop neer te lê nie. In alles wat Jesus gedoen het, het Hy altyd na die hemel gekyk.

Soos ons Verlosser en ons voorouer Abraham, het ons “hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige” (Hebreërs 13:14). Ons lewe en werk op hierdie aarde, maar ons is vreemdelinge hier; ons ware tuisland is in die Nuwe Jerusalem. Daarom dring Hebreërs daarop aan, “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra” (Hebreërs 13:13). Totdat ons ook “buitekant” die kamp — buitekant hierdie wêreld se wellus en materialisme gaan — sal ons nie wees waar ons Bruidegom is nie.

Ek leef in ‘n mooi huis en ry ‘n mooi kar. Maar ek waak heeltyd daarteen dat sulke materiële dinge nooit my hart oorneem nie. Die werklikheid is, dat jy ‘n magtige geloof kan hê en steeds nie na Christus verlang nie. “En al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie” (1 Korinthiërs 13:2).

Dit is jammer as ek vandag rondom my kyk en sien dat menigtes van gelowige Christene ‘n oorwinnende geloof het, maar geen verlange het om by Jesus te wees nie. In plaas daarvan, is hulle oë gerig op die dinge van hierdie wêreld en hoe om dit te verkry. Ek vind dat sulke mense nie daarvan wil hoor om op die hemel te fokus of om van hierdie wêreld gespeen te word nie. Vir hulle beteken so ‘n boodskap ‘n onderbreking van die “goeie lewe” wat hulle hier geniet.

Dank God, Hy het ‘n wonderlike manier om ons buitekant die poort te stoot. Hy vertel vir ons in wese, “As Ek my Seun aan jou in die huwelik gaan gee, dan kan daar geen ander aangetrokkenheid in jou lewe wees nie. Ek wil seker maak dat jy nie na iets of iemand anders smag as Christus nie. Jou mees opwindende droom, die diepste aantrekkingskrag op jou hart, moet ‘n begeerte wees om by Christus te wees.”

Geliefde, dit verklaar die diepe beproewings van die regverdige heiliges wat in geloof wandel. Dink daaraan: hoe het God die kinders van Israel uit Egipte gekry? Hy moes hulle in die vuuroond van lyding plaas om hulle by die punt te bring waar hulle uitgeroep het, “Genoeg hiervan! Ek wil nie meer hier wees nie.” Toe die tyd vir God gekom het om te sê, “Gaan,” was hulle gereed om hulleself te ontwortel en in sy Beloofde Land in te gaan.

God help ons om losgemaak te word van die materialistiese gees van hierdie tyd en om al ons liefdes oor te dra na die Nuwe Jerusalem.

“Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees” (Jesaja 65:18). Die Hebreeuse woord vir “skep” in hierdie vers beteken “om tot stand te bring.” Sien jy wat Jesaja sê? God skep nie net ‘n nuwe wêreld nie, maar ook ‘n spesiale volk. Hy skep ‘n bruid wat nie net van die wêreld gespeen is nie, maar wat geleer het om haar weg deur beproewing te prys.

Die werklikheid is dat ons huidige lyding uit ‘n skool van aanbidding bestaan. En al die maniere wat ons leer om Jesus te prys, veral in ons beproewings, lei ons op vir daardie heerlike dag. Wat beteken dit vir Christene wat heeltyd ergerlik en bekommerd is? Hoe kan diegene, wat lewe asof God dood is, skielik weet hoe om hulle weg deur ‘n beproewing te prys?

Dit is baie belangrik hoe ons in ons huidige beproewing reageer. Toe Israel in hulle groot uur van lyding was, het hulle hoop verloor. Hulle het besluit hulle kon dit nie langer verdra nie en daarom het hulle eenvoudig in die stof neergesak. Hier was God se volk, met rotsvaste beloftes, en tog het hulle hier met kettings rondom hulle nekke gesit.

Net so het sommige Christene vandag op hierdie tydstip moed verloor. Hulle verlaat nie hulle geloof nie, maar hou op om Jesus met hulle hele harte na te jaag en dink, “Ek kan nie met hierdie intensiteit leef nie. Dit lyk of hoe nader ek aan Christus kom, hoe meer ly ek.” Hulle wonder hoe Paulus ooit kon sê, “Nou verbly ek my in my lyding” (Kolossense 1:23–24).

