Kry Hoop Uit Job se Getuienis

David Wilkerson (1931-2011)

Die voorbeeld van Job se lyding behoort vir ons van groot troos te wees. Dit mag vir sommiges ‘n verrassing wees, maar Job verteenwoordig die laaste-dae gelowige wat erge beproewings sal ondergaan in die dae wat voorlê. Trouens, menigtes van Godvresende Christene sal deur dieselfde vure gaan wat Job beleef het. En ons het hierdie man se voorbeeld nodig om hoop vir onsself te kry.

Ons land het ‘n tyd van lyding en rampspoed binnegegaan. Terwyl ons die probleme wat rondom ons toeneem aanskou, kan die toekoms ‘n skrikwekkende vooruitsig wees omdat al wat ons miskien kan sien, is meer onsekerhede, vrese en krisisse. Soos Job, roep ons harte uit, “Wat gaan ons doen? Waarom gebeur dit met getroue dienaars van God? Waarom gryp God nie in en stop dit nie?”

Hierdie stroom van probleme het ‘n persoonlike entiteit daaragter: Satan. Trouens, die duiwel was Job se beroerder en hy is steeds die beroerder van God se kinders vandag. Weereens staan die vyand voor die Here en maak ernstige aantygings teen sy kerk. Hy daag God uit en sê, “U het geen ware liggaam in hierdie laaste uur nie. Kyk net na u eie kinders, God. Hulle is materialisties, selfgesentreerd, streef na rykdom en die goeie lewe en is behep daarmee om die lewe vir hulleself beter te maak. Hulle is almal geestelike papperds.”

Dit kan wees dat die vuuroond van jou beproewing bedoel is om jou in ‘n lewensveranderende openbaring te bring. Dit is presies wat met Job gebeur het. Te midde van sy lyding, het Job ‘n ontsaglike ontdekking gemaak: ten spyte van sy suiwer kennis van God, het hy nie die Here werklik geken nie. Hy het bely: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en ... nou sit ek vol berou in sak en as” (Job 42:5-6).

 Kyk op hierdie oomblik na God en onthou dat Hy nog altyd alles onder sy beheer gehad het. Hy gaan alles wat Satan vir kwaad bedoel, neem en dit in jou voordeel verander. Bemoedig jouself met hierdie woorde: “My God kan alles doen! Hy het my lief en ek weet dat Hy my nie vergeet het nie.”