Die gebed van ongeloof | World Challenge

Die gebed van ongeloof

David WilkersonDecember 23, 2002

Jy het gehoor van die gebed van geloof. Ek glo daar is ‘n spieëlbeeld van die gebed. Dit is ‘n gebed gebaseer op die vlees. Ek noem dit die gebed van ongeloof.

Die Here weet ons bid nie naastenby genoeg nie. Ons huil nie voor Hom soos ons moet nie. En helaas, wanneer menige Christene wel bid, dan is hulle gebede dié van ongeloof. So ‘n gebed is geheel en al onaanvaarbaar vir God. Trouens, die Woord sê dit is ‘n sonde in sy oë.

Ek wil ‘n vraag aan jou stel. Het jy al ooit gehoor dat die Here jou vertel, “Hou op bid. Staan op van jou knieë af”? Het sy Gees jou al ooit opdrag gegee, “Hou op om te huil, en vee jou trane af. Hoekom is jy op jou gesig op die grond voor my?”

Jy mag jouself dalk nooit kan voorstel dat God ooit so iets sal sê nie. Maar God het presies daardie woorde tot Moses gespreek: “Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My?" (Exodus 14:15). Die letterlike Hebreeuse betekenis van die vers is, “Waarom skreeu julle vir my? Waarom pleit julle so hard in my ore?”

Ek wonder: Waarom sou God dit vir Moses gesê het? Hier was ‘n goddelike, biddende man in die krisis van sy lewe. Die Israeliete was deur Farao agternagesit, met geen ontsnapkans nie. Hulle is deur berge omring aan alle kante, en voor hulle was die onbegaanbare see. Terwyl Moses gebid het, het hy geweet dat die lot van die menigte van sy woorde afgehang het.

Wat sou jy gedoen het as jy in Moses se skoene was? Tot op hierdie stadium het hy getrou God se roepstem tree vir tree gevolg. Hy het eintlik geweet dat die Israel se huidige krisis  deur God bestem was. Die paniekbevange krete van honderde duisende mense het egter in Moses se ore gelui: “Jy is ‘n moordenaar Moses! Daar was nie genoeg grafte in Egipte om ons te begrawe nie en toe bring jy ons na ‘n wildernis toe om te sterf.”

Die meeste Christene sal waarskynlik reageer soos Moses gereageer het. Hy het na ‘n afgesonderde heuwel toe gegaan om alleen met die Here te wees. Toe het hy sy hart in gebed uitgestort. Die woorde, “skreeuend” en “luide pleidooi” vertel vir ons Moses het uit sy hart uit gehuil.

Was jy al ooit in ‘n krisis van verwarring soos Moses? Dink terug aan ‘n benarde situasie toe jy gedink het daar is geen uitweg nie. Jy het alleen met die Here ontmoet, iewers waar niemand jou kon hoor nie. En jy het al jou emosies voor God ontbloot. Jy het geskreeu, jou innerlike voor Hom uitgestort. Jy het gehuil totdat daar geen trane meer oor was nie.

Ons God is ‘n liefdevolle Vader. Hy word aangegryp deur ons deurdringende gehuil. En Hy antwoord die gebed van elke opregte persoon. Hy moedig ons aan om luid na Hom te roep. Die Skrif vertel ons dat Jesus self “gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane" (Hebreërs 5:7).

Ek kan my vereenselwig met hierdie luide uitroep. Ek onthou my seer toe ons dogter Bonnie met kobalt behandeling gebombardeer is vir kanker. Sy moes vir drie dae afgesonder word in ‘n hospitaalkamer. Slegs haar dokters mag ingegaan het as hulle lood beskerming aangehad het. My vrou, Gwen, en ek moes buite wag. Al wat ons kon doen, was om te huil oor ons dogter se beproewing.

Op een stadium het ek die hospitaal verlaat en op ‘n afgesonderde landelike pad gaan ry. Ek het by ‘n veld gestop, uit my kar geklim en vir drie ure op God geskreeu. Ek het so hard soos ek kan geskreeu, “Eerstens was daar Gwen se kanker en toe ons dogter Debbie se kanker. Nou het dit vir Bonnie getref. Waar gaan dit eindig, God?”

