Die Laaste Adam

Ontdek Dat Ons Oorwinning in Jesus vir Ons Werk

“So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel” (1 Korinthiërs 15:45-47).

Die apostel Paulus praat hier van twee Adams, ‘n eerste en ‘n laaste. Die eerste Adam was natuurlik die eerste mens op aarde. Hy was deur God geskep en in die Tuin van Eden geplaas. Die laaste Adam is Jesus Christus, die Seun van God. Soos Paulus daarop wys, die eerste Adam was natuurlik, liggaamlik, gebore uit ‘n stuk klei. Slegs toe God asem in hierdie Adam geblaas het, het hy lewe gekry; maar die laaste Adam, Christus, is geestelik en hemels. Hy het die lewe en die wese van God in Hom.

Beide Adams is van groot belang in die daaglikse lewe van elke Christen. Die vleeslike Adam het gesondig, teen God se gebod in opstand gekom en al sy afstammelinge besmet met sy sondige natuur: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12).

God was nie onkant gevang deur die algehele ineenstorting van Adam se ras deur die geskiedenis heen nie. God het heeltyd ‘n plan gehad om die mensdom te red en Hy het met Abraham daaroor gepraat: “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou” (Génesis 17:7). God het in wese vir die wêreld gesê, “’n Nuwe geslag is op die punt om gebore te word op aarde. Ek stuur vir julle ‘n tweede Adam en Hy sal die eersgeborene van hierdie nuwe geslag wees. Hy sal ‘n geestelike nageslag oprig wat bestaan uit menigtes wêreldwyd en hierdie nageslag sal ‘n hemelse volk wees. Hulle eersgeboortereg sal nie van hierdie wêreld wees nie, maar van my koninkryk.”

Christus se verskyning op die aarde het ‘n nuwe mens bekend gestel

Paulus sê vir ons Jesus was “die eersgeborene ... onder baie broeders” (Romeine 8:29). Hoewel Jesus gekom het as ‘n hemelse, regverdige mens, het Hy die vleeslike natuur van die ou Adam ook aangeneem. Waarom? Hy het dit gedoen om alles te vervul wat Adam se nageslag nie kon doen nie. Christus was die laaste Adam.

Onder die voorwaardes van die Nuwe Verbond, het God nie meer die ou Adam erken nie; Hy het slegs die nuwe mens gesien: Christus. Daarom, het die ou Adam – die natuurlike, vleeslike ras – nie meer enige stand voor God nie. Die Here het gesê, “Slegs een mens kan nou voor My staan. Ek sal niemand erken nie behalwe hierdie laaste Adam, Christus. Niks van die ou Adam se natuur kan My nader nie. Geen werk, geen bediening, geen offer sal aanvaar word nie, behalwe as dit in Christus gedoen word. Hy is die enigste nageslag wat Ek erken.”

Om gemeenskap met God te hê, moet ons deel word van hierdie laaste Adam. Ons moet in Hom geïnkorporeer word om sy nageslag in hierdie nuwe ras te word. Hoe word dit gedoen? Volgens Paulus, word ons oorgebring uit die koninkryk van die duisternis na die koninkryk van die lig. Hierdie oorbringing is ‘n werk wat deur genade alleen gedoen word, en Jesus het dit vir ons gedoen aan die kruis. Paulus stel dit eenvoudig, “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13). Nou sê die Skrif, wanneer die Vader na jou kyk, sien Hy sy Seun in jou. Jy het Christus se natuur aangeneem.

Jy sien, toe Christus gesterf het, het Hy die ou Adam saam met Hom graf toe geneem. Toe die Here uit die dood opgestaan het, het Hy die ou Adam daar gelos. In God se oë, bly daardie ou mens dood. Hy was saam met Christus gekruisig, saam met alle vlees. “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Galásiërs 2:20). “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Korinthiërs 5:17).

Jy mag miskien sê, “Ek weet dat ek in Christus is deur geloof. Ek besef dat ek ‘n nuwe skepsel is, maar ek sukkel steeds vreeslik met ‘n gewoonte. Dit maak my so moedeloos.” Satan sou baie daarvan hou om jou te kan oortuig dat God moed verloor het met jou. Hy wil hê God moet jou sien as onrein, vuil en vol sonde, maar dit is alles ‘n leuen. Wat jy beleef, is die vlees wat stry teen die Gees binne-in jou. Hierdie stryd is algemeen vir alle gelowiges. Terwyl jy daarin is, wil Satan jou oortuig dat die “ou mens” steeds in beheer is.

