Jy Het ‘n Trooster

Jesus het gesê, "Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe" (Johannes 14:18).

Toe Christus dit gesê het, het Hy met die dissipels gepraat net voor Hy gekruisig is. Hy het sy uitverkose mense vir ‘n laaste oomblik met die nagmaal bymekaar geroep.

Wat ‘n treurige spul was die klomp nie. Hulle enigste bron van vertroosting op die aarde sou van hulle weggeneem word. Jesus was hulle Leidsman, hulle Meester, hulle vreugde, vrede en hoop. En Hy sou hulle fisies verlaat.

Die dissipels moes gedink het, “Hoe sal ons weet wat om te doen? Waarheen sal ons gaan om die woorde van die ewige lewe te vind? Hy het ons beveel om in die wêreld in te gaan en die evangelie in sy Naam te verkondig. Maar waar sal die krag en gesag vandaan kom? Ons het op Jesus vertrou vir alles. Ons het ons hele wêreld rondom Hom gebou. Hy is God in die vlees en nou verlaat Hy ons.”

Natuurlik het Jesus geweet wat hulle gedink het. En Hy het geweet wat hulle sou beleef: vervolging, swaarkry, armoede, verlies van alles, die vernietiging van hulle aardse goed, om voor regters gesleep te word en om gemartel te word ter wille van sy Naam.

Tog twyfel ek of die dissipels Christus se woorde aan hulle begryp het: "Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe." Jesus het in wese gesê:

“Ek sal nooit toelaat dat julle julle stryd alleen sal stry nie. Ek sal julle nooit hulpeloos of magteloos teen die duiwel se aanslae laat nie. Ek weet wat julle gaan beleef. Maar Ek ken die Vader se plan vir julle. As julle dit geweet en verstaan het, sou julle harte verheug gewees het. Julle sou op hierdie oomblik spring van vreugde omdat Ek na my Vader gaan.”

“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid...omdat Hy by julle bly en in julle sal wees" (Johannes 14:16–17).

Jesus het sy vir dissipels gesê, “Ek verlaat julle as ‘n man, en Ek sal na julle toe terugkeer as Gees.”

Die Heilige Gees is die Gees van Christus. Jy mag vra, “Ek het gedink die Heilige Gees was aan alle mense gestuur. Sê die Bybel nie dat die Gees op alle vlees uitgestort sal word in die laaste dae nie?”

Ja, die Heilige Gees is na die wêreld en sondaars gestuur. Dit is vir hierdie doel: om te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Christus het van die Gees gesê, “En as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel" (Johannes 16:8).

Maar die Heilige Gees het nie die wêreld sy woning gemaak nie. Hy bly slegs in hulle wat in Christus weergebore is en deur geloof in sy volmaakte werk aan die kruis wandel. Die Gees verlang daarna om Hom ten volle in en aan hulle bekend te maak.

Jy sien, die Gees was nie na ons gestuur as ‘n passiewe invloed nie. Baie Christene dink aan die Heilige Gees as een of ander soet, onskuldige mis wat oor die aarde gespuit is, ‘n vertroostende, goddelike atmosfeer wat hulle lewens bedek. Nee — die Heilige Gees is ‘n persoon met ‘n persoonlikheid. Hy is so werklik in die gees as wat jy in die vlees is. Hy het ‘n verstand, oë, ore en gevoelens. Jy kan nie aan Hom dink as in ‘n menslike vorm nie, maar Hy hoor en praat en voel.

Ek vra jou: As Jesus skielik langs jou moes verskyn en saam met jou wandel, sou jy met Hom praat? Sou jy vrae aan Hom stel of versoeke aan Hom rig? Sou jy jou hart vir Hom oopmaak en aan Hom vertel waardeur jy alles gaan?

Natuurlik sou jy. God het sy Heilige Gees aan ons op aarde gestuur om op daardie wyse persoonlik vir ons te wees.

Wanneer die Heilige Gees ons harte binne kom, verpersoonlik Hy ons verhouding met die Vader en met Jesus.

Die Heilige Gees het ‘n manier waarop ons verhouding met God die Vader en met Jesus vereenvoudig word. Hy is die Een wat ons leer om te sê, “Abba Vader.”

