Wag op die Krag van God

As jy die krag van God in jou lewe nodig het, het Jesus spesiale woorde vir jou. Net voor Hy opgevaar het na die hemel, het Christus geweet sy dissipels het krag nodig gehad om die werke van sy koninkryk op aarde te doen. Daarom het Hy hulle beveel, “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 24:49-50).

Die opdrag was eenvoudig: “Bly in die stad.” Maar let op hierdie kwalifikasie: “...totdat...” Jesus het in wese gesê, “Julle lewens sal dieselfde bly totdat die Heilige Gees op julle kom met krag.”

Dit is waar vir baie Christene wat ek ken. Hulle ervaar hulle lewe verloop nie heeltemal volgens God se plan nie. Hulle is ontevrede, wil meer hê in hulle huwelik, hulle werk, hulle wandel met Christus en hulle getuienis vir Hom. Jesus belowe hulle, “God begeer daardie veranderinge vir jou. Maar sulke dinge gebeur slegs deur die krag van die Gees. Totdat Hy kom, sal dinge dieselfde bly.” Lukas het hierdie toneel in sy evangelie beskryf, en hy herhaal dit in die Boek van Handelinge: “En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie” (Handelinge 1:4-5).

Jesus se boodskap in beide gedeeltes is duidelik: “Wag op die Gees! Moenie jaag, ‘n lawaai maak of paniekerig raak nie. Julle kan nie met julle wil die werke van die koninkryk volbring nie. Wag in geloof, en julle sal toegerus word met krag uit die hoogte.” Dit het inderdaad gebeur net soos Hy beloof het. Op die dag van Pinkster, was die dissipels gevul met ‘n kragtige salwing van God wat die wêreld nog nooit gesien het nie. Tweeduisend jaar later, was die wêreld nog nooit weer dieselfde nie.

Die meeste van ons het baie werk nodig met die dissipline van wag.

Hoe meer ons dryf en jaag om dinge vir God in die vlees te bewerkstellig, hoe meer tap sy krag uit ons. Dit het oor en oor in die Ou Testament gebeur. Israel het altyd voor God uitbeweeg, sy planne vir hulle gedwarsboom en Hom van die heerlikheid beroof wat Hy verdien het as hulle getroue Verlosser.

Met tye het Israel selfs bongenootskappe gesluit met heidense leërs om hulleself teen groter vyande te verdedig, wat God hulle verbied het om te doen. Ons het dieselfde geneigdheid vandag. Ons vlees is bloot geneig om die Here vooruit te loop.

Elia het goed geweet hoe om op die Here te wag. Ek hou van hierdie vers oor Hom: “Toe kom die woord van die HERE tot hom (Elia) en sê...steek jou weg” (1 Konings 17:1,3). Ek glo dit is ‘n aantal van die moeilikste woorde wat enige volgeling van Jesus kan hoor. Dit is gelykstaande aan Jesus wat vir sy dissipels gesê het, “Wag,” Hierdie woord word egter altyd gevolg deur ‘n woord van belofte: “totdat”! Met ander woorde, die Here is getrou om op sy bepaalde tyd op te tree, as ons op Hom sal wag.

Vir die dissipels, was wag ‘n kwessie van weke; vir Elia was dit drie jaar. Dit was die oorblywende tydperk van die hongersnood wat Israel beleef het nadat God met hom gepraat het. Verbeel jou hoe moeilik was daardie tyd vir Elia. Hy het ’n woord van God gehad wat in sy hart gebrand het – maar hy was beveel om stil te bly vir drie lang jare.

Toe daardie jare verby was, het God egter vir Elia gesê, “Gaan heen, vertoon jou...dan wil Ek reën gee op die aarde” (1 Konings 18:1). Op die bepaalde tyd, het Elia deelgeneem aan ‘n wonderbaarlike seën wat God aan sy mense verleen het.

Vandag, “vertoon” baie van ons onsself voor God se bepaalde tyd. Op die ou end spin ons ons wiele, maak ons onsself moeg en word ons moeg om God se werk te doen. Vriend, die enigste krag wat ons ooit vir God se werk sal hê, sal kom uit tyd in gebed deurgebring.

So, hoe is dit om op God te wag? Vir baie van ons, is enige soort van wag ‘n verskriklike belewenis; dit spreek van verveling, geestelike pyniging, gekerm en gesug. Die Skrif beskryf ‘n ander beeld van die dissipels se wagtydperk: “En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank” (Lukas 2:51-53).

