Die Bediening van om Sy Aangesig te Aanskou | World Challenge

Die Bediening van om Sy Aangesig te Aanskou

David WilkersonMarch 17, 2003

Elke Christen is geroep tot die bediening. Die Bybel maak dit baie duidelik. Paulus skryf, “Ons [almal het] hierdie bediening" (2 Korinthiërs 4:1).

Die meeste Christene se konsep van bediening is deesdae egter nie baie bybels nie. Ons sien dikwels bediening as iets wat net verrig word deur aangestelde predikers of sendelinge. Ons dink aan dominees en pastore as kweekskool gegradueerdes wat mense trou en begrawe, kerke bou, aanbiddingsdienste hou en leerstellinge verkondig. Ons sien hulle as geestelike dokters wat veronderstel is om die wonde van die siekes en dié wat hartseer is te genees.

God beoordeel nie bediening op dieselfde wyse as ons nie. Die meeste van ons beoordeel bediening deur die omvang of effektiwiteit daarvan of deur die aantal goeie dade wat dit verrig. Maar in God se oë gaan dit nie oor hoe effektief ‘n bediening is, of hoe groot die kerk word, of hoeveel mense dit bereik nie.

Natuurlik het baie leiers in die kerk ontsaglike dinge deur hulle bedienings gedoen. Talentvolle mans en vroue het mega-kerke gebou, instellings en skole gestig en menigtes met die evangelie bereik. Sommige van hierdie hoogs talentvolle mense het egter hulle bedienings met swart harte behartig. Egbrekers, hoereerders, dronkaards, homoseksuele — almal het hulle talente en intelligensie gebruik om baie dinge in die kerk te bereik.

Ek dank God vir elke regverdige bedienaar wat ‘n bediening opgebou en gevestig het deur goddelike werke. Van begin tot einde, roep die Bybel ons om die mensdom se hartseer en behoeftes te bedien. Maar die probleem is dat die meeste Christene bediening net sien as iets wat ons doen, ‘n werk om te onderneem — en nie as iets wat ons is, of word nie.

Paulus praat van ‘n sekere bediening waarvoor elke Christen geroep is. Dit vereis nie sekere gawes of talente nie. Dit moet deur almal wat weergebore is, beide erkende bedienaars en gemeentelede onderneem word. Trouens, hierdie bediening is alle gelowiges se eerste roeping. Alle ander ondernemings moet daaruit voortspruit. Geen bediening kan God behaag, tensy dit uit hierdie roeping gebore word nie.

Ek praat van die bediening van om die aangesig van Christus te aanskou. Paulus sê, “Ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou" (2 Korinthiërs 3:18).

Wat beteken dit om die Here se heerlikheid te aanskou? Paulus praat hier van toegewyde, gefokusde aanbidding. Dit is tyd wat aan God gegee word, bloot om Hom te aanskou. En dan voeg die apostel vinnig by, “Daarom, aangesien ons hierdie bediening het" (2 Korinthiërs 4:1). Paulus maak dit duidelik dat om die aangesig van Jesus te aanskou, ‘n bediening is waaraan ons almal onsself moet toewy.

Die Griekse woord vir “aanskou” in hierdie vers is ‘n baie sterk uitdrukking. Dit dui nie net op ‘n kykie nie, maar “die oë instel of vasmaak.” Dit beteken om te besluit, “Ek sal nie van hierdie posisie af weg beweeg nie. Voor ek enigiets anders doen, voor ek probeer om ‘n enkele ding te doen, moet ek in God se teenwoordigheid wees.”

Baie Christene misinterpreteer die frase “aanskou soos in ‘n spieël" (2 Korinthiërs 3:18). Hulle dink aan ‘n spieël met Jesus se gesig wat na hulle weerkaats. Maar dit is nie wat Paulus hier bedoel nie. Hy praat van ‘n intense gefokusde blik, asof jy ernstig na iets deur die glas tuur om dit duideliker te kan sien. Ons moet ons “oë rig” op hierdie manier, vasbeslote om God se heerlikheid in die aangesig van Jesus te aanskou. Ons moet onsself opsluit in die allerheiligste met net een obsessie: om so intens te staar en met soveel toewyding gemeenskap te hou dat ons verander word.

