Manne van 'n Ander Soort | World Challenge

Manne van 'n Ander Soort

David WilkersonJuly 21, 2003

As ek van die heldedade van die goddelike manne in die Ou Testament lees, brand my hart. Hierdie dienaars was so belas met die saak van God se naam, dat hulle kragtige werke, wat vandag die verstand van die meeste Christene verbyster, gedoen het.

Daardie heiliges van ouds, was rotsvas in hulle weiering om voort te gaan sonder ‘n woord van God. En hulle het vir dae aaneen geween en getreur oor die teruggevalle toestand van sy huis. Hulle het geweier om te eet of drink of hulle liggame te was. Hulle het bondels hare uit hulle kopvel en baard getrek. Die profeet Jeremia het selfs vir 365 dae op sy sy in die strate van Jerusalem gelê, terwyl hy heeltyd teen God se komende oordeel gewaarsku het.

Ek wonder, waar het hierdie heiliges die geestelike gesag en stamina gekry om alles te doen wat hulle gedoen het? Hulle was manne van ‘n ander soort, dienaars van ‘n totaal ander soort as dié wat ons deesdae in die kerk sien. Ek kan eenvoudig nie myself vereenselwig met hulle en hulle wandel nie. Ek weet ek is nie heeltemal van hulle soort nie. En ek ken nie ‘n enkele Christen wat is nie.

Iets hieromtrent bekommer my. Die Bybel sê hierdie manne se Ou Testamentiese werke was opgeteken as lesse vir ons: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Hulle stories is bedoel as voorbeelde, om te ons te wys hoe om God se hart aan te raak, of hoe om ‘n verdorwe mensdom tot bekering te bring.

So, was hierdie ‘n spesiale ras? Was hulle supermanne met ‘n voorafbepaalde eindbestemming en toegerus met bonatuurlike kragte onbekend aan ons geslag? Glad nie. Die Bybel verklaar onomwonde dat ons goddelike voorvaders mense net soos ek en jy was en onderwerp was aan dieselfde passies van die vlees (sien Jakobus 5:17). In werklikheid openbaar hulle voorbeelde ‘n patroon vir ons om te volg. Hierdie manne het iets besit in hulle karakters, wat veroorsaak het dat God sy hand op hulle gelê het. Dit is waarom Hy hulle gekies het om sy doelwitte te bereik. En Hy moedig ons aan om vandag daardie selfde karaktereienskap te soek.

Ek is bekommerd oor nog ‘n verskil tussen hierdie manne van ouds en die meeste Christene vandag. Ons leef in die mees goddelose tyd in die geskiedenis. Ons huidige geslag is baie maal erger as dié van Nineve of Sodom. Ons huidige geslag is meer hardnekking as antieke Israel en meer gewelddadig as in Noag se tyd. As daar ooit ‘n tyd was waarin die wêreld goddelike heiliges van vurige geloof nodig gehad het, is dit nou. En ek glo God soek vandag dieselfde soort toegewyde dienaars. Hy is op soek na mans en vroue wat daarna sal streef om sy hart te ken, om magtige dade in sy naam te doen en hele gemeenskappe na Hom terug te bring.

Dink daaraan: waarom sou God in die verlede mense laat opstaan met diepe gebrokenheid en heilige strewes en dan nalaat om dit vandag te doen? Waarom sou Hy na willekeur die mees behoeftige geslag in die geskiedenis sonder heilige stemme laat? Ons weet God het nie verander nie. Hy is gister, vandag en vir ewig dieselfde (sien Hebreërs 13:8).  Ons dien dieselfde Here as diegene in vorige geslagte. So, waar is die vurige dienaars wat vandag sy las sal dra en vir sy saak sal praat?

Wat my uiteindelik die meeste pla, is dat ons iets besit wat daardie goddelike manne van ouds nie gehad het nie. In hierdie laaste dae, het die Here die gawe van sy Heilige Gees op ons uitgestort. Daarom het ons geslag toegang tot meer volgehoue krag en hemelse gawes as ooit tevore. Kortliks, aan ons is alles gegee wat nodig is om in geloof op te staan as manne van ‘n ander soort. En God roep vir sulke dienaars om uit te stap en afgesonder te word.