Ek weet die Here het my geroep gehoor. En ek weet Hy was aangegryp deur my pyn. Jy sien, ek het besef dit is aanvaarbaar om op Hom te skree. Hy wil ons pyn hoor en ons laste deel. Maar sulke gebede is nie vir Hom aanvaarbaar as dit uit ongeloof gespreek word nie. Laat my verduidelik.

Mens sou dink God sou tevrede wees om Moses se sielpynigende gebede te hoor.  Israel se leier het ure spandeer terwyl hy geroep het, “Wat gaan ek doen Here? Hierdie situasie is hopeloos. Wat verwag U hier van my? Praat asseblief met my, ek het U hulp nodig.”

Daar is ‘n tyd om heel nag te huil en in gebed te worstel. Maar toe God Moses hier hoor skreeu het, het Hy hom vertel, “Genoeg.” Die Skrif is nie baie duidelik oor wat toe gebeur het nie. Maar op daardie stadium mag God dalk gesê het, “Moses, jy het geen reg om jou voor My te kwel nie. Jou geskreeu is ‘n belediging vir my getrouheid. Ek het jou alreeds my plegtige belofte van verlossing gegee. En ek het jou uitdruklik beveel wat om te doen. Stop nou jou gehuil.”

Inderdaad, God het reeds van die begin af sy hele plan vir Moses uiteengesit. In werklikheid, Moses het die hele uiteensetting daarvan geleer terwyl hy in die woestyn was en skape opgepas het. God het hom vertel, “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die Farao doen" (Exodus 4:21). God het in wese gesê, “Ek het jou die dinge gewys wat jy moet doen Moses. Gaan nou en doen dit.”

So, Moses het al die wonderwerke voor Farao gedoen en die tien plae oor Egipte gebring. Alles het gebeur net soos God belowe het. Nou, terwyl Moses hom in gebed gekwel het by die Rooi see, het die Here hom daaraan herinner. God het in wese gesê, “Dit is nie nou die tyd om jou te kwel nie, Moses, dis tyd om op te tree.”

Die Bybel vertel ons Moses was ‘n saggeaarde man,’n godvresende man na wie God geluister het. Klaarblyklik het Moses egter ‘n wortel van ongeloof in sy hart gehad. Dink daaraan. Toe God Moses geroep het om Israel te verlos, het Hy belowe om hom ‘n stem te gee waarna mense sou luister: “Die leiers van Israel sal na jou luister" (Exodus 3:18). Maar Moses het met ongeloof gereageer: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie" (Exodus 4:1).

God het Moses ook nog verder belowe, “Moenie bekommerd wees nie. Jy gaan ‘n groot verlossing vir my mense teweegbring.” Maar weer het Moses met ongeloof gereageer: “Ag, Here... Ek praat swaar, en my tong sukkel" (Exodus 4:10). In werklikheid het Moses God beskuldig dat Hy hom nie ‘n stem gegee het nie: “Ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie" (Exodus 4:10). Kortliks, het Moeses gesê, “Stuur iemand anders, Here. Ek is nie bevoeg nie.”

Dink aan hoe belaglik Moses se ongeloof was. Deur God se kragtige Woord, het hierdie man alreeds ontsaglike wonders gedoen. Hy het sy staf in ‘n wriemelende slang verander. En toe hy die slang aan die stert optel, het dit in ‘n kierie terugverander. Hy het ook sy hand in sy kleed gedruk en toe hy dit uittrek was sy hand melaats. Toe hy dit weer teruggesit het in sy kleed en weer uittrek was sy hand gesond en skoon.

Ek vra jou: watter toespraak kon meer veelseggend of kragtiger gewees het as dit? As ek Moses hierdie dinge gesien doen het, sou ek nie omgegee het of sy tong knoop of hakkel nie. Ek sou gereed wees om na hom te luister. Sy teenwoordigheid alleen sou die vrees van God in my gesit het, selfs voor ek hom hoor praat het. Waarom? Ek sou geweet het dat hy die krag van demonstrasie deur die Heilige Gees gehad het. In die Nuwe Testament, het Paulus getuig van hierdie krag. Hy het gesê dat hoewel sy eie spraak swak was, het hy met die krag van die Heilige Gees gepraat. Dit sou sekerlik waar gewees het van Moses ook.