Hierdie frase verwys na ‘n aannemingsgewoonte van Bybelse dae. Totdat die aannemingspapiere geteken en geseël is, het die kind sy aanneempa slegs as ‘n vaderfiguur gesien. Hy het geen reg gehad om hom Abba te noem nie. Hierdie woord het “my” sowel as “vader” beteken.

Sodra daardie papiere egter geteken en geseël was, het die kind se leermeester hom aan die aanneempa voorgestel. En vir die eerste keer kon daardie kind “Abba, Vader!” sê. Met ander woorde, “Hierdie man is nie meer net enige vader nie. Hy is my vader."

Dit illustreer die werk en die bediening van die Heilige Gees in die lewens van alle gelowiges. Hy leer ons van Christus. Dan stel Hy ons voor aan die Vader. Hy hou aan om ons te herinner, “Ek het die papiere geteken. Jy is nie langer ‘n weeskind nie. Jy is wettiglik ‘n kind van God!”

“Want julle het nie ‘n ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is...erfgename van God...mede-erfgename van Christus" (Romeine 8:15–17).

Die Heilige Gees vertel ons, “Jy het nou ‘n baie liefdevolle, ryk en magtige Vader. Omhels Hom en noem Hom 'my Vader.' Ek het gekom om aan jou te wys hoe lief Hy jou het. Jy was eens wild, sondig en rebels. Hy sou jou nooit aangeneem het as Hy jou nie liefgehad het en jou wou hê nie.

“Hy is jou Father. Vader. Jesus is jou Broer, jou Here en jou Vriend. En Ek is ook gestuur om joune te wees. Ek leef in jou hart om jou te lei, jou te verdedig en jou te bewaar. Daarom wil Ek intiem met jou wees. Ek wil met jou wandel en gesels.”

Toe ek eers in my lewe met hierdie kennis bewapen was, het ek nie langer veroordeeld gevoel wanneer ek my gebedstyd ingegaan het nie. Ek het geweet dat my sonde met die bloed van Christus bedek was. Ek het geweet dat die Heilige Gees my die krag gee om met ‘n volmaakte hart te wandel. En ek kon die Gees se teenwoordigheid binne gaan en sê, “Ek weet U vul die hele wêreld. Maar U is ook myne. U leef in my. Jesus het gesterf vir die hele wêreld, maar Hy is ook my Verlosser."

Het jy ‘n kykie in jou eie “aannemingsdokumente” gehad? Hulle is reg voor jou — in jou Bybel. En die Heilige Gees het sy seël op daardie dokumente geplaas en verklaar, “Jy is deur die hemelse Vader aangeneem.”

Die Heilige Gees is op ‘n liefdesending aan ons gestuur.

Die Gees se taak is om Christus se bruid in die afwesigheid van die bruidegom, Jesus, te troos. “Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid" (Johannes 14:16). “Die Trooster, die Heilige Gees” (Johannes 14:26). “Maar as die Trooster gekom het" (Johannes 15:26).

“Trooster” beteken een wat troos in ‘n tyd van pyn of smart — een wat pyn en hartseer verlig, verligting bring, vertroos en bemoedig. Ek hou van die volgende definisie uit die Grieks: “Een wat jou op ‘n warm bed van veiligheid neerlê.” Gedurende die koue, donker nag van jou siel, lê die Heilige Gees jou neer op die sagte bed van sy vertroosting, en Hy troos jou sagkuns.

Wanneer Jesus die Heilge Gees die Trooster noem, maak Hy ‘n seker voorspelling. Dit is dat sy mense verseker ongemak sal ly. Hulle sal vertroosting nodig hê. Eenvoudig gestel, enigeen wat Jesus volg, sal pyn en lyding beleef.

Ons weet dat die Gees aarde toe gekom het op goddelik bepaalde oomblikke — as Skepper en as Openbaarder van goddelike waarheid. Maar slegs aan ons wat in hierdie laaste dae leef, is Hy gestuur as Trooster. Jy mag sê, “Ek het my hele lewe lank gehoor dat die Heilige Gees my vertroos. Op hierdie oomblik het ek nog nooit soveel probleme en moeilikheid gehad nie. Hoe presies bring die Gees vertroosting?”

