Die Toekoms

David Wilkerson

Die belangrikste vraag op die lippe van menigtes wêreldwyd is, “Wat gaan aan? Daar is vrees en paniek orals. Ekonomië regoor die aarde word geskud. Hoe sal ons toekoms lyk?”

As volgelinge van Jesus, weet ons dat die enigste betroubare antwoorde in God se Woord is. Die wêreld se kenners — ekonome, landshoofde en akademici — erken almal dat hulle verward is. Niemand kan ons vertel waarom borrels bars of hoekom ons  groeiende ekonomie verskeie kere ineengestort het nie.

Laat my toe om met jou te deel wat die Bybel sê op pad is. God noem baie duidelik in die Skrif wat ons kan verwag vir nou en in die toekoms. Ja, dit is vreesaanjaende dinge wat gebeur, maar God se Woord het dit reeds voorspel. Hierdie profesië is nie bedoel om ons bang te maak nie, maar dit is daar om ‘n fondasie van vertroue te bou. Ons Here se Woord is dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid, en Hy sit nou reeds as Koning oor die huidige vloed.

Ons moet begin deur ondersoek in te stel na wat God gesê het met mense en nasies wat van Hom af wegdraai, sal gebeur. In Levitikus 26 beskryf God die lot van die volke wat God se Woord gehoorsaam en hulle wat dit ignoreer. Hy het in der waarheid gesê:

“Julle moet die Here julle God vertrou, my Woord eer en my gebooie gehoorsaam. As julle dit doen, sal Ek julle seën en voorspoedig maak en reën vir julle gesaaides gee. Julle sal nie skuld hê nie, maar julle sal aan ander uitleen. En julle sal bewaar word van julle vyande. Julle sal nie geterroriseer word of oorloë hoef te beleef nie; julle land sal vrede geniet. Niemand sal julle skrikmaak nie.

“Maar as jy, jou mense en jou volk weier om My te eer — as julle My gebooie minag — sal julle die volgende maai: Ek die Here sal julle verneder en julle trotsheid vernietig. Julle sal julle krag en sterkte mors en Ek sal julle krag en aansien verwyder. Julle vyande sal oor julle heers en julle beroof van julle rykdom en voorspoed. Julle sal skuldenaars wees en nie uitleners nie. En skielik sal julle vrees en hartseer ken.”

“Want kyk die Here Here van die leërskare sal uit Jerusalem en uit Juda wegneem die stut en die steun, elke stut van brood en elke stut van water” (Jesaja 3:1).

Al hierdie dinge was eerstens oor Israel geprofeteer en dit het gebeur net soos God gewaarsku het — dit staan egter as ‘n waarskuwing vir elke geslag. In Europa het ‘n hele vasteland God se naam uitgedelg. Hulle roem daarin, “Die Europese Unie is sekulêr. Ons het geen God nie.” Amerika is op dieselfde paadjie. God word uit die skole, howe en regsliggame uitgesluit. Gebed word op sommige plekke verbied. Op die oomblik is daar ‘n golf van swaar tye wat Amerika tref met ons finansiële sisteem wat wankel met geen einde in sig nie.

Jy mag vra, “Waarom moet ons herinner word aan hierdie slegte nuus? Ons het nodig om dit te hoor omdat God se mense moet wakker word! Die partytjie is verby. Ons kan nie langer net begaan wees daaroor om die nuutste selfoon of rekenaar te hê nie. As ‘n pastoor, wil ek nie hê enigiemand moet geskok of verward wees wanneer hulle wêreld skielik omgekeer word nie.

Dit is die waarheid dat alle oordele van die Here verlossend is. Hy is soos ‘n man wie se alkoholis vrou op pad is om flou te word as gevolg van haar drinkery. Hy raak haar skouer aan en sê, “Word wakker.” As sy nie reageer nie, raak Hy aan haar wang en roep, “Word wakker, asseblief. Ek het jou lief.” Wanneer dit nie help nie — wanneer dit onmoontlik lyk of sy uit haar stupor gaan ontwaak — ruk Hy haar aan haar skouers en roep, “Word wakker! As jy nie gaan wakker word nie, sal jy sterf in hierdie beswyming.”

