GOD SE TEENWOORDIGHEID IS DIE VERSKIL

Gary Wilkerson

As ons na Abraham in die Ou Testament kyk, sien ons ‘n man wie se lewe so gevul was met die teenwoordigheid van God dat selfs die heidene rondom hom die verskil tussen hulle lewens en syne raakgesien het: “In dié tyd het Abiméleg...met Abraham gespreek en gesê: God is met jou in alles wat jy doen” (Génesis 21:22). Hierdie heidense koning het in wese gesê, “Daar is iets anders aan jou, Abraham. God is sekerlik met jou waar jy ook al gaan.”

In ‘n ander voorbeeld van die teenwoordigheid van God, het ‘n engel vir Gídeon gesê, “Die HERE is met jou, dapper held!” (Rigters 6:12). En die Here self het vir Gídeon gesê, “Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?” Gídeon het homself as ‘n lafaard beskou, maar God het hom ‘n “dapper held” genoem. Die Here wou bewys wat ‘n mens kan doen wanneer sy teenwoordigheid met daardie persoon is – selfs as die persoon homself nietig beskou.

God maak ‘n besondere belofte aan diegene wat Hy liefhet, soos ons sien in die woord aan Jesaja: “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland” (Jesaja 43:1-3).

Wat ‘n wonderlike belofte. Wanneer die Here se teenwoordigheid by jou bly, kan jy deur die vure van die lewe gaan en nie net oorleef nie, maar jy sal bewaar en beskerm word deur dit alles heen

Hierdie verhale uit die Ou Testament is nie net dooie-letter stories nie. Dit is bedoel om ons te bemoedig om God te vertrou vir sy teenwoordigheid te alle tye. Soos Abraham, Gídeon, Jesaja en baie ander, het ons ‘n kragtige getuienis van wat God se teenwoordigheid vir ons gedoen het.

Ek moedig jou aan om die Here se teenwoordigheid te soek en Hom toe te laat om jou voetstappe te rig, deure oop te maak, struikelblokke weg te skuif, en jou sorge en vrese te weg te neem.