Pasop As Jy Dink Jy Staan, Dat Jy Nie Val Nie | World Challenge

Pasop As Jy Dink Jy Staan, Dat Jy Nie Val Nie

David WilkersonNovember 23, 2015

“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korinthiërs 10:12). Wat bedoel Paulus wanneer hy sy Christen broeders waarsku, “Pasop dat jy nie val nie”? Was hy daaroor bekommerd dat hierdie gelowiges in gevaar was om terug te val in ernstige sonde van die vlees? Korinthe was immers ‘n groot handelstad vol growwe sonde. En daar het baie Christene hulle oorgegee aan vleeslike sonde voor hulle gered is.

Jesus het egter hierdie mense verlos van hulle gewoontes van wellus, hoerery en onsedelikheid. So, wat was die val waarna Paulus hier verwys het? Drie verse vroeër het Paulus die Christelike lewe met ‘n wedloop vergelyk: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal” (1 Korinthiërs 9:24). Die apostel sê in wese, “Ek moet hierdie geloofswedloop met vasberadenheid hardloop. Ek kan nie toelaat dat enigiets my diskwalifiseer nie. So, as ek hierdie wedloop na glorie wil voltooi, moet ek my vlees onderwerp. Ek moet oorwinning daaroor kry.”

Het Paulus hier oor vleeslike sondes gepraat? Het hy gesê dat hy moes dit vermy om in ‘n put van wellus te val? Nee, glad nie. Die boek Hebreërs hou die sleutel tot die tipe sonde waarna Paulus verwys. Weereens, is die konteks ‘n wedloop: “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1). Die een sonde wat die mag het om ons van die wedloop te diskwalifiseer en ons te verhoed om klaar te maak, is die sonde van ongeloof.

Paulus het van geloof in God gepraat. Hy het onderrig dat ons verlos word deur geloof, regverdig gemaak word deur geloof, geheilig word deur geloof en bewaar word deur geloof. En ons moet deur geloof lewe, geloof opeis, oorwin deur geloof en die goeie stryd stry deur geloof. Paulus het in wese gesê, “In die lig van al my prediking oor geloof, moet ek elke twyfel onder beheer bring. As ek dit nie doen nie - as ek toelaat dat hierdie een sonde onoorwonne in my lewe bly – sal ek gediskwalifiseer  word. Dink daaraan, broeders. As God Israel, sy uitverkore volk, gediskwalifiseer het weens hulle ongeloof, waarom sal Hy my en jou spaar? Dieselfde sonde kan enigiemand van die wedloop diskwalifiseer. Ons kan nie toelaat dat ongeloof onbestrede in ons lewens bly nie. Ons moet dit die laaste uitklophou gee."

Paulus neem ons terug na “ons vaders” om vir ons te wys hoe hierdie toestand van ongeloof ons kan oorval. “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders” (1 Korinthiërs 10:1). Paulus het bedoel, “Ons geestelike vaders was die Israeliete wat God uit Egipte verlos het. Dit is belangrik vir jou om te weet wat met hulle gebeur het.”

In dieselfde hoofstuk, gee Paulus besonderhede oor hoe Israel bonatuurlik gelei is deur ‘n wolkkolom wat dag en nag leiding verskaf het. Hulle is uit onmoontlike situasies gelei deur God se reddende krag, toe hulle deur die geskeide waters van die Rooisee gegaan het. Hulle was gevoed met manna uit die hemel en het vleis, wat God vanuit die lug gestuur het, geniet. En hulle het water uit die rots gedrink, ‘n fontein van lewe, wat Jesus verteenwoordig het. Paulus vertel vir ons. “Kyk hoe bevoorreg was ons vaders. Niemand het ooit met die voordele van die verbond gelewe soos hulle nie.” God het immers vir Israel alles gegee wat hulle nodig gehad het om ‘n onwrikbare geloof te bekom.

“Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn” (1 Korinthiërs 10:5). Israel was nie neergeslaan deur owerspel, hoerery, homoseksualiteit of alkohol nie. Hulle groot sonde was ongeloof. En daar is geen ander sonde wat God meer haat nie. “En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:17-19). “Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag...sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie” (Hebreërs 3:10-11). Uiteindelik, het hierdie waarskuwing gekom en Paulus se woorde aan die Korinthiërs herhaal: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose of ongelowige hart is  deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Hebreërs 3:12).

