Die Buit van Geestelike Oorlogvoering | World Challenge

Die Buit van Geestelike Oorlogvoering

David WilkersonFebruary 24, 2003

"Van die oorloë en van die buit het hulle dit geheilig om die huis van die HERE daarmee uit te rus" (1 Kronieke 26:27). Hierdie vers open vir ons die diepgaande, lewensveranderende waarheid. Dit praat van buit wat net in die stryd gewen kan word. En wanneer hierdie buit gewen is, word dit daaraan toegewy om God se huis op te bou.

Ek glo as ons die magtige waarheid agter hierdie vers begryp, sal ons verstaan waarom die Here intense geestelike oorlogvoering regdeur ons lewens toelaat. Baie Christene dink dat wanneer hulle eers gered is, is hulle stryd verby en dat die lewe maklik sal wees. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie. God laat nie net ons stryd toe nie, maar Hy het ‘n heerlike doel daarmee in ons lewens.

So, wat is die “buit van oorloë”? Buit is geplunderde besittings of goedere wat in die oorlog deur die oorwinnaars afgeneem word. In die Bybel word die eerste keer van buit gepraat in Génesis 14, waar ‘n konfederasie van konings Sodom en Gomorra binnegeval het. Hierdie aanvallers het die inwoners gevange geneem en hulle besittings geplunder: “En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra...geneem...Hulle het ook, Lot, Abram se broerskind...geneem" (Génesis 14:11-12).

Toe Abram verneem het dat sy broerskind, Lot, gevange geneem is, het hy sy 318-man leër van dienaars bymekaar gemaak en die vyandige konings agtervolg. Die Skrif sê dat hy die aanvallers ingehaal het en “verslaan [het]...En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe" (Génesis 14:15-16).

Stel jou hier voor die oorwinnaar Abram. Hy het ‘n lang optog van vreugdevolle mense gelei met waens hoog gelaai met allerhande soorte goedere. En langs die pad, het hy Melgisédek, koning van Salem, ontmoet. Die Skrif vertel vir ons dat Abram gedring gevoel het om ‘n tiende van sy hele buit aan hierdie koning te gee (sien Génesis 14:20). "Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie Abraham, die aartsvader, ‘n tiende van die buit gegee het" (Hebreërs 7:4).

Wat ‘n wonderlike toneel. God se uitverkore dienaar het pas ‘n groot oorwinning behaal en nou het hy ‘n deel van al sy buit aan ‘n koning gegee. Waarom? Melgisédek was die “priester van God, die Allerhoogste" (Génesis 14:18). Abram het duidelik sy tiende gegee vir die doel om die diens van God se huis in stand te hou.

Probeer nou jouself voorstel die toneel net ‘n paar uur voor Abram daardie aanvallers oorwin het. Satan moes gespog het. Sy leërs het pas die hele bevolking van twee stede weggevoer, insluitende een goddelike man wat daar gebly het. Regverdige Lot was die enigste persoon wat die duiwel se beheer oor daardie stede kon uitdaag. Maar nou het Satan Lot saam met groot troppe beeste, wavragte kos en klere en kiste vol goud, silwer en kosbare edelstene as buit geneem.

Ek kan my indink hoe die duiwel gespog het oor die gevangeneming van Abram se saad: “Kyk na Lot. Hy is in kettings geboei en gestroop van al sy goed. Dit is wat gebeur met enigeen wat probeer om in my gebied in te meng.”

Dink nou aan die toneel ná Abram se oorwinning. Die leër van bondgenote was heeltemal verslaan. En Abram het die mense bevry en ‘n massiewe karavaan van buit teruggekry. Hierdie goedere was nie net van Sodom en Gomorra nie, maar ook van nege ander stede wat geplunder was. Sodom se buit was teruggegee tot die laaste skoenriem. Maar die buit van die aanvallers was deur Abram gehou.

Hier is die beginsel wat God wil hê ons moet begryp: Ons Here is in baie meer geïnteresseerd as om net oorwinnaars van ons te maak. Hy wil vir ons buit, goedere en geestelike rykdom uit ons oorlogvoering gee. Ons moet uit ons stryd uitkom met wavragte van hulpbronne. Dit is waarna Paulus verwys wanneer hy sê, “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het" (Romeine 8:37, kursief myne).

