‘n Verstommende Eindtyd Profesie

In die Ou Testament, gee Habakuk vir ons ‘n verbasende profesie oor die eindtye. Hierdie biddende profeet se naam beteken “omhels deur God.” Die Skrif dui aan dat Hábakuk ‘n man was wat getrou met die Here in gebed geworstel het. En sy profesie het tydens ‘n tyd van ernstige onsedelikheid gekom.

Juda en Jerusalem was afvallig, en God se volk was blatant ongehoorsaam aan sy wette. Die hele samelewing was oorgegee aan selfliefde en materialisme. Dit was ‘n geslag wie se toenemende sensualiteit veroorsaak het dat dit soos Sodom gelyk het. Godsdiens het niks meer geword as rituaal, bloot ‘n patroon om te volg, met geen geestelike krag nie. So, die Here het met hierdie biddende profeet gepraat en aan hom die verskriklike oordeel geopenbaar wat sy afvallige volk sou tref.

Wat was hierdie oordeel? God het gesê Hy sou die vyandige Chaldeërs oprig as ‘n tugroede: “Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie” (Hábakuk 1:6).

‘n Gewelddadige, goddelose leër het op die land afgestorm, deur God self gestuur. Toe die Here hierdie verskriklike visioen aan Hábakuk openbaar het, het die profeet uitgeroep, “Wat ek gehoor het, het my laat bewe. My lippe het getril en ek het verskrikking in my gebeente gevoel. Nou moet ek geduldig wag vir die dae van benoudheid om te kom” (Hábakuk 3:16, my parafrase). Dit was ‘n verskrikking so ondenkbaar dat Hábakuk se hele liggaam gebewe het toe hy dit gehoor het.

Hoe was Hábakuk se boodskap ontvang deur die mense van die dag?

Niemand het die profesie geglo wat hierdie biddende man gebring het nie. Dit was bloot te verskriklik om aan te dink. Wat was Hábakuk se reaksie op hierdie verwerping? Hy was tot in sy siel geskok. Hy het by God gekla:

“Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! – maar U help nie?” (Hábakuk 1:2).

Hábakuk het kortliks gesê: “Hoe kan dit wees, O God? Ek het sonder ophou ingetree, U gesmeek om herlewing na u mense te bring. Ek het met soveel geloof gebid, soveel hoop, maar herlewing het nooit gekom nie. Waarom het U my gebed geïgnoreer?”

Skielik het Satan die profeet se gedagtes met twyfel en vrae oorstroom. Gou was Hábakuk geteister oor God se skynbare stilte. Die profeet het selfs nog meer desperaat uitgeroep, “Here, hoe kan U stil wees teenoor al my hart se uitroepe?”

Hier was ‘n goddelike, biddende man wie se geloof ernstig aangeval is. Sy frustrasies het so groot geword, dat hy selfs beskuldigings teen God gemaak het: “U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie – waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?” (Hábakuk 1:13). Met ander woorde: “U sit stil, God, terwyl boosdoeners u volk mishandel en onderdruk. Waarom tree U nie op nie?”

Vir Hábakuk het dit gelyk of God passief toegekyk het en net mooi niks gedoen het nie. Dit het gelyk of goddelose mense sterker geword het en God se volk swakker. En dit het voortgegaan met geen oordeel wat die goddelose mee besoek is nie.

Vandag uiter God se kinders dieselfde klagtes.

Oral oor die land, hoor jy die volgende uitroepe van God se kinders: “Here, waarom is U stil terwyl u naam uit ons skole, ons howe en ons samelewing verwyder word? Waarom laat U toe dat sondaars u wet verdraai en met goddelose gedrag pronk? Hoe kan U toelaat dat pornograwe die hoofstroom media oorstroom met soveel demoniese gemors? Waarom laat U toe dat hedendaagse teoloë en kerkleiers u goddelikheid bespot? Waarom lyk dit asof U soveel lyding in die wêreld toelaat?”

Die hel het in der waarheid ‘n gewelddadige leër van demoniese owerhede en magte vrygestel, alles in ‘n poging om die geloof van God se uitverkorenes te vernietig. Trouens, wat ons vandag sien gebeur, is ‘n volskaalse oorlog teen ‘n geloof wat daarop aanspraak maak dat Jesus God in die vlees is.

