Die Protes van 'n Regverdige Man

Ek het ‘n brief ontvang van ‘n broer in Christus wat waarskynlik daarop sal aanspraak maak dat hy ‘n baie regverdige man is. Tog was daar bitterheid in sy woorde aan my:

"Broer Wilkerson, wat het met jou gebeur? Jy het altyd so kragtig teen sonde gepreek. Maar ek glo jy raak deesdae sag met sonde. Jou onlangse boodskappe oor Jubeljaar gee mense ‘n lisensie om te sondig. Jy bied vertroosting aan kompromitteerders in plaas daarvan om hulle van sonde te oortuig.

“Keer terug daarna om heiligheid te preek! Ek pleeg nie sonde nie en ek het geen sonde in my lewe nie. Geen persoon hoef sonde te pleeg nie.” Hy het vir verskeie  paragrawe aangegaan oor die gebrek aan teregwysing in my prediking.

Verstaan asseblief – as daar een ding is wat ek as prediker grootliks vrees, is dat my preke die regverdige mag veroordeel en die goddelose sal vertroos. Ek bewe as ek hierdie woorde lees: “Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die HERE ‘n gruwel” (Spreuke 17:15).

Ek glo enige ware bedienaar van God wat ‘n suiwer evangelie verkondig, sal vir mense hulle bose weë uitwys. Hy sal sonde uitwys om die verskil tussen die heiliges en die goddeloses te openbaar. Ek is dankbaar dat ek glo die Here my help om dit te doen.

Maar ek sal ‘n bedrieër wees – ‘n wettiese Fariseër – as ek nie ook die rykdom van God se genade en goedertierenheid aan al sy kinders wat met sonde sukkel, verkondig nie!

In Lukas 15 lees ons die protes van ‘n nog man wat daarin geroem het dat hy regverdig was.

Jy is waarskynlik baie bekend met hierdie storie. Ek praat van die gelykenis van die verlore seun – en, in besonder, die verlore seun se eiegeregtige ouer broer.

In hierdie gelykenis verteenwoordig die vader duidelik vir God. Ek glo egter ook dat die twee seuns twee soorte kinders van die Vader verteenwoordig. Hulle het twee baie verskillende verhoudings met hulle vader gehad. En, na my mening, val die meeste Christene in een van hierdie twee kategorieë van kinders. (Ek sal dit verduidelik soos ons verder gaan.)

Die storie begin waar die jonger seun aangedring het dat sy vader vir hom sy deel van die familie se erfenis gee. Die vader het ingestem – en toe die seun sy deel gekry het, het hy vertrek na “...’n ver land...” (Lukas 15:13).

Deur hierdie gedeelte van sy rykdom weg te gee, het die vader natuurlik nie in die minste verarm nie. In teendeel, dit wat hy vir sy seun gegee het, was ‘n “voorsmaak” – ‘n beskeie bedrag van alles wat hy besit het. En ek glo die seun se erfenis verteenwoordig die rykdom van die seëninge wat ons van ons hemelse Vader ontvang – seëninge van barmhartigheid, genade en deernis.

Nou, wat ek op die punt is om te sê mag jou skok – maar ek glo hierdie jonger seun verteenwoordig ‘n hele groep Christene wat ek die “Seën My Klub” noem. Soos die verlore seun, kom hulle na God en maak aanspraak op hulle regte tot al die rykdom van sy koninkryk. Hulle dring aan op elke seëning wat God belowe het en roep, “Seën my, God – maak my voorspoedig! Stort al u barmhartigheid en genade oor my lewe uit. Ek wil alles hê wat na my toe moet kom!” Kortliks, hulle wou ‘n “reserwe” van seëninge opbou en alles, wat hulle kan, opgaar.

Dit is alles goed en wel – behalwe dat sulke gelowiges meer as dikwels geen begeerte het om naby die Here te wandel nie. Al wat hulle wil hê is om die seën wat saam met die Christen lewe kom, te verkry. In die meeste gevalle is intimiteit met die Here nie ‘n deel van hulle teologie nie. Hulle wil nie hoor van die koste en opoffering van gemeenskap met Hom of van om te wandel in gehoorsaamheid aan sy woord nie.

Dit is presies wat gebeur het met die verlore seun. Ek glo hierdie jongman het met goeie voornemens begin. Klaarblyklik het hy jarelank hand-aan-hand met sy vader gewerk voor hy besluit het om weg te gaan. En langs die pad moes hy gehoop het om sy rykdom te belê, ‘n groot sukses te word en sy vader trots te maak.

Trouens, hy was soos baie jong volgelinge van Christus. Hulle verbly hulle in hul nuutgevonde rykdom van waarheid en vryheid en belowe plegtig, “Die Here het so baie vir my gedoen – en ek wil altyd naby Hom bly. Ek gaan ‘n oorwinnaar word!”