Wat gebeur as ‘n gelowige die aangesig van Christus aanskou? Paulus skryf, “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is" (2 Korinthiërs 3:18).

Die Griekse woord vir “verander” hier, is “om ‘n metamorfose te ondergaan,” wat verander, getransformeer of ‘n gedaanteverandering of ‘n verheerliking beteken. Almal wat dikwels in die allerheiligste ingaan en sy oë stip op Christus instel, ondergaan ‘n metamorfose. 'n Gedaanteverandering vind plaas. Daardie persoon word voortdurend verander in die gelykvormigheid en karakter van Jesus.

Miskien kom jy dikwels in die Here se teenwoordigheid. Tog voel jy dalk nie jouself verander as jy tyd met Hom spandeer nie. Ek vertel jou, jy kan weet dat ‘n metamorfose plaasvind. Iets is sekerlik besig om te gebeur omdat niemand die heerlikheid van Christus kan aanskou sonder om verander te word nie.

Let op die laaste frase in Paulus se stelling: “Word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is" (2 Korinthiërs 3:18, kursief myne). Die Heilige Gees doen die werk om ons gedaante te verander. Let nou op die vers wat hierdie een voorafgaan: “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid" (2 Korinthiërs 3:17).

Sien jy wat Paulus hier sê? Hy vertel vir ons, “Wanneer jy die aangesig van Christus aanskou, is daar vryheid om verander te word.”  Deur in sy teenwoordigheid te wees, gee ons die Gees vryheid om oor ons lewens te heers, om met ons te doen soos Hy wil. Dit is ‘n daad van onderwerping wat sê, “Here, my wil is U s’n. Wat dit ook al mag verg, verander my na die beeld van Jesus.”

Die eerste ding wat ons sien wanneer ons die Here aanskou, is hoe onchristelik ons is. Dit maak nie saak hoe regverdig ons dink ons mag wees nie. Die Gees wys ons hoe ver ons van God se heerlikheid af is, hoe selfaangewese ons is en hoeveel ons in die vlees strewe.

As ons egter sit en Jesus aanskou, begin daar ‘n spontane werk in ons. Ons sien dat Hy alle geregtigheid vir ons bereik het. En ons het nooit nodig om te strewe of te sweet of te pleit om heilig te wees nie. Ons word immers verander — nie deur enigiets wat ons doen nie, maar deur die werk van die Gees. Die Heilige Gees het in ons die heerlike proses van gedaanteverandering begin.

Nou is alles bereik “deur die verbond, deur sy Gees.” Ons werk is eenvoudig om dikwels na sy teenwoordigheid te gaan, ons oë op Hom te hou en in sy teenwoordigheid te bly. En ons moet ons vertroue in Hom plaas as die Leidsman en Voleinder van ons geloof. Deur sy Gees, sal Hy ons voortdurend verander na die gestalte van Christus.

Baie Christene bely dat hulle gevul is met die Heilige Gees. Maar ek glo daar is ‘n toets wat bewys of die Heilige Gees jou lewe beheer. Die toets is: daar sal ‘n progressiewe toename van die karakter van Christus in jou wees.

As die Gees in volle beheer is, sal hierdie toename nie in sarsies kom nie. Jy sal nie terugslae hê of jou van sy teenwoordigheid onttrek nie. In plaas daarvan, sal jy ‘n voortdurende toename in verandering sien. En die toename sal nie kom uit krisisse of toetse nie. Dit sal die hele tyd voortduur, omdat die veranderinge wat deur God se Gees verrig word, voortdurend geskied. Daar is nie so ‘n ding as stagnerende groei in die werk van die Gees nie.

Gedaanteverandering of verheerliking kom egter wel primêr deur ons beproewings en lyding. Paulus sê, “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie" (2 Korinthiërs 4:7). Jy mag wonder: hoe kan ons brose erdekruike die toenemende gemanifesteerde heerlikheid van die karakter van Christus bevat? Veral wanneer ons onder die spervuur is?

