Toetse: Omring deur Vyande

David Wilkerson (1931-2011)

Petrus skryf: “Die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos” (2 Petrus 2:9). En op ‘n ander plek skryf Paulus: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met  die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Dit is baie duidelik dat God ons nie in ons beproewings wil hou nie. Hy word nie verheerlik as sy kinders getoets word nie – maar wel uit die resultate van ons toetsings! Daar is net een manier om van ons beproewings te ontsnap en dit is deur die toets te slaag. Dink daaraan. Toe jy op skool was, hoe het jy uiteindelik “ontsnap”? Jy het die finale eksamen deurgekom – en as jy nie geslaag het nie, is jy teruggestuur klas toe.

Dit was die geval met antieke Israel toe God hulle by die Rooi See gebring het. God het sy volk getoets, gelouter en beproef. Hy het hulle tot op die randjie van vernietiging gebring, hulle omring met berge aan weerskante, ‘n see aan nog ‘n kant en ‘n naderende vyand aan die ander kant (lees die verhaal in Exodus 14).

Jakobus se frase, “wanneer julle in allerhande versoekings val” (Jakobus 1:2), verwys terug na Israel se beproewings. Die frase beteken, “om in ‘n put afgesak en omring te word deur vyande.” Dit is wat met Israel gebeur het – God het hulle in ‘n menslik onmoontlike situasie laat beland. Die Here wou hê sy volk moes hulle hulpeloosheid erken en sê, “Ons onthou hoe God ons van die plae en die doodsengel verlos het. God het ons toe verlos en Hy sal dit weer doen! Laat ons juig in sy getrouheid.”

Jy mag dalk wonder hoe God van Israel kon verwag om daardie soort reaksie te hê; hulle was immers net menslik. Maar God wil iets van almal van ons hê in ons tye van oorweldigende probleme. Hy wil hê ons moet ‘n lofoffer bring.

Jakobus het hierdie geheim ontdek toe hy vermaan het, “Ag dit louter vreugde” (Jakobus 1:2). Hy het in wese gesê, “Moenie moed verloor nie! Maak ‘n altaar in jou hart en bring blye lofoffers te midde jou beproewings.” Hoe jy in ‘n krisis reageer bepaal jou wandel met God daarna. So, bring vir Hom jou lofoffer!

Tags