Vader se Liefde

God Verheug Hom in Sy Kinders
David Wilkerson

Die meeste Christene weet wat die Bybel sê oor God se groot liefde vir sy kinders. Selfs nadat baie van hulle egter jare lank getrou met Jesus gewandel het, het hulle nooit geleer om daardie groot liefde vir hulleself toe te eien nie. Dit is hartseer dat daar toegewyde dienaars van God is wat nog nooit die heerlike ervaring en voordele geniet het om die Vader se liefde te ken nie. En niks maak die hart van God seerder nie.

In my jare van bediening, het ek drie hoof struikelblokke, wat Christene verhoed om ten volle in daardie spesiale liefde van ons Vader in te gaan, geïdentifiseer.

1. Baie Christene glo nie regtig wat God oor Homself sê nie.

Dink aan hoe God Homself aan Moses beskryf het, “HERE, HERE, barmhartig en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierendheid en trou, wat goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe" (Exodus 34:6–7).

Dit was die primêre eienskappe wat God wou hê dat Moses van Hom moes weet: Hy is genadig, barmhartig, lankmoedig en vergewensgesind. Ons is baie geleer omtrent hierdie dinge. Inderdaad, van die begin tot einde praat die Bybel van hoe liefdevol en innige ons Vader se hart teenoor ons is.

Wanneer ons egter in die middel van beproewings en verdrukkings vasgevang is, vergeet ons dikwels wat God oor Homself gesê het. As ons tog net onsself aan hierdie waarhede kon herinner in sulke tye, dan sou ons siele geseënd gerus gestel wees. Die Skrif sê keer op keer vir ons die volgende oor die Here:

  • Hy is gereed om te alle tye te vergewe. “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep" (Psalm 86:5).
  • Hy is geduldig met ons, vol teerheid en genade. “HERE, u barmhartighede is menigvuldig" (Psalm 119:156). "Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke" (Psalm 145:9). "Dat die Here vol medelye en ontferming is" (Jakobus 5:11).
  • Hy is stadig om kwaad te word. “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid" (Psalm 103:8). "Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid" (Psalm 145:8). "Bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil" (Joel 2:13).

Wanneer ons bid, moet ons versigtig wees watter soort beeld ons van God in sy teenwoordigheid het.

Die Here wil hê ons moet tot Hom nader met volle oortuiging dat Hy ons liefhet. En Hy wil hê ons moet weet dat Hy alles is wat Hy sê Hy is.

Dit is die rede waarom die Satan met ons sal probeer doen wat hy met Job gedoen het. Hy het ‘n verdraaide beeld van die Vader in Job se gedagtes geplant. En Job het in ‘n tyd van groot pyn hierdie leuen geglo. Hy het die Vader beskuldig, “Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde nie? My oortreding is verseël in ‘n bondeltjie, en U sluit my ongeregtigheid weg" (Job 14:16–17).

Met ander woorde: “God, U plaas al my sonde in ‘n sak en bêre dit vir later om my te oordeel. Hulle word dag na dag opgestapel. En eendag gaan U my forseer om dit te konfronteer.” Dit is die beeld wat sommige vandag van ons hemelse Vader het. Diep binne is hulle bang dat Hy net vir hulle wag om te misluk, sodat Hy hulle kan oordeel.

Dit is maklik om te sien hoe verdraai so ‘n siening van God is. In der waarheid het God glad nie op Job gespioeneer nie. In teendeel, die Here was so vol liefde vir sy dienaar dat Hy voor die hele hemel en hel oor Job geroem het. Hy het aan Satan gesê, “Het jy ooit ‘n man soos hierdie een gesien? Een wat My so liefhet? My dienaar Job is ‘n regverdige man, sonder bedrog.”

Geliefde, ek wil jou aanmoedig om dit te onthou wanneer jy met jou hoof gebuig in God se teenwoordigheid ingaan. Jy mag dink dat jy Hom gefaal het. Maar in der waarheid roem Hy oor jou. Hy vertel al die engele, “Kyk na my dienaar. Wanneer hy misluk, reik hy na My uit. Dit verbly my hart!”

Die Vader het twee soorte liefde: ‘n algemene liefde vir alle sondaars en ‘n spesiale liefde vir hulle in sy familie.

God het ‘n algemene liefde vir die mensdom waarin Hy begeer om elke mens na Homself te trek. Maar in God se hart is daar ook ‘n ander soort liefde — ‘n spesiale liefde vir sy kinders. Die Here het nog altyd ‘n spesiale volk vir Homself uitverkies op wie Hy sy groot liefde uitgestort het. In die Ou Testament, was Israel die enigste voorwerp van hierdie spesiale liefde:

“Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het" (Deuteronómium 7:6–8).

God het hierdie spesiale woorde aan Israel gerig. Vandag, as jy in God se familie deur Christus aangeneem is, moet jy weet hoe spesiaal jy vir Hom is. Jy is die ontvanger van die Vader se spesiale liefde vir sy kinders. En hier is sy woorde vir jou:

“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig...nou (is julle) die volk van God; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is" (1 Petrus 2:9–10).