Hier is presies hoe Paulus so ‘n verklaring kon maak: hy was in die hemel opgeneem en hy het die heerlikheid wat vir ons wag, gesien. Weens dit wat hy gesien het, was Paulus in staat om sy beproewings en verdrukkings in hierdie lewe te aanvaar, terwyl hy geleer het om God deur elke beproewing te prys. Hy was vasbeslote om te leer om blydskap in sy hart te hê, maak nie saak wat sy situasie was nie en hy het lofprysing begin beoefen ter voorbereiding op die wêreld wat kom.

“As ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:17–18). In die lig van die heerlikheid wat op ons wag, wat is hierdie beproewing in vergelyking daarmee?

Net so wil Hy hê ons moet ons oë afhaal van ons huidige lyding en fokus op dit wat kom en dit sal alles verander. Een oomblik in ons nuwe woning, sê Paulus, en ons sal nie onthou wat tevore was nie. Sy punt is om God nou te begin prys en te juig oor al die blydskap wat op ons wag. “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely” (Hebreërs 13:15).

Die mense aan wie Jesaja hierdie visie van ‘n nuwe wêreld gebied het, het pas die woede van ‘n rasende vyand verduur. Nou het hulle gesteier weens vervolging en was gebind deur vrees en moegheid. Hulle het gevoel dat God hulle verlaat het en hulle was bang vir wat die toekoms ingehou het. So, watter woord het God vir hom gestuur? Dit is dieselfde woord wat Hy vandag vir sy mense gee:

“Ontwaak! Jy is nie verwoes, soos wat jy dink nie. Die Here, jou sterkte, is steeds met jou. So, staan op uit die stof van moedeloosheid en gaan sit in die hemelse plek wat Ek aan jou belowe het. Jy het nie jou geregtigheid verloor nie, so trek jou kleed aan. Skud jouself reg, praat met jouself en gee vir jouself ‘n lesing. En vertel die vlees en die duiwel, ‘Ek is meer as ‘n oorwinnaar deur Hom wat my gered het’” (Jesaja 52:1–3, geparafraseer).

Beskou die kragtige voorbeeld van die drie Hebreeuse kinders, wat Koning Nebukadnésar in die vuuroond gegooi het. Hierdie mans was nie weens hulle geloof getoets nie; die werklikheid is, dit was hulle geloof wat hulle daar geplaas het. Die Here was duidelik agter iets anders aan. Dink daaraan: die heidense Babiloniërs was nie beïnvloed deur hierdie mans se gebed of prediking nie. Hulle was nie beïndruk deur hulle wysheid en kennis of deur hulle heilige lewe nie. Nee, die impak op Babel het gekom toe die mense in die vuuroond gekyk het en drie jubelende manne, wat God in hulle moeilikste uur geprys het, gesien het.

Jesus het in daardie vuuroond verskyn en ek glo sy eerste woorde aan die Hebreeuse kinders was, “Broeders, staan nou op, want julle boeie is los. Laat hierdie heidense regering en goddelose mense sien dat julle juig en julle God prys in julle uur van verdrukking.”

Die manne het presies dit gedoen en die Skrif sê Nebukadnésar was “verbaas” daaroor. Hy het vinning opgestaan en uitgeroep, “Wat gaan daar aan? Ons het drie mans in hierdie vuuroond gegooi, maar nou is daar vier en al hulle boeie is weg! Kyk, hulle sing en prys daardie vierde man.”

Dit is die impak wat ons lofprysing bring tydens ons beproewings. So, hoe tree jy op in jou uur van verdrukking? Drink jy van die beker van vrees, voel jy swak, met geen krag om die vyand te weerstaan nie? Dit is tyd om die swaar bande af te gooi en heilige hande op te hef in lof aan jou Redder. Jy is vry, maak nie saak wat jou beproewing is nie, so wees bly en juig in die wete dat die vierde man in die vuuroond saam met jou is. Christus sal homself in jou beproewing openbaar en die vuur sal al die bande wat jou bind afbrand.

Heel moontlik word jy nie getoets nie, maar opgelei!

Download PDF