‘n Feesmaal Nuttig Terwyl Jou Vyand Moet Toekyk

“U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teenstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor” (Psalm 23:5). Van al die wonderlike beloftes wat God aan ons in die 23ste Psalm gee, is hierdie een van die wonderlikste. Hy belowe om vir ons ‘n tafel te dek met heerlike kos daarop en aan ons ‘n feesmaal te bedien. En Hy doen dit alles voor ons vyande!

Ons het almal leiding nodig vir besluite in die lewe. Tog, in ‘n wêreld so chaoties soos ons s’n, beteken die woord tafel in hierdie vers “onthaal.” God praat nie van net ‘n klein bordjie kos nie, maar van ‘n groot, massiewe feesmaal. En dit is geen gewone maaltyd nie. Hy het ry op ry hemelse lekkernye voor ons gedek. Daar is net een gas by hierdie maaltyd: jy.

Om die atmosfeer reg te kry, het God hierdie feesmaal verklaar as ‘n tydperk van blydskap: “Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik” (Prediker 10:19). Terwyl jy die smaaklike kos geniet, salf God jou met blydskap: “U maak my hoof vet met olie” (Psalm 23:7). “Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo U metgeselle” (Psalm 45:8).

In die tussentyd, terwyl God die feesmaal voorberei en aan jou bedien, laat Hy jou vyande van buite af na die toneel sit en kyk na alles wat gebeur. Hulle sien dat die Here self jou tafel dek met kos, jou na jou sitplek begelei en jou bedien. Dan kyk hulle hoe jy jou siel met die hemel se heerlike kos vul.

Jou vyande is geskok. Geen demoniese mag, insluitende die duiwel self, kan ooit hierdie soort liefde, genade en barmhartigheid verstaan nie. Almal was seker dat God jou gaan straf oor jou mislukkings. Hulle was gereed om te spog terwyl jy in wanhoop verval. Nou word hulle beveel om te kyk hoe jy smul aan kosse, wat deur God self bedien word.

Christus vertel ons dat die Vader dit vir al sy kinders doen: “Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien” (Lukas 12:37).

Wie is daardie vyande? In Bybelse terme is daar twee soorte vyande: die demoniese soort en die menslike soort. In die 23ste Psalm, verwys Dawid na die demoniese vyande. Hulle verteenwoordig die duiwel en al sy helse owerhede en magte.

Jesus vertel vir ons, “En die vyand...is die duiwel” (Matthéüs 13:39). Wanneer Dawid in Psalm 18 van sy “magtige vyand” praat, praat hy van demoniese hordes wat hom haat as gevolg van sy diep, toegewyde wandel met die Here: “Hy het my verlos van my magtige vyand en van my haters, omdat hulle te sterk was vir my” (Psalm 18:18).

Baie van ons vyande kom egter nie uit die hel nie. Toe Jesus ons vertel het om “ons vyande lief te hê,” het Hy gepraat van mense in ons lewens wat as werktuie deur Satan gebruik word om ons ongelukkig te maak. Dawid se vleeslike vyande het veroorsaak dat hy uitgeroep het, “Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek” (Psalm 143:9).

Jy mag dalk net ‘n paar menslike vyande hê omdat jy in ‘n klein sirkel beweeg. Jy mag ‘n oorvloed van hulle hê, omdat jou sfeer van invloed veel breër is. In elke geval, as jy jou hart daarop gesit het om Jesus te volg, sal jy ‘n aanstoot vir baie wees, insluitende vleeslike Christene. Jy sal deur die duiwel as ‘n teiken gemerk word. Hy sal jou fisiek en geestelik aanval en moeilikheid vir jou veroorsaak onder jou menslike vyande.

Op ‘n manier, word die Here se bonatuurlike fees selfs meer wonderlik. Beide soorte vyande moet sit en kyk hoe die Here jou bedien! Aan die een kant sit die duiwel en sy hordes en aan die ander kant sit jou aardse vyande — en almal kyk hoe die Here sy olie van blydskap oor jou uitgiet.

