Aanskou die Teerheid van Jesus

Ek het eenkeer ‘n begrafnis behartig vir ‘n jong man van ons kerk wat weens kanker gesterf het. Toe ek vir die diens opdaag, het ek gehoor dat die jong man se moeder die enigste oorlewende lid van die familie was. Haar man het drie jaar tevore gesterf en haar twee ander seuns was ook al oorlede. Dit was die vierde begrafnis van haar gesin wat sy moes bywoon en haar derde seun wat sy moes begrawe.

Ek het ‘n boodskap vir daardie diens voorberei, maar toe ek die moeder voor my sien sit, gebroke, vol pyn en smart, kon ek dit nie preek nie. In plaas daarvan, het ek begin bid dat die tere liefde van Jesus haar sou toevou. Later het ek vir omtrent vyftien minute gepraat en die Gees van God het deur my gevloei met ‘n stil, kalm teerheid teenoor daardie moeder en haar vriende. Ek het ‘n ware gevoel gehad dat Jesus haar diepe hartseer en groot smart gesien het om vier van haar geliefdes te moes begrawe terwyl sy alleen agter gebly het. Ek het in my hart geweet dat Christus wou hê dat sy Hom in daardie uur moes ken as ‘n tere, liefdevolle Verlosser wat vir haar omgee.

Toe ek ná daardie begrafnis by die huis gekom het, het die Heilige Gees my na Jesaja 42 gelei. Die profeet Jesaja was deur die Heilige Gees gelei om ‘n openbaring te gee oor die eienskappe van die Messias wanneer Hy sou kom. Die openingswoord, “Kyk,” wat beteken, “Maak gereed vir ‘n nuwe openbaring,” vertel ons om onsself gereed te maak vir ‘n nuwe beeld van die Messias wat sou kom.

Ons vind die vervulling van Jesaja se profesie in Matthéüs 12. Jesus het uitgevind dat die Fariseërs beraadslaag en beplan het om Hom dood te maak. Hoe het Hy gereageer? “Toe Jesus dit bemerk, het Hy daarvandaan weggegaan” (Matthéüs 12:15). Jesus kon ‘n legioen engele afgeroep het om Hom te beskerm of Hy kon vuur uit die hemel laat neerdaal het om sy vyande te vernietig. In plaas daarvan, het Jesus net van hulle af weggegaan en aangehou om die desperate mense te bedien.

Matthéüs sê dit was die vervulling van Jesaja se profesie: “Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie” (Matthéüs 12:19).

Die kern van Jesaja se profesie sê: “Die Messias kom nie om enigiemand in sy koninkryk in te forseer nie. Hy kom nie as ‘n luidrugtige, uitbundige, oorweldigende persoonlikheid nie. Jy sal Hom nie leer ken deur uiterlike tekens of menslike redenering nie. In plaas daarvan, sal jy Hom met jou hoor praat met ‘n stil, sagte stem in jou innerlike mens.”

Ek voel verleë wanneer ek TV predikers op die verhoog sien met ‘n kamera wat hulle elke beweging van alle hoeke volg. My reaksie oor al hierdie dinge is dit, “Waarom nie stil deur die strate gaan soos Jesus nie? Waarom nie die siekes gesond maak en vir hulle wat gesond word sê, ‘Hou dit stil. Gee al die eer aan die Here’ nie?” Dink saam met my na oor twee verskillende aspekte van die teerheid van Jesus.

Kyk na die teerheid van Jesus vir sondaars.

Hoe boos moet sondaars word voor God met hulle moed verloor? Wat van die reeksmoordenaars? Is dit die laaste strooi? Ek dink aan David Berkowitz, wat bekend is as die berugte Seun van Sam, een van die mees gevreesde moordenaars in Amerika se geskiedenis. Hierdie man sê nou dat Hy in die tronk tot bekering gekom het, dat Jesus sy Here is en dat hy Bybelstudies vir ander gevangenes lei. Wat moet ons daarmee maak? Eenvoudig dit: God het gesê dat sy genade nooit ophou nie. Dit is ewigdurend.

Ons moet die beeld wat Jesaja van die Verlosser weergee, verstaan. Hy sê, “Ek het oordeel gepreek en julle vertel wat met Israel gaan gebeur. Maar daar is iets anders wat jy van die Messias moet weet. Hy kom as ‘n teer, liefdevolle Verlosser. Hy gaan hulle wat in depressie en wanhoop vasgevang is, vrymaak. Niemand sal te blind wees dat Hy hulle oë nie kan oopmaak nie. Niemand sal te doof of te verhard wees om genees te word nie. En geen tronk sal in staat wees om sy greep te behou op hulle wat Hy vrymaak nie. Hy kan enige sondaar vrymaak van enige slawerny.”

Ons moet bekend word met hierdie Verlosser, wat geknakte riete versorg en gereed is om elke vonkie van honger na Hom aan te blaas. Ek dink aan Madeline Murray O’Hare wat die berugste ateïs van ons tyd is. Sy het twee seuns gehad, een wat haar vlam van ateïsme na haar dood verder gevoer het. Maar selfs hierdie vrou kon nie die Heilige Gees uit haar huis kry nie. Jesus het ‘n vonk in haar ander seun raakgesien. Hy was gebroke  en gewond omdat sy ma se leerstellinge nie sy hartseer en diepste innerlike behoeftes kon aanspreek nie. Daardie seun het sy lewe vir Jesus gegee en verkondig vandag die evangelie.

Daar mag moeilike gevalle in jou familie, by jou werk of in jou buurt wees. As jy na hulle lewens kyk, mag jy dink, “Ja, Jesus het krag, maar ek kan nie dink dat daardie persoon ooit bereik kan word nie. Ek kan glo dat enigeen gered kan word, behalwe daardie een.”

Ek het nuus vir jou: daardie persoon is moontlik die een op wie Jesus sy oog het. Jy weet nie wat binne-in daardie persoon aan die gang is nie, jy ken nie sy pyn of sy wanhoop nie.  Hy is geknak en gewond en moontlik op die punt om te breek. Maar daar is ‘n vonk in hom wat onsigbaar vir die menslike oog is. Moenie moed verloor met hom nie. Jesus het nie. Hy sal nie een vonk uitdoof nie.

Aanskou die teerheid van Jesus teenoor jou.

Dikwels wanneer ek oor ons gemeente kyk, word my hart seer as ek aan al die laste dink wat mense dra. As ek in daardie bekende gesigte kyk, wonder ek: “Hoeveel van hulle is die geknakte riete waarvan Jesaja praat?”

Dit is hartseer want in sommige sien ek ‘n lewenslange geloof wat uitsterf. Die helder vlam van toewyding wat eens in hulle vir Jesus was, is nou nog net ‘n flikkering. Ek vra myself af, “Was hierdie een gewond deur ‘n valse prediker? Deur skynheiligheid van ander Christene? Was daardie een seergemaak deur iemand toe sy jonger was? Het iets in daardie man se verlede hom gewond, of verbitter, wat maak dat hy die heeltyd op die verdediging is en keer dat sy hart aangeraak word?”

Ek ken ‘n dokter wat weier om ‘n kerk binne te gaan. Hy was verbitter en verhard teenoor Jesus oor wat hy as kind beleef het. Sy vader was ‘n prediker wat hulle familie amper twintig keer laat trek het en sy seun telkens ontwortel het. In daardie seun se oë het sy vader nie geleef wat hy gepreek het nie. En die seun wat nou ‘n dokter was, was na veertig jaar steeds geknak.

Jesus belowe met teerheid, “Ek sal jou nie afbreek nie. En Ek sal nie met jou moed verloor nie.” Hy kom stilweg en liefdevol na ons toe  en sê, “Laat My toe om daardie diep wond te genees. Laat My daardie harde mure afbreek en jou herstel.”

