‘n Skeptikus se Gids tot die Jordaan Oorsteek

Gary Wilkerson

Ons het almal ‘n hoë roeping van die Here ontvang. En op verskeie stadiums van ons lewens, het Hy ‘n voorafbepaalde plan voor ons gestel wat ons moet vervul. Verder het God belowe dat as ons in geloof optree en Hom vertrou, sal Hy daardie plan in vervulling bring.

Dit is egter nie altyd maklik nie. Net soos almal, wat Jesus vir ‘n onbepaalde tyd al volg, weet, sal ons struilkelblokke teëkom. En een van die mees algemene struikelblokke is die skeptikus se stem. Terwyl ons die Jordaan wil oorsteek na die Beloofde Land, sal ons elke soort stem hoor wat sê dat ons nie moet gaan nie.

Hierdie stemme vertel vir ons in ‘n baie duidelike toon, “Dit gaan nie gebeur nie.” Laat my verduidelik waarom.

Drie soorte skeptiese stemme verskyn in die lewe van elke Christen:

Eerstens is daar ‘n uiterlike skeptikus. Dit is ‘n vriend, ‘n kennis of familielid, wat dít wat ons glo ons moet doen om God te gehoorsaam, uitdaag.

Daar is ook ‘n demoniese skeptikus. Dit is die stem van die bose, wat ons vertroue in die Here wil ontspoor.

Laastens is daar die innerlike skeptikus. Dit is die stem in ons eie verstand wat elke soort argument gebruik teen dít wat God ons gevra het om te doen.

Josua het al drie hierdie soorte stemme gehoor toe God hom opgewek het om Israel oor die Jordaanrivier te lei. Die oorsteek van die rivier het al die beloftes van God se toekomstige heerlikheid vir sy volk op die aarde ingehou. Jy kan seker wees dat daar geen manier was wat hulle die rivier sou oorsteek, sonder om die skril stemme van die skeptici, wat hulle wou keer, sou hoor nie.

Ons God wil elke skeptiese stem, wat ons wil weerhou van gehoorsaamheid aan sy leiding vir sy groter heerlikheid, uitwis. Wanneer Hy ons vra om ‘n stap van geloof te neem, lei Hy ons om “oor te gaan” na ‘n nuwe mate van vertroue in Hom, wat ons ons nog nooit tevore gehad het nie.

Deur die jare, het baie opregte Christene begin om van hulle geloof af weg te dryf — sommiges, miskien, as gevolg van ‘n diep teleurstelling van ‘n vorige ervaring. Om ‘n tree in geloof vorentoe te gee, moet hulle daardie teleurstelling “oorsteek” en God op ‘n nuwe manier vertrou.

Miskien vertrou jy God vir ‘n seëning vir jou familie of kinders. Of jy glo Hom dat ‘n sekere bediening in jou lewe vervul sal word. Miskien soek jy God vir vryheid van een of ander verslawende gewoonte. Of jy wil eenvoudig vry word van een of ander innerlike stryd wat jou terughou om Hom volkome te vertrou. Sommige van ons het doodeenvoudig wonderwerke nodig, bonatuurlike ingrypings vir ons lewens of vir dié van ‘n geliefde.

Kortliks, God het almal van ons geroep om ons Jordaan oor te steek. En toe Israel by die Jordaanrivier gekom het, het God begeer dat nie een van sy volk sou agterbly nie. Tog was die stemme van die skeptici die hele tyd daar om sy volk daarvan te laat afwyk.

Enige ervare Christen sal vir jou vertel: Wanneer jy gereed is om die Jordaan oor te steek, is dit die tyd wanneer jy die meeste onderwerp word aan vrees, angs, twyfel en onsekerheid. Waarom? Jy is op die randjie daarvan om besit te neem van die land wat God jou geroep het om te bewoon. Dit is die tyd wanneer die vyand — en ons vlees — weerstand bied.

Daar is sewe dinge wat ‘n skeptiese stem fluister aan almal wat die Jordaan wil oorsteek. Ek wil daardie dinge hier opnoem. Hopelik kan ons onderskei wanneer so ‘n stem besig is om jou van God se belofte weerhou.

Skeptiese stem nommer 1: “Dit is makliker waar jy nou is.”

Die lewe is altyd makliker aan hierdie kant van die Jordaan. Waarom? Omdat dit gemaklik is: niks word van ons gevra nie. Ons kan die huidige omstandighede geniet.