Dawid het dieselfde eerbiedige gesindheid gehad teenoor buit wat in oorlogvoering afgeneem is. Ons sien dit in ‘n bevel wat hy aan die einde van sy lewe gegee het. Dawid het pas sy seun Salomo aangestel as sy opvolger op Israel se troon. En nou het hy die volk se leiers bymekaargeroep om ‘n goddelike bevel op te stel om God se huis in stand te hou. Watter hulpbronne sou hulle hê vir sy heilige werk? “Van die oorloë en van die buit het hulle dit geheilig om die huis van die HERE daarmee uit te rus" (1 Kronieke 26:27).

Laat my die toneel beskryf. Na elke militêre oorwinning, het Dawid die buit teruggeneem huistoe en dit in oorvloed opgegaar: goud, silwer, brons, hout en geld meer as wat jy kan tel. En hy het een doel in gedagte gehad: om die buit as hulpbronne vir die tempel te gebruik.

In die tussentyd het Dawid die ampte in die tempel toegewys aan die priesters, poortwagters, musikante, klipmesselaars, vakmanne en vaardige werknemers vir alles wat nodig was om God se huis in stand te hou. Toe het Dawid ‘n spesiale skatkis opgestel om spesifiek te voorsien vir die tempel se instandhouding vir wanneer dit gebou sou word. En hy het sy kapteine opdrag gegee om die buit van die oorloë te bring om hierdie skatkis te voorsien.

As die Skrif praat van die tempel in stand hou, beteken die oorspronklike Hebreeus “om die huis te herstel, versterk en te konsolideer wat opgebou was.” Kortliks, hierdie bronne was bedoel om die tempel se oorspronklike glorie in stand te hou. Dit was bestem vir die herstel van enige verval en om God se huis in ‘n puik toestand te hou.

So, ek vra jou, waar is God se tempel vandag? Dit bestaan uit sy mense — jy, ek en sy kerk wêreldwyd. Volgens Paulus is ons liggame tempels van die Heilige Gees. En soos antieke Israel, hou God steeds sy tempel in stand deur die buit wat in oorlog afgeneem is. Dit is waarom ons beproewings bedoel is vir meer as net ons oorlewing. Deur elke stryd, sit God rykdom, hulpbronne en welvaart vir ons opsy. Hy gaar ‘n hele skatkis van goedere vir ons op uit ons oorlogvoering. En daardie buit word daaraan toegewy om sy liggaam, die kerk van Jesus Christus op te bou en in stand te hou.

Dink daaraan: vir jare nadat Salomo die tempel gebou het, was dit in ‘n goeie toestand gehou deur die buit wat tydens vorige oorloë afgeneem was. God se huis het dinamies en lewend gebly omdat sy mense uit elke konflik gekom het, nie net as oorwinnaars nie, maar ryk in hulpbronne.

Ons vind hierdie beginsel van “voorsiening deur oorlog” regdeur God se Woord.

Terwyl Dawid en sy leër weg was, het die Amalekiete sy dorp Siklag geplunder. Hierdie plunderende aanvallers het al die vroue en kinders geneem en die hele dorp afgebrand. Toe Dawid teruggekeer het, was hy “baie benoud...maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God" (1 Samuel 30:6).

Praat van geestelike oorlogvoering. Dit was nie net ‘n aanval teen Dawid nie. Dit was ‘n volskaalse aanval teen God se ewige doel. Weereens was die duiwel agter God se saad aan. Ons weet dat die geprofeteerde Messias deur Dawid se nageslag sou kom. En nou het Satan elke vrou en kind weggeneem waardeur daardie saad moontlik sou kon kom.

Geliefde, dit is die fokus van alle geestelike oorlogvoering: die vyand was nog altyd vasbeslote om die saad van Christus te vernietig. En daardie feit het nie verander nie, selfs nie 2,000 jaar na die Kruis nie. Satan is steeds daarop uit om God se saad te vernietig. En hy doen dit deur ons, die saad van Christus, aan te val en planne te maak om ons getuienis weg te neem.

