Die Goedertierenheid van die Here

David Wilkerson

Dwarsdeur die Bybel hoor ons hierdie wonderlike woorde wat deur baie van God se dienaars gespreek is: “Julle God is barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou, gou om te vergewe, stadig om toornig te word" (sien Exodus 34:6, Deuteronómium 4:31, Jona 4:2, Joël 2:13, Romeine 2:4). Hierdie woorde oor God se goedertierenheid word oor en oor deur manne soos Moses, Jona, Dawid, die profete en die apostel Paulus herhaal.

Sommige Christene mag egter verbaas wees om te weet dat Moses van God se goedertierenheid gepraat het. Moses was mos bekend as die Wetgewer, wat streng vermanings oor gehoorsaamheid aan God se wet gegee het. Hy het die mense gewaarsku dat as hulle sou weier om in geregtigheid te wandel, hulle geoordeel sou word.

Tog het Moses ‘n groot openbaring van die Here se goedertierenheid gehad. Hoe het hy hierdie eienskap van God se natuur leer ken? Die Here het dit aan hom in die wolk van sy teenwoordigheid geopenbaar:

“En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy hy het die Naam van die HERE uitgeroep. En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe" (Exodus 34:5-7, kursief myne).

Selfs toe Moses waarskuwings oor oordeel gepreek het, het hy altyd hierdie belangrike aspek van God se karakter onthou. Inderdaad, Moses het die volk aangemoedig, “As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God  terugkeer en na sy stem luister; Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie" (Deuteronómium 4:30–31).

In die Ou Testament, het God se volk Hom keer op keer verlaat, maar elke keer het Hy hulle herstel en hulle ongelooflik geseën.

Die Here het die volste reg gehad om moed op te gee met Israel, maar Hy het getrou aan hulle gebly. Nehemía som hierdie wonderlike waarheid oor sy natuur as volg op:

“Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig...as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmharigheid baie keer gered...Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle nie verlaat nie, want U is ‘n genadige en barmhartige God" (Nehemia 9:28, 31).

Jesaja het ook hierdie aspek van God se natuur geken. Soos Moses, het Jesaja oor God se oordeel teen sonde gepreek. Hy het van donker dae van wanhoop wat sou kom op hulle wat volhard het in wederstrewigheid, gespreek. Tog, te midde een van sy mees direkte boodskappe, het Jesaja gestop om toe die volgende verklaring gemaak:

“Ek sal die goedertierenhede van die HERE prys, die roemryke dade van die HERE, ooreenkomstig alles wat die HERE aan ons bewys het...na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede" (Jesaja 63:7).

Oral waar Jesaja gegaan het, het hy afkerigheid en afvalligheid in Israel gesien. Ten spyte daarvan, het Jesaja diep in sy hart gekyk en ‘n openbaring van hoe God werklik was, onthou. En hy het God begin loof vir sy getrouheid: “O, Here, ons was wederstrewig teen U en het van u Heilige Gees af weggedraai. Red ons weer deur u groot genade. Wek weer u deernis teenoor ons op. U is vol goedertierenheid.”

Die profeet Joël het ook ernstige waarskuwings oor donker dae gegee. Hy het oor groot aardbewings en die verduistering van die son en die maan geprofeteer. Tog het Joël skielik in die middel van ‘n ernstige waarskuwing gestop en van God se liefdevolle natuur begin praat:

“Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God: want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil" (Joël 2:12–13).

Die woord “berou” hier beteken God wil die oordeel wat sonde moet volg, omkeer. Eenvoudig gestel, Hy wil nie oordeel vir ons hê nie. Dit is sy begeerte dat ons berou oor ons sonde sal hê en onsself tot Hom bekeer, sodat ons herstel kan word.

Die fondament van alle oorwinning oor sonde is om te verstaan dat God barmhartig en vol goedertierenheid is.

“So sê die Here...laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE" (Jeremia 9:23–24).

Dit maak nie saak hoe lank jy al met die Here wandel nie, jy het seker al ander bemoedig dat God genadig en vergewensgesind is. Laat my toe om jou te vra: Wanneer jy die Here teleurstel, is dit skielik ‘n ander saak? Vind jy dat jy deur aaklige gevoelens van skuld en skande werk?