So, op hierdie stadium, “Toe word die Here kwaad vir Moses" (Exodus 4:14). Die volle bedoeling hier is, “God was woedend vir Moses.” God sou nie enige valse nederigheid van hierdie man aanvaar nie. Hoekom? Hy het geweet dit sou Moses se roeping kelder. Hy was nie van plan dat Moses sê, “Ek is nie bevoeg,” of “Ek is nie slim genoeg,” of ek het nie die regte toerusting nie.”

Daarom het die Here hom geantwoord, “Nee, ek sal nie iemand anders kies nie, Moses. Ek sal nie iemand anders soek wat welsprekend of geleerd of bekwaam is nie. Jy beter dit aanvaar — jy is die een. Ek het jou gekies en jy het geen verskoning nie.

“Ek het nog altyd van jou swakhede geweet. Ek het jou gebrek aan selfvertroue gesien, jou geneigdheid om jouself te verneder soos wat jy jouself teenoor ander meet. Jy dink jy is nikswerd. Maar daar is geen rede hoekom jy moet probeer weghardloop nie. Ek sal nooit toelaat dat jy die planne verander wat Ek vir jou gemaak het voordat jy gebore was nie. Ek vra nie veel van jou nie. Al wat jy moet doen, is om te glo wat Ek jou belowe het en daarop handel. Vertrou dat die Almagtige Jehova God met jou is. Hou jou oë op My gerig, nie op jou swakhede nie.”

Moses het Israel aangemoedig, “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, … Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg" (Exodus 4:13-14). Hierdie preek wys dat Moses geweet het wat God sou doen. Onmiddellik nadat hy dit egter gepreek het, het Moses in ongeloof teruggeval. Dit was toe dat hy alleen met God was en hardop gehuil het. Dit was nie dat hy gedink het dat God die Israeliete sou faal nie. Nee. Moses was bang dat hy in sy eie roeping sou misluk. Miskien was hy bang om ‘n fout te maak, of God nie te behaag nie, of om nie genoeg geloof te hȇ nie. Daarom het hy in vrees teruggedeins.

Onthou, later het hierdie selfde Moses ‘n groot kampioen in gebed geword. Hy sou aangesig tot aangesig intimiteit met God beleef, soos geen ander in die geskiedenis nie. Hy sou met God praat vir veertig dae op ‘n slag en verskyn met ‘n gesig wat bonatuurlik gloei. Maar voor dit kon gebeur, moes God Moses leer wanneer om te bid en wanneer om op te tree. Hy het geleer wanneer dit tyd was om te smeek en wanneer dit tyd was om net eenvoudig gehoorsaam te wees.

Hier by die Rooi see was dit blote ongeloof vir Moses om te bid. Hoekom? God het hom reeds vertel om sy staf oor die Rooi see uit te hou en Hy sou getrou die water kloof: “Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop" (Exodus 14:15-16).

Laat ek julle herinner, Moses het nie hierdie woord gekry terwyl hy skreeuend in gebed was nie. God het dit ‘n lang tyd tevore tot hom gespreek, toe hy nog ‘n skaapwagter was: “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die Farao doen" (Exodus 4:21). Dis hoekom die Here nou vir hom sê, “Hou op ween. Daar is geen rede vir jou om die hele nag te ween nie. Ek het jou reeds beveel om geestelike gesag oor hierdie krisis te neem. Staan nou op en doen dit. Ek het belowe ek sal die krisis voor jou oplos. Beweeg vorentoe in geloof. Enkele ure van nou af sal jy van vreugde dans.”