Die vraag vir ons is, waarom het God hierdie spesifieke manne so magtig aangeraak en gesalf? Waarom was hierdie bedienings in staat om die bestemmings van hele nasies te verander? Die Bybel openbaar hoe hierdie “manne van ‘n ander soort” so in vervoering geraak het met die Here en sy saak. En dit wys hoe hulle pad geloop kan word deur enige dienaar van God.

Die Skrif sê Esra was ‘n man wat God se hand op hom gehad het. Esra getuig, “Toe het ek moed geskep, omdat die hand van die HERE my God oor my was” (Esra 7:28). Met ander woorde, God het sy hand uitgestrek, Esra omring en hom in ‘n ander man verander.

Waarom sou God dit met Esra doen? Daar was honderde skrifgeleerdes in Israel op daardie tydstip. Hulle het almal dieselfde roeping gehad om God se Woord te bestudeer en dit aan die mense te verduidelik.  Wat het Esra onderskei van al die ander? Wat het veroorsaak dat die Here sy hand op hierdie enkele man gelê het en hom aangestel het oor 50,000 mense om die bouvallige stad van Jerusalem te herbou?

Die Skrif gee ons die antwoord: “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag” (Esra 7:10). Dit is eenvoudig: Esra het ‘n doelbewuste besluit geneem. Hy was vasbeslote om bo alles God se Woord te soek en te gehoorsaam. En hy het nie van daardie besluit af weggegaan nie. Hy het vir homself gesê, “Ek gaan ‘n student van die Woord wees. En ek gaan reageer en optree op alles wat ek lees.”

Esra het nie een of ander bonatuurlike belewenis gehad wat hom ‘n liefde vir die Skrif gegee het nie. Hy was nie deur God se Gees in die nag in beroering gebring en die volgende vertel nie, “Jy gaan 50,000 tot bekering lei en my werk doen. En om dit te doen, gaan jy krag, dapperheid, reinheid en geestelike gesag nodig hê. Dit kom egter slegs deur my Woord te ken en te gehoorsaam. So, om my plan vir jou te vervul, gaan Ek jou toerus met ‘n liefde vir die Skrif. Môre sal jy opstaan met ‘n groeiende honger om my Woord te bestudeer en te gehoorsaam.”

Dit is glad nie hoe dit gebeur het nie. Lank voor die Here sy hand op Esra gelê het, was hierdie man ywerig om die Skrifte te ondersoek. Hy het toegelaat dat hy self daardeur ondersoek is, gewas is, en gereinig is van alle vuilheid van die liggaam en gees. Die gevolg was dat God in Esra ‘n man, wat versadig was met sy Woord, gesien het. Esra het gehonger na die Skrif en het homself daarin verheug. Kortliks, hy het toegelaat dat dit sy hart voorberei vir enige werk wat God vir hom gekies het. Dit is waarom die Here sy hand op Esra gelê het en hom gesalf het.

Ja, God se salwing is bonatuurlik. Maar hy lê slegs sy hand op diegene wat heeltemal oorgee is om sy Woord te ken en te gehoorsaam. Dit is waar alle salwing begin. Niemand kan God se aanraking in sy lewe verwag as hy nie passievol oor die Skrif is nie.

Soos Esra, was Dawid ‘n “man van ‘n ander soort” wat die loop van sy nasie verander het. En, soos Esra, het Dawid sy hart versadig met God se Woord. Hy het Psalm 119 geskryf, wat 176 verse bevat, wat amper elkeen die heerlikheid van God se Woord verhef: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie...Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie...Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag...U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad...U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief” (Psalm 119:11,16,97,105,140).

“Toe het ek daar ‘n vastyd uitgeroep...om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom ‘n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed” (Esra 8:21).