Sy vertroosting aan jou word bevat in twee frases.

“Jy is geliefd. En jy gaan weg.”

Eerstens bring die Heilige Gees vertroosting deur jou te herinner dat Hy in jou lewe met al die krag van God. Jy kan waarlik sê, “Groter is Hy wat in my is as al die magte van die wêreld saam — insluitende alle demoniese magte.”

God het die Gees gestuur om sy krag te gebruik om jou uit die kloue van Satan te hou. Hy het gekom om jou gees op te lig, om alle wanhoop weg te dryf en jou siel te vul met die liefde van jou Vader. “Maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk...en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is" (Romeine 5:3, 5).

Dink jy dat die Heilige Gees gedurende jou vervolgings by jou sal staan sonder om iets daaromtrent te doen? Sal Hy passief staan as jy uitmekaar getrek word, nadat Hy daar was toe jy in die moederskoot gevorm is? Nee, nooit. Op sulke tye, kom die Heilige Gees na jou toe en sê die volgende:

“Drink die Vader se liefde vir jou in. Moenie skaam wees vir jou beproewings en vervolgings nie. Hou aan om op te staan. God werk aan sy doel met jou en bou jou op vir sy eer en heerlikheid. Sy liefde omvou jou te midde van jou pynlike beproewing.”

Die Heilige Gees sal jou vul met die wete dat God jou liefhet.

Menigtes van gelowiges is gewillig om oortuig te word van sonde en mislukking. Maar baie sal nie toelaat dat die Heilige Gees hulle vul met die liefde van die Vader nie.

Die wettiese mens hou daarvan om onder veroordeling te lewe. Hy het nog nooit die liefde van God verstaan nie, omdat hy nie toelaat dat die Gees daardie liefde aan hom bedien nie. Met die gevolg dat hy nooit geliefd voel nie. Daarom leef hy onder slawerny terwyl hy dink dat hy sy liefde aan die Vader moet bewys.

Oor die jare, het ek geleer dat die Christen wat Jesus waarlik liefhet, ook tugtiging liefhet. So ‘n gelowige leer om die Heilige Gees se openbaring van alle verborge areas van sonde en ongeloof in sy lewe te verwelkom. Hy weet dat hoe meer hy die Gees toelaat om met knellende sonde te af te reken, hoe gelukkiger, vryer en meer behaaglik word daardie dienaar vir God.

Sommige Christene het egter ‘n gesindheid van, “Hou aan om my te oordeel, Here. Vind my sonde uit, oortuig my.” Dit is nie dieselfde as ‘n ware oortuiging nie. Dit is ‘n gesindheid wat ek sien in sommige van die briewe wat ons bediening ontvang. Byvoorbeeld, wanneer ek ‘n boodskap skryf wat van oordeel praat, is die reaksie wat ek ontvang oorweldigend goedkeurend. Maar wanneer ek deel oor die liefde en genade van Christus, dan word ek daarvan aangekla dat ek nie langer die waarheid preek nie.

Dit lyk of hierdie mense sê, “As jy ons nie berispe of teregwys nie, hoe kan dit evangelie wees? Sulke gelowiges het nog nooit die groot liefdesending van die Heilige Gees geken nie.

Ander Christene sien hulleself as vervreemde kinders van ‘n vêraf Vader. Hulle voel hulle kan Hom nooit werklik behaag nie en dat hulle Hom altyd faal. O, dit maak die Here seer!

As jy so voel, is dit ‘n belediging vir die Heilige Gees. Jy weier sy rol, om vertroosting vir jou hart te bring, te aanvaar. Hy troos jou met die wete dat jy geliefd is, dat jy aangeneem is en dat Hy met jou is om jou deur al die moeilikhede en probleme te dra.

Dit is ‘n area waar ons almal moet leer om in die Gees te wandel. Miskien is jy beroof van God se liefde as gevolg van wettiesheid. Jy gaan kerk toe, maar is vasgevang in vrees omdat jy dink jy het vuil hande en dat jy ‘n swartskaap in God se oë is. Jy weet jy het die wettiglike aannemingsdokumente, maar jy is te skaam om die woorde, “Abba, Vader” uit te spreek.

