Elke Gelowige Is Geroep na die Nasies

In Amerika sien ek groot kerke vol goddelike, liefdevolle mense. Ek verheug my daarin dat die Here sy mense hier ontsaglik geseën het. In talle gemeentes, is die teenwoordigheid van Jesus ontsagwekkend – die aanbidding is heerlik en die altare is gereeld gevul met honger mense wat hulle bekeer. Maar Amerikaanse Christene moet iets deeglik besef. As ons gaan aanhou om seëninge slegs in te drink en na te laat om dit uit te gee, sal ons dieselfde beleef wat met die kerk in Jerusalem gebeur het.

Na die seën van Pinkster, het die gelowiges daar gemaklik geword in hulle gemeenskap. Die Skrif sê dat hulle van huis tot huis gegaan het en saam geëet het en van hulle belewenisse getuig het. Wat het toe gebeur? Die Here het vervolging gestuur en daardie heerlike, Geesgevulde kerk was skielik uitmekaargejaag. Op ou end het die mense na die nasies gegaan en Christus verkondig, dissipels gemaak en ander kerke gevestig.

God sal nie toelaat dat sy geseënde kinders blote “preekproewers” word nie. Hy sal nie toelaat dat ons vet word van sy seëninge, terwyl ander oor die wêreld van die honger sterf nie. Hy weet ons sal geestelik doodgaan as ons nie sy sendingvisie vir ‘n verlore wêreld ontvang nie. En Hy het maniere om ons op te wek en wakker te skud.

Ek dank God vir al die sendingaktiwiteite wat in sy kerk plaasvind. Maar die Here het soveel meer op sy hart oor hierdie onderwerp. Sy doel is dat elke lid van sy liggaam ‘n sendeling sal word – en dit sluit jou in. Ons is almal geroep om na die nasies te gaan. Laat my verduidelik wat ek bedoel.

Jesus het gesê, “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle...en leer hulle” (Matthéüs 28:19).

Christus se bevel is hier uitgespreek vir almal van ons, sonder uitsondering. Jy en ek en elke ander Christen moet na die nasies gaan met die evangelie. Jy mag vra, “Is dit realisties? Is ek veronderstel om my werk te bedank, my loopbaan te beëindig en my familie te ontwortel? Vertel God eintlik vir my om my geliefdes te neem en op te pak en hulle na ‘n ander land te neem?

Nie almal kan fisies gaan nie. Ek sal verduidelik hoe talle Christene moet “gaan” sonder die plek waar hulle nou is te verlaat. Maar laat my eers uitwys dat sommige gelowiges letterlik na ander nasies moet gaan. Dit sluit baie mans en vroue in wat enkellopend is, soos die apostel Paulus, wat enkellopende mans soos Timótheüs en Titus saam met hom geneem het. God vaardig hierdie roeping ook uit op sekere getroude paartjies. Dit maak nie saak hoe gewortel en gevestig ‘n paartjie mag wees nie, die Here begin op ‘n bonatuurlike manier ‘n ontwortelingsproses in hulle harte. Hy gee hulle sy visie vir die verlorenes en sy roepstem in hulle harte is so sterk dat niks hulle sal kan keer om uiteindelik te gaan nie.

Dr. Smith is ‘n vriend van my. Nou, in sy sewentigs, het hy sy mediese praktyk bedank, sy huis verkoop en dien as ‘n mediese sendeling vir ons bediening. Hy en sy vrou het hulleself daartoe verbind om hulle lewens vir die siekes en behoeftiges te gee en na enige plek te gaan waarheen ons hulle ook al mag stuur. Hulle het in Mosambiek bedien en ook in weeshuise in Romenië.

Delores, ‘n wonderlike, ouer Christen vrou van ons kerk, het na Suid-Afrika gegaan. Sy het haarself toegewy om daar met VIGS baba’s te werk. Na ‘n ruk het sy ons laat weet dat sy nie wil terugkom nie. Sy wil voortgaan om Jesus te bedien aan kinders wat ly.

‘n Ouderling in ons kerk genaamd Sam bedien in Kosovo. Sam het ‘n gawe om jongmense te bereik. Oral waar hy gaan, drom hulle om hom saam asof hy hulle pa is. Ons almal ervaar dat die Here ‘n roeping op Sam se lewe geplaas het. Hierdie kosbare man weet hy sal nêrens gelukkig wees behalwe daar waar God hom plaas nie.