Wat ‘n beeld van blydskap! Daar was geen sak in as en geen gekerm nie. Vir die dissipels was wag alles behalwe vervelig. Waarom? Hulle het Jesus se woord van belofte gehad. Dit het die verskil gemaak. Buitendien, Christus het beklemtoon dat die keuse van tyd, God s’n alleen is: “En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (Handelinge 1:7).

Wanneer daardie oomblik aanbreek – wanneer God vir ons sê, “Gaan vertoon jouself...dan wil Ek...gee” (1 Konings 18:1) – sal Hy ons met sy krag toerus. “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Wat ‘n wonderlike oomblik sal dit wees!

Die krag van die Heilige Gees kom na ons toe op verskeie maniere.

Die Skrif wys vir ons vier maniere waarop die Gees in ons lewens werk. Eerstens, soos Jesus sê, niemand leer Hom ken tensy hulle deur die Gees weergebore is nie. Daarom, op ‘n manier, woon God se Gees in elke Christen. Tweedens, ons is geroep om in die Gees te bly, om intiem met Hom in gebed te wees. Derdens, ons moet voortdurend gevul wees met die Gees, en voortdurend van sy fontein van lewende water drink. Dit alles beteken glad nie dat die Gees verlaat ons nie, maar liewer, dat óns ‘n aandeel het in ons verhouding met Hom.

Laastens, daar is ‘n uitstorting van die Gees wat ons vul met krag, iets wat vehewe bo ons is om op te wek. Jy mag dalk wonder, “As ek deur die Gees gebore is, en die Gees bly in my, en ek drink voortdurend van die Gees, waarom moet die Gees op my uitgestort word?” Ons het dit nodig omdat dit ons help om ons behoefte vir God te verstaan. Ons sou nooit die werke van sy koninkryk kon doen met ons eie passie of ywer nie. Dit moet van Hom af kom.

Iets wat ons verkeerd verstaan in die kerk: Ons dink God kies die vurige persoon, die een wat almal aan die brand sal steek vir God. Maar die Here soek nie ‘n vurige hart nie; Hy soek ‘n honger hart – een wat Hy kan vul met sy eie gedagtes, hart en Gees. Dit beteken selfs die mees sagmoedige onder ons kwalifiseer.

Let op die woord wat Jesus gebruik om die uitstorting van die Gees te beskryf:  “Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 2:49, my beklemtoning). Dit dui op ‘n uitwendige werking van die Gees in ons lewens, iets wat van buite onsself kom. Alle ander werke van die Gees binne-in ons is innerlik – weergebore word, inwoning, ons vol drink. Maar hierdie is ‘n daad wat God vir ons doen. Ons is van Hom afhanklik om dit vir ons te gee.

Dink daaraan. Daar kom ‘n tyd in elke gelowige se lewe wanneer die Gees in ons moet werk op ‘n manier buitekant ons. Ons het Hom nodig om die werk te doen wat nodig is – om te spreek, aan te raak en te verlos. Dit is presies wat gebeur toe die dissipels nie ‘n duiwel uit ‘n lydende mens kon uitdryf nie. Jesus het vir hulle gesê, “Hierdie geslag kom slegs uit deur gebed en vas.” Met ander woorde, dit vereis algehele afhanklikheid van God. Ons moet sê, “Ek kan dit nie deur my eie krag doen nie. Dit het God se krag nodig.” Tog, soos Paulus ons egter bemoedig, “Hy wat dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?” (Galásiërs 3:5).

As jou huwelik besig is om te verbrokkel, benodig dit ‘n gade wat toegerus is met krag. ‘n Lydende verhouding benodig meer as ‘n teologiese woord; dit het ‘n lewende woord van God nodig wat met krag beklee is.

Wat kerke betref, hulle is nie veel werd as hulle nie met krag toegerus is nie. Dit maak nie saak hoeveel ouderlinge ingeroep word om raad te gee nie. ‘n Duidelike besluit kan gemaak word deur een of twee wat wel met krag toegerus is. Dit alles benodig tyd op ons knieë, om op God te wag en te vertrou om met sy almagtige krag in die behoefte te voorsien. En Hy geniet dit om ons tegemoet te kom! Jesus het vir die dissipels gesê, “Ek stuur die belofte van my Vader op julle” (Lukas 24:49). Hierdie belofte kom nie deur enigiets wat ons doen nie, maar deur die genade van ons liefdevolle Vader.