Maar wanneer God ons opwek om aan te beweeg, dan word die dinge wat eens vir ons gemaklik was, vir ons ongemaklik. Dit begin voel of dit staties is en dinge agteruitgaan, self doods. As ons aanhou om in ons gemaklike plek te bly, loop ons die gevaar om ons visie en passie vir God te verloor.

Josua was nie immuun teen hierdie versoeking nie. Toe God hom tot aksie geroep het, was die eerste instruksie wat Hy aan hom gegee het: “Wees sterk en vol moed" (Josua 1:6). God het drie keer met Josua binne vier verse gepraat. Hy het geweet Josua het nodig gehad om dit te hoor.

Om te doen wat die Here ons geroep het om te doen, moet ons elkeen ons kragte bymekaar maak om dit te doen. Ons moet sterk en vol moed word. Vir sommige kan dit beteken om dinge, wat ‘n valse gevoel van gemak gegee het, te laat gaan. As jy gespanne, ontsteld of ontwrig in jou gees is, vra die Here om vir jou te wys hoekom. As Hy van jou vra om iets te laat gaan, kan dit die eerste stap in geloof vorentoe wees.

Skeptiese stem nommer 2: “Dit gaan te veel moeite verg.”

Dit is die tweede leuen wat die skeptikus fluister: “Jy gaan jouself totaal uitput met hierdie ding. As jy daarmee voortgaan, sal dit jou uitbrand.”

Dink waarteen Josua te staan gekom het om Israel te vra om ‘n stap van geloof te neem. Daar was ver oor 1 miljoen Israeliete, kinders en baba’s uitgesluit. Sommige van hulle was bejaard en siek. Dink aan al die moeite wat bestee is met die beplanning, pakkery, koördinering, die werklading en die verantwoordelikhede.

Dit is waarom baie Christene bevooroordeeld raak. Hulle vertel vir hulself, “As dit so moeilik gaan wees, kan dit nie van die Here wees nie. Kan dit?”

Vrees jy om jouself te vermoei? Raak jy moedeloos as jy aan die ekstra myl dink? Om God se roeping te volg, is nie altyd maklik nie. Maar dit is vol genade. Petrus vertel ons dat die volmaakte werk aan die kruis vir ons alles bereik het wat ons nodig het om vir Hom te lewe. “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug" (2 Petrus 1:3).

Jy het nie nodig om in jou eie krag te lewe nie; die Heilige Gees lewe in jou met krag. Hy sal vir jou al die energie gee wat jy nodig het om te doen wat God beveel. Jy sal nooit uitbrand as jy in die Gees lewe, wandel en jou krag van Hom kry nie.

Skeptiese stem nommer 3: “Sommige mense sal nie daarvan hou nie.”

Wanneer jy die Jordaan wil oorsteek, sal jy mense ontmoet wat nie met jou saamstem nie. Jy mag hulle selfs kwaad maak. Hulle stemme mag so kragtig word, dat jy moontlik sal begin wonder of jy die risiko moet neem om enigsins aan te gaan.

Dink aan die druk wat Josua moes beleef. Hy het tot op daardie stadium sterk leierskap uitgeoefen. En hy het ‘n groot mate van vertroue by die mense gewen. Dit was belangrik vir ‘n leier, wie se volk voortdurend in ‘n gevaarlike omgewing was.

Ek kan myself verbeel dat ‘n groep skeptiese ouderlinge vir hom gevra het, “Josua, wat bedoel jy hiermee? Jy het al die vertroue, welwillendheid en invloed opgebou en nou wil jy almal ontstel? Waarom waag jy die negatiewe terugvoer? Jy gaan al jou Godgegewe krag en vermoë om te lei, verloor.”

Josua se reaksie was direk en op die punt af, net soos sy leierskap was. In wese, het hy gesê, “Ons is nie geroep om mense te behaag nie. Ons is geroep om God te behaag.”

Nie elke Israeliet sou gelukkig wees met die oorsteek van die rivier nie. Miskien kan jy identifiseer met Josua se dilemma. As jy die Jordaan gaan oorsteek, wees voorbereid vir skeptiese reaksies van jou familie, vriende en mede-werkers: “Jy wil ‘n besigheid begin – in hierdie ekonomie?” “Jy wil daardie soort bediening hê? Hoekom?” “Jy wil wat met jou lewe doen? Ek kan jou nie ondersteun nie. Ek dink nie God is hierin nie.”

Laat my die volgende byvoeg: ‘n Moedige skuif van geloof sal nie net skeptici trek nie. Dit sal ook ‘n leër van God se mense rondom jou trek. Jy sal gebed, ondersteuning en energie van getroue, onverwagte bronne ontvang.