Wat was Hábakuk se reaksie op die naderende Chaldeërs in sy tyd? Die profeet het homself in gebed afgesonder, vasbeslote om ‘n woord van die Here te hoor. Hy het gesweer om nie sy binnekamer te verlaat totdat die Here sy geroep verhoor het nie.

Hábakuk het egter nie probeer om God van plan te laat verander oor die verskriklike bestraffing Hy besig was om oor sy samelewing te stuur nie. Liewer, hierdie goddelike man wou slegs antwoorde hê op die vertwyfeling wat sy gees geteister het: “Waarom is U stil teenoor my gebede, Here?” Hábakuk het verklaar, “Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ‘n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord” (Hábakuk 2:1).

Vandag hoor ek hoe talle predikers die onbeantwoorde uitroepe van diegene wat groot lyding verduur probeer verduidelik. Hierdie predikers preek preke wat probeer om die baie verdrukkings wat God se kinders ly te regverdig. Niemand kan in der waarheid ten volle verstaan waarom goddelike mense verskriklike pyn vir maande en selfs jare op ‘n keer verduur nie. Ek weet van regverdige mense wat menigtes het wat vir hulle genesing bid, maar tog lyk dit of al daardie dosyne gebede onverhoor bly.

Waarvoor smeek jy God? Jou huwelik? ‘n Kind op die verkeerde pad? Finansies? Is daar ‘n belofte wat aan jou gegee is deur die Here, maar jy sien geen bewys dat dit in vervulling kom nie? Lyk dit of God stil is oor jou versoek? Miskien ontvang jy geen antwoorde op jou geroep nie. So, saam met Hábakuk roep jy uit, “Hoe lank, O Here, sal ek roep vir hulp en U nie hoor nie? Ek roep tot U en U red my nie” (Hábakuk 1:2, my parafrase).

Hábakuk het uiteindelik genoeg van sy vertwyfelinge en vrese gehad.

Die biddende profeet het uiteindelik uit desperaatheid uitgeroep, “Ek het ‘n woord van die Here nodig!” Dit was tóé dat hy homself afgesonder het in gebed, vasbeslote om van God te hoor. Hábakuk het in wese gesê, “Ek het myself daarop ingestel om te waak en te wag totdat die Here met my praat. Laat Hy my tugtig en my korrigeer. Al wat ek weet, is dat ek ‘n antwoord op al my twyfel nodig het. Ek moet ‘n woord hê om vir die kerk te gee, sowel as vir die vrede van my eie hart.”

God het nooit aan hierdie profeet verduidelik waarom die goddelose groei in mag en hulle wil op die regverdiges afdwing nie. Hy het nooit Hábakuk geantwoord waarom Hy stil is vir sy geroep nie. Dit moes die getroue profeet verbyster het. Hábakuk het sekerlik verwag dat God vir hom verduidelikings sal verskaf. Hy moes sekerlik gedink het die Here, in sy genade, sou openbaar waarom Hy stil voorgekom het en waarom dit gelyk het of sy beloftes gefaal het. Miskien sou God vir hom die kalender van toekomstige gebeure verduidelik betreffende Juda en Jerusalem. Maar geen sulke verduidelikings het gekom nie.

Geliefde, soms sal dit lyk asof God jou pleidooie ignoreer. Dit maak nie saak hoe dikwels jy vas en bid nie, jou ongeredde geliefde gaan voort om in sonde te lewe. Of jou huwelik word slegter, jou ellende duur voort dag na dag. Of, miskien ly jy eindelose fisieke pyn. In plaas van om heerlike verligting te kry deur gebed, lyk dit of jou probleme net hoër en hoër opstapel. So, jy vra, “Waarom God? Verduidelik net asseblief vir my waarom my gebede nie verhoor word nie.”

Ons het almal ‘n sekere woord van die Here nodig. En Satan het gewen as hy ons kan oortuig dat ons Here ons nie hoor of antwoord nie. Trouens, dit is die rede waarom so baie eens-vurige gelowiges nie langer ernstig bid nie. Heimlik dink hulle, “Gebed werk nie vir my nie. God hoor nie wat ek sê nie.”

In Hábakuk se geval, was hy vasbeslote om in die Here se teenwoordigheid te wandel en God in gebed te soek. Dit was daar waar die Here met hom gepraat het en in wese gesê het: “Hábakuk, Ek gaan vir jou ‘n woord gee wat al jou vrae sal beantwoord. Hierdie woord sal ‘n einde maak aan al jou vertwyfelinge. En dit is nie net vir jou nie, maar vir my volk – trouens, vir almal, tot aan die heel einde. Ek wil hê jy moet neerskryf wat ek vir jou sê, sodat almal wat dit hoor, kan hardloop.”

Geliefde, hardloop jy die wedloop? God het vir jou ‘n woord wat jou in staat sal stel om dit te doen. Hierdie woord word gevind in Hábakuk 2:4: “Kyk, sy siel is opgeblase en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe” (my kursief).

Verstaan jy wat God hier sê? Hy het vir die profeet en die hele volk van Juda, sowel as vir sy kinders van vandag gesê: “Haal jou oë af van daardie trotse, arrogante Chaldeërs. Moenie jou bekommer oor die moeilike tye wat kom nie. Ek gaan al my vyande verslaan, op my tyd. Ek sê vir jou, my heerlikheid sal die hele wêreld bedek. In die tussentyd, sal die regverdiges deur die geloof lewe.

Die Here het met ander woorde gesê: “Hábakuk, hier is die enigste woord wat jy ooit sal nodig hê om jou deur enige en alle moeilike tye te dra. Vertrou op die Here. Lewe deur geloof.”

Wanneer Satan goddelose, ongelowige gedagtes in jou verstand inspuit, moet jy dit nie vrees nie. Die vyand wil hê jy moet glo jy is so goddeloos soos elke gedagte wat hy in jou gedagtes plant. Maar jou reaksie op al sulke beskuldigings moet wees, “Hierdie is nie my gedagtes nie. Dit word ingeplant deur die bose.”

Op sulke oomblikke, moet jy vir die magte van die hel baie duidelik sê: “Ek vertou my God om my te verlos, duiwel. En ek vewerp al hierdie gedagtes van jou. Jy kan nie beheer van my gedagtes oorneem nie. Die Heilige Gees lewe in my. Jesus is met my en Hy het my rein in sy oë gemaak.”

Soms sal Satan probeer om jou te teister met veroordeling. Hy sal elke sonde en mislukking van die verlede ophaal. Maar dit is die presiese tyd wanneer jy op die Here moet vertrou. Vertrou sy woord om waar te wees en hou vas aan jou geloof. Geloof alleen is die ark wat jou deur jou vloed sal dra.

Ons almal het hierdie woord dwarsdeur ons Christelike lewens gehoor: “Glo! Vertrou God in alle dinge.” Ons lees dit van Génesis tot Openbaring. Dit word verkondig deur Moses, Daniël, Job, Dawid, die profete, Paulus, Petrus, Johannes, en natuurlik die belangrikste, Jesus. Trouens, die woord wat God vir Hábakuk gegee het, is onderrig deur die eeue heen deur herders, leraars en evangeliste: “Die regverdige sal deur die geloof lewe.”

Ek het dosyne kere self oor hierdie woord gepreek, maar ek kan jou verseker, dit word makliker verkondig as uitgevoer.

Met die woord van die Here vas in sy hart, het Hábakuk ‘n waarskuwingsboodskap - en van geloof – aan God se mense gebring:

“Die HERE jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel. Die wat bedroef is, ver weg van die fees, versamel Ek; hulle hoort by jou, die smaad druk swaar op hulle. Kyk, in dié tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot ‘n lof en tot ‘n roem wie se skande oor die hele aarde was” (Hábakuk 3:17-19).

Die agtergrond wat Hábakuk hier beskryf, is die ineenstorting van ‘n ekonomie. Die profeet voorspel hongersnood, voedseltekorte, verlies van inkomste, gebrek in alle dinge. Maar ten spyte van hierdie ellendige dinge wat kom, vertrou die profeet. Hy is oortuig dat God steeds God is deur elke hongersnood en moeilike tyd. Die Here is dieselfde God wat die Rooi See geopen het, wat vir sy volk voorsien het in die wildernis vir veertig jaar lank, wat nog nooit sy kinders in enige eeu gefaal het nie.

Ek weet ek het geloof wanneer ek waarlik kan sê, “God is die God van die onmoontlike. En, lewe of dood, ek is syne. Ek werp myself in sy arms. Hy sal my deurdra, selfs tot in die dood en deur die hele ewigheid.”

Liewe heilige, leer om God in die goeie tye te loof en in die teenwoordige tye van beproewing. Wanneer dinge hopeloos lyk, styg geloof op met die lofsange van God se kinders. Amen!