Ek sê vir jou, wanneer sy krag kom, is daar niks wat daarmee vergelyk nie. Dit is nie net ons wat ‘n gewaarwording van die Gees in ons het nie, maar almal in die omgewing ook. ‘n Digte, heerlike teenwoordige daal neer, en almal weet hulle is op heilige grond. Paulus beskryf hierdie soort scenario in die Korinthiese kerk, waar besoekers op hulle knieë sou val en uitroep, “Die Here is in hierdie plek!” Daardie soort gebeurtenis vind nie onder ongeërgde gelowiges plaas nie. Dit benodig ‘n volk wat gewillig is om te wag op die Here met blydskap en geloof.

Ons beleef ‘n hele kultuur wat slegs verander kan word deur gebed en vas.

Die dissipels het gebed en vas nodig gehad net om een duiwel uit te dryf. Ons het dit nodig om ‘n hele goddelose kultuur teë te staan. Verandering sal slegs kom deur krag wat kom uit die hoogte. En dit benodig ‘n volk wat nie net gevul is met die Gees, in die Gees bly, en in die Gees wandel nie, maar wat getrou wag op die Gees om deur Hom toegerus te word met krag.

Ek sou nie hierdie boodskap van “wag op die krag van God” kon verkondig as ek nie geweet het dit is waar nie. My vrou, Kelly, en ek het dit eerstehands beleef. Ek het al geskryf oor ons verlore seun, Elliot, wat verslaaf was aan heroïen. Geen teologiese of apologetiese woord sou hom ooit kon aanraak nie. Op een stadium was hy haweloos, en Kelly en ek het onsself aan die slaap gehuil oor hom elke aand. Ons het aan alles gedink om ons seun te help, van rehabilitasie programme tot mense wat moontlik tot hom kon deurdring. Gedurende daardie pynlike tydperk, het ons met droefheid gebid asof ons traanbuise krane was. Dit was een van die moeilikste tye van my lewe.

Toe een nag het Kelly na my gekom en gesê sy het van die Here gehoor. Ek het dadelik gesien sy lyk anders – dat sy waarlik beklee was met iets van God af. Sy het vir my gesê, “Ek het ‘n droom gehad. Elliot het bewusteloos op die grond gelê. Jesus het vir my gesê om hom op te tel en ek het. Elliot se liggaam het slap in my arms gehang, naby die dood.

Toe het Jesus hom van my afgelig, en ek was verlig. Maar Hy het weggedraai van my af, sodat ek Elliot nie kon sien nie. Dit het my onstel, Gary. Maar ek het sterk ervaar dat die Here vir ons sê, ‘Julle kan dit nie op julle eie doen nie. Julle moet ophou inmeng. Julle kan dit nog nie sien nie, maar Ek is besig om ‘n werk in Elliot te doen wat vir julle verborge is.’”

‘n Paar weke later, het die Heilige Gees besit geneem van ons seun en hom verander. Hy het Elliot heeltemal verlos, hom verander en gevul, sodat hy vandag ‘n kragtige jong getuie vir God is.

Kerk, as ons vandag faal, is dit nie omdat ons nie op God se krag wag nie? Is dit omdat ons onsself “vertoon” eerder as om onsself “weg te steek”? Ek vermaan jou insake ons heilige roeping om op Jesus te wag. Hy is getrou. En wanneer sy woord na jou toe kom deur die Gees en fluister, “Vertoon jouself,” is daar niks in die lewe wat daarmee kan vergelyk nie.

Op daardie dag, sal jy sien hoe die hemel die aarde aanraak op maniere waaraan jy nooit sou kon dink nie. Jy sal praat met meer oortuiging en vrymoedigheid as ooit. Jy sal moed en wysheid hê wat lei tot deurbrake vir jouself en ander. Jy sal meer gebroke – en gemotiveerd – wees oor ‘n anemiese kerk. En jy sal genot ken in jou wandel met Jesus meer as ooit tevore.

Bid saam met my: “Here, ek kan nie lewe sonder dat U my toerus met krag uit die hoogte nie. Ek gaan myself in U wegsteek, om te wag totdat U woord kom en sê, ‘Ek stuur jou.’ Ek sal daardie tyd in geloof deurbring, terwyl ek wag op die dag wat U u heerlikheid vrystel in my huwelik, my huis, my kerk en my wêreld. Wat ‘n dag sal dit wees – en U is getrou om dit te laat gebeur. Ek vertrou U, Here.” Amen!