Skeptiese stem nommer 4: “Dit is fisies onmoontlik.”

Israel het die Jordaan tydens oestyd oorgesteek. Tydens daardie seisoen, was die riviere nie net vol nie, hulle het oorstroom. Menslik gesproke was dit die slegste moontlike tyd om die rivier oor te steek.

Die skeptici rondom Josua sou verseker gespot het, “Jy het die verkeerde tyd gekies, Josua. Ons het verwagtende moeders, siek mense en die bejaardes. Dit is nie van God af nie.”

Tog het God ons geroep om dinge te doen wat menslik en fisies onmoontlik is. Hy kyk na ons situasie en sê, “Die toestande is vir My perfek om namens my mense op te tree. Nou gaan die wêreld sien hoe Ek My daarin verheug om alles aan my dienaars te voorsien.”

Nou mag jy dink, “God, ek voel dat U my lei om ‘n moeilike besluit te maak. Ek weet dat ek nie het, wat dit vereis om alles deur te voer nie.” Dit is presies waar Hy jou wil hê. In ons swakheid, maak God ons sterk. En in ons gebrek, is ons God groot. Ons sê dit is onmoontlik, maar met God in beheer, is niks onmoontlik nie.

Skeptiese stem nommer 5: “Dit is te riskant.”

Tot op daardie stadium in hulle geskiedenis, het God die water vir Israel geskei. Hierdie keer het Hy egter vir hulle gevra om die eerste tree in die water te gee. Hy het spesifiek die priesters beveel om die ark van die verbond met geloof in die bruisende rivier in te dra.

Verbeel jou die skeptici se stemme nou: “God het ons nog nooit tevore gelei om dit te doen nie. Hy het nog altyd die water vir ons geskei. Dit is nie Hom gehoorsaam wees nie. Dit is Hom versoek!”

Selfs Josua het sy bedenkinge gehad: “Here, ek was al tevore met U op hierdie pad. Ek weet hoe dit werk. U het altyd eers die water geskei. Waarom sou U ons nou ‘n tree laat gee in hierdie bruisende, modderige water! Dit maak nie sin nie.”

Dit maak nie saak hoe riskant of uitdagend die pad is wat God voor ons gestel het nie. As ons in geloof die eerste tree gee, sal Hy die water vir ons skei. En ons kan op droë grond die rivier oorsteek.

Beskryf dit miskien ‘n huidige situasie in jou lewe? Miskien wek die Heilige Gees jou op om soos nog nooit tevore ‘n stap in ‘n familie situasie te neem. Hy mag jou dalk roep om ‘n fouterende vriend te waarsku soos nog nooit tevore nie. Hy mag jou dalk sê om moediger met ‘n ongelowige oor Jesus te praat.

Natuurlik is dit nie ‘n sonde om te sê, “Here, ek is ongemaklik. Dit is oorweldigend. Ek het U krag en moed nodig,” nie. Hy verwag daardie soort belydenis en gebed. Maar God het ‘n probleem met Christene wat sê, “Ek het in geloof uitgestap. Maar toe ek ‘n verlies van vrede begin ondervind, het ek geweet dat dit nie van die Here was nie. Daarom het ek gestop.”

Dit is die probleem met daardie soort denkwyse. As ons ophou om in geloof te wandel elke keer wanneer ons ‘n gebrek aan vrede het, sou ons nooit iets in gehoorsaamheid aan die Here doen nie. God het reeds vir ons vertel dat die vyand altyd op die uitkyk is om ons van ons vrede te beroof.

Ja, ons moet ‘n heersende vrede hê, wat alles wat ons doen, ondersteun. So ‘n vrede kom van God se onwrikbare Woord. Maar ons moet weet dat, wanneer ons met God se sake te doen het, sal ons vrede van tyd tot tyd geskud word. Selfs ‘n man van geloof, soos Josua, kon geskud word. Dit is waarom God vir hom gesê het, “Wees vol moed. Moenie vrees nie.”

Ek weet my pa, David Wilkerson, sou nooit na New York Stad gegaan het om met bendelede te gaan werk, as hy gedink het dat elke bietjie gebrek aan vrede van God was, wat hom vertel het om te stop nie. Daar is tye wat ons God se stem moet hoor iterwyl ons geskud word. Sy begeerte vir ons is om in chaotiese toestande nie moed te verloor nie, maar om die Gees se stem te onderskei. Dit is hoe ons vrede vind wanneer ons wêreld geskud word.