Jy mag sê, “Is ons nie veronderstel om sulke gevoelens te ervaar wanneer ons sondig nie?” Inderdaad, daardie gevoelens is die natuurlike gevolg van sonde. Maar as kinders van God is ons nie veronderstel om vir dae en weke te bly dink dat ons Vader vir ons kwaad is nie. As gevolg van Christus se werk aan die kruis, kan alle skuld en veroordeling vinnig opgeklaar word. Hy het dit so beskik.

Selfs nadat ons berou gehad het, mag ons voel dat ons moet opmaak vir ons mislukkings. Soos die Verlore Seun, kan die Vader ons omhels, ons wang soen, ‘n ring om ons vinger sit en ‘n kleed om ons hang. Hy vertel ons om die verlede te vergeet en om sy huis binne te kom en die feesmaal, wat Hy vir ons voorberei het, te kom geniet.

Maar van binne protesteer ons. Ons dink, “Ek kan nie ingaan nie. Ek is nie waardig nie! Ek het teen die Here gesondig. Ek moet vir Hom wys dat ek jammer is. Ek moet bedroef wees en hierdie skuld ‘n bietjie langer dra.”

Vir baie Christene is dit maklik om te glo dat God Israel se groot sondes vergewe het. Dit is nie vir ons moeilik om te aanvaar dat hy Ninevé in die Ou Testament en die sterwende misdadiger in die Nuwe Testament, vergewe het nie. Maar, snaaks genoeg, ons vind dit moeilik om dieselfde vergifnis vir onsself te aanvaar. Om een of ander rede, is dit vir ons moeilik om te begryp dat die oomblik wat ons berouvol na Hom toe gaan, aanvaar Hy ons vinnig en liefdevol asof ons nooit gesondig het nie.

Die Bybel het belowe dat dit moontlik is om die Here se goedertierenheid te verstaan.

Let op Dawid se woorde: ”Wie wys is, laat hom op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenheid van die HERE" (Psalm 107:43, kursief myne). Dawid sê hierdie Psalm bevat die sleutel om God se goedertierenheid te verstaan. Wat is die sleutel? Dit word vier keer in hierdie Psalm herhaal: “Toe het hulle die HERE aangeroep...”

Dawid het ‘n verstommende openbaring van God se genadige, vergewende hart ontvang. En hy het dit ontdek deurdat hy eenvoudig na God se vorige rekord van hoe Hy sy geliefde kinders hanteer het, gekyk het. Dawid gee aan ons die volgende verslag:

“Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag. Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hulle angste het Jy hulle gered. En hy het hulle gelei op ‘n regte pad om te gaan...Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders!" (Psalm 107:5–8).

Toe die kinders van Israel van die Here af weggedwaal het, het hulle honger, dors en verlore geraak as gevolg van hulle sonde. Wat het hulle gedoen? “Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hulle angste het Hy hulle verlos" (Psalm 107:19).

Tog, het hulle weer opstandig geword en teruggeval en selfs nog verder gesondig. Weer lees ons: “Toe het hulle die HERE aangeroep...Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak" (Psalm 107:19, 20).

Ten slotte het God se volk weer by einde van hulleself gekom. ‘n Storm het gewoed en hulle siele het versmag van swaarkry: “Toe het hulle die HERE aangeroep in hulle benoudheid, en uit hulle angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword" (Psalm 107:28, 29).

Die Here het vir Dawid die volgende in hierdie geskiedenisles geleer: “Kyk na my rekord van optrede teenoor my kinders. Hulle het My keer op keer teleurgestel. Maar toe het hulle geroep; hulle het na My uitgereik. En my hart word aangeraak deur die trane van al my kinders. Ek word meegevoer met medelye teenoor hulle wanneer hulle na  My toe terugkeer. Dit is my natuur. Ek word aangeraak deur hulle gevoel van hulle swakhede.”

Dawid het op hierdie openbaring gereageer, “Kyk hoe maklik word God se hart aangeraak. O, hoe vinnig reageer Hy op die uitroepe van sy kinders. Daar is geen einde aan sy genade nie.”

Geliefde, jy hoef nie in pyn en skande voort te gaan nie. Gaan liewer na die Here toe, roep uit en bely jou sonde. Hy is ‘n deernisvolle Vader, wat deur al jou trane aangeraak word.

‘n Tyd het gekom waarin Dawid self ‘n openbaring van God se genade nodig gehad het.