Ons kan nie weet hoe die Gees ons sal verander nie. Ons weet nie watter metodes Hy in ons lewens sal kies nie. Maar ons kan dit weet: elke swaarkry en lyding is bedoel om verandering te weeg te bring.

Toe ek en Gwen aanvanklik van Tiffany se terminale breinkanker gehoor het, het ons gedink ons dogter Debbie sou ‘n brose erdekruik wees. Ons het gewonder, “Hoe sal sy hierdie ding verduur? Sy is so broos.” Maar Debbie was deur dit alles ‘n rots. Ons hele familie het die krag van God in haar gemanifesteer gesien.

Waar het Debbie haar krag vandaan gekry? Vir maande het sy die aangesig van Jesus aanskou deur die goddelike skrywes van Madam Guyon en Amy Carmichael. Debbie het my vertel toe sy dit begin lees het, “Pa, ek wil Jesus net beter leer ken.”

Sy het daardie maande opgesluit gebly saam met die Here en Hom aanskou. En die Heilige Gees het ‘n verandering wat in die wêreld uitgestraal is, gebring. Hy het haar gedaante verander van heerlikheid tot heerlikheid. Ons almal het dieselfde sterkte in Debbie se man, Roger, gesien. Hulle geloof, vertroue en rus in Jesus was ‘n kragtige bediening tydens hulle ergste beproewing.

Niemand op aarde kan jou in bediening plaas nie. Jy mag ‘n diploma ontvang het by ‘n kweekskool, aangestel wees deur ‘n biskop, of in opdrag van ‘n denominasie wees. Maar Paulus openbaar die enigste bron van alle ware roeping na bediening: “En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het" (1 Timótheüs 1:12).

Wat bedoel Paulus hier as hy sê dat Jesus hom in krag gegee het en hom getrou geag het? Dink terug aan die apostel se bekering. Drie dae na daardie gebeurtenis, het Christus Paulus in die bediening aangestel — spesifiek, die bediening van lyding: “Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly" (Handelinge 9:16).

Dit is die bediening waarna Paulus verwys wanneer hy sê, “Daarom, aangesien ons hierdie bediening het..." (2 Korinthiërs 4:1). Hy gaan voort en voeg by, “...volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie.” Hy praat van die bediening van lyding. En hy maak dit duidelik dat dit ‘n bediening is wat ons almal het.

Paulus vertel ons dat Jesus hom ‘n belofte gegee het vir hierdie bediening. Christus het beloof om getrou aan hom te bly en hom krag te gee deur al sy beproewings. Die Griekse woord vir “krag gee” beteken ‘n voortdurende voorsiening van krag. Paulus verklaar, “Jesus het beloof om vir my meer as genoeg te gee vir die reis. Hy gee my krag om getrou te bly in hierdie bediening. As gevolg van Hom, sal ek nie moed verloor of ingee nie. Ek sal daar uitkom met ‘n getuienis.”

Laat my toe om jou te vra: wat het Paulus as sy primêre roeping in bediening gesien? Was dit sy oortuigende prediking? Sy diep lering? Nee. Paulus het self erken dat hy nie welsprekend was nie. Hy sê hy het in swakheid, in vrees en bewing gepreek. Selfs Petrus sê dat Paulus dinge verkondig het wat moeilik was om te verstaan (sien 2 Petrus 3:15-16).

Teen hierdie tyd, het Paulus egter reeds al sy wêreldse opleiding en aardse wysheid eenkant toe geskuif. Hy het geweet sy bediening was nie in prediking, of in genesing van die siekes, of in sy eie menslike briljantheid nie. Paulus se bediening was om Christus uit te straal. Die wonderlike apostel het ‘n ontsaglike impak op sy eeu gehad en het steeds ‘n impak op ons generasie deur die manier waarop hy op sy beproewings hanteer het.