Aan die demoniese kant, is die duiwel woedend omdat hy gedink het dat hy jou verseker gehad het. Aan die menslike kant, beklee die Here jou vyande met skaamte. Sy woord sê van die regverdige: “Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal my kroon skitter” (Psalm 132:18). Soos jy begin eet aan die heerlike voedsel voor jou, fluister die Here in jou oor, “Jy hoef nie oor enige van jou vyande bekommerd te wees nie. Hulle is nie in staat om enigiets aan jou te doen nie.” “Want hulle het U met onheil bedreig; hulle listige plan uitgedink sonder om iets uit te rig” (Psalm 21:11).

Jy is in staat om te sing, “En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE” (Psalm 27:6).

Die Puriteine het dikwels die frase “verras deur sonde” gebruik. Daarmee het hulle bedoel die tye waarin jy nie verwag het om te sondig nie, maar wanneer die vyand skielik inkom soos ‘n riviervloed en jou oorweldig. Soms oorwin hy jou; ‘n ou wellus of gewoonte wat jy gedink het jy het oorwin en toe faal jy. Jy is bedroef en treur oor jou sonde, jy is kwaad vir jouself, is verward en wonder, “Hoe kon ek toelaat dat dit weer gebeur?”

Dit is wanneer jou aanklaer, Satan, jou bespring soos ‘n honger leeu. Hy bring elke Bybelse waarskuwing teen sonde aan die lig en fluister, “ Kyk na hoe God sy Gees weggeneem het van almal in Skrif wat gefaal het. Jy het op dieselfde manier gesondig. Jy is vals en skynheilig. God het sy Gees van jou lewe weggeneem.” Satan doen alles in sy vermoë om jou te verblind vir God se verbondsbeloftes. Satan wil jou terugbring onder die wet, waar jou gewete jou sal veroordeel.

Dit is nooit wat die Here vir enige berouvolle hart beplan het nie. Net wanneer jy dink dat jy God se toorn en tugtiging verdien, nooi die Here jou na ‘n feesmaal toe. En terwyl jou vyande gereed staan om te sien hoe jy onder God se oordeel gaan ly, verras God hulle — en vir jou — deur jou by sy tafel te voed. Dit is hoe God sy berouvolle kinders behandel!

Maar, soos Adam, wil ons vir God wegkruip. Ons dink dat Hy vir ons kwaad is en dat Satan ‘n vastrapplek in ons lewens gekry het. In ons verwarring, val ons in die groef van Romeine 7: “Dit wat ek gehaat het, het ek gedoen. En dit wat ek gehoop het om te doen, het ek nie gedoen nie.” Dit is die presiese oomblik waarin God ons roep, “Kom, sit en ervaar my genade. Ek wil hê dat jy die feesmaal by my tafel geniet, terwyl jou vyande moet toekyk.”

Jesus antwoord hierdie vraag in die gelykenis van die verlore seun. Die jongman, wat weggeloop het, was deur sonde oorweldig en het al sy hulpbronne op sy begeerlikhede deurgebring. Hy het in wesenlike slawerny beland en moes die kos van varke eet. Hy het gedink, “Ek het so erg gesondig dat ek nooit soos voorheen deur my pa aanvaar kan word nie. Ek moet sekerlik op een of ander manier daarvoor betaal.”

Die verlore seun se vrese het hom daarvan weerhou om na sy vader toe terug te keer. In werklikheid, was sy vader egter nooit vir hom kwaad nie. Daardie goddelike man het eenvoudig net gehunker na sy seun se terugkeer. Ten slotte, toe die verlore seun in ‘n put van wanhoop was en die volle impak van sy mislukking ervaar het, het hy aan die oorvloed in sy vader se huis gedink. Uit desperaatheid het hy teruggekeer huistoe.”

Wat was die vader se reaksie? Hy het uitgehardloop om sy seun tegemoet te gaan, hy het hom omhels, sy nek gesoen en hom vergewe, sonder om vrae te vra. Die Skrif sê vir ons, “Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees” (Lukas 15:22-23).

Hier, in Jesus se eie woorde, sien ons die hemelse Vader se gesindheid teenoor sy kinders. Onmiddellik na ons mislukking, bedien ons Here aan ons ‘n feesmaal en salf ons met die olie van blydskap. Die presiese oomblik wanneer Hy ons uitroep om vergifnis hoor, dek Hy die tafel voor ons en sê, “Moenie van my af weghardloop nie. En moenie in die duiwel se varkhok bly en na sy leuens oor jou luister nie. Ek het jou lief. Kom en sien wat ek vir jou voorberei het.”

Die eerste seëning wat jy op jou bord sal vind, is onmiddellike en onvoorwaardelike vergifnis. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). So vinnig as wat ons bely, beëindig God hierdie saak van ons sonde. Hy werp ons oortreding heeltemal van sy aangesig af weg.

Verder wil Hy nie meer hoor van ons sonde nie. Hy sê in wese, “Ek is daaroor. Nou moet jy daaroor kom. Verbly jou in my verlossing, genade en barmhartigheid. Wees bly daarin!” “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5). “Want U goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered” (Psalm 86:13).

Wanneer ons die Vader se vergifnis aanvaar, nooi Hy ons uit om elke gereg op sy spyskaart te nuttig: genade, barmhartigheid, vriendelikheid, goedertierenheid, teerheid, deernis, onverdiende liefde, vrede, rus, blydskap en vreugde. Vars fonteine van Heilige Gees vernuwing spoel oor ons siel en trane van blydskap was al ons skuld, vrese en angste weg. Terwyl hierdie ongelooflike seëninge plaasvind, word ons vyande verplig om toe te kyk, totaal verslaan. Ten slotte fluister hulle, “Hy het die geheim leer ken. Hy vertrou op God se beloftes. Kom ons beweeg aan.”

Wat beteken dit om in die teenwoordighed van ons menslike vyande die feesmaal te geniet? Die Here wil ook hê dat ons die feesmaal moet nuttig voor die mense wat werktuie in Satan se hande geword het om ons te teister. Miskien beleef jy ‘n spanningsvolle situasie by die werk. Miskien het jou medewerkers jou verraai en skinder oor jou by jou baas. Jy is bedroef oor die wrede manier waarop hulle jou seergemaak het.

Ek sê vir jou, Jesus roep jou om voor jou vyande die feesmaal te geniet. Hy herinner jou dat jy selfs in die ergste situasie, na God se verbondsbelofte kan gaan, “Geen wapen teen jou gesmee sal iets uitrig nie.” Jou Vader is reeds besig om die tafel vir jou te dek en wil jou vul met sy genade en deernis.

Voel jy oorlaai onder die laste, terwyl jy een dag op ‘n slag lewe, altyd bang is en nooit jou wandel met die Here geniet nie? Sê jy ooit vir jouself, “Ek weet Jesus het my gered en dat ek verander is. Waarom geniet ek dan nie hierdie feesmaal nie? Waar is my vreugde-olie?”

Moenie wankel oor God se beloftes aan jou nie. Neem hulle in besit en wees oortuig dat Hy dit wat Hy belowe het, sal uitvoer. Die Heilige Gees reageer net op geloof. Hy reageer nie op jou rivier van trane of op jou beloftes dat jy beter sal doen nie. Slegs geloof bring ‘n reaksie by God. Geloof bring Hom in aksie om sy heerlikheid na jou lewe te bring.

Aanvaar jou Vader se liefde en vergifnis. Jy het ‘n reg tot die feesmaal en geen duiwel in die hel kan jou daarvan beroof nie. Glo God se Woord aan jou – en laat Hom toe om jou by sy hemelse tafel te laat aansit.