Die Lewe van Gee | World Challenge

Die Lewe van Gee

Gary WilkersonDecember 14, 2015

Dit was die nag van die Laaste Avondmaal, die Nagmaal, en Jesus het sy laaste gesprek met die dissipels afgesluit. Alles wat Hy daardie aand gesê het, was met die wete dat Hy op die punt was om hulle te verlaat. Daarom het hy die byeenkoms afgesluit met ‘n bemoedigende gebed oor dinge wat sou kom: ‘n kerk wat sou oorwin en triomfantlik wees, mense wie se liefde vir mekaar ‘n getuienis vir die wêreld sou wees; ‘n goddelike krag en gesag wat deur sy volgelinge sou vloei; en die heerlikheid van die Vader wat op sy mense rus. Dit was alles dinge wat Jesus deur sy Heilige Gees aan die kerk sou gee.

Dink aan wat Jesus reeds gedoen het. In drie jaar van bediening het Hy die siekes gesond gemaak, die sig van blindes herstel, die dooies opgewek, groot menigtes wonderbaarlik gevoed, die goeie nuus aan die armes verkondig en die massas die waarheid oor hulle hemelse Vader geleer. Dit is ‘n verstommende lys van prestasies van die Seun deur sy gehoorsaamheid aan die Vader se wil.

Christus maak dit duidelik dat al hierdie dinge die gevolg was van die Vader se vrygewige natuur. In sy gebed in Johannes 17, word een woord meer as enige ander gebruik: “gee.” “Vader, U het My gegee...U het hulle gegee...Ek het hulle gegee...” In die bestek van 26 verse, gebruik Jesus een of ander vorm van die woord “gee” 17 keer.

Die eerste ding wat ons in hierdie wonderlike gebed opmerk, is hoe dikwels en vrygewig die Vader gee. Dit is in sy aard om goeie gawes aan sy kinders te gee. En toe Hy sy Seun gestuur het, het hy alles gelys wat Hy vir Hom sou gee: “Ek sal Jou die krag en gesag van my Naam gee, Ek sal vir Jou die volke van die aarde gee. Ek sal vir Jou die woord gee om te spreek en die werke om te doen. En Ek sal vir Jou my heerlikheid gee.”

Op sy beurt, sien ons dat Jesus dieselfde natuur as sy Vader het. Inderdaad, sy gebed herhaal al die dinge wat Christus reeds vir sy dissipels gegee het – en die dinge van wat Hy sou aanhou gee! Hierdie gedeelte laat die kollig kragtig val op die vrygewige natuur vanuit die middelpunt van God se hart.

In ‘n sekere sin, het Jesus daardie aand vir die dissipels sy laaste wil en testament gegee. Hy het in wese gesê. “Ek vestig my koninkryk deur te gee. En hier is hoe Ek my koninkryk deur julle wil voortbou.” Die laaste ding wat Hy vir sy volgelinge gegee het voor Hy hulle verlaat het, was ‘n spesifieke roeping – die roeping om te gee.

Dit is die Vader se natuur om te gee. En soos enige kind wat in ‘n vrygewige huis grootword, het Jesus ook sy Vader se vrygewige natuur. Nou roep Jesus ons om die familienaam verder te voer deur ‘n lewe van gee.

Om dit te doen, het Christus vir ons ‘n kragtige beeld by die Nagmaal voorsien. Hy het die brood en die wyn opgelig en gesê, “Hierdie brood is my liggaam, vir julle gebreek. En hierdie beker is my bloed, vir julle uitgestort.” Let op wat Jesus dan met die brood doen: Hy seën dit, breek dit en gee dit. Deur dit te doen, demonstreer Christus vir ons hoe ‘n uitgestorte lewe lyk: Dit is geseën. En dit word weggegee. Dit is hoe dit lyk om ‘n seun of dogter van die lewende God te wees.