Paulus het dikwels van “Christus in my” gepraat. Hiermee het hy bedoel, “Jy sien ‘n mens voor jou staan. Maar God het my deur groot beproewings gelei en daardie lyding het die karakter van Christus in my gevorm. Dit is wat jy by my sien uitstraal. Net die getroue Kraggewer kan dit in iemand se lewe na vore bring. Net Hy kan sy dienaars ‘n lied en ‘n getuienis gee te midde van elke beproewing.”

Hier is hoe Paulus sy bediening opsom: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word" (2 Korinthiërs 4:8-10).

Paulus was nie ‘n supermens nie. Hy het eerstehands die betekenis van wanhoop geken. Hy het swaarkry beleef wat hy nooit gedink het hy sou oorleef nie. Hy het getuig: “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos" (2 Korinthiërs 1:8-10).

Verstaan jy wat Paulus hier sê? Hy vertel vir ons, “Ons is bo menslike krag terneergedruk. En ons kon maar vergeet om dit probeer verstaan. Ons het by die punt gekom waar ons gedink het dit is alles verby.”

Dit was Paulus se moeilikste tyd. Hy het die dood in die gesig gestaar. Op daardie oomblik, het Paulus egter sy bediening en roeping onthou. Hy het homself herinner, “Die hele wêreld hou my dop. Ek het baie preke gepreek oor God se krag om sy dienaars te bewaar. Nou kyk almal om te sien of ek dit glo.”

Paulus het weereens opgestaan om sy lewe neer te lê. Hy het uitgeroep, “Lewe of dood, ek is die Here s’n! Ek vertrou op God, wat die dooies opwek.”

Daarna het Paulus vir die Korinthiese kerk vertel, “Dit was julle gebede wat ons gehelp het. Julle het ons in staat gestel om deur te kom met ‘n lied van oorwinning.” Hy skryf, “Terwyl julle ook vir ons saamwerk deur die gebed, sodat daar vir die genadegawe aan ons deur baie persone op baie maniere vir ons gedank mag word" (2 Korinthiërs 1:11).

Ek kan dit nie sterk genoeg oordra nie: ons kan nooit die saak om vir ons broers en susters in nood te bid, ligtelik opneem nie. Paulus sê dat die Korinthiërs se gebede vir hom ‘n geskenk was. Dit was vir hom meer waardevol as geld, of woorde van vertroosting, of selfs goeie dade van liefde.

Ons familie ken sulke dankbaarheid vir ander se gebede. Vir dertig dae, het ons kleindogter Tiffany by die huis op haar sterfbed gelê. Dit was die moeilikste tyd in ons lewens. Ons het die betekenis van Paulus se getuienis geken: skielike swaarkry het ons oorval en ons was uitermate terneergedruk, terwyl ons ‘n toets beleef het wat ons nooit menslik gesproke sou kon verstaan nie.

In die laaste uur, terwyl Tiffany haar laaste asemtuie ingeasem het, het ons almal rondom die bed bymekaar gekom, hande vasgehou en gesing, “God Is So Good.” In daardie oomblikke, het ons die krag van die gebede van God se heiliges beleef. Dit was vir ons so tasbaar soos mekaar se hande wat ons vasgehou het.

Ons familie kan met vrymoedigheid getuig dat ons vasgegord was deur die gebede van diegene wat ons in gebed opgelig het. En soos Paulus, kan ons vir almal sê wat vir ons gebid het: “Julle het ons so baie deur julle gebede gehelp. Julle het ons die gawe gegee wat ons gehelp het om God te verheerlik in ons moeilikste uur. Ons was nie deur ons beproewing vernietig nie. Ons het daardeur gekom.”

Ek is oortuig dat Paulus ons tyd beskryf wanneer hy aan Timótheüs skryf: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus...verkondig die woord: hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;

“Want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening" (2 Timótheüs 4:1-5).

Paulus het vir Timótheüs vertel, “Mense sal so oorgegee wees aan hulle wellus, dat hulle nie gesonde leer sal duld nie. Maar hou aan om die Woord te preek. Teregwysing is nodig. So, bestraf die ongehoorsames en vermaan almal om goed te doen.”

Ons moet met kragtige prediking, gesonde lering en goddelike teregwysing voortgaan. Maar binnekort sal die wêreld nie daarvan wil hoor nie. Die mensdom sal so behep word met plesiere en wellus, dat hulle die kerk heeltemal sal ignoreer. Prediking en leerstellinge sal geen impak op ‘n bedwelmde samelewing hê nie.

Trouens, ek glo ons het reeds wêreldwyd op hierdie punt gekom. Die nominale kerk word as heeltemal irrelevant beskou. Dit het geen impak meer op enige nasie en in baie gevalle, op individue nie. Ek vra jou, watter bediening sal ‘n wêreld, wat kranksinnig geword het, bereik?

Dank God, daar is steeds ‘n bediening wat praat met ateïste, Moslems en ongelowiges van alle soorte. Dit is die uitstraling van Christus deur diep, swaar lyding in die lewens van gelowiges. Vir eeue was dit die kragtigste getuienis van God se mense. Gelowiges word geskud en gebuig deur siekte, vervolging en allerhande lyding. En deur dit alles, is dit die uitstraling van Christus se karakter wat diegene rondom hulle aanraak.

Beskou Paulus se vermanings in die hierdie gedeelte van naderby:

  • “Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking" (2 Timótheüs 4:5). Hy bedoel, “’n Wêreld van ongelowiges hou jou dop. So, wees versigtig hoe jy in jou tye van verdrukking reageer. Moenie toelaat dat jou beproewings jou neerdruk tot ‘n kreunende, ongelowige murmureerder nie. Jy sal elke woord wat jy ooit oor God se getrouheid sê, diskrediteer.”
  • “Doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening" (2 Timótheüs 4:5). Toe ek ‘n jong bedienaar was, het ek nie verstaan waarom ek eenvoudig nie die gange van ‘n hospitaal kon binnegaan, in geloof bid en wonderwerke sien gebeur nie. Ek het gedink, “Wat ‘n getuienis sou dit nie wees nie. Enige twyfelaar sal oortuig word as hy sien hoe pasiënte uit hulle beddens opstaan.”

Sedertdien het ek agtergekom dat dit waarskynlik nie die mees effetiewe manier van evangelisasie sou wees nie. Dink daaraan. Wie het groter impak om diegene rondom hulle: die glimlaggende, gesonde Christene wat in ‘n ongelowige se kamer instap en preek, teregwys en gesonde lering bring? Of die nederige Christen aan die anderkant van die saal wat aansterk na ‘n dubbele mastektomie? Hierdie vrou is nooit sonder pyn nie. Tog het sy geen vrees nie. Sy glimlag vir die verpleegsters en helder die hele kamer op met haar innerlike vrede. Selfs die mees siniese, ongelowige dokter is nuuskierig oor hierdie vredevolle vrou. Hy sien haar lyding, maar tog word hy deur haar aangetrek, omdat hy wil weet wat die bron van haar vrede is.

Ek kraak nie hospitaalbediening af nie. Dit is ‘n hoë roeping en ‘n noodsaaklike werk wat elke liggaam van gelowiges moet verrig. Maar ek kan eerstehands vir jou vertel wat die grootste impak in ons huis gemaak het tydens Tiffany se laaste paar dae. ‘n Ambagsman het in en uit in ons huis gegaan gedurende daardie tyd. Hy het geweet dat ons kleindogter sterwend was. Na drie weke het hy vir sy vrou vertel, “Daar is iets anders aan daardie mense. Ek sien hulle soms huil, maar ek kan nie die vrede wat hulle het, verstaan nie. Ek moet meer daarvan weet.” Niemand het teenoor hierdie man getuig nie. Hy het eenvoudig die Gees van Christus uit ons lydende familie gesien straal.

  • “Vervul jou bediening" (2 Timótheüs 4:5). Die Griekse woord vir vervul beteken hier heeltemal verseker, ten volle voorberei. Paulus sê in wese, “Wees voorbereid voor jou beproewing skielik op jou afkom. Maak seker jy is goed toegerus, gevul met geestelike hulpbronne, sodat jy nie uit olie raak nie.”