Wees verseker, God soek vrywilligers. Hy sal nie ons lewenstyle onderbreek as ons nie wil hê Hy moet nie. Vir sy roeping om gehoor te word, moet ons ‘n oop hart hê wat sê, “Here, dankie vir al die seëning wat U vir my gegee het. Laat my nou ‘n gewer van daardie seëning wees.”

Jy hoef nie ‘n aangestelde bedienaar te wees om na die nasies te gaan nie en jy hoef nie ‘n Bybelleraar te wees nie. In werklikheid, deure in sommige nasies maak toe vir tradisionele sendelinge, evangeliste en predikers. Maar terselftertyd, is deure wawyd oop regoor die wêreld vir dokters, onderwysers, Engelse-taal instrukteurs, besigheidsmense, studente – enigeen wat eenvoudig kan gaan. Jy het nie nodig om ‘n professionele vaardigheid te hê nie – al wat jy nodig het, is om op ‘n roeping te reageer. Jou woonstel in ‘n ander nasie kan dien as ‘n tydelike kerk, maak nie saak hoe eenvoudig of klein dit is nie. God kan jou gebruik om ‘n leërskare van inheemse werkers, pastore, leraars en evangeliste op te rig en op te lei.

En jy het nie geld nodig nie. Dink aan wat Petrus en Johannes vir die bedelaar gesê het: “Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop” (Handelinge 3:6). Die bedelaar het die grootste seën van alles ontvang – Christus self – omdat Petrus en Johannes op die roeping om te bedien gereageer het.

Die Here het ander maniere beskik vir Christene om uitgestuur te word.

Na my mening, is dit hoe die meerderheid Christene die sendingveld sal bereik. Een van hierdie maniere – miskien die mees effektiewe manier – is om ‘n nasie as jou eie aan te neem. Dit beteken om jouself daartoe te verbind om vir ‘n sekere land te bid. Dit vereis dat jy kennis oor die mense in daardie land sal inwin en vir die Christen oorblyfsel daar sal bid. Jy kan ‘n onbereikte volk aanraak terwyl jy op jou knieë is. Inderdaad, jou binnekamer mag die hoofkwartier van ‘n beweging van God se Gees oor ‘n hele nasie word.

Ek dink aan Abraham se voorbeeld. Hy het gebid oor die goddelose, bose Sodom. Die Here het hom geantwoord, “As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad, dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil” (Génesis 18:26). Toe Abraham dit gehoor het, het hy met die Here begin onderhandel. Uiteindelik het God Abraham geantwoord, “Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie” (Génesis 18:32). God het ‘n bose nasie gespaar ter wille van ‘n biddende oorblyfsel. Hy is gewillig om hele samelewings te spaar as Hy ‘n groepie regverdige mense onder hulle kan vind.

Waarom is hierdie saak van gebed so belangrik? Laat my jou vertel: Ons weet van twee bekeerde Moslem seuns in Masedonië wat beplan om daar ‘n Bybelskool oop te maak. Meer as enigiets anders, wil hierdie jongmanne die evangelie aan hulle landsgenote verkondig – en dit gebeur alles as gevolg van gebed. Ek glo daar is nie ‘n sendeling êrens op die aarde wat nie in die veld in gebid was deur iemand wat op ‘n ander plek gebid het nie. Dit is die werk van elke gelowige wat nie fisies na die nasies kan gaan nie. Ons is veronderstel om ‘n ondersteunende liggaam van bidders te wees. Ons moet die Here se las van gebed vir sendelinge en korttermyn werkers opneem, sowel as vir die verlore nasies van die wêreld.

En ons moet diegene bystaan wat hulleself gegee het om na die nasies te gaan. Toe Paulus oor sy reise geskryf het, het hy nie slegs vir Timótheüs en Titus as sy helpers genoem nie, maar ook Lídia en ander kosbare vroue wat hom bygestaan het. Hulle was toegewyde dienaars wie se bystand gehelp het om hele nasies met die evangelie aan te raak.

Toe Jesus na die einde van tyd gekyk het, het Hy ‘n verskriklike probleem uitgewys.

Christus het sy dissipels vertel, “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min” (Matthéüs 9:37). As ek hierdie woorde lees, dan wonder ek: Wat is die oplossing? Hoe kan meer werkers opgerig word om na die nasies te gaan? Jesus gee ons die antwoord in die volgende vers: Iemand moet hierdie werkers in die oes in bid. “Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Matthéüs 9:38).

Dit maak nie saak hoe geslote sommige nasies vir ons oë mag lyk nie. As God die Ystergordyn in Oos Europa en die Bamboesgordyn in Asië kon afbreek, is daar niks wat Hom kan keer om te werk waar Hy ook al wil nie. Die Heilige Gees sal enigiets doen wat Hy wil, enige plek op die aarde, deur enigeen wat Hy uitkies.