Op hierdie oomblik skud God die mense vir wie sy Seun gesterf het om hulle te red. God doen dit nooit uit woede nie, maar uit liefde. Hy sê, “Ek het wagters gestuur om jou te waarsku. Ek het profete gestuur om deur jou beswyming te sny met duidelike waarheid. Nou gaan Ek jou skud, om jou wakker te maak van hierdie stompsinnigheid wat lei tot vernietiging.”

Daar is goeie nuus.

Daar is twee spore waarop die mensdom tans loop. Die eerste spoor is die van die duiwel  en sluit in seksuele afwykings, gierigheid, materialisme en die breinlose afstomping van die siel.

Daar is egter nog ‘n spoor wat saam met hierdie een beweeg — en dit groei in momentum en is vinniger as dié van Satan. Die Bybel profeteer duidelik dat te midde van al die chaos en vrees — in dieselfde uur waarin borrels bars en ineenstort — sal God sy Gees uitstort. Die Heilige Gees is 2,000 jaar gelede in Jerusalem by Pinkster uitgestort, en Hy was nog die hele tyd aan die werk om Jesus te verheerlik in die wêreld deur die eeue heen. En Hy is getrou om op hierdie geslag ook te kom.

Ek is daarvan oortuig dat die Here nie ons jong mense aan die duiwel sal oorgee nie. Ek onthou hoe sy Gees uitgestort is op die Woodstock generasie. Op daardie tyd, het honderd duisende jong mense die opelug rock konserte bygewoon. Acid, LSD, heroïne en al die ander dwelms van die dag was algemeen en in oorvloed beskikbaar vir gebruik. Ek het na die konserte gegaan waar daar 100,000 mense teenwoordig was, om Jesus te verkondig. Ek onthou dat ek gesien het hoe kinders by die dosyne ineenstort van die dwelms en ek het gedink, “Here, is daar hoop vir hulle?”

Dit was gedurende daardie chaotiese, toegeeflike tyd waarin die Jesus beweging begin het. ‘n Diepe honger na God het op daardie generasie gekom en letterlik oornag het honderde duisende van die dwelm verslaafde jong mense na Jesus gedraai. Ek het by die Los Angeles Konvensie Sentrum gepreek waar 10,000 kinders dit op ‘n slag bygewoon het met verpleegters byderhand om hulle wat op dwelms was, te help. Toe het ek ‘n boek geskryf met die naam van The Jesus Person’s Manual, en duisende jong mense het kopië gegryp en hulle lewens vir die Here gegee.

Ons is op die punt van ‘n uitstorting van die Heilige Gees wat Jesus weer in die hoofberigte sal bring.

Chuck Smith het die Calvary Chapel bediening in Suid Kalifornië begin en dit het honderde hippies, strand kinders en ander in die jong mens kultuur aangetrek. ‘n Talentvolle musiekgroep wat Love Song genoem was, het uit daardie bediening gegroei en het met die geestelike honger kinders gepraat deur die taal van sang. Ek onthou dat ek duisende jong manne en vroue gesien toustaan het om gedoop te word op die strande van die Stille Oseaan.

So kragtig soos hierdie bewegings was, glo ek dat dit wat aan die koms is, baie groter gaan wees as enigiets wat ek in my lewe beleef het. En dit gaan wêreldwyd plaasvind. Ons is op die punt van ‘n uitstorting van die Heilige Gees wat Jesus terug in die hoofberigte sal plaas. “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Heilige Gees uitstort op alle vlees: en julle seuns en julle dogters sal profeteer en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom” (Handelinge 2:17).

Wanneer God sê dat Hy sy Gees “op alle vlees” sal uitstort, beteken dit nie net die kerk nie. Die Gees maak Homself bekend aan almal, selfs ateïste, Kommuniste en almal wat God weerstaan. Wat gebeur wanneer die Heilige Gees op alle vlees uitgestort word? Hy skep roerings in harte en gedagtes. Skielik is daar ‘n aaklige gevoel van leegheid wat niemand kan bevredig nie. Gierigheid, onverskillige seks en partytjie hou — al hierdie dinge lei net tot ‘n groter ontevredenheid. Dit is ‘n desperaatheid van siel wat baie aanraak sodat hulle besef, “Iets bonatuurlik is aan die werk.”