Geliefde, dit is belangrik om nooit God se oordele meer te eerbiedig as sy liefde nie. In jou tye van swakheid en mislukking, sal Satan jou hamer met elke vers uit die Skrif oor God se toorn oor sonde. En natuurlik oordeel God onbelyde sonde. Maar Satan verdraai verse soos die volgende, om vrees in jou gedagtes in te boesem:

  • "U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie" (Hábakuk 1:13).
  • "Wie kan diens doen voor die aangesig van die HERE, hierdie heilige God?" (1 Samuel 6:20).

Elkeen van hierdie verse het ‘n konteks waarin hulle ware betekenis verduidelik word. In elkeen van hulle het God ‘n rebelse, skynheilige volk aangespreek. Hy het Israel vertel, “In jou huidige toestand kan Ek jou nie seën nie, omdat jy weier om My om vergifnis en genade te vra.”

Hierdie harde woorde was nooit bedoel vir kinders wat berou het en bedek is deur Christus se bloed nie. Ons Vader is bly oor elke kind wat tot bekering kom.

2. Dikwels rus ons nie in die feit dat God weet wat die beste vir ons is nie.

Daar is tye wanneer God dinge van ons wegneem. Daar is ook tye waarin ons vir dinge bid, wat ons dink ons nodig het, maar God gee dit nie vir ons nie. In beide gevalle weet God beter, “Want die HERE ken die weg van die regverdiges" (Psalm 1:6). En eendag sal dit alles tot ons voordeel en tot sy koninkryk se doeleindes wees.

Die enigste ware tevredenheid in die lewe is om die volmaakte wil van God te doen: om volmaak in sy wil te wees, sy werk te doen en te leef volgens sy leiding. Maar ons vlees is heeltyd in ‘n stryd met ons gewikkel en vertel ons dat net óns weet wat ons nodig het om vervul en gelukkig te wees. Die waarheid is dat God nog nooit enigiets van sy kinders weggeneem het nie, tensy dit vir ‘n doel met ewigheidswaarde was. God se beste is nie iets om te vrees nie; dit is altyd wat op die einde die meeste tevrede stel. Die Here weet nie net wat die beste vir ons is nie, maar begeer ook dat ons sy geestelike seëninge sal besit.

As ons dit werklik geglo het, watter rus, vrede en blydskap sou ons nie hê nie. Ons sou nie treur oor dinge wat ons moet laat gaan nie. Ons sou besef, “Here, as U hierdie goed van my wegneem, dat moet dit beteken dat U iets lewe-gewend vir my het. So, asseblief, gee my die krag om te sê, ‘My Vader weet beter.’”

Ek vra jou: Hoe het Job uiteindelik by ‘n plek van rus uitgekom? Hy het homself oortuig dat God weet wat Hy doen en dat alles onder sy goddelike beheer was. Job se bekende stelling was, “Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom" (Job 23:10).

Nou mag jy dalk wonder, “Sal God my ooit afsny as ek misluk terwyl ek vir sy beste wag? Ek weet ek is nie volmaak nie. Beteken dit dat ek sy beste vir my gemis het? Wat as ek iets verkeerds doen? Sal al God se beloftes vir my verlore wees? Sal ek maar tevrede moet wees met iets minder as sy beste?”

Nee, nooit! Ek wil vir jou dit wonderlik illustreer dat God se ewige doeleindes nie deur jou swakhede of mislukkings gedwarsboom kan word nie.  As jou hart reg is voor God — as jy aanhou na Hom terugkeer en Hom soek — kan niks ooit sy plan vir jou verander nie.

Beskou God se genadige optrede met Efraim, wat die Here beskaam het.

“Ek is vir Israel ‘n Vader, en Efraim is my eersgeborene" (Jeremia 31:9). Efraim was die grootste stam van Israel en die mense wat die naaste aan God se hart was. Die Here het ‘n ewige plan vir hierdie geseënde stam gehad, maar Efraim het aanhou terugval en Hom bedroef. Hierdie mense het teen meer lig en genade gesondig as enige ander stam in Israel.

So, het die Here sondige Efraim verlaat? Dit is net die teenoorgestelde: God het gesê dat Efraim ‘n vry en losgekoopte volk moes wees. Hulle sou lewe tussen die vettigheid, wat God se grootste seëninge aandui. Wat was dit wat God in Efraim gesien het? Hulle het ‘n berouvolle hart gehad — wat beteken, hulle was skaam oor sonde en was gewillig om hulle tot die Here te bekeer. Ten spyte van al hulle mislukkings, het hierdie een eienskap hulle geliefd in God se hart gemaak. Wanneer ‘n profetiese woord gekom het, het hulle gereageer. En toe hulle bestraf is, het hulle oor hulle sonde geween.

Op die hoogtepunt van hulle afkerigheid, het God gesê: “Is Efraim vir My ‘n dierbare seun of ‘n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering: Ek sal Hom sekerlik oor hom ontferm, spreek die HERE" (Jeremia 31:20).