Dawid het bedreig gevoel toe hy die gebrom van sy manskappe gehoor het. Hulle wou hom stenig omdat hy die vroue en kinders kwesbaar gelaat het. Maar Dawid het geweet dat sy hart reg was met God en die Skrif sê hy het homself in die Here versterk. Onmiddellik het hierdie man van geloof opgestaan en die Amalekiete agtervolg. En hy het hulle vinnig ingehaal en elke persoon en besitting wat geneem is, teruggekry: “Dawid het alles teruggebring" (1 Samuel 30:19). Hy en sy manskappe het niks verloor nie, “klein of groot, seuns of dogters, of iets van die buit, niks van alles at hulle vir hul saamgeneem het nie" (1 Samuel 30:19). Hulle het nie eers ‘n sakkie bone verloor nie.

Die Amalekiete het egter ook ander dorpe geplunder. So, Dawid het al daardie buit ook in sy besit geneem: “En Dawid het al die kleinvee en beeste afgeneem. Hulle het hul voor die ander vee gedrywe en gesê: Dit is Dawid se buit" (1 Samuel 30:20).

Soos Abram, was Dawid meer as ‘n oorwinnaar. Hy het meer gedoen as bloot eenvoudig te oorleef en gelyk te breek. Dit is omdat God vir Dawid meer gehad het as net ‘n getuienis van oorwinning. Toe hierdie man met sy familie teruggekeer het, het hy ook saam met hom groot troppe skape, bokke, kamele en beeste, sowel as wavragte silwer, goud, juwele, klere en huishoudelike items gehad.

Wat het Dawid met al hierdie buit van die oorlog gemaak? Hy het dit gebruik om die doeleindes van God in stand te hou. Dawid het geweet dat God hom gesalf het om koning oor die volk te wees. En nou moes hy die skade, wat aan sy reputasie gedoen is, herstel. So, hy het daardie buit gestuur na diegene wat van hom vervreemd was, om God se volk te verenig: “Toe...het hy van die buit aan die oudstes van Juda, sy stamgenote, gestuur en gesê: Hier is ‘n geskenk vir julle uit die buit van die vyande van die HERE" (1 Samuel  30:26). Dawid het ook buit gestuur na elke dorp waar hy en sy manskappe weggekruip het, “en aan dié in Hebron" (1 Samuel  30:31). Uiteindelik sou Hebron die stad word wat Dawid tot sy koningskap gebring het.

Hier is nog ‘n voorbeeld van God se doel in ons geestelike oorlogvoering. Ons moet buit neem van die oorlog nie net vir onsself nie, maar vir die liggaam van Christus. Die hulpbronne wat ons wen, is bedoel om seëninge aan ander te bring.

In Dawid se geval, het God ook sy huis in stand gehou deur sy saad te bewaar. Dawid sou die bloedlyn voorsien wat tot Christus sou lei. Tot op daardie punt, was Dawid egter regdeur die land as ‘n vlugteling gesien. Hy was heeltyd aan die vlug, het krisis na krisis beleef en was op die punt om alles te verloor. Maar hierdie buit — troppe vee en wavragte geskenke — het bewys dat Dawid ‘n oorwinnende krygsman was. Hy het uit sy oorloë gekom, ryk met hulpbronne. En daardie hulpbronne het voorsien vir God se voortgesette werk.

In hierdie gedeelte, het die Aramese leër die stad van Samaría omsingel tydens ‘n hongersnood. Die Arameërs het eenvoudig buite die stad gekampeer en gewag dat die Samaritane van honger sterf. Toestande het so versleg tussen die stadsmure dat ‘n donkie se kop vir tagtig stukke silwer verkoop is. Mense het desperaat geword, insluitend twee moeders wat ooreengekom het om hulle baba kinders te kook en te eet. Nadat hulle die eerste baba geëet het, het die tweede ma kop uitgetrek en het haar kind weggesteek. Toe het die bedroefde moeder na die koning gegaan om te kla dat haar vriedin nie mededeelsaam is nie. Dit was uiterste malligheid.