Op hierdie stadium, het Esra die gemeente teruggelei na Jerusalem. Die reis sou gevaarlik wees, vol rowers, diewe en moordenaars. Daarom het die koning van Persië aangebied om ‘n burgermag saam met hulle te stuur. Maar Esra wou nie die aanbod aanvaar nie. In plaas daarvan, het hy voor die koning getuig, “Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat” (Esra 8:22).

Esra se reaksie wys vir ons verskeie dinge oor die gedagtegang van ‘n “man van ‘n ander soort.” Eerstens, Esra het weer bevestig dat God se hand nie net op ‘n bestemde paar is nie. Die Here verleen sy aanraking aan almal wat vasbeslote is om Hom te soek: “Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek” (kursief myne).

Tweedens, Esra vertel die koning, “(God se) toorn oor almal wat Hom verlaat.” Hy het in wese gesê, “Dankie vir u aanbod, koning, maar ons dien ‘n magtige God. Hy is in staat om ons te bewaar deur alle aspekte van die werk waarvoor Hy ons geroep het om te volbring.” Esra het so sterk daaroor gevoel, dat die Skrif sê Hy was eintlik “skaam om van die koning ‘n leër en perderuiters te vra om ons te help teen die vyande op die pad” (Esra 8:22).

Uiteindelik het Esra die mense geroep om ‘n vas te onderhou. Dit beteken hy was nie bloot besig om die mense te vertel om God se beloftes deur geloof te aanvaar nie. Hy het nie net die volgende gesê nie, “Ons moet op God se Woord staan dat Hy ons sal beskerm. In die tussentyd moet ons voortgaan.”

Nee, volgens Esra, was daar iets meer om te doen. Hy het in wese gesê, “Ja, ons glo God se Woord vir ons. Maar nou moet ons vas en bid totdat ons sy Woord in vervulling sien. En ons sal nie ‘n tree verder gaan voor dit gebeur nie.” So, die Skrif sê, “So het ons dan gevas en onse God dit gevra, en Hy het ons verhoor...En die hand van onse God was oor ons, sodat Hy ons gered het uit die hand van die vyand en die wat ons voorlê op die pad” (Esra 8:23,31).

Hierdie selfde karaktereienskap word regdeur die Ou Testament gevind. Moses, Josua, die ouderlinge en profete het almal gevas en gebid. Hulle het nie net goedsmoeds God se Woord in geloof aanvaar nie. Hulle het in geloof daarop opgetree. En dit beteken nie net om lukraak voort te gaan nie, maar om eers te vas en te bid, in uiterste vertroue om God se Woord volbring te sien.

Hierdie selfde Bybelse patroon is bedoel vir ons vandag. Die Heilsleer is met biddende vas gestig deur Generaal Booth. Net so, is ons eie Teen Challenge bediening gebore oor die veertig jaar gelede deur gebed en vas. Dieselfde is waar van talle bedienings wat steeds floreer tot op hierdie dag. Die Here roep diegene wat hulle harte op God se saak instel tot gebed en vas.

Esra en diegene van sy soort het gehuil en gejubel onder die hand van God. Tog, hoe het hierdie toegewyde manne in hierdie toestand beland? Hoe het hulle gekom om God se gebroke hart oor die sonde van hulle geslag te deel?

Ons vind die antwoord in Esra se bediening. Toe die mense in Jerusalem aangekom het, was Esra deur God gebruik om ‘n deeglike, verreikende bekering teweeg te bring. “En Esra het die HERE, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! Met opheffing van hulle hande” (Nehemía 8:7).

Esra het toe God se Woord vir die mense gelees. En “die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor” (Nehemía 8:10). So vinnig soos wat die mense egter hulle bekeer het, het Esra hulle beveel om hulle te verbly. “Verder het hy vir die hulle gesê...Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap van die HERE – dit is julle beskutting” (Nehemía 8:10-11). So “Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink en porsies te stuur en groot vreugde te bedrywe, want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is” (Nehemía 8:13).