God het gesê, “Ten spyte van Efraim se tekortkominge en mislukkings, sien Ek ‘n berouvolle gees in hom. En Ek sal nie my innige liefde wegneem nie. My ewige doel vir Efraim sal voortgaan volgens plan.”

Net so, geliefde, sal God sy doel met jou bereik, dit maak nie saak hoe erg jou stryd is nie. Hy het jou toekoms uitgelê met sy beste vir jou in gedagte.

Ons kan nie God se ewige doel vir ons beoordeel deur dit wat ons mag dink of voel nie.

Soms kan elkeen van ons te gefokus wees op ons mislukkings en swakhede om reg te oordeel. God sê vir ons, “Vertrou my woord oor my natuur — dat Ek ‘n innige, liefdevolle Vader is wat baie in jou belê het, en dat Ek nie van plan is om jou te laat gaan nie. Ek het ‘n welbehae in jou en Ek sal jou op my tyd verlos.”

Daarom het Dawid geskryf, “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!" (Psalm 139:17). Net so het Jeremia geskryf, “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee" (Jeremia 29:11).

God het hier vir ons ‘n spesifieke boodskap. Hy sê, “Ek is nie geneig om aan jou te dink met toorn, oordeel en straf nie. My natuur is om goeie gedagtes te dink, want Ek is besig om jou lewe te beplan. Staan stil en sien hoe my verlossing ontvou. Laat my liefde jou deurdrenk.”

Eenvoudig gestel, ons het twee keuses. Eerstens kan ons glo wat God oor Homself sê — dat Hy ons liefhet en ons deur ons beproewings sal dra; dat Hy besig is om alle deure vir ons oop en toe te maak; dat wanneer ons misluk, Hy nie vir ons kwaad is nie, maar ons wil reghelp in sy innige liefde. Of, tweedens, kan ons glo dat God toegelaat het dat ons deur die duiwel mislei word en dat Hy ons gelos het om op ons eie bene te staan.

Jy mag dink, “Ek sien nie veel bewyse dat God enigiets doen om my aaklikge toestand te verander nie. My pyn voel of dit nooit ophou nie. Ek het gewag en gewag. Hoe lank sal dit nog neem?”

Dit neem so lank as wat dit nodig is vir ‘n heilige, almagtige God om al die stukkies van sy plan vir jou saam te stel. Hy het so baie gedagtes omtrent jou en jou toekoms dat jy hulle nie eers kan tel nie. Sy Woord sê dat sy gedagtes oor jou meer is as die sand van die see.

Dink aan Dawid se voorbeeld van vertroue ten spyte van sy omstandighede. God het aan Dawid ‘n belofte gegee dat Hy hom ‘n bestendige huis sal bou, ‘n ewige koninkryk wat vir ewig gevestig sou wees. En deur al Dawid se beproewings, sonde en skande, was God se doel nie verhinder nie. Selfs toe Dawid en sy eie familie en seuns in die skande gekom het, het hy aan die Here se liefdevolle belofte vasgehou en nie laat los nie.

Laastens, toe Dawid oud en grys was en dit nie gelyk of die belofte vervul sou word nie, het hy hierdie verklaring gemaak: “Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het vir my ‘n ewige verbond daargestel wat in alles gereël en verseker is; want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie" (2 Samuel 23:5). Hy het bedoel, “Ek sien dit nog nie vervul nie. Maar Ek staan op God se woord aan my. Hy sal dit sekerlik uitvoer.”

Dawid het daarin gerus dat God die beste weet en dat Hy sy woord sou hou: “Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop" (Handelinge 2:25–26).

3. Soms dink ons dat dit te goed is om waar te wees, dat ons die Here al ons dae met blydskap kan dien en nie vrees nie.

God se begeerte vir ons is om so oortuig te wees van sy innige liefde vir ons, so oortuig dat Hy besig is om ons in sy beste in te bring, dat ons voortdurende vreugde en blydskap in ons wandel met Hom sal hê. Verder, wil Hy hê dat ons vertroue in sy liefde, getuienisse van blydskap en hoop sal word.

“Dien die Here met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel" (Psalm 100:2). "En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel" (Psalm 105:43). "Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!" (Psalm 32:11). "Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap" (Psalm 68:3).

Jy mag vra, “Kan ek verwag om vreugde en blydskap te handhaaf in my diens aan die Here?” Baie Christene glo dat blydskap net solank duur as wat die tyd van vernuwing kom, of so lank as wat dinge reg verloop in ons lewens. Volgens Jesaja is dit nie so nie.

“Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees" (Jesaja 65:18). Geliefde, ons is “die Jerusalem van bo” en ons leef vir Hom met ‘n gees van blydskap en gejuig. En ons liefdevolle Vader het ons ‘n rotsvaste fondament vir al ons vreugde en blydskap gegee: “Maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin" (Johannes 16:33).

Ek belowe jou: As jy die Vader vertrou en sy Woord oor Homself glo, sal jy sy blydskap in jou lewe sien vloei. Vertrou sy woord aan jou vandag. Amen!