Vier melaatses wat buite dit stadsmure gebly het, het uiteindelik vir hulleself gesê, “Wat bly ons hier totdat ons sterwe?...Kom dan nou en laat ons oorloop na die laer van die Arameërs. As hulle ons laat lewe, dan bly ons lewe; en as hulle ons doodmaak, dan sterwe ons" (2 Konings 7:3-4). Dus hulle het na die Arameërs se kamp gegaan.

Toe hulle daar aankom, was alles doodstil. Nie ‘n siel was in sig nie. Hulle het toe elke tent deursoek, maar almal was weg. Die Skrif verduidelik: “Want die Here het die leër van die Arameërs ‘n gedruis van waens en ‘n gedruis van perde, ‘n gedruis van ‘n groot leërmag laat hoor, sodat hulle die een vir die ander gesê het: Kyk, die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van die Egiptenaars teen ons gehuur om ons te oorval. Daarom het hulle in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die laer soos dit was, in die steek gelaat; en hulle het vir hulle lewe gevlug" (2 Konings 7:6-7).

Toe die melaatses dit besef, het hulle van tent tot tent gegaan en hulle vol geëet en gedrink. Toe het hulle hulle arms met goud, klere en ander goedere gelaai en gaan wegsteek. Uiteindelik het hulle teruggegaan na die stadspoort en die poortwagters geroep en vir hulle gesê, “Kom saam met ons. Julle sal dit nie glo nie, maar die Arameërs het uit hulle kamp gevlug. Dit is nou ‘n spookdorp.”

Die Skrif sê, “Toe gaan die volk uit om die laer van die Arameërs te plunder; en ‘n maat fynmeel het ‘n sikkel gekos, en twee mate gars ‘n sikkel" (2 Konings 7:16). Weereens het God se mense meer as oorwinnaars daar uitgekom. Satan het probeer dat hulle van honger sterf. Maar die Here het die hele situasie omgekeer. Hy het die buit van die oorlog geneem en gebruik om sy mense te herstel en te verkwik en so sy doel op aarde te in stand te hou.

Kry jy die boodskap? Begin jy verstaan wat die rede vir jou huidige oorlog is? Diegene wat hulle vertroue in die Here plaas, word ‘n wonderlike oorwinning oor al die krag van die vyand beloof. God wil hê dat jy moet weet, “Ja, jy sal oorwin. Maar ek gaan jou meer as ‘n oorwinnaar maak. Ek werk aan ‘n selfs groter doel vir jou, vir my koninkryk. Jy sal uit die oorlog kom met meer buit as wat jy kan hanteer.”

Paulus beskryf dit wanneer hy skryf, “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink" (Efésiërs 3:20).

Hier is ‘n storie van intense oorlogvoering, een van die grootste geestelike oorloë in die hele Skrif. Weereens het die duiwel probeer om God se doel op aarde te vernietig, hierdie keer deur die bose Haman. Hierdie ryk, invloedryke man het die koning van Persië oortuig om ‘n edik uit te vaardig waarin die dood van elke Jood onder sy heerskappy, van Indië tot in Ehtiopië, uitgeroep het.

Die eerste Jood in Haman se visier was regverdige Mórdegai, Ester se oom. Haman het ‘n galg spesiaal vir Mórdegai gebou. Maar Ester het ingetree en God se mense tot gebed opgeroep en haar lewe op die spel geplaas om Haman se bevel te ongedaan te maak. God het die bose plan geopenbaar en Haman het op die ou end aan sy eie galg gehang. En die koning het nie net die doodsbevel omgekeer nie, maar hy het Haman se huis, ‘n eiendom wat miljoene werd is volgens huidige standaarde, aan Ester gegee.

Tog was Haman se herehuis nie die buit in hierdie storie nie. Die Skrif vertel vir ons, “Vir die Jode was daar lig en vrolikheid en vreugde en eer" (Ester 8:16). Dit was die ware buit wat in die oorlog met die vyand afgeneem is.

Jy sien, ons beproewings wen ons nie net geestelike rykdom nie. Dit hou ons sterk en rein en hou ons  voortdurend in stand. As ons ons vertroue in die Here plaas, veroorsaak Hy dat ons beproewings ‘n geloof in ons skep wat kosbaarder is as goud (sien 1 Petrus 1:7).

“Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het" (Kolossense 2:15).

Jesus het die duiwel by Golgota geplunder en hom gestroop van alle mag en gesag. Toe Christus oorwinnend uit die graf opgestaan het, het Hy ‘n ontelbare leërskare van verloste gevangenes uit Satan se greep gelei. En daardie bloed-gekoopte optog marsjeer steeds voort.

Dit is egter wonderbaarlik dat Christus se triomf by Golgota ons selfs meer as net oorwinning oor die dood gebring het. Dit het vir ons ontsaglike buit in hierdie lewe gewen: genade, barmhartigheid, vrede, vergifnis, krag, geloof en al die hulpbronne wat ons nodig het om ‘n oorwinnende lewe te lei. Hy het alle voorsiening vir die instandhouding van sy tempel gemaak: “Maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou" (Hebreërs 3:6).

Beskou Salomo as ‘n tipe Christus in die Ou Testament. Hy het die tempel (die kerk) gebou met al die hulpbronne wat Dawid (die Vader) vir hom opgegaar het. En toe die tempel instandhouding nodig gehad het, het hy dit uit die skatkis (die Heilige Gees), wat vir daardie doel gereserveer was, geput.

Die Heilige Gees wys ons ‘n wonderlike waarheid hier: Jesus het ons voorsien met al die hulpbronne wat ons nodig het deur sy Heilige Gees. Maar ons is verantwoordelik om van daardie skatkis te put om sy tempel in stand te hou. En die hulpbronne om die tempel te in stand te hou, moet direk uit die buit van oorlogvoering kom.

Christus het vir ons alles gegee wat nodig is vir die instandhouding om plaas te vind. Hy het ons in sy huishouding aangeneem. Hy staan vas as die hoeksteen van die huis. En Hy het die hele huis gereinig. Ten slotte het Hy ons toegang tot die Allerheiligste gegee. So, deur geloof is ons nou ‘n ten volle gevestigde, voltooide tempel. Jesus het nie ‘n huis gebou wat halfklaar is nie. Sy tempel is volmaak.

Hierdie tempel moet egter in stand gehou word. Dit moet heeltyd in ‘n goeie toestand gehou word. En om dit te doen, kan baie duur wees. Natuurlik weet ons waar die hulpbronne gevind kan word: in die Gees van Christus self. Hy is die tessourier van alle buit. Hy kan egter nie daardie hulpbronne aan ons vrystel tensy ons ons behoefte daarvoor raaksien nie. Kortliks, God sal nie sy tempel in stand hou sonder ons samewerking nie.

Daardie samewerking begin wanneer ons te midde van ‘n konflik is. Jy sien, ons hulpbronne is die Christus-gelykenis wat ons wen en in ons gevorm word terwyl ons in die oorlog gewikkel is. Dit is die lesse, die geloof, die karakter wat ons wen uit oorlogvoering met die vyand. So, wat ons ook al deurgaan, watter beproewing ons ook al beleef, ons kan weet dat God dit toegelaat het, vir sy doel. Daar is waarde in die oorlog. En ons kan oortuig wees dat goeie dinge daaruit sal voortspruit.

Paulus spoor ons selfs aan om te roem  in ons beproewings. Waarom? Vir die buit: “omdat...verdrukking lydsaamheid werk" (Romeine 5:3). Dink aan al die ander buit wat die gevolge van verdrukkings is: ervaring, hoop, moed, wysheid en die liefde van God vir die wêreld uitgestort.

As ons nie konflik, druk, beproewings en oorloë gehad het nie, sou ons passief en louwarm geword het. Verval sou begin en ons tempel sou in puin lê. Ons sou nie in staat weet om die gebied wat ons gewen het, te hanteer nie. Dit is waarom die vyand se plan teen ons duidelik is: hy wil ons uit die oorlog verwyder. Sy doel is om ons lus vir veg van ons af weg te neem.