Ek vra jou, waarom was daar blydskap? Dit was omdat een man reeds die las opgeneem het om God se bedroefde hart oor die mense se sonde te deel. Esra het reeds geweet van hulle oortredinge, hoe hulle met heidene gemeng het en hulle gruwels verdra het. Wat was Esra se reaksie hierop?

“En toe ek dit hoor, het ek my kleed en my mantel geskeur en van die hare van my hoof en my baard uitgepluk en verslae neergesit...[en] het ek op my knieë my gebuig en my hande uitgebrei na die HERE my God en gesê: My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te tel, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog...want niemand kan om sulke dinge voor u aangesig bestaan nie” (Esra 9:3,5-6,15).

Esra was tot in sy wese geskud toe hy die diepte van die volk se sonde gesien het. Hoe het hy egter geweet hoe diep hulle God hartseer gemaak het? Dit was omdat Esra ‘n duidelike visioen van God se toorn gehad het. Die Woord van God was ‘n hamer vir sy siel en het veroorsaak dat hy ween, “Ek is skaam, weens ons sonde, moet ek bloos voor u aangesig.” Niemand kan die soort gebrokenheid wat Esra ervaar het verduidelik nie, tensy hy deur God se woord gehamer is.

Dieselfde is waar vir elke liefhebber van Jesus vandag. As ons versadig is met sy Woord, dan ken ons persoonlik die effek van hierdie gehamer. Dit kap en breek elke rots van trots en verontreiniging in ons af. En ons harte word uiteindelik gebroke oor hoe ons sonde Hom verwond het. “Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die Here, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie” (Jeremia 23:29). Dan kom ware vreugde.

Ons vind dat dieselfde Bybelse patrone waar is in Jeremia se lewe. Hierdie man het ook sy hart daarop ingestel om die Here te soek, en die Woord van God het na hom gekom. Oor en oor lees ons van die profeet, “Die woord van die HERE het tot Jeremia gekom.”

Baie kommentators noem Jeremia die huilende profeet en dit is sekerlik waar van hom. Maar hierdie man het ook vir ons die gelukkigste, mees prysenswaardige evangelie in die hele Ou Testament gebring. Hy het immers die koms van die Nuwe Testament voorspel: “En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie” (Jeremia 32:40). “En Ek sal die siel van die priesters verkwik met vettigheid, en my volk sal versadig word met my seëninge, spreek die HERE” (Jeremia 31:14). “En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtighede” (Jeremia 33:8).

Dit was nou goeie nuus. Die Nuwe Testament is vol barmhartigheid, genade, blydskap, vrede en goedheid. Maar, jy sien, daar is ‘n persoonlike geskiedenis agter elkeen van Jeremia se woorde hier. En daardie geskiedenis sluit ‘n gebrokenheid ver bokant die vermoë van ‘n menslike wese in.

Jeremia het geskryf, “o My ingewande, ek moet bewe van angs! o Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu” (Jeremia 4:19). “Ag, was my hoof maar water en my oog ‘n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my volk” (Jeremia 9:1).

Jeremia het geween met heilige trane, wat nie sy eie was nie. Inderdaad, hierdie profeet het werklik God hoor spreek oor sy eie geween en gebroke hart. Eerstens het die Here Jeremia gewaarsku dat hy oordeel oor Israel sou bring. Toe het Hy aan die profeet vertel, “Ek sal geweeg en geklaag aanhef oor die berge en ‘n klaaglied oor die weivelde van die woestyn” (Jeremia 9:10). Die Griekse woord vir klaaglied hier, beteken ween. God self het geween oor die oordeel wat oor sy mense sou kom.

Toe Jeremia dit gehoor het, het hy die las van God se geween oor sy mense gedeel. Ek het ook goddelike gelowiges geken wat hierdie las opgeneem het. Suster Basilea Schlink, die stigter van die Lutheraanse Evangeliese Susterskap van Maria in Duitsland, was  ‘n toegewyde dienaar van Christus. Ons het oor die jare vriende geword en hierdie toegewyde vrou het gelyk of sy eerstehands God se hart se las van geween, geken het.