Soos dit egter dikwels gebeur, is hulle harte egter nie heeltemal daarop ingestel om ‘n langtermyn verhouding met die Vader te hê nie. Soos die verlore seun, is daar ‘n wêreldsheid wat hulle steeds vasgryp – ‘n begeerte vir die plesiere van die wêreld. En stadig begin dit alle intimiteit met die Vader versmoor. Uiteindelik gaan hulle na die Here net om seëninge op te eis – sodat hulle dit op wêreldse begeerlikhede kan spandeer!

Die verlore seun se gesindheid illustreer wat bekend staan as “maklike genade.” Paulus skryf, “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie...Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie” (Romeine 6:1-2,15).

Hierdie jongman het probeer om al die rykdom wat hy van sy vader ontvang het op te gaar. Hy het homself oortuig, “Ek is nou veilig. Ek het alles van my vader gekry wat ek ooit nodig sal kry.” Maar hoe verkeerd was hy nie!

‘n Mens sien menigtes van verlore seuns sit in die kerk elke Sondag!

Elke week, kom menigtes van verlore seuns na die kerk, sit in die banke, sing in die koor en onderrig Sondagskool. Hulle is Nuwe Testament kinders van God wat “...’n erfdeel ontvang het...” (Efésiërs 1:11) en wat die Vader “...bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig” (Kolossense 1:12). Hulle het ontvang wat die Bybel noem “...die onderpand [waarborg] van ons erfdeel...” (Efésiërs 1:14).

Maar wat gebeur wanneer hierdie gelowiges week na week boodskappe hoor oor God se tere barmhartighede – sy vrye oorvloed van genade, sy vryspraak, sy aanvaarding van hulle deur Christus? Stadig, begin Christene om op hulself die voorsmaak van hulle erfenis te laai. En hulle verbly hulle daarin en sê, “Is dit nie wonderlik dat God my liefhet nie? Hy vergewe my vrylik wanneer ek misluk!”

By Times Square Church verkondig ons al hierdie dinge – God se barmhartigheid, deernis, teerheid en goedertierenheid teenoor ons, sy aanvaarding van ons in sy seun. Al hierdie leerstellinge gaan oor God se genade teernoor ons deur Jesus Christus. Maar wat gebeur met ons wanneer ons probeer om hierdie ryke erfenis te versamel?

Beskou wat met die verlore seun gebeur het: Toe hy homself gelaai het met die vader se rykdom, het dit ‘n gat in sy sak begin brand. Hy het vir homself gesê, “My seën gaan vir ‘n lang tyd hou!”

Geliefde, ek is oortuig dat daar baie Christene is wat nie die seëninge van genade kan hanteer nie! Hulle juig in die boodskap van God se onverdiende vryspraak – en vul hulle gedagtes met elke Bybelse gedeelte wat sy barmhartigheid en deernis beskryf. Hulle is lief daarvoor om die storie te hoor van die herder wat die verlore skape gaan soek, want dit gee hulle groot vertroosting. Wanneer hulle egter al die rykdom en heerlike waarheid van God se genade teenoor hulle bymekaarmaak, begin dit ‘n gat brand in die beurs van hulle vlees. En dit word vir hulle ‘n lisensie om te sondig!

Dit wys dat die verlore seun sy rykdom misbruik het. Hy het sy vader se rykdom deurgebring deur partytjie te hou, te dobbel, dronk te word en met prostitute te slaap. Nag na nag het hy sy seëninge verkwis en dieper en dieper in sonde verval. Elke oggend het hy egter opgestaan, alle oortuiging van sonde afgeskud en homself vertroos deur terug te gaan na sy stoor. Hy het vir homself gesê, “Daar is steeds heelwat oor vir my. Ek kan dit hanteer!”

Soos die verlore seun, gaan Christen vandag na een of ander plek van verbode plesiere en soek waar hulle hul rykdom op losbandige lewe kan spandeer. Hulle begeertes dra hulle na die bed van ‘n hoereerder, na ’n dosis van kokaïen, na homoseksualiteit, na pornografie, na alkohol en dwelms. Hulle vertroos egter hulself heeltyd in hulle sonde en sê, “God se genade is meer as genoeg vir my! Hy het meer as wat ek nodig het. Hy sal my liefhê maak nie saak wat ek in my vlees doen nie. Sy genade duur vir ewig!”

Nee! God se genade was nooit bedoel om pervers te wees en verkwis te word nie. Trouens, dit is bedoel om net die teenoorgestelde effek te hê. Paulus skryf: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenswoordige wêreld te lewe” (Titus 2:11-12). God se genade leer ons godvresendheid, geregtigheid en ‘n heilige vrees vir die Here!