Wanneer ons ons eie krisisse beleef, mag ons onsself oortuig, “Gebed is die belangrikste ding wat ek op hierdie oomblik kan doen.” Maar die tyd kom dat God ons beveel om te reageer, om sy Woord in geloof te gehoorsaam. Op so ‘n tyd sal Hy ons nie toelaat om terug te trek die wildernis in om te bid nie. Dit sal ongehoorsaamheid wees. En alle gebede sal in ongeloof aangebied word.

In Josua 7 vind ons die hele volk van Israel weeklaag in gebed. Die stad van Ai het hulle so pas oorwin en agternagesit. Daarom het Josua gevra vir ‘n voldag biduur en die mense het voor God se versoendeksel gekom om Hom te soek.

As jy op daardie dag in Israel se kamp ingestap het, sou jy dink ‘n groot herlewing het plaasgevind. Almal was bedroef en het getreur. Mans was op hulle aangesigte, hulle het hulle klere geskeur en stof in die lug gegooi. Vroue het hulle gesigte toegemaak met hulle hande en bitterlik gehuil. En Josua en die ouderlinge het gekniel en was deur verdriet oorweldig.

Maar dit was nie ‘n bekeringsbyeenkoms nie. En dit was nie ‘n herlewing van God se teenwoordigheid tussen hulle nie. In der waarheid, God was kwaad vir hulle oor die hele affȇre: “daardeur het die toorn van die Here teen die Israeliete ontvlam" (Josua 7:1). Waarom? Dit was ‘n “blameer vir God” byeenkoms. Die mense het geskreeu, “Here, waarom het ons nie die oorwinning behaal nie? U kon tussenbeide getree het en die vyand oorwin het, maar U het nie. Waar was die hulp wat U beloof het? U het ons aan ons eie bekwaamheid oorgelaat en toegelaat dat die vyand ons verwoes. Waar was U verbond toe ons dit nodig gehad het?”

Die neerlaag by Ai het Josua totaal en al verwar. Die Israeliete het pas terug gekeer van ‘n groot oorwinning oor die magtige Jerigo. Hulle was nou egter oorwin deur hierdie klein niksbeduidende vyand. Hy kon dit nie verstaan nie. Hy het gebid, “Here, waarom het dit gebeur? U heilige naam is op die spel. U reputasie as ‘n verlosser gaan in twyfel getrek word.”

Josua se gebed klink geestelik. Hy was skynbaar jaloers oor hoe God voorgestel was. En tog lees ons, “Toe sê die Here vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond?" (Josua 7:10). God het die vergadering net daar en dan gestop. Hy het verklaar, “Israel het gesondig en my verbond wat Ek hulle opgelê het, verbreek" (Josua 7:11).

Die geïmpliseerde bedoeling is, “Jy kan die hele dag en nag bid. Maar totdat jy met jou sondes gedeel het gaan jy voor jou vyande val.” Hoe het Israel gesondig? Die Skrif verduidelik, “Die Israeliete het troueloos gehandel … Akan … het van die goed wat aan die Here gewy was, gevat en daardeur het die toorn van die Here teen die Israeliete ontvlam" (Josua 7:1). Akan het die uitdruklike Woord van God verontagsaam. En nou vertel die Here vir Israel, “Staan van julle knieë af op. Ek sal nie julle gebede hoor totdat julle die afskuwelike ding uit julle midde verwyder nie.”

Die gebed van ongeloof neem slegs God se goedheid in ag. Dit ignoreer die strengheid van Sy heilige oordeel. Paulus skryf, “Let dan op die goedheid en strengheid van God" (Romeine 11:22). Die apostel noem pertinent God se goedheid en strengheid hier in die selfde asem. Hy sê die een kan nie van die ander geskei word nie.

In die Ou Testament het Jesaja dit so gestel, “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie. Julle hande is met bloed bevlek” (Jesaja 59:1-3).

Geliefde, God het nie verander tussen die Ou en die Nuwe Testament nie. Hy is ‘n God van liefde en van genade soos Jesaja uitwys. Maar Hy haat nog steeds sonde omdat Hy heilig en regverdig is. Dis hoekom Hy vir Israel gesê het, “Ek kan jou nie hoor nie as gevolg van jou sonde.”

Die selfde geld vir baie Christene vandag. Sulke gelowiges het eens uur na uur gebid. Hulle het somtyds heel nag wakker gebly en met groot trane geween. Tog, ten spyte van hulle pogings het God nooit hulle gebede gehoor nie. Waarom? Beskou die Psalmis se woorde:

“Skaars het ek na Hom geroep, of daar was reeds 'n loflied op my lippe. As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie. Maar God hét geluister, Hy hét my gebed verhoor! Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys en sy trou nie van my weerhou het nie" (Psalm 66:17-20).

Die Psalmis sê, “Ek het gesien daar is sonde in my hart. En ek het geweier om daarmee saam te leef. Daarom het ek na die Here gegaan om skoon gewas te word. Toe het Hy my gebed verhoor. Maar as ek aan my sonde vasgehou het, sou God nie na my geroep geluister het nie.”

Ek vra vir jou: kan ‘n Christen wat ontrou is aan sy maat verwag dat God sy of haar gebed beantwoord? As ‘n gelowige in egbreuk leef, sal God sy smeekgebede vir sy familie, sy werk en vir leiding hoor?

Die profeet Maleági sê nee. Hy het Israel vertel, “Daar is nog iets wat julle doen. Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie, en julle vra: ‘Waarom dan nie?’ Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het" (Maleági 2:13-14). Maleági het gesê, “Julle vra, hoe kan ons gebede God moeg maak? Die rede is duidelik. Jy gaan opsetlik aan om te sondig teen jou maat. En jy het die vermetelheid om te dink God het behae in jou.”

As dit jou beskryf, dan gee Maleági ‘n waarskuwing: “Jy neem jou sonde ligtelik op. En hoe langer jy daaraan vashou, hoe makliker sal jy dit aanvaar. Jy het jouself al klaar wys gemaak jy is meer geestelik met jou skelmpie as met jou wederhelf. Nee! Jy het die vrees vir God verloor. Jy noem sleg goed en verander donker in lig. Die Here sal nie ‘n woord van jou gebed hoor nie.”

Petrus bring die selfde waarskuwing aan eggenote wat hulle vroue swak behandel: “Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder" (1 Petrus 3:7).

Die woord “hinder” in die vers meen in wese, “Jy kan nie die hele week jou vrou mishandel, dan kerk toe gaan, en dan verwag dat God jou gebede verhoor nie. Sulke gedrag is nie van die Here af nie. Dis van die duiwel af. Tog, glo jy nie dat God jou daarvoor sal oordeel nie. Ek sê vir jou, jou gebede is afgesny van die hemel af.”

Wanneer die Skrif sê, “Wees verseker jou sonde sal jou uitvind,” dan verwys dit na meer as net publieke openbaarmaking. Dit sluit alle areas van jou lewe in, gebed ook. God sal ‘n dowe oor draai vir jou woorde. En jou gemeenskap met Hom sal afgesny wees.

Jesus weerlȇ dit. Hy Sê die Vader verwag geregtigheid by sowel die Nuwe as die Ou Verbond: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie" (Matthéüs 6:14-15).

Dit maak nie saak hoe heilig jy dink jy is nie. Jy kan maar dink jy is besiel met Christus se geregtigheid. Jy kan getuig dat jy deur Sy bloed geregverdig is, gered deur geloof, geheilig is deur die Heilige Gees. Jy kan vir ure bid, die Skrif daagliks bestudeer, die armes bedien, vurig preek en selfs wonderwerke doen. Maar as jy nie iemand wat teen jou gesondig het sy sondes vergewe nie, dan mors jy jou energie. God sal nie ‘n enkele gebed hoor wat jy bid nie. Trouens, Hy weerhou sy eie vergifnis van jou.

Is jy kwaad vir iemand? Is daar ‘n familielid wat jy weier om mee te praat? Dink jy gereeld aan ‘n sekere persoon as ‘n idioot? Jesus verklaar, “Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe" (Matthéüs 5:22-24). Christus sê, “Jy kan maar vergeet om te vas en te huil. Jou gebed sal nie gehoor word nie. Eerstens, gaan maak dinge reg met jou broer of suster. Kom dan daarna terug na die altaar toe.”