Ek ken ‘n Christen man wat so ‘n geknakte riet was. Hy het ‘n hartseer egskeiding, finansiële terugslae en regsgedinge oor belastings deurgemaak. Hy ly aan maniese depressie en beleef groot hoogtes en folterende laagtes. Met tye dink hy dat die lewe nie langer die moeite werd is om te lewe nie. Hy het my vertel dat hy so depressief raak dat hy nie reguit kan dink nie.

Wanneer ek aan hierdie broer dink, dan dank ek God dat ons so ‘n wonderlike, teer Verlosser het. Jesus sien so ‘n man as ‘n geknakte riet, wat in staat is om net ‘n klein vonkie te maak. En die Here sal nie moed verloor met Hom nie.

Dink aan hierdie woord van Jesaja oor die Messias: “Hy sal nie dof brand of geknak word, todat Hy die reg op die aarde gegrond het nie” (Jesaja 42:4). Die New American Standard Version vertaal dit op die volgende wyse: “Hy sal nie ontmoedig of geknak word nie.” Die New International Version vertaal dit so: Hy sal nie misluk of ontmoedig word nie.” En die oorspronklike Hebreeus lees, “Hy sal nie terugstaan of gekneus word, totdat Hy die reg op die aarde gevestig het nie.”

Geliefde, Jesus sal nie van jou af weggaan nie. Hy sal nie verhinder of gekeer word totdat Hy alles gedoen het om jou op jou voete te plaas en jou aan die brand te steek nie. Miskien het jy die Here klaaglik gefaal. Is jy ontmoedig en teleurgesteld omdat jy gewonder het hoe lank Hy geduldig met jou kan wees, hoe lank Hy met jou gestruikel opgeskeep sal sit? Jesaja sê Hy sal nie ontmoedig word nie. Jesus het nie sy moed verloor met jou nie; Hy het nie opgegee nie. Hy is vasbeslote om die hele pad saam met jou te loop.

Jy mag vra, “Maar kom daar nie ‘n tyd waar Jesus uiteindelik sal sê, “Genoeg, dit is alles verby” nie? Wat van al die Skrifgedeeltes wat nasies, volke en persone beskryf wat afgesny was toe Israel uiteindelik geoordeel is nie? Saul was afgesny. Selfs in die Nuwe Testament het Ananias en Saffíra dood neergeslaan toe hulle geoordeel is. Nasies en koninkryke is deur die geskiedenis heen vernietig.”

Die antwoord word ook in Jesaja 42 gevind: “Wie het Jakob oorgegee as ‘n plundering en Israel aan die berowers? Is dit nie die Here teen wie ons gesondig het nie? En hulle wou in sy weë nie wandel nie en het na sy wet nie geluister nie. Daarom het Hy oor hulle uitgestort die gloed van sy toorn en die geweld van die oorlog; en dit het hulle rondom aan die brand gesteek, maar hulle het dit nie bemerk nie en dit het julle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie” (Jesaja 42:24-25).

Die doel van God se oordeel is altyd om sy mense na Homself toe terug te trek. Israel het so vasgevang geraak in hulle ongehoorsaamheid, dat hulle hard geword het vir sy Woord en goddelike toorn is op hulle uitgegiet. Hulle was egter so ver heen, so verdiep in die sonde, dat hulle nie die oordeel herken het toe dit gekom het nie. Hulle was toe reeds te dood om die hitte van die oordeel te voel.

Dit is wanneer niks meer wil werk nie. Wanneer ons die vonk doodblaas en moed verloor en gaan lê; wanneer ons doelbewus die Heilige Gees uitsluit en ons oë, ore en harte verhard soos klippe — dan is dit óns wat die verwerping doen. Ons Verlosser se teerheid is altyd beskikbaar. Hy reik liefdevol en geduldig na elke geknakte riet uit om ons op te rig tot nuwe lewe en hoop.

Jesaja laat ons met hierdie kosbare belofte van ons liefdevolle Here: “En Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie” (Jesaja 42:16).