God het in wese gesê, “Ek het my mense alle voorregte gegee. Ek het vir hulle wonderwerk op wonderwerk gedoen om hulle te verlos van elke krisis wat hulle beleef het. Wanneer die volgende beproewing egter kom, dan kla hulle, ‘God, waar is U? Waarom het U ons verlaat?’” Paulus het vir die Korinthiërs gesê, “Julle het selfs groter voorregte gehad as wat daardie generasie gehad het. Aan julle is gegee ‘n Verlosser, Jesus Christus. Aan julle is selfs die Kruis, die Opstanding, die gawe van die Heilige Gees en al die beloftes van die Nuwe Verbond gegee. God het vir ons baie meer voorsien as al die wonderwerke wat Hy vir ons antieke vaders gegee het.”

Die Korinthiërs was op die hoogtepunt van hulle seëninge. Hulle het die hoogte van openbaring geniet. Net toe hulle egter gedink het hulle was in God se Woord gegrond en volwasse in sy genade en alle geestelike insig, het Paulus hulle gewaarsku, “Pasop! Julle is in gevaar om te val. Wees waaksaam, sodat julle nie soos Israel val, ten spyte van julle verligting nie.”

Hebreërs sê, “Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God...Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid [ongeloof] mag val nie” (Hebreërs 4:9,11). Die skrywer noem ongeloof hier ‘n val. Paulus sê in baie duidelike terme: “Wat van jou? Jy het selfs groter seëninge geniet wat tot geloof gelei het. As jy weier om God se Woord vir jou te glo, hoeveel te meer sal jy Hom nie versoek nie? Pasop dat jy nie in dieselfde voorbeeld van ongeloof verval as diegene wat jou vooruitgegaan het nie.”

Geen ander generasie was so geseënd deur God se getrouheid nie. In hierdie laaste dae geniet die kerk toenemende lig. Ons het die voorbeeld van nie net antieke Israel nie, maar ook van die hele Nuwe Testamentiese kerk. Ons het ‘n volledige kanon van Skrif. En ons sien ‘n oorweldigende media-versadiging van die evangelie, soos die wêreld nog nooit tevore gesien het nie. Media van allerlei soorte versprei die goeie nuus regoor die hele aarde gedurende alle ure. Ons is geheel en al sonder enige verskoning. Vandag verval menigtes van Christene egter in die verskriklike sonde van ongeloof.

Wat beteken dit om in ongeloof te verval? Dit beteken om te twyfel of God getrou aan sy Woord is. Dit is wanneer ons nie glo dat God sy beloftes sal hou om ons te verlos wanneer ons in onmoontlike situasies is nie. Dit is om te twyfel dat Hy sy waarskuwings met oordeel sal afdwing. Ongeloof beteken om toe te gee aan ‘n groeiende vrees wat sê, “Ek het gesien dat God dit vir my vantevore gedoen het. Maar kan Hy dit weer doen? Kan ek Hom vertrou om my deur te dra?”

Paulus sê Israel het God versoek deur ‘n voorwaardelike geloof te hê. “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur slange omgekom” (1 Korinthiërs 10:9). Israel het die Here versoek met hulle voorwaardelike geloof. Dit was ‘n geloof wat sê, “Here, ek sal U glo, as U net nog een wonderwerk vir my doen.”

God sou Israel verlos. En vir ‘n tydperk sou hulle Hom aanbid en sê, “Eer en heerlikheid aan God! Ek glo.” Maar elke keer as hulle weer ‘n krisis beleef het, was hulle weereens gevul met twyfel, vrees en murmurering. Hulle het God bevraagteken en het geëis, “Verlos ons nog ‘n keer, Here. Dan sal ek nooit weer ongeloof in U hê nie. Ja, ek weet wat U vir my in die verlede gedoen het. Ek kan al die wonderwerke tel, al die kere wat U my verlos het. Maar ek moet dit nog een keer sien, vir my, nou, in hierdie situasie.” Hulle ongeloof het egter nooit opgehou nie. In plaas daarvan, het hulle aangehou om die standaarde vir God hoër te stel met hulle eise.

Eenvoudig gestel, hulle het God se barmhartigheid versoek. Ek beskou dit as die mees tragiese, gevaarlikste vrug van ongeloof. As jy nie aanvaar dat God jou sonde sal oordeel nie – as jy nie glo Hy is getrou om jou oortredinge te oordeel nie – sal jy probeer kyk hoe ver jy kan gaan. Jy sal aanhou om die grense te oorskry om te sien hoe lank jy jou wellus kan geniet.

Dit is presies wat Israel gedoen het. Die oorspronklike teks sê hulle het God “versoek verby sy verdraagsaamheid.” Ons sien ‘n voorbeeld hiervan toe Israel se manne verlei is in seksuele sonde met die vroue van Moab. “Die volk [het] begin hoereer met die dogters van die Moabiete” (Númeri 25:1). Hierdie verleiding het begin met ‘n uitnodiging na ‘n maaltyd. “(Moab) het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet” (Númeri 25:2). Toe, gedurende die maaltyd, het die Moabiete stadig hulle afgode bekendgestel:  “En die [Israeliete] het... hulle neergebuig voor hulle gode” (Númeri 25:2).