Dit is die sentrale verskil tussen die gemiddelde mens, wie se primêre doel is om sy eie behoeftes te vervul en iemand wat die lewe se doel gevind het en homself vir ander uitstort. In Christus is ons geroep om te verander van ‘n “lewe van ontvang” na ‘n “lewe van gee.” Jesus bemagtig vir ons hierdie verandering in die Gees deur ons wêreldse gees met sy eie goddelike Gees te vervang. Hy vertel vir ons, “Julle is deur My geseën. En nou moet julle daardie seëning weggee.”

Dit is ‘n heerlike teologie – maar dit is die moeilikste verandering wat ons ooit in die lewe sal maak. Oor die laaste paar jaar, het die topverkoper Christelike boeke gefokus op die “ontvang” kant van die lewe. Hulle sentrale tema is hoe God daarna verlang om sy kinders te seën. Ons weet dat dit waar is oor God, weens sy vrygewige natuur; Hy wil die vensters van die hemel oopmaak om sy magtige hulpbronne oor ons uit te stort. Hy wil inderdaad ons huwelik, ons gesondheid en ons finansies seën. Daarom het hierdie topverkopende boeke hulle plek en ek erken dat ek self daaruit hulp ontvang het.

Maar daar kort iets in hierdie boeke. Dit is die volgende: Daar is iets baie beter as ‘n geseënde lewe van ontvang – en dit is ‘n gebroke lewe van gee. ‘n Lewe van ontvang is maklik; ‘n lewe van gee is moeilik – en lonend.

Onthou: Hy het geseën. Hy was gebroke. Hy het weggegee. In die kerk stop hierdie proses dikwels na die eerste stap. Talle Christene kom nie verby die seën gedeelte nie. Hulle laat nie toe dat hulle lewens gebroke voor God word nie en daarom bereik hulle nooit die laaste stap van gee nie. Hulle sien dus nooit die vervulling van God se doel om ons te seën nie.

Christus begin dikwels sy bediening aan ons, asof ons kinders is wie se behoeftes vervul moet word. Dit gebeur dwarsdeur die evangelies waar Hy die blinde man se sig herstel, die vrou met bloedvloeiing genees en die honger skare voed. Hy ontmoet lydende mense net waar hulle is en gee hulle net wat hulle nodig het. Dit was genoeg rede vir mense om Hom te volg. Selfs sommige van die Fariseërs het Christus gevolg wees sy wonderwerke.

Persoonlik, was ek oortuig om Jesus te volg nadat Hy my diepste nood aangespreek het. As ‘n tiener, het ek onseker geword of God ‘n werklikheid was. Ek het geweet dat ek afgestam het van ‘n lang lyn van bedienaars, wat verskeie geslagte terugdateer het; so hoe het ek geweet my geloof was nie net ‘n indoktrinering van my ouers nie? Ek het gewonder, “As ek in Sjina gebore was, sou ek ‘n Boeddhis gewees het?” Jesus het na my gekom en in my bedroefde siel vir my gewys wat ek nodig gehad het om te weet: dat Boeddha my nie liefgehad het nie, ook nie Mohammed of Confucius nie – maar Jesus het. Hy het vir my die reine waarheid van sy liefde gewys en dit het my lewe verander.

Jesus seën ons wel in ons tyd van nood. Maar, jy sien, dit is net sy beginpunt in ons lewens. Hy neem ons van geseën wees na gebroke wees, omdat dit die enigste weg is om ons tot ware volwassenheid te bring. Die gebroke pad is hoe ons begin om sy natuur van gee aan te neem.

Laat ons dit erken, ons vlees haat die gedagte van ‘n lewe van gee, omdat dit gebrokenheid vereis. Dink aan al daardie topverkopers met die titels van seëning impliseer. Dink nou aan ‘n ander titel op die rakke, genaamd Die Lewe van Gee. Jy dink, “Ek wil ‘n gewer wees,” en daarom jy blaai deur die bladsye. Jy lees van Paulus, wat praat van skipbreuk ly, geslaan en gestenig was, omdat hy geroep was om te gee. Jy lees van die ander apostels wat vervolg was, omdat Jesus hulle geroep het tot ‘n lewe van gee. Terwyl jy verder lees, besef jy gou, “Dit gaan nie ‘n topverkoper wees nie.”