In die 1980’s toe ons bediening se hoofkwartier in Texas was, het ek ‘n jaar lank gebid dat God iemand na New York Stad sou stuur om ‘n kerk in Times Square op te rig. Ek het belowe om enigeen wat God gekies het, te help – om geld in te samel, byeenkomste te hou en ondersteuning op te bou. Terwyl ek egter tot God gebid het om ‘n arbeider in hierdie spesifieke oes in te stuur, het die Here die las op my geplaas.

Selfs die apostel Paulus was as sendeling uitgestuur deur die krag van gebed. Dit het in Antiochië gebeur waar sekere profete en leraars gebid het oor die oes: “En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. So het hulle dan deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúsië en daarvandaan weggevaar na Ciprus. En toe hulle in Sálamis kom...en hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos” (Handelinge 13:2, 4-6).

Paulus se eerste sendingreis het voortgespruit uit ‘n eenvoudige gebedsbyeenkoms. Dit was die direkte gevolge van goddelike mense, wat Jesus se woorde gehoorsaam het om tot God te bid om arbeiders in die oes in te stuur. Inderdaad, hierdie gedeelte wys vir ons presies hoe sendelinge opgewek en gestuur word: Hulle word geroep en aangestel deur gebed.

Dieselfde is waar vandag. Ons lewens moet daaroor gaan om vir die oes te bid, net soos daardie goddelike dienaars in Antiochië het. En terwyl ons bid, deursoek die Heilige Gees die aarde en plaas ‘n dringendheid in die harte van diegene wat begeer om deur die Here gebruik te word. Hy raak mense orals aan en sonder hulle af vir sy diens.

In Matthéüs 8 het ‘n hoofman oor honderd na Jesus gekom om genesing vir sy sterwende dienskneg te vind. Christus het die hoofman oor honderd geantwoord, “Gaan en laat dit vir jou wees soos jy geglo het. En sy kneg het gesond geword in daardie uur” (Matthéüs 8:13). Ek glo dieselfde ding gebeur met almal wat vir die oes bid. Terwyl ons God vra om arbeiders uit te stuur, raak die Heilige Gees iemand êrens aan. Dit kan op ‘n ander plek in die wêreld gebeur – Sjina, Rusland, Afrika, enige plek. Dit maak nie saak waar dit plaasvind nie; ons gebede word gebruik om arbeiders in die oes in te stuur.

Jy mag wonder. Het God sekere Christene gekies om na spesifieke plekke te gaan? Ja, absoluut. Beskou Petrus se voorbeeld. Na Pinkster, was hierdie apostel in Joppe waar hy ‘n leerlooier genaamd Simon besoek het. Terwyl hy daar was, het hy deur gebed homself beskikbaar gemaak vir die Here. Die Skrif vertel vir ons, “En hy het ‘n geruime tyd in Joppe gebly” (Handelinge 9:43). Wat het Petrus in Joppe gedoen? Hy het op die Here gewag, terwyl hy homself bereid verklaar het vir enige opdrag. Op een stadium was Petrus gebruik om ‘n goddelike vrou uit die dood op te wek. Toe ons weer vir Petrus sien, was hy op Simon se dak, diep in gebed. Hy het die Here gesoek oor sy volgende opdrag.

Terwyl Petrus steeds gebid het, het ‘n groep mans voor Simon se deur opgedaag. Hulle het vir Petrus die volgende vertel: “Cornelius, ‘n hoofman oor honderd, ‘n regverdige en godvresende man, wat ‘n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ‘n goddelike openbaring ontvang deur ‘n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê” (Handelinge 10:22). Met ander woorde: Cornelius het ons gestuur om jou te kom vra om na sy huis te kom. Hy verlang dat jy ons in God se Woord onderrig.”

Jy ken die res van die storie. Petrus het na Cornelius se huis gegaan en die goeie nuus van Jesus aan hulle meegedeel. So het God sy werk begin om die heidense wêreld met die evangelie te bereik.

Weerstaan jy ‘n roeping? Dit is nooit te laat om na die nasies te gaan nie. As jy oop is om gestuur te word en jy ywerig is in gebed daaroor, sal God elke deur oopmaak. Hy sal jou presies plaas waar Hy jou wil hê. En Hy sal mense wat Jesus nodig het in jou lewe inbring. Jy sal opdrag na opdrag gegee word. Dan sal jy vind jou lewe word vervul soos nog nooit tevore nie.