Toe die Israelitiese mans die volgende oggend wakker word na ‘n nag van oorgawe aan sonde, het niks gebeur nie. Hulle het geen teken van God se oordeel gesien nie. Daarom het hulle aangehou om na Moab te gaan. Steeds het geen oordeel gekom nie. En hulle wellus het aanhou groei. Stap vir stap het hierdie manne in die swaartekrag van ongeloof geval. Uiteindelik, het hulle ongeloof hulle van alle vrees van God beroof. Hulle het nie meer gedink dat die Here sou hulle oordeel vir hulle sonde nie. So, hulle het aangehou hoereer met die Moabitiese vroue. En hulle het heeltemal afgestomp geraak teenoor God.

Wat het met hulle gebeur? “Die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam. Toe sê die HERE vir Moses: Neem al die hoofde van die volk en hang die oortreders op in die volle son vir die HERE, sodat die toorngloed van die HERE van Israel afgewend kan word. Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood wat hulle aan Baäl-Peor gekoppel het” (Númeri 25:3-5).

Selfs terwyl hierdie verskriklike oordeel plaasgevind het, het ‘n Israelitiese man onbeskaamd ‘n Moabitiese vrou in sy tent geneem “voor die oë van Moses” (Númeri 25:6). Toe ‘n goddelike man genaamd Pinehas dit gesien het, was hy woedend. Hy het ‘n spies geneem en die paartjie in die tent in gevolg waar hy hulle albei doodgemaak het. Ek vertel vir jou, dit is waarheen ongeloof ‘n mens lei. Daar is nie meer enige vrees vir God nie, selfs nie wanneer oordeel jou in die gesig staar nie. In plaas daarvan, is daar net genietinge, asof jy God uitdaag om sy oordeel te bring.

Paulus wou nie die Korinthiërs belas met ‘n aanhoudende vrees om te misluk nie. Daarom het hy vir hulle ‘n bemoedigende woord gegee wat met hierdie vers begin: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie” (1 Korinthiërs 10:13). Wat is die versoeking waarvan Paulus hier praat? In die konteks van hierdie gedeelte, is dit ‘n versoeking om ongelowig te wees. Drie verse vroeër lees ons, “En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom” (1 Korinthiërs 10:10).

Ek is oortuig dat Christene hierdie saak van murmurering en gekla deesdae te ligtelik opneem. Ons dink nie dat ons daaglikse, gebruiklike klagtes so sondig in God se ore is nie. Maar dan lees ons hierdie oortuigende belofte, “Maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat hulle dit kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). Wat ‘n heerlike belofte. Israel se versoeking om te murmureer en te kla het hulle laat val. Vandag is God se mense nie meer die huis van Moses nie, maar die huis van Christus. En Jesus is gestuur om ‘n laaste-dag oorblyfsel in God se beloofde rus in te bring.

Nou hoor ons God se laaste oproep om in sy rus in te gaan. Dit is sy laaste oproep aan mense wat ten volle op sy getrouheid vertrou. In hierdie laaste-dag huis, sal Christus nie toelaat dat Satan sy mense vernietig met ‘n gees van murmurering en gekla nie. In plaas daarvan, sal ons Here getrou vir ons ‘n uitkoms gee. Hy belowe dat ons in staat sal wees om alle versoekings te verdra, te alle tye. Hy vertel vir ons, “Ek gaan jou verlos van ongeloof. Al wat jy moet doen, is om twyfel te weerstaan en My met jou hele hart te soek. Ek het jou die krag gegee om dit te doen deur my Heilige Gees.”

Ek sê, laat elke demoon in die hel losgelaat word op die aarde. Laat die natuur sy woede uitspuug, laat vervolging kom, laat vrees die hele wêreld oorval. Deur dit alles, sal God mense hê wat sy rus binnegegaan het. Hy het ‘n uitkoms vir ons beskik teen ongeloof en sy verskriklike vrugte. Hy sê, “Luister na my Woord. Glo my beloftes aan jou. En aanvaar dat Ek my oordele sal uitvoer.”

Ek moedig jou aan: Vrees God. Vra die Heilige Gees om elke twyfel in jou dood te maak. Jy is geskep as ‘n vry morele agent. Dit beteken jy het die mag om te glo. So, kies om die Here te glo. Vertrou Hom te midde van al jou omstandighede. Jy het ‘n God wat jou deur alles sal dra in hierdie laaste dae. 

Download PDF