Dit is welbekend dat Koning Dawid verskriklik gesondig het deur owerspel te pleeg en dit met moord probeer toesmeer het. Verder weet ons dat Dawid vol van die Heilige Gees was en daarom hy moes aaklig gevoel het. Dawid kon net vir ‘n rukkie aangaan voor hy die aaklige dade wat hy gepleeg het, moes bely.

Die profeet Natan het hom gekonfronteer deur te sê, “Jy het oneer aan God se naam gedoen.” Dawid het dadelik berou gehad. Selfs toe hy nog geween het, het Natan hom verseker, “Jou sonde is vergewe.”

Tog, om hierdie versekering te hoor, was nie vir Dawid genoeg nie. Jy sien, dit is een ding om vergewe te wees en heeltemal ‘n ander ding om reg met die Here te wees. Dawid het geweet dat vergifnis die maklike deel was. Nou wou hy dinge met God regmaak om sy blydskap terug te kry. Daarom het hy geroep, “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie" (Psalm 51:13).

Psalm 51 was geskryf toe Dawid die genadige, lankmoedige natuur van die Here onthou het. In die inleidende vers smeek hy vir God se deernisvolle vergifnis: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.”

Dawid het geweet wat hy moes doen; Hy het geroep! “Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos" (Psalm 34:7). "Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep" (Psalm 34:16). "Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede" (Psalm 34:18).

Liewe heilige, hier is jou oorwinning oor elke stryd. Dit is om hierdie vertroue te besit: Dit maak nie saak hoe verskriklik ver jy geval het nie, jy dien ‘n God wat gereed is om te vergewe. Inderdaad, Hy is angstig om jou te herstel. Hy besit meer goedertierenheid teenoor jou as wat jy ooit sal nodig hê.

So, hier is jou wapen: Roep! Roep uit met jou hele hart soos Dawid gedoen het. Gaan na die Here en bely al jou sonde. Beroep jou op sy goedertierenheid en sê, “Here, ek weet dat U my liefhet. En ek weet dat U gereed is om my te vergewe. Ek het berou en bekeer my nou, op hierdie oomblik.”

Op die oomblik wat jy dit doen, is jy reg met God. Dit is nutteloos om te dink dat jy enigiets vir jou sonde kan betaal. God het jou so lief dat Hy sy Seun, Jesus, wat alles reeds betaal het, gegee het. Ons genadige, liefdevolle Voorspraak begeer om te help en jou te verlos: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige" (1 Johannes 2:1).

Ek onthou dat ek langs my jong kleindogter, Tiffany, gestap het terwyl sy op ‘n lae sementmuur geloop het. Ek het haar van agter vasgehou om te keer dat sy val, maar sy het probeer om my hand weg te klap. Uiteindelik het ek haar laat los en sy het omgeval, maar darem sonder dat sy seergekry het. Toe sy val, het ek haar natuurlik nie verlaat nie. Ek het nie gesê, “Kyk wat jy nou gedoen het, Jy is nie meer myne nie!” Geen liefdevolle grootouer sal dit doen nie.

Die Here het my deur daardie ervaring die volgende gewys, “David, jy het jouself toegelaat om so lief te wees vir hierdie kind. Maar soms laat jy My nie toe om jou op dieselfde manier lief te hê nie. Jy bars van trots oor jou kinders, maar soms laat jy my nie toe om trots op jou te wees nie.”

Nie lank na daardie dag nie, het ek gehoor hoe die Here ‘n liefdevolle woord tot my hart spreek. Hy het gesê, “Seun, jy seën my. Jy seën my hart!” Niemand het in my lewe al ooit iets beters vir my gesê nie. En ek het geweet dat daardie spesifieke woord waar is. Die Bybel sê dat God ‘n behae in sy kinders het.

God se liefdevolle goedertierenheid moet geniet word.

Jona was ‘n profeet wat die goedertierenheid van die Here ten volle verstaan het. Maar hy was ‘n man wat dit nie kon geniet of toepas nie. In plaas daarvan, het Jona God se goedertierenheid verander in ‘n las vir homself.

Jy sien die Nineviete was vyande van Israel. Toe het God Jona beveel om na die bose Ninevé te gaan en ‘n vinnige verwoesting aan te kondig. Maar Jona het haastig weggehardloop. Waarom? Dit was oor die goedertierenheid van die Here. Jona het aan die Here verduidelik, “Want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil" (Jona 4:2).