Mag God jou vandag daarvan verlos. Die Heilige Gees het nie gekom om jou te veroordeel nie. Hy het gekom om die wêreld te oortuig en te oordeel. So ver dit jou aangaan, het Hy gekom om jou te wys dat jy aangeneem is deur die Vader en dat Hy jou baie liefhet.

“Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word" (Jesaja 66:13).

Jesaja het hierdie woorde vir ‘n hardnekkige volk geskryf, “ewenwel het julle afkerig voortgegaan op hulle eie weg" (Jesaja 57:17). Ek vra jou, hoe lank sal ‘n leermeester uithou met ‘n hardnekkige, koppige student wat weier om haar leiding te aanvaar? Hoe lank sal ‘n berader geduldig wees met iemand wat week na week kom om oor dieselfde probleem te praat, maar weier om na enige raad te luister? Nie baie lank nie.

Maar Jesaja neem een van die beste voorbeelde moontlik — dié van ‘n moeder se liefde vir haar kind — en wys ons iets van die liefde wat die Vader vir ons het.

Gedurende my jare in New York Stad, het ek baie moeders gesien wat saam met hulle aangeklaagte seuns in die hofsaal ingeloop het. So ‘n vrou sit getrou dwarsdeur die verhoor en hunker na haar seun. Terwyl sy luister na die bewyse wat opgestapel word, huil sy. Sy is daar wanneer hy opstaan om gevonnis te word. En terwyl hy weggelei word en omdraai om totsiens te waai, gooi sy vir hom ‘n soentjie en huil terwyl hy tronk toe geneem word. Maar sy verloor nooit moed met hom nie.

Ek het ‘n moeder in New York Stad geken wat een hele dag elke week geneem het om haar seun in ‘n afgeleë, plattelandse tronk te gaan besoek. Sy het op ‘n bus geklim en vir ure gery om hom vir ‘n kort rukkie te sien. So ‘n moeder het na haar seun in daardie vaal tronkdrag gekyk en die pyn in sy oë gesien. En elke keer wat sy gegaan het, het sy ‘n bietjie meer van binne-af gesterf. Maar sy het nooit moed verloor op hom nie. Hy is steeds haar seun.

Liewe leser, dit is die soort liefde wat die Heilige Gees wil hê dat jy moet weet God vir jou het. Hy troos ons deur ons te vertel, “Jy het eens gesê dat jy jou alles vir Jesus gee. Jy het Hom jou hart gegee en Hy het jou steeds lief. Ek sal jou ook nie laat gaan nie. Ek is deur Hom op ‘n liefdesending gestuur om ‘n werk in jou te doen. En Ek sal dit aanhou doen.”

Daar is geen ware troos vir enigeen op aarde, behalwe die troos van die Heilige Gees nie. Elke dag gaan mense na sielkundiges, beraders, vriende, pastore, video- of klankopnames en seminare toe — en al hierdie dinge is goeie hulpbronne. Maar niks daarvan kan die groot behoefte in ons siel tegemoet kom nie, behalwe die Here wat ons geskep het.

Dit is waarom jy nodig het dat die Heilige Gees in jou bly. Hy alleen kan jou in die nag neerlê, soos in ‘n warm bed en jou hart met volmaakte vrede vul. Hy alleen kan jou waarlik troos in jou tye van pyn en droefheid. Hy is die Een wat jou sal verseker, “Hierdie vertroosting is nie net tydelik nie. Dit is vir ewig. Jy gaan nou tot in ewigheid vertroos word.”

Het jy gevra vir die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees? Moenie dan vir tekens soek nie. Honger net vir meer van Hom. Roep, “Heilige Gees, bring my hart in verrukking. Kom en neem van my besit as die voorwerp van u liefde. Wees my Troos en Leidsman.”

Bid in geloof, glo en vertrou in jou liefdevolle, hemelse Vader. Hy sal jou nie ‘n klip gee as jy vir ‘n brood vra nie. Hy sal vir jou die Trooster stuur!