Dit maak nie saak wat jou toestand is nie, God wankel nie in sy liefde vir jou nie. God het nooit opgehou om Adam se geslag lief te hê nie ten spyte van al sy goddeloosheid en afgodery. Hy het ons bewaar deur die geskiedenis heen tot op die oomblik van die kruis toe Hy ingegryp het met sy reddingsplan. Ons oorwinning kom slegs deur bekering, geloof en vertroue in God se sorg vir ons.

Paulus verduidelik, “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding” (Romeine 6:4-5).

Ons ou mens is wetlik dood in God se oë en die nuwe mens, Jesus Christus, leef in ons. As jy deur geloof in Christus is, maak dit nie saak hoe jy oor jouself voel nie. Die enigste ding wat saak maak is hoe God jou sien, en as Hy na jou kyk, sien Hy Christus.

Ek lees baie hartseer, jammerlike briewe van gelowiges wat steeds verslaaf is aan sondige gewoontes.

Ek wil al sulke gelowiges vra: Sukkel jy om met jou wilskrag oorwinning te behaal? Stry jy die stryd met jou ou natuur? Paulus wys daarop, “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken” (Romeine 4:4-5).

Geliefde, grondves hierdie waarheid in jou hart: Die eerste Adam in jou is dood in God se oë. Daardie ou mens kan jou eenvoudig nie help teen die vyand nie. Jou oorwinning moet kom, nie deur geween of strewe nie, maar deur geloof dat Jesus Christus die stryd vir jou gewen het. Trouens, Paulus sê daar is slegs een voorwaarde verbonde aan God se beloftes: “As julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het” (Kolossense 1:23).

Christus, die laaste Adam, demonstreer dat die gevolg van ‘n vaste geloof liefde is. “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld” (1 Johannes 4:17). Johannes sê in wese, “Die Vaders se liefde vir jou is vas. Volg nou Jesus se voorbeeld.” Christus het sy hele lewe op die aarde volkome afhanklik van die Vader geleef. Gedeelte na gedeelte wys hoe Hy mense genees, wonderwerke en wonders verrig, maar volgens sy eie getuienis, het Hy niks gesê en gedoen sonder om sy Vader te raadpleeg nie: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so” (Johannes 5:19).

Christus het alles aan sy Vader oorgegee om ‘n volkome gehoorsame Seun te wees. Ons moet dieselfde doen en volkome afhanklik word van die Vader net soos Hy was. Die probleem is dat soveel Christene hulle dae deurbring om daarna te strewe om die krag van sonde oor hulle lewens te breek. Baie het moeg geword om met hulle vlees te streef en verloor moed met hulle huwelik, hulle geloof en op enige hoop om ooit vry te wees. Baie het vir my gesê, “Ek leef in ‘n hel. Die Here het nie aan my bewys dat Hy werklik is nie. Ek het jarelank gebid, maar Hy het my nooit vrygemaak nie.”

Wanneer ek dit ook al hoor, gaan ek altyd terug na God se vele beloftes aan ons, beloftes om ons te bewaar van struikeling, om elke binding te breek, om elke gevangene vry te laat, om Satan se koninkryk te verpletter, om in ons te woon en ons opstandingslewe te gee. Hierdie beloftes oortuig my dat die Vader nie die laaste Adam tevergeefs gestuur het nie, en die laaste Adam, Jesus, het nie tevergeefs gesterf nie. Ek sê vir jou, as geloof in Christus se oorwinning aan die kruis nie genoeg is nie – as dit nie ‘n oorwinning is vir elke kind van God nie – dan was Christus se dood tevergeefs. Dit is so eenvoudig.

Glo jy in God se liefde en voorsiening vir jou?

Vertrou jy sy Gees om jou te bewaar? Wanneer die vyand inkom soos ‘n vloed, maak hierdie jou gebed: “Here, deur u barmhartigheid en genade, het U my in Christus geplaas. In u oë, het ek nie langer enige deel aan die ou Adam nie en hy het nie langer enige mag oor my nie. Ek verskyn nou voor U rein en heilig, deur my geloof in Jesus se werk vir my. Ek is swak, maar U het gesê u Heilige Gees sal my krag gee. Ek gee nou aan U oor, wetend dat U alles voorsien het.” Amen.