Die oomblik wanneer ons sonde probeer bedek deur ons te beroep op genade, doen ons afbreuk aan daardie genade!

Wanneer ons ook al God se genade verkwis, beland ons op die ou end bankrot in liggaam, siel en gees. Ons het nie meer die brood uit die hemel om van te leef nie. En ons vind onsself in ‘n geestelike varkhok – dood van die honger en ons siele vasgevang in hongersnood.

Lukas skryf, “En toe hy alles deurgbring het, kom daar ‘n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het verlang om sy maag te vul met met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie” (Lukas 15:1-16)

Ek het hierdie soort hongersnood onder Christene gesien. Hulle het eens ‘n wonderlike getuienis van genade en barmhartigheid gehad. Maar nou, weens sonde, het hulle geestelike geraamtes geword – met geen lewe hoegenaamd nie!

Hou in gedagte – die verlore seun se vader het steeds al die rykdom gehad wat hy nodig gehad het. Dit het nie saak gemaak hoe sleg hierdie seun sy erfenis vermors het nie; sy vader het oorvloed rykdom en voorsiening gehad.  Om egter te kon terugkeer na sy vader – om weereens die stroom van geestelike rykdom en genade te geniet – het vereis dat hy tot sy sinne kom. Lukas skryf:

“Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gsondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge” (Lukas 15:7-19).

Die jongman moes erken, “Ek kan op die ou end nie hierdie hierdie seëning hanteer nie. Ek kan nie my begeertes keer nie! Ek het teen God en my familie gesondig. Ek het alles verkwis wat vir my gegee is!”

Jy moet verstaan – bekering is meer as net om om te draai en terug te gaan na God toe. Dit is ‘n volle oorgawe van selfregering – ‘n terugkeer na God met hierdie belydenis: “Here, ek het ‘n gemors gemaak van my lewe. Ek kan dit eenvoudig nie hanteer nie. En nou kom ek nederig na U toe en vra U om oor te neem. Beheer asseblief my lewe!”

Toe die verlore seun gesê het, “Maak my soos een van u huurlinge,” het hy bely, “Vader, ek kan nie my eie baas wees nie. Ek is moeg daarvoor om ‘n gemors van my lewe te maak! Laat my bevele van U neem, soos al u dienaars maak. U beheer my lewe – U sê vir my wat om te doen en hoe om dit te doen en ek sal met graagte gehoorsaam!”

Dit is wanneer God begin om ‘n baie besonderse werk van herstel te doen. Dit is wanneer die feesmaal begin!

“En hy het opgestaan het na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.

“Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees” (Lukas 15:20-23).

Die geslagte kalf in hierdie storie verteenwoordig die geslagte Lam van God – wat verlossing, blydskap en gejuig verteenwoordig! Toe die verlore seun teruggekeer het, het almal fees gevier – ‘n wonderlike, blye tyd van feesmaal hou rondom die glorieryke Lam.

En moenie ‘n fout maak nie: Toe die seun teruggekeer het, was hy ten volle herstel in sy vader se huis – nie as ‘n dienskneg nie, maar as ‘n seun! Hy was gewillig om hom aan sy vader te onderwerp en onder sy heerskappy te wees. Verder wou hy intimiteit met sy vader gehad het. Hy alle belangstelling in die dinge van die wêreld verloor en was gereed om te doen soos sy vader beveel het.

Wat ‘n wonderlike toneel van algehele herstel!

Maar daar was ‘n regverdige man wat deur die venster gekyk het – en protes aangeteken het oor die hele affêre!

“En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie...” (Lukas 15:25-28).

Hierdie ouer broer het by die minuut kwater geword. Trouens, hy het jarelank sy vader ywerig gedien en nooit enige gebod oortree nie. Hy was regverdig volgens die wet en hy het homself nougeset rein gehou.

Toe hy egter deur daardie venster geloer het, het hierdie ouer seun die grootste gesig van genade wat ooit aan die mensdom gegee is, gesien: Die vader het ‘n berouvolle, bekeerde, verlore seun omhels. Hy het geen vrae gevra nie; hy het nie gepreek nie. In plaas daarvan, het hy sy kind met ‘n nuwe kleed beklee en hom tot sy vorige status herstel – tot ‘n posisie vol guns en seën. En toe het hy hom in die feesmaal ingebring – na die fiering van die Lam!

Die gesig wat hierdie ouer seun gesien het, was dat enige persoon homself kan bekeer, maak nie saak hoe laag hy gedaal het nie – as hy bloot ophou om sy eie lewe te regeer en terugkom na die Vader. Dit is ware versoening, uit die hart van God.

Die ouer broer het egter oor alles geprotesteer. Hy het geweier om die feesmaal binne te gaan. Waarom? Hy wou geen deel hê in dit wat hy as maklike genade gