Rivier van Lewe | World Challenge

Rivier van Lewe

David WilkersonJanuary 13, 2003

Aan die profeet Eségiël was ‘n ontsaglike visioen gegee. Die Skrif sê die hand van God het Eségiël opgetel en na ‘n baie hoë berg gedra waar ‘n man aan hom verskyn het “wat in sy voorkoms soos koper gelyk het" (Eségiël 40:2-3). Johannes beskryf ‘n soortgelyke visioen van ‘n man wat aan hom verskyn het op die eiland Patmos: “En sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond" (Openbaring 1:15).

Natuurlik is die man in beide gedeeltes niemand anders as Christus self nie. En Hy het Eségiël by die deur van God se huis ingelei, waar hy die profeet die verstommende visioen gegee het. Dit was ‘n visioen van die toekoms van God se mense wat onthul het wat met die liggaam van Christus sal gebeur wanneer die eindtye tot ‘n einde kom. Eségiël skryf:

“Daarna het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe, want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar.

“Toe die man na die ooste uitgegaan het met ‘n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die enkels. Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan — waters tot aan die heupe.

“Verder het hy nog duisend gemeet — ‘n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die water het opgerys — waters om in te swem, ‘n stroom waar ‘n mens nie deur kan loop nie. En hy het vir my gesê: Het hy dit gesien, mensekind?

“En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan – uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees" (Eségiël 47:1-12).

Beelde van water in die Bybel verteenwoordig byna altyd die Gees van God. En hierdie visioen openbaar duidelik ‘n magtige uitstorting van die Heilige Gees in die laaste dae. Die visioen was so kragtig, so oorweldigend in omvang, dat Eségiël dit nie kon verstaan nie. Hy kon nie eers kommentaar lewer oor die betekenis nie; al wat hy kon doen, was om dit te rapporteer. In werklikheid, voor die visioen klaar was, het die Here gestop en vir Eségiël gevra, “Het jy dit gesien?" (Eségiël 47:6).

God het in wese vir Eségiël gevra, “Verstaan jy die omvang van dit wat jy sien? Is jy in staat om die profetiese krag agter die visioen te sien? Sien jy waarvan hierdie stygende waters praat, dat hulle wys hoe die dinge sal eindig? Sê vir my Eségiël, sien jy in hierdie visioen die heerlikheid van die Here se koms? Ek weet hierdie openbaring is vir jou ontsagwekkend en ondenkbaar. Maar Ek wil nie hê dat die ware betekenis by jou verbygaan nie.”

Terwyl ek hierdie gedeelte weer lees, stop die Heilige Gees my by dieselfde vers waar Hy Eségiël gestop het. En Hy vra vir my dieselfde vraag wat Hy aan die Ou Tesament profete gevra het, “David, verstaan jy dat dit ‘n wonderlike profesie is en dat dit direk van die Vader se troon kom? Verstaan jy hoe dit die kerk in hierdie laaste dae beskryf? Begryp jy die betekenis van die stygende rivier?”

Die visie moes Eségiël verbaas het. Hoewel die Skrif dit nie spesifiek noem nie, is ek oortuig dat die profeet nie verstaan het wat hy gesien het nie. Al die Ou Testamentiese profete het ‘n beperkte visie van Christus gehad. Jesus self vertel vir ons, “Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie...Luister julle dan" (Matthéüs 13:17,18).

Let op daardie laaste drie woorde: “Luister julle dan.” Christus sê vir ons, “Moenie hierdie by julle laat verbygaan nie. Maak seker julle sien wat aan julle geopenbaar word.”

Presies wat is dit wat die Here in hierdie profetiese visioen openbaar?

Die volgende is aan Eségiël gewys: In die heel laaste dae, sal die kerk van Jesus Christus heerliker en meer oorwinnend wees as in sy hele geskiedenis. Die Here se ware liggaam sal nie verswak en stotter nie. Dit gaan nie afneem in getalle of in geestelike gesag nie. Nee, sy kerk sal uitgaan in ‘n gloed van krag en heerlikheid. En dit sal die volste openbaring van Jesus, wat enigiemand nog ooit geken het, geniet.

Eségiël het geskryf, “na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, ‘n menigte" (Eségiël 47:10). Verstaan jy wat hier gesê word? Daar kom ‘n liggaam van gelowiges wat in die stygende waters van die Here se teenwoordigheid sal swem. En sy teenwoordigheid tussen sy mense sal toeneem tot op die heel einde.