Met ander woorde: “God, U het my beveel om Ninevé te gaan vertel dat hulle net veertig dae oor het voor verwoesting kom. Maar ek kan nie dit doen nie, omdat ek U ken. U word maklik aangeraak. Trane en berou maak u hart sag. Ek weet wat sal gebeur. Wanneer U die Nineviete sien ween, sal U u gedagte verander. In plaas daarvan om oordeel te stuur, sal U hulle harte in beroering bring om hulle tot U te bekeer. Ek sal op die ou end soos ‘n dwaas lyk!”

Op die ou end het Jona na Ninevé toe gegaan, maar in die maag van ‘n reuse vis, wat hom op droë grond uitgespuug het. Jona het God se oordeel aan Ninevé verkondig en die mense het berou gehad. Die sonde-verharde Nineviete het geween, gevas, gerou en rouklere aangetrek en dit selfs op hulle diere gesit. Dit was een van die mees wydverspreide herlewings wat ooit in die Bybel opgeteken is.

Tog, te midde van al hierdie dinge, het Jona kwaad geword. In plaas daarvan dat hy liewer verheug was dat hulle vrygespreek was, was hy erg ontsteld omdat God Ninevé gespaar het. Kortliks, Jona het nie God se goedertierenheid geniet nie. Geliefde, as God se mense, mag ons nie waag om dieselfde fout te maak nie. Ons het nodig om Hom te dank vir sy genadige goedertierenheid teenoor ons, sy kerk, en ons nasie.

God se goedertierenheid moet verkondig word.

Ons moet God se goedertierenheid aan alle mense verkondig. Dawid het getuig, “Van u trou en u heil spreek ek. U goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie" (Psalm 40:11).

Dawid het hierdie boodskap nie net vir homself gehou nie. Hy het geweet dit was broodnodig dat ook die hele vergadering, sowel as die hele nasie en ‘n lydende wêreld dit hoor. Hy was dankbaar tot God vir so ‘n groot liefde, omdat hy deeglik bewus was van sy eie mislukkings: “My ongeregtighede het my ingehaal" (Psalm 40:13).

Dit maak nie saak hoe erg diegene rondom ons gesondig het nie, God het almal steeds lief. Dit is waarom Hy sy Seun gestuur het. En ons moet dit aan die wêreld verkondig. Kan jy saam met Dawid sê, “Ek het u goedertierenheid nie verberg ... van die groot vergadering nie”? Dit is sy begeerte vir almal van ons.

Hier is een van die mees aangehaalde en gesingde verse in die hele Woord van God: “Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys" (Psalm 63:3). Jy mag vra, “Wat beteken, ‘Sy goedertierenheid is beter as die lewe’?”

In werklikheid is die lewe kort. Dit vergaan soos gras wat daar is vir een seisoen en teen die volgende is dit weg. Tog duur God se goedertierenheid tot in ewigheid. ‘n Miljoen jaar van nou af, sal Jesus steeds so deernisvol en liefdevol wees soos wat Hy nou is. Ander kan jou lewe van jou af wegneem, maar hulle kan nie God se goedertierenheid wegneem nie.

Dink vir ‘n oomblik hieraan: God is nie vir jou kwaad oor jou mislukkings nie. As jy gereed is om jou sonde te laat vaar, kan jy nou, op hierdie oomblik, vergewe en herstel word. Die Woord sê dat niks tussen ons en ons Here kan kom nie — geen sonde, geen skuld en geen veroordelende gedagte nie. Jy kan sê, “My lewe is ‘n seën vir die Here. En ek is in staat om blydskap te hê en Hom te loof. Ek is rein, vrygespreek, vergewe, geregverdig, geheilig, verlos.”

Jy het ‘n liefdevolle, deernisvolle Vader wat vir jou omgee. Hy het elke traan wat jy al ooit gestort het in ‘n bottel opgevang. Hy sien al jou behoeftes en ken al jou gedagtes. En Hy het jou lief! As jy net kon begryp hoeveel deernis Hy teenoor jou het — hoe geduldig, besorgd, gereed om te vergewe en te seën Hy is — sou jy jouself nie kon inhou nie. Jy sal jubel en juig totdat jy geen stem meer oor het nie: “Sy goedertierenheid is beter as die lewe!” Amen.