Dit was ook bewys in Jesus se tyd. Die skares het opgehou om Hom te volg toe Hy moeilike waarhede begin verkondig het (sien Johannes 6). Toe die mense omgedraai het om weg te gaan, “Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Chrstus is, die Seun van die lewende God” (Johannes 6:67-69).

Jesus se vraag plaas ons in dieselfde posisie as die dissipels: Ons moet vertrou dat Hy goed en getrou is. Jy sien, ons kan nie die agenda van ons lewens kies nie. As ons kon, sou ons almal ontvangers gewees het en nie gewers nie. Dit is waarom Jesus die agenda bepaal het. En met elke moelike rigting waarin Hy ons lei, kan ons verseker wees dat Hy dit in liefde doen.

Toe Jesus aan die dissipels verskyn het na die Opstanding, het Hy hulle een laaste les geleer. Dit het begin toe Hy Petrus gevra het of die dissipel Hom liefgehad het. Hy het hierdie vraag drie keer aan Petrus gevra en elke keer het Petrus, ja, geantwoord. Op sy beurt, het Jesus elke keer gereageer, “Laat my lammers wei,” “Pas my skape op,” “Laat my skape wei” (Johannes 21:15-17).

Die woord vir liefde wat Jesus hier gebruik, is die Griekse agape, wat dui op onselfsugtige, opofferende, onvoorwaardelike liefde. Hierdie soort liefde sê, “As jy my verag, sal Ek vir jou gee. As jy My verwerp, sal Ek steeds vir jou gee. En as jy my seermaak, sal Ek steeds aanhou om vir jou te gee.”

Toe Petrus Jesus egter geantwoord het, het hy ‘n ander soort woord vir liefde gebruik. Elke keer wat Hy sy liefde vir Christus verklaar het, het hy die woord phileo, wat dui op broederlike liefde, gebruik. Hierdie soort liefde is wedersyds – dit ontvang sowel as gee. Petrus het in wese gesê, “Soos U vir my gee, sal ek vir U gee.”

Daardie reaksie wat nie vir Jesus voldoende nie. Dit was waarom Hy elke keer vir Petrus geantwoord het, “As jy My liefhet, laat my skape wei.” Hy het in wese gesê, “My mense het hulp nodig, Petrus. Versorg hulle. Voed hulle. Gee jou lewe vir hulle.”

Jesus het Petrus aangestel vir ‘n lewe van gee. Hy het geweet die dissipel was daartoe in staat, omdat Petrus in die voorafgaande weke diep gebroke geraak het. Wat Jesus volgende vir Hom vertel het, beskryf die kruks van die lewe van gee – gebrokenheid: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jou jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie. En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My’” (Johannes 21:18-19).

Met hierdie laaste lering, het Jesus Petrus gelei van ‘n geseënde lewe na ‘n gebroke lewe van gee. Deur dit te doen, het Hy vir Petrus die sleutels van die koninkryk gegee. Wat vir Petrus voorgelê het, was pyn, angs en hartseer in die lewe van gee wat God vir hom beplan het. Soos Johannes se evangelie hier vir ons vertel, het selfs Petrus se dood God verheerlik.

Vriend, jy en ek mag moontlik nie kan doen wat ons graag wil in hierdie lewe nie. Ons mag dalk nie die beste lewe, wat al daardie topverkopers beloof, hê nie. Maar ons kan ‘n lewe hê wat die heerlikheid van ons Here se vrygewige natuur weerspiëel. Deur jou alles vir ander te gee met agape, mag jy jouself vind waar jy pynlik uitgestort word soos nagmaalwyn. Maar deur dit te doen, sal jy ander-gesentreerd, kragtig en invloedryk word – en die wêreld sal die verskil sien. Jou lewe van gee, sal God se eie heerlikheid openbaar – ‘n getuienis aan die wêreld van sy vrygewige, liefdevolle natuur. Amen!

Download PDF