Dit is jammer dat ek ‘n verskriklike neiging onder kerke en Christene opmerk in hierdie tye. Hierdie groepe beperk hulle visie van God tot hulle eie groep, of selfs tot hulle eie geografiese gebied. Dikwels is hulle gesindheid:

“Ons is die nuwe beweging van God. Wat Hy in hierdie laaste dae doen, gaan net hier, in ons midde begin. En dit gaan by sy liggaam uitvloei. So, jy moet by ons kom aansluit, want ons het die visie. Ons is die middelpunt van die nuwe ding wat God op die aarde gaan doen in hierdie tyd. En Hy kring uit van ons af uit.”

Hierdie gesindheid is nie net selfdienend en misleidend nie, maar beperk God. Dit verhinder inderdaad sy werk op dieselfde manier waarop baie hoofstroom denominasies dit vir eeue gedoen het. Hierdie groepe het die indruk dat net húlle die beweging van God op aarde verteenwoordig. En nou herhaal die geskiedenis homself tragies.

Ek sien nou in werklikheid ‘n ou valse leerstelling wat vandag weer opgewek word. Eenvoudig gestel, sê dit, “God het net een kerk in ‘n sekere stad of area. En daar kan net een geestelike gesag in daardie gebied wees.” Diegene wat hierdie verskriklike leerstelling bevorder, stel apostels of leiers aan om oor hierdie gebiede te “heers.” Ek ken sulke self-aangestelde apostels en profete in New York Stad. Hulle glo hulle alleen het gesag oor die geestelike realm daar.

Daar is egter nog ‘n manier waarop die kerk deesdae geneig is om homself te beperk. Dit is geneig om terug te kyk na die eerste-eeuse kerk en die oorspronklike apostels, asof daardie gelowiges ‘n beter openbaring gehad het van hoe Christus se liggaam moet wees. Sulke groepe stort hulle studies, energie en toewyding daarin om die metodes van die vroeë kerk te probeer namaak of te herwin.

Maar die Here wil nie noodwendig hê dat ons na die weë van die vroeë kerk terugkeer nie. Hy het in der waarheid iets baie beter vir sy mense beplan in hierdie laaste dae. Waarom sou ons teruggaan na ‘n stroompie water wat in die vroeë kerk gevloei het as Hy vir ons vandag “waters om in te swem” gegee het?

Dit is presies wat God vir ons gewys het in Eségiël se visioen van die stygende waters:

“Toe...het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan – waters tot aan die enkels. Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan — waters tot aan die heupe" (Eségiël 47:3-4).

Eségiël praat hier van ‘n toename in die Heilige Gees. In die laaste dae, sou daar ‘n toename in God se teenwoordigheid onder sy mense wees.

Die fontein en fondament van hierdie rivier is die Kruis. Ons sien ‘n letterlike beeld hiervan in die volgende vers: “Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom" (Johannes 19:34).

Hierdie klein hoeveelheid water is die hoeveelheid wat Eségiël gesien het toe die visioen vir hom oopgegaan het. Terwyl hy na God se huis gestaar het, het hy gesien daar het ‘n klein stroompie “uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe...en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar" (Eségiël 47:1-2).

Hierdie stygende vloei van water is die beeld van Pinkster toe die Heilige Gees aan die dissipels gegee is. Saam met die gawe van die Gees, was Christus se volgelinge ‘n belofte gegee dat Hy ‘n rivier van lewe wat in hulle opspring sal wees. En daardie rivier sou uitvloei tot in die hele wêreld.

“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo" (Johannes 7:38-39).

Laat my toe om jou vra: begryp jy dit nou al? As hierdie rivier van lewende water die Heilige Gees is, dan was Pinkster, met al sy heerlikheid en manifestering van God se teenwoordigheid, net dit begin van die stroom. Die stroom water van God se huis sou groter en groter word. Dit sou uitbrei in wydte, diepte, volume, krag en herstellende heerlikheid. Die geskiedenis van die kerk bewys dit.

By Pinkster — die begin van die laaste dae — het Petrus aangekondig dat hierdie water gevloei het net soos die Here beloof het. Op daardie stadium, het Petrus en die ander 120 dissipels hierdie water net tot by hulle enkels gehad. Maar in die opeenvolgende jare, het dit van daardie hoeveelheid af groter geword.

Vir die eerste paar eeue van die kerk se bestaan, was God se mense vervolg. Toe keiser Konstantyn tot bewind gekom het, het hy die tronke en soutmyne oopgemaak en al die bedienaars en gelowiges wat onder slawerny was, vrygelaat. Hy het ook Christendom as die offisiële godsdiens van die koninkryk verklaar.

Dit is egter ‘n feit dat die kerk in daardie jare van vervolging die meeste gegroei het. Dit is toe dat die water in vloei begin toeneem het. Daardie heiliges het groter gegroei in kennis en openbaring van Christus. Hulle het die water tot op hulle knieë geniet.

Martin Luther was nog ‘n werktuig waardeur die liggaam van Christus tot ‘n nuwe vloei van geloof gebring is. Die water wat tydens die Reformasie gevloei het, het gestyg tot by die heupe van God se mense, toe hulle in ‘n groter openbaring van die Kruis gegroei het en ‘n dieper kennis van Christus se krag en heerlikheid ontvang het.

Ek verheug my as ek aan daardie dae dink. Hoe wonderlik moes dit gewees het om uiteindelik te sien hoe massas mense gedoop word en tot ‘n openbaring van saligheid gekom het deur geloof. Dit moes ‘n wonderlike gesig gewees het om te sien hoe menigtes van gelowiges, gevul met ‘n ywer vir God se huis, in katedrale inhardloop en die afgode en gesnede beelde waartoe hulle eens gebid het, afbreek. Nou het hulle die blydskap en lewe van God se vloei self geken.

Dit word voorspel in die visioen wat aan Eségiël gegee is. God het die profeet op ‘n verstommende reis geneem. Met ‘n meetsnoer het die Here 1,000 el, ongeveer ‘n derde van ‘n myl gemeet. Op daardie afstand, het die Here en Eségiël in die water begin loop. Die vloei hier was enkeldiep.

Eségiël getuig, “Hy het my deur die waters laat deurgaan" (Eségiël 47:3). En die Here het die profeet aangemoedig om vorentoe, dieper en verder in die water te gaan. Na nog 1,000 el, het die water tot op by hulle knieë gekom. En dit het steeds gestyg.

Sien jy wat hier gebeur het? Eségiël het in die toekoms ingeloop tot by ons tyd. Christene van vandag leef in die laaste 1,000 el van die rivier in hierdie visioen. Ons is in die laaste maat van water. En Eségiël sê dat toe hy aan die kant van hierdie maat ingestap het, was die water vir hom te diep, te oorweldigend. “’n Stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys — waters om in te swem" (Eségiël 47:5). Hy vertel in wese vir ons, “Die water was oor my kop.”

Ek kan net hierdie man se verwondering indink toe die Here vir hom vra, “Eségiël, wat is hierdie see wat gestyg het? As hierdie rivier lewe en opstandingskrag behels, wie is diegene wat so geseënd sal wees om in sulke heerlikheid te swem?”

Miskien beleef jy die teenwoordigheid van Jesus oorvloediglik. Jy mag opgewonde wees oor jou huidige openbaring van Hom. Ek sê egter vir jou dat jy nog niks beleef het wat kan vergelyk met die toename wat op pad is na die regverdiges nie. Christus gaan ons oë oopmaak en wonderbaarlik in ons midde verskyn. Hy sal Homself aan ons openbaar en soveel van sy lewe op ons uitstort as wat ons moontlik kan hou, sonder om reeds in verheerlikte liggame te wees.

Die profeet Jesaja het ‘n kykie gehad op dieselfde rivier wat in Eségiël se visioen verskyn het. Jesaja het egter selfs meer gesien. Volgens die profeet, sal God se mense in die laaste dae groot beskerming geniet teen alle sataniese aanvalle:

“Geen vloot van roeiskepe sal daarop vaar nie, en geen trotse skip sal daaroor gaan nie" (Jesaja 33:21). Jesaja praat hier van slawe-gedrewe oorlogskepe. Hy gee ons ‘n beeld van die vyand, die duiwel, soos hy ‘n aanval probeer loots op almal wat in die groot water swem. En dit is ‘n prentjie van totale verwarring.

Satan beveel sy bemanning, “Slaan die luike toe. Span die seile. Versterk die mas.” Maar niks werk nie. Hy en sy demoniese matrose kan nie eers die seile span om hulle oorlogskip te laat beweeg nie. In die tussentyd, sit al die slawe-roeiers in uiterste verwarring.

God maak dit vir ons kristal helder in hierdie gedeeltes: sy lewende waters is verbode vir Satan. Soos die Psalmis getuig, “Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk...Laat...die Engel van die HERE hulle wegstoot...terwyl die Engel van die HERE hulle vervolg" (Psalm 35:5-7).

“En alles sal lewe waar die stroom kom" (Eségiël 47:9).

Toe Eségiël na die rivierwal teruggekeer het, het hy verstom gestaan. Terwyl hy teruggekyk het, het hy “allerhande bome” aan beide kante van die rivier gesien. Hierdie bome is lewe gegee deur die vloeiende waters. Hulle het blare gedra wat nooit verdor het nie en hulle vrugte het wonderlike genesing gebring. Lewe het oral opgespring in hierdie hoë, vrugtedraende bome.

Ja, hierdie rivier van God bring oral lewe waar dit gaan. In hierdie laaste dae, gaan ons egter ook ‘n ooreenstemmende vloed van dood sien:

  • VIGS het ‘n oseaan van verwoesting in ons tyd geword, ‘n hedendaagse Dooie See. Menigtes sterf aan hierdie siekte.
  • Die liefde van baie sal ook sterf. Volgens Jesus sal, “die liefde van die meeste verkoel" (Matthéüs 24:12).
  • Paulus voeg by dat spotters sal kom en die boodskap van Jesus se spoedige terugkeer sal bespot. Hulle sal ander heiliges se hoopvolle verwagting op sy verskyning doodmaak. Hulle spottery sal veroorsaak dat morele waardes sterf en sonde gedy.
  • Valse profete sal leerstellings van dood versprei. “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word" (2 Timótheüs 3:13). Selfs nou het geestelike dood regdeur die afvallige kerk versprei.

Tog, te midde van al die dood en verwoesting wat ons sien gebeur, hoor ek die Here se profesie hardop in my siel: “My rivier gaan styg. En alles sal lewe waar my rivier vloei.”

Tot ‘n paar jaar gelede, het dit gelyk of die kerk in Sjina moontlik sou sterf. Hulle vyand het gelowiges ondergronds gedryf en vir jare het daar geen woord uit daardie land gekom, dat God aan die werk is nie. Westerse Christene het geen idee gehad of die kerk in Sjina ooit oorleef het nie.

Maar dank God, die rivier kon nie gekeer word nie. Dit het die hele tyd gestyg terwyl ons westerlinge gewonder het oor die lot van ons Sjinese broers en susters. Vandag weet ons dat miljoene van gelowiges daar in God se rivier van lewe swem. Soos die Here verklaar het, “Alles sal lewe waar my rivier vloei.”

Daardie rivier vloei hoog teen die vloedmerke regdeur Oos Europa. Wie sou net vyftien jaar gelede homself kon indink dat dit ooit vrylik sou kon vloei deur Romenië, Pole, Hongarye, Oos Duitsland, Tsjeggië, Slowakye en selfs deur die vesting van Rusland. Lewe in Christus spring op in al hierdie nasies en in alle ander regoor die wêreld.

Na die terroriste aanvalle van 11 September 2001, het baie New Yorkers dit oorweeg om uit die stad weg te trek. Maar die Heilige Gees het ‘n diep put van vloeiende water daar gegrawe en die rivier styg hoër en hoër. Jesus openbaar sy heiligheid van een kant van hierdie massiewe stad na die ander.

Die teater distrik kan nie God se rivier uit sy gebied hou nie. Wall Street kan nie sy stygende gety terughou nie. Radikale homoseksuele kan dit nie buite Greenwich Village hou nie. Pro-aborsie aktiviste kan nie keer dat dit in ontstelde, verwagtende vroue se harte te vloei nie. City Hall kan nie die styging keer nie. Rabbi’s en mullahs kan nie die rivier uit hulle sinagoges en tempels uithou nie. Die rivier styg en styg en alles word lewend waar dit vloei.

Laat my jou vra: wat van jou huishouding? Is daar verwarring in jou familie? Kyk jy hoe die dood amok maak tussen jou geliefdes? Lyk alles vir jou hopeloos? Hou jy vas aan die belofte van ons geseënde Here: “Hulle sal genees word en alles sal lewe waar die rivier kom.”

Ek weet nie hoe die Here alles gaan doen nie. Maar as Hy sê die rivier sal styg en sal lewe bring oral waar dit gaan, glo ek hom. As God immers Kommunisme — die grootste globale beweging van die vorige eeu — kan uitwis soos wat Hy in Rusland en Oos Europa en Oos Duitsland kon doen, kan Hy nie ook hierdie ding doen nie?

Diegene wat uit hierdie wonderlike rivier van herlewing weggelaat sou word is “vir sout...bestem.” “Die moerasse en kuile daarvan – hulle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem" (Eségiël 47:11).

Eségiël beskryf modderpoele vol modder en klei. As die rivier oor hierdie moerasse vloei, word hulle nie genees nie. Uiteindelik sal die rivier heeltemal verby hulle vloei en hulle sal sout word.

In die Ou Testament, is sout die simbool van wederstrewigheid en onvrugbaarheid. Die soutmoerasse wat Eségiël hier beskryf verteenwoordig diegene van God se mense wat diep voel, maar nie verander nie. Hierdie mense mag ween oor sonde en dood, maar hulle gehoorsaam nie God se Woord om sy lewe te soek nie. Hulle mag beloftes en voornemens maak om te verander, maar hulle druk nooit daarmee deur nie. Dit weerklink in Jesaja se worde wanneer hy skryf, “Maar die goddelose is soos die onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy water gooi slyk en modder op" (Jesaja 57:20).

Moenie ‘n fout maak nie: sulke mense bely openlik dat hulle Christene is. En hulle is oorstroom met goddelike teregwysing. Die Heilige Gees het die dieptes van hulle siele deursoek en hulle getrek. Maar hulle het onveranderd gebly. Hulle het in die rivier van lewe gestaan, maar hulle het nie toegelaat dat hulle innerlike wese natgemaak en aangeraak word nie.

Die gevolge was dat die lewe van Jesus nie vanuit hulle voortgekom het nie. In plaas daarvan, het daar uit hulle innerlike ‘n bestendige stroom van vuil skinderpraatjies, skynheilige gevleierey, leuens en verdraaiings voortgespruit. Sulke mense is nie lewe-gewers nie. In teendeel, alles rondom hulle word aangeraak met twis en bitterheid. Hulle wentel in selfbejammering. Hulle kla gedurig en bevraagteken God se werk in ander. Hulle getuig van lewe, maar hulle sit in die modder vas. Hulle is geestelike namaaksels en versprei die dood oral om hulle.

In Petrus se woorde, het hulle almal “waterlose fonteine" (2 Petrus 2:17) geword. En volgens Eségiël was daar ‘n doodsvonnis oor hulle uitgespreek: “Vir sout is hulle bestem.” Dit is ‘n vloek van onvrugbaarheid en dorheid, wat hulle afgradeer tot ‘n lewe van geen vrug nie en totale nutteloosheid. Hulle staan egter vasbeslote in hulle rebellie en is vol van verwoestende hoogmoed.

Dit is tragies, maar God sal sy rivier van lewe buig om heeltemal verby hulle te vloei. Uiteindelik sal hulle blind en onsensitief word vir die gevaar waarin hulle hulself geplaas het. En, soos die Heilige Gees van hulle onttrek, sal hulle mislei agtergelaat word terwyl hulle roep, “Vrede, vrede,” wanneer verwoesting rondom hulle plaasvind.

Eségiël kon seker nie glo dat daar sulke kolle van die dood was nie. Hy het lewe sien opspring aan alle kante waar die rivier ook al gevloei het, maar daardie kolle van die dood het onvrugbaar, dor en wit van droogheid gebly.

Ek vra jou, hoe kon enige volgeling van Christus tot in so ‘n toestand verval? Hoe kan enige dienaar so leeg, droog en afgesny word van sy lewe-gewende rivier? Petrus verduidelik:

“Hulle loop die vlees agterna. Hulle is vermetel en aanmatigend. Hulle weerstaan alle godgegewe gesag en hulle belaster en praat sleg van dinge waarvan hulle niks weet nie. Hulle word vasgevang in wêreldse dinge en word daardeur verstrik en oorwin. En hulle het hulleself afgekeer van die heilige gebooie wat eens aan hulle oorgelewer is" (sien 2 Petrus 2:10-21).

Vir my is die hartseerste van hierdie tragedie, dat die meeste van hierdie droë putte eens fonteine van lewende water was. Hulle lewens het eens genesing en seën voortgebring. Maar nou spuit dit bitterheid, haat en dood uit.

Geliefde, ek dring by jou aan: as jy vasgevang is in koppige bitterheid terwyl die rivier oral om jou vloei, moenie jouself toelaat om voort te gaan nie. Laat God liewer jou innerlike met sy lewende water vul. Jy besef dit nie, maar ‘n riviervloed van openbaring van ons Here is op pad. En dit sal nie stop om vir die vlees plek te maak nie.

So, begryp jy die omvang van die visioen wat aan Eségiël gegee is? Die Ou Testament profete kon dit nie sien nie. Maar deur sy Heilige Gees, het God ons oë gegee om sy uitnemende grootheid te sien. Hier is dit dan: ‘n rivier van lewe is aan die kom!

Download PDF