Christus se Krag in Jou Storm

David Wilkerson (1931-2011)

“Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie. Want as die woord deur die engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as as ons so ʼn groot saligheid veronagsaam” (Hebreërs 2:1-3).

Die Bybel gee ernstige waarskuwings teen aan die slaap raak in die middernaguur. Ons eerste belang behoort ons persoonlike wandel met Christus te wees. Ons moet vra, “Hoe kan ek die gevolge ontvlug as ek Jesus verwaarloos en van Hom af wegdryf?”

Dawid, die outeur van soveel Psalms, het ook van sy stryd moeg geword. Hy was so moeg in sy siel, so beleër en vol probleme dat hy net verlang het om na ʼn plek van vrede en veiligheid te ontvlug: “My hart krimp inmekaar in my binneste, en verskrikkinge van die dood het op my geval. Vrees en bewinge kom oor my, en angs oordek my. Toe het ek gesê: Ag, had ek maar vlerke soos ʼn duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly! Gou sou ek vir my ʼn skuilplek soek teen die onstuimige wind, teen die storm” (Psalm 55:5-9).

Soos Dawid, smag baie van ons daarna om weg te breek wanneer ons tye vreesagtigheid en moegheid beleef. Ons wil wegbreek na een of ander plek wat ver van mense af is, weg van ons probleme, stryd en gesukkel, waar dinge stil en rustig is. En so, keer baie mense binnewaarts en leef in voortdurende moedeloosheid, op die punt om die stryd gewonne te gee om God te vertrou om hulle deur te dra.

Op hierdie oomblik, is die Ligaam van Christus in die middel van ‘n “volmaakte storm.” Die hel het oopgebars en Satan het ‘n volskaalse aanval teen die seëvierende kerk geloots. Baie gelowiges blaas die aftog en wil heeltemal uit die stryd tree. Hulle het besluit, “Ek kan dit nie meer verdra nie! Ek sal Jesus nie verlaat nie, maar ek gaan ‘n makliker manier vind.”

Hier is ‘n waarheid wat elke gelowige moet begryp: ons vind die krag en heerlikheid van Christus hoofsaaklik te midde van die storm! Ons almal onthou hoe Jesus Homself geopenbaar het toe dit gelyk het asof die boot wil sink (sien Markus 4:35-41). Net soos Hy vir sy dissipels gedoen het, verskyn Hy te midde van ons storm, kalmeer die winde en die golwe. Trouens, sy krag word die meeste vir ons gegee in ons tye van swakheid.

Paulus getuig, “Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring” (2 Korinthiërs 12:9).