Dikwels as ek die susters se bedieningsentrum besoek het, het ek die kapel binnegegaan en hulle wenend daar gekry. Hulle het getreur oor baie dinge, insluitende hulle nasie se rol in Hitler se slagting van die Jode. Hulle het vir ure geween oor sulke oortredings. Eers kon ek nie verstaan waarom gelowiges kon kies om vir ure aaneen te ween nie. Toe het ek van Suster Basilea die diepte van verwondheid wat God oor ons sondes voel, begin verstaan. Haar baie geskrifte is ‘n roerende uitdrukking van daardie dieptes.

Ek het ook iets van hierdie wenende las van die Here gevoel tydens ‘n onlangse preekreis na die Britse Eilande. Terwyl ek oor die vervalle toestand van die kerk gepraat het, het ‘n Britse verslaggewer my gevra, “Het jy niks goeds om te sê oor godsdiens nie?”

Sy vraag het my laat dink aan die verskriklike toestande waarin soveel jongmense daar verkeer. Hulle leef op die strate en gaan op ‘n dronk gefuif en bedelm hulleself van hulle verstand af. In die tussentyd, is die Kerk van Engeland besig om kerk vir kerk se deure te sluit nadat dit vir jare oop was vir aanbidding.

Toe ek by Westminster Chapel, die kerk van die groot prediker E. Stanley Jones, gepraat het, was die kerk vol tot op die balkonne. Hulle was honger om iets te hoor, enigiets, wat van hoop in God gepraat het. Toe ek hulle aan die einde die uitnodiging gee, het hulle na die gebedskamers gestroom en geween en getreur oor hulle gebroke, hopelose lewens. Een agtienjarige meisies met glasige oë het in die ry vir gebed gestaan. Sy het my vertel, “Mnr. Wilkerson, ek kan nie huil nie. Die kerk het my geloof weggevat. Ek voel nou niks nie.”

In hierdie toneel en baie ander soortgelykes, was ek oorweldig deur ‘n gebrokenheid wat verder gestrek het as my eie bedroefde hart. Dit was die geween van God se hart wat my vertel het, “David, as ek ooit profete nodig sou hê wat sal ween oor my huis, is dit hier en nou.”

So, wat gebeur wanneer ons God se las van geween deel? Die Here deel op sy beurt sy hart en gedagtes met ons. Jeremia het hiervan getuig. Aan hom was onderskeidende kennis gegee van sy tye, wat hom instaat gestel het om te sien wat aan die kom was. “Want die HERE van die leërskare wat jou geplant het, het die onheil teen jou gespreek...en die HERE het my dit te kenne gegee, sodat ek dit weet. Toe het U my hulle handelinge laat sien” (Jeremia 11:17-18).

Enige gebroke, Woord-versadigde heilige sal ‘n onderskeidende gevoel gegee word van die tye. Trouens, talle in die kerk was nie verbaas oor die aanvalle van 11 September 2001 nie. Vir maande voor die ramp, het Times Square Church gebedsdienste gehou waar geween uitgebreek het, sonder die wete waar die oordeel vandaan sou kom. Maar ons was daarvan bewus gemaak dat oordeel aan die kom was. Net so, glo ek, het elke goddelike bedienaar wat die treurende hart van God ken, ook ‘n bewustheid van die dreigende oordeel.

Daniël was ook ‘n “man van ‘n ander soort” wat gepraat het van gebroke te wees: “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen” (Daniël 9:3-4). Op sy beurt, was hy in staat om die tye te onderskei, omdat hy God se hart geken het. “Ek, Daniël, [het] in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het” (Daniël 9:2). Dit was immers Daniël wat die visioen geïnterpreteer het van die steen wat losgekom het van die berg om al die koninkryke van die wêreld te vernietig.