Gebeurtenisse in die natuur dui op so ‘n bonatuurlike skudding. Tsunami’s, orkane en aardbewings – alles lei tot ‘n ontwaking. Jesus het na hierdie tyd verwys as: “En daar sal tekens wees...en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer die see en die branders dreun, en mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemel sal geskud word” (Lukas 21:25-26).

Die Heilige Gees raak alreeds harte grootliks aan.

Reg oor die hele wêreld is daar ‘n groot uitroep vir verandering. Hierdie uitroep gaan oor meer as net politiek. Dit is ‘n uitroep na iets werkliks, iets wat die siel se diepe innerlike dors na vrede en tevredenheid sal vul. En geen persoon of ding op aarde kan daardie behoefte aanspreek nie. Elke politieke leier sal misluk om hierdie tevredenheid te voorsien. Net Jesus kan jou diepste uitroep antwoord.

Ons het reeds gelees dat diegene wat met hulle hele hart na die Here draai, “sal profeteer” (Handelinge 2:17). Die woord “profeteer” beteken nie om te preek of die toekoms te voorspel nie. Dit praat eerder van ‘n heilige vrymoedigheid vir Jesus. Dink aan die toneel by Pinkster toe hierdie profesie in daardie geslag vervul is: “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Handelinge 4:31).

Die Heilige Gees is ‘n gees van vrymoedigheid wat Jesus verhef. Wanneer Hy uitgestort word, verheerlik Hy altyd vir Christus. As ek vandag rondkyk, sien ek hordes Christene wat Jesus eens liefgehad het, maar nie langer sy Naam noem nie. Eens was hulle nie skaam om bekend te wees as iemand wat Hom volg nie. Maar met verloop van tyd, het hulle geloof koud geword.

Baie gou sal dit vir hierdie louwarm Christene duidelik word dat God nie speletjies speel nie. Elke soort ramp groei in intensiteit en die natuur steier daaronder. Die natuur roep uit, “Word wakker! God roep jou, ‘Kom terug na My toe.’”

Die Heilige Gees belowe om te kom op almal wat vra om met Hom gevul te word. Op hierdie oomblik, kry sending-gebaseerde bedieninge berigte dat dit wêreldwyd gebeur. In Moslem lande veral, droom en het mense visioene van Jesus. Gou sal ons soortgelyke roerings hier ook sien. Jou vriende, bure en medewerkers sal kom en vir jou vra, “Sê my, hoekom gebeur al hierdie dinge? Ek weet dat jy ‘n Christen is. Vertel vir my wat gaan volgende gebeur.”

God gaan ‘n aantal toegewyde seuns en dogters hê wat gereed is met die antwoord: “Jesus kom. Die enigste veilige plek is in Hom.” Dit is die profesie waarop ons almal nou moet fokus: Jesus kom gou! Inderdaad, God is alreeds besig om ‘n doop van vrymoedigheid onder sy mense uit te stort. Hy stort die vuur van sy Heilige Gees op sy mense uit en beweeg hulle om ten alle koste ‘n standpunt in te neem.

Het jy dalk onlangs aan iemand gesê, “Dit is my God met Wie jy nou daar spot?” Jy het ‘n reg om dit te doen! Ek praat nie van ‘n aangesig tot aangesig konfrontasie nie, maar ‘n verdediging van ons liefdevolle, reddende God wanneer Hy sleg gesê word. “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het” (Romeine 13:11).

Liewe heilige, maak dit jou gebed, soos wat ek dit myne gemaak het: “Here, ek vra U vir ‘n vars doop van u Heilige Gees. Ek wil nie meer skaam wees vir Jesus nie. My vriende, my bure, my medewerkers moet almal weet en ek sal met vyrmoedigheid voor hulle profeteer: ‘Jesus is Here. En Hy kom gou!’”