Ek sien deesdae baie Christene wat ineenstort tydens hulle beproewings. Harde lyding stuur hulle in ‘n onbeheersde duik. As jy na hulle jammerlike vrae en protes luister, sal jy dink dat hulle God nog nooit geken het nie. Trouens, hulle ken Jesus net as die Leidsman van hulle geloof en nie as die getroue Voleinder nie. Hierdie mense is nie deur hulle lydings van gedaante verander van heerlikheid tot heerlikheid nie. In plaas daarvan, het hulle mismaak geword in gees en karakter.

‘n Verandering vind in ons lewens plaas. Trouens, ons word verander deur dit wat ons obsessie is. Ons word soos die dinge wat ons gedagtes vul. Ons karakter word beïnvloed en ‘n impak op gemaak deur dit wat ons harte oorheers.

Beskou die gay lewe. Ons sien ‘n stadige agteruitgang van karakter in baie homoseksuele wat ek ken, soos hulle hul lewenstyl najaag. Daar is dramatiese veranderinge in hulle voorkoms, hulle stemme en hulle maniere. En daar is ‘n aahoudende toename in hulle vrymoedigheid om te sondig.

Twee jaar gelede, het honderde homoseksuele in New York Stad gesweer dat hulle nooit in die Gay Pride Parade op Fifth Avenue sou marsjeer nie. Hulle het daarop aanspraak gemaak, “Ons stem nie saam met die tentoonstelling van ons seksualiteit nie. Ons sal dit nooit doen nie.” In hierdie laaste jaar egter, het ‘n groot groep van dieselfde mans, die parade halfnaak gelei.

Beskou die verandering wat pornografie veroorsaak. Sommige mans begin met slegs prente van kaal vroue en op die ou end verval hulle in kinderpornografie. Getroude mans kan nie genoeg kry van hulle wellus deur pornografie nie en daarom begin hulle buite-egtelike verhoudings. Hulle het gesweer hulle sal sterf vir hulle kinders, maar nou is hulle gewillig om hulle families te verlaat met geen skaamte of spyt nie. Hulle het in ander mans gemetamorfiseer.

Ek dank God vir elkeen wat sy gedagtes en siel met geestelike dinge vul. Sulke dienaars het hulle oë gevestig op dit wat rein en heilig is. Hulle hou hulle oë op Christus gevestig en spandeer kwaliteit tyd deur Hom te aanbid en hulleself in die geloof op te bou. Die Heilige Gees werk in hierdie heiliges, en verander hulle karakter voortdurend na Christus s’n.

Slegs hierdie gelowiges sal gereed wees vir die eksplosiewe lydings wat op die aarde kom. Trae, lui, biddelose Christene sal hartaanvalle of ineenstortings ly. Hulle sal verpletter word deur hulle vrese, omdat hulle nie die Heilige Gees wat in hulle werk en hulle verander, het nie. Wanneer moeilike tye kom, sal hulle dit eenvoudig nie maak nie.

As jy huidiglik deur ‘n vurige beproewing gaan, kan jy verseker weet dat jy deur die Here self “in die bediening” geplaas is. So wees versigtig om nie aanstoot aan jou roeping te gee deur te verander in ‘n klaende, snikkende lafhaard nie. Hier is Paulus se laaste woord oor die saak:

“Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie; maar om alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede; in slae, in gevangenskappe...as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak" (2 Korinthiërs 6:3-5, 10).

Hoe maak ons “baie ander ryk”? Deur die hoop van Christus uit te straal te midde van ons lydings. Ons bied ware rykdom wanneer ons ander laat vra, “Wat is sy geheim? Hoe kan hy hierdie beproewing verduur? Waar vind hy sulke vrede?”

Begin deur jou hart nou voor te berei. Vul jou stoorkamer met hulpbronne, deur alleen met Jesus te wees en jou oë om Hom te vestig. Dan sal jy vir enigiets gereed wees. Dit is ons bediening in hierdie laaste dae.

Download PDF