Hoe het Daniël by hierdie pad van gebrokenheid, kennis en onderskeiding gekom? Dit het begin met sy studie van God se Woord. Daniël het toegelaat dat die Skrifte ten volle van hom besit geneem het. En hy het dit dikwels en breedvoerig aangehaal, omdat hy dit in sy hart bewaar het: “Soos in die wet van Moses geskrywe is...” (Daniël 9:13).

In hoofstuk 10 is hierdie goddelike profeet ‘n visioen van Christus gegee. “Het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ‘n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas...en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur...en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ‘n menigte” (Daniël 10:5-6).

Daar was egter ander manne saam met Daniël toe hy die visioen gesien het. En hierdie manne moes gelowiges gewees het. In sy ballingskap, het Daniël vir homself ‘n standaard gestel om nie met die goddeloses te assosieer nie. Tog was hierdie gelowiges wat saam met hom was, nie “manne van ‘n ander soort,” soos Daniël nie. So, toe die visioen gekom het, het daardie manne gevlug. “En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het ‘n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg” (Daniël 10:7).

God se heilige teenwoordigheid het hierdie manne laat spaander van vrees. En ons weet dat slegs harte vol van verborge sondes, kan so ‘n vrees in die Here se teenwoordigheid veroorsaak.

Dit bring my by ‘n laaste woord oor die kwessie van om ‘n gelowige van “’n ander soort te wees.” Die laaste ruk dink ek baie aan die dag wanneer ons almal voor die Here sal verskyn by die oordeel.  Soos ons, het Jesus op die aarde gewandel, met ander mense gepraat en was aangeraak deur alle menslike gevoelens. En as elkeen van ons voor Hom verskyn, sal ons onmiddellik of ‘n tevrede glinster in sy oog sien, of ‘n hartseer kyk.

Ek dink aan Samuel se woorde aan Saul: “Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God  wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die HERE het vir Hom ‘n man na sy hart gesoek” (1 Samuel 13:13-14).

Saul sal daardie dag saam met ons daar wees. Ek wonder wat die Here dan vir hom sal sê. Sal dit iets soos die volgende wees?

“Saul, laat My toe om vir jou te wys wat ek vir jou in gedagte gehad het. Jy sou ‘n liefdevolle vader vir Dawid gewees het. En die nasie oor wie jy geheers het, sou op hulle knieë in nederigheid voor My gewees het. Jy sou vir Israel die respek van die omliggende nasies afgedwing het. En my volk sou vrede soos ‘n rivier geniet het. Ek sou jou eer en ‘n naam, wat die seël van God op gehad het, gegee het.

“Maar dit het alles anders uitgedraai. Jy het my planne vir jou in die wiele gery, omdat jy nie my Woord ernstig opgeneem het nie. In plaas daarvan, het jy toegelaat dat jaloesie, bitterheid en onvergifnis jou van alles beroof het. Saul, kyk na wat jy verloor het.”

Ek vrees die gedagte daaraan dat Christus vir my daardie woorde sê: “David, kyk na wat jy kon gewees het. Kyk na die reservoirs van goddelike seëninge wat jy gemis het, omdat jy in trots gewandel het. Jou bediening was maar net ‘n skadu van wat Ek vir jou beplan het. Ja, Ek het jou vergewe en verlos, maar jy het ver onder my begeertes vir jou geleef.”

Liewe heilige, ons leef huidiglik in lewe-en-dood tye. En dit is tyd om te kies tussen die pad na geestelike lewe en gehoorsaamheid, of die pad van geestelike dood en skynheiligheid. Beskou die woorde van Moses: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, sodat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronómium 30:19).

Ek moedig jou aan, plaas jou hart vandag daarop om God te soek met alle ywer en vasbeslotenheid. Gaan dan na sy Woord met toenemende liefde en begeerte. Bid en vas vir gebrokenheid om sy las te ontvang. Laastens, bely en laat staan alles wat die Heilige Gees verhinder om die hemelse seëninge vir jou oop te maak. Die pad van “manne van ‘n ander soort” is oop vir almal. Sal jy daarin wandel?”

Download PDF