Probeer jou indink dat jou tempel ‘n letterlike gebou is en gemaak is van steen en sement. As jy daar rondom loop, sal jy die instandhouding wat daaraan gedoen is tydens vorige beproewings kan aandui. Jy sou kon sê, “Sien jy daardie dak? Op een stadium het dit sleg gelek. Ek onthou die oorlog wat ek gevoer het om dit reg te maak. In der waarheid het Hy ‘n hele nuwe dak op die huis gesit. En daardie venster daar anderkant — dit was eens gebreek. Die Here het toegelaat dat ek deur die toets van my lewe gaan daaroor. Nou is dit vervang met hierdie pragtige getinte glas.”

Ons vind al ons hulpbronne vir instandhouding – krag om aan te gaan en mag oor die vyand — in ons geestelike oorloë. En op daardie dag wanneer ons voor die Here staan, sal Hy aan ons openbaar: “Onthou jy waardeur jy op daardie geleentheid gegaan het? En op hierdie datum, en in daardie aaklige oorlog? Kyk na alles wat jy bereik het daardeur: ‘n huis wat in stand gehou is, goddelike orde, sonder vlek of rimpel. Dit het alles gekom deur die oorloë wat jy gewen het. Kyk nou na die resultaat van jou beproewings. Was dit nie alles die moeite werd nie?”

Stel jouself voor hoe dit sal wees op daardie dag as jy die duiwel op ‘n toer deur jou tempel neem. Jy sou hom die gevolge van al sy aanvalle teen jou wys en vir hom vertel, “Sien jy wat jy vir my gedoen het? Jy het gemeen om my te vernietig. Maar daardie beproewing het my rein gehou. Dit het my geduld gegee en dit het my aan die brand vir Jesus gehou. Wat jy vir boosheid bedoel het, het Hy gebruik om hierdie huis in stand te hou.”

Is jy huidiglik in ‘n oorlog? Beleef jy intense geestelike oorlogvoering? Wees bemoedig: God het ‘n doel met alles. En sy plan vir jou sluit meer in as net om te oorleef. Hy wil hê jy moet daaruit voortkom met meer hulpbronne, meer geestelike rykdomme, meer krag — as wat jy gehad het toe jy die oorlog binne gegaan het.

Die eenvoudige werklikheid is, God het sy skat in menslike liggame geplaas. Hy het jou ‘n tempel, ‘n huis vir sy Gees gemaak om in te woon. En jy het die verantwoordelikheid om daardie tempel in stand te hou. As jy lui en sorgeloos begin word en die instandhouding wat nodig is verwaarloos — gereelde gebed, voeding op God se Woord en gemeenskap met sy heiliges — sal verval begin plaasvind. En jy sal in totale puin beland.

Miskien is jy huidiglik verward, moedeloos en bevraagteken alles. Jy mag wonder, “Ek sien nie enige doel met hierdie stryd nie. Waarom moet ek verder hiermee aangaan? Ek het genoeg gehad.”

Dit is tragies dat baie die stryd gewonne gegee het. En hulle het op die ou end bitter, hard en kwaad geword met hulle geloof op die ashoop. Waarom? Hulle het geen hulpbronne nie. Hulle het hulle skat weggegooi toe hulle weggeloop het van hulle beproewings. Dit is jammer, maar ek ken baie herders wie se lewens so uitgedraai het. Hulle het eenvoudig die stryd gewonne gegee. En toe die winde van die beproewing hard teen hulle gewaai het, het hulle geloof skipbreuk gely.

As ek terugkyk oor my vyftig jaar van bediening, onthou ek baie kere waar dit vir my net so maklik sou gewees het om op te hou. Ek het gebid, “Here, ek verstaan nie hierdie aanval nie. Waar kom dit vandaan? En wanneer sal dit eindig? Ek sien nie enige doel daarmee nie.” Maar met verloop van tyd, het ek vrug begin sien uit daardie beproewings. En daardie vrug — hulpbronne, krag en geestelik rykdom — was aan my voorsien op ‘n manier wat ek dit nie andersins sou gekry het nie.

Ek dring by jou aan: gryp jou beproewing vas deur geloof en glo dat God dit toegelaat het. Weet dat Hy dit gebruik om jou sterker te maak...om jou te help om die buit van Satan af te neem...om jou ‘n seën vir ander te maak...en om dit alles te heilig tot sy verheerliking.

Download PDF