Onlangs het ‘n goddelike pastoor na my toe gekom met sy frustrasie om twee predikante met mekaar te versoen. Die twee manne was vir jare vyande. Die een het die ander gedagvaar en ‘n multimiljoen-dollar uitspraak verkry. Na dit het hulle bitterheid teenoor mekaar uitgespreek. Maar onlangs, het albei besluit om te versoen. “Hulle is gereed om te praat,” het die pastoor gesê. “Maar daar is ‘n probleem. Die vrou van die predikant wat die regsaak verloor het, weier om die ander predikant te vergewe. Sy sweer sy sal nooit weer met hom praat nie.”

Hierdie vrou is direk besig om God se werk te teë te staan. En die tragedie wat sy veroorsaak is tweeledig: sy verhinder nie net versoening nie, maar sy sny haarself af van God af. Hy hoor nie haar gebede nie. En Hy sal nie versoen word met haar alvorens sy haar sondes bely nie.

Ek glo die Here is veral toornig op hulle wat rasistiese vooroordele het. Die man of vrou, wat langs ‘n persoon van ‘n ander ras aanbid, terwyl hy of sy diep gewortelde vooroordele koester, wees gewaarsku. En weë daardie gelowige as hy of sy meedoen in etniese grappe. Die Here sal sy vyand word. En sy gebede sal ‘n gruwel in God se oë word.

Ons mag dalk nie vir ons moontlik wees om te dien in ‘n versoeningsbediening nie, maar God roep ons om te kyk na die vooroordele in ons eie harte. Miskien het jy grootgeword om nie van sekere politieke figure, wit of swart, te hou nie. Miskien het jy in ‘n huis grootgeword, wit of swart, waar daar vooroordele was. Of erger, ‘n kerk bygewoon wat rassisme gepreek het. Jy mag dalk nie aan die hele gemeenskap teenoor wie jy bevooroordeeld was, kan verskoning vra nie. Maar as jy ‘n gelowige van ‘n ander ras ken, dan kan jy na daardie persoon toe gaan en sê, “Ek wil voor die Here aan jou sê, ek is jammer.”

Ek het gepraat van gebede van ongeloof. Laat my nou ‘n voorbeeld gee van ‘n gebed van geloof. In Daniël 9:13, vertel Daniël vir Israel waarom hulle gebede vir sewentig jaar nie beantwoord was nie: “Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie.”

Israel se gebed is vir dekades deur sonde verhinder. Daniël het gesê, “Ek sien nou waarom God nie na ons geluister het nie. Dit was as gevolg daarvan dat ons nie met ons sondes wou afreken nie. Ons het nie ons ongeregtigheid ‘n saak van gebed gemaak nie. Dit het ons God se vriendskap en seën gekos.”

Daarom het Daniël ‘n gebed van geloof gebid: “Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi. Ek het tot die Here my God gebid en bely: ‘Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie" (Daniël 9:3-5).

Nog voordat Daniël klaar gebid het, het God die Engel Gabriël na hom toe gestuur: “Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit...het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom. Dit was die tyd van die aandoffer" (Daniël 9:20-21).

Daniël was deur God self aangeraak. En oombliklik was Israel terug in hulle verbond met die Here. Ek vra jou, waarom is hierdie man se gebede so gou beantwoord? Dit is omdat dit ‘n ware gebed van geloof was. Kortliks, Daniël het geglo dat God sonde oordeel, maar ook genade betoon.

Die Here is reg om elke gebed van jou te beantwoord vandag. Hy wil jou seën soos nog nooit tevore nie. Maar jy moet sy Woord ten volle glo en aanvaar wat Hy oor sonde sê. Vra Hom of daar enige ongeregtigheid in jou is wat jou gebede verhinder. Erken dan jou sondes en deel daarmee. Maak dinge reg met jou broer of suster. Dan sal jy weet dat God jou gebede hoor. En Hy sal gou na jou toe kom.

Download PDF