Skeptiese stem nommer 6: “As jy nie suksesvol is nie, sal jy gespot word.”

Hierdie skeptiese stem sê, “Jy mag jouself in die skande steek. En dit sal mense van God laat wegval. “Ek herinner jou: God het ons nie geroep om die Jordaan oor te steek as ‘n bewys van sukses nie. Hy vra ons net om Hom gehoorsaam te wees. Die resultate hang van Hom af.

‘n Eeu gelede in China, het vele getroue sendelinge dekade na dekade geswoeg met baie min om te wys vir hulle pogings. Sommige het net een of twee bekeerlinge gemaak; ander geen. Laastens was hulle uitgeskop of het gesterf tydens ‘n nasionale opstand en het uiteindelik gely onder dekades van harde, moeilike, onderdrukkende toestande. Daar was geen rede om te dink dat hulle pogings tot enigiets anders as een groot mislukking gelei het nie.

Vandag is daar miljoene Chinese Christene, wat God in die ondergrondse kerk dien. Sosioloë sê dat die kerk van China teen 2050 groter in getal sal wees as al die gelowiges in die res van die wêreld.

Was daardie sendelinge se pogings ’n mislukking? Glad nie. Daardie dienaars het getrou die saad geplant sonder dat hulle geweet het wat sou gebeur. En die meeste van daardie sendelinge het gesterf sonder dat hulle die gevolge geken het. Ek dring by jou aan, neem hulle voorbeeld ter harte. Wanneer ons negatiewe omstandighede beleef, word ons versoek om met plan B vorendag te kom. Maar God het nie ‘n plan B nie. Sy plan A is die enigste plan wat Hy het — en dit is jou keuse om Hom te gehoorsaam. Die resultate hang van Hom af.

Skeptiese stem nommer 7: “Wanneer jy die Jordaan oorsteek, sal jou stryd nooit eindig nie.”

Die skeptici het vir Josua gesê, “As ons die rivier oorsteek, gaan ons vyande soos nog nooit tevore teëkom. Jy ken die verslae. Daar is een-en-dertig verskillende konings in die land waarheen ons gaan. En elkeen van hulle wil ons verslaan. Weet jy hoeveel konings het ons in die laaste veertig jaar verslaan? Net twee. Wat op aarde dink jy? Hoe kan dit God se wil wees?”

Josua het geweet dat dit moeilik sou wees — inderdaad onmoontlik. Maar hy het ook geweet dat daar net een weg vir Israel was om te gaan: vorentoe. Hulle sou die Jordaan oorsteek en hulle sou dit in geloof doen, met die vertroue in God dat Hy hulle beste belange in gedagte het.

Ons almal weet dat Josua en Israel op die ou end die land in besit geneem het en geseën was.

Die priesters wat die ark gedra het, het ‘n tree in die rivier gegee. Net toe hulle hulle tone in die water gesit het, het God die water bonatuurlik geskei. Na dit, het elke bose ding wat die skeptici voorspel het, in iets goeds vir God se volk verander.

Die mense het by ‘n groot versterkte stad gekom wat deur die vyand beset was. Toe hulle daarom gemarsjeer het, het die ondeurdringbare mure neergetuimel. ‘n Handjievol konings wat Israel gedink het hulle vyandig was, het by hulle aangesluit en die grootte van hulle leër verdubbel.

Het dit super-heiliges van Josua en Israel gemaak? Glad nie. Op een stadium het Josua misluk om God te gehoorsaam. Maar omdat hy gou berou gehad het, het die Here hierdie ervaring gebruik om hom te versterk. Ons hou nooit op om te groei en volwasse in ons geloof te word nie, selfs nadat ons op die mees wonderbaarlike wyse die Jordaan oorgesteek het. Ons vertroue in God hou nooit op nie.

So, is jy gewillig om ‘n tree in die rivier te gee? God mag sê, “As jy net sal besluit om jou toon in die rivier te sit, sal jy sien hoe Ek golwe vir jou skei. Ek sal jou oordra na die ander kant. Dit maak nie saak hoeveel vyande en forte jy aan die ander kan mag teëkom nie. Ek het alreeds my planne vir jou uitgelê. En Ek sal dit tot vervulling bring. Jy het geen idee van al die oorwinnings wat Ek vir jou beplan het nie. En dit is alles tot my heerlikheid.”

Ek dring by jou aan: Vertrou God om jou oor die Jordaan te lei. Laat Hom die stem van elke skeptikus stil maak. Sy plan A vir jou sal nie misluk nie. Hy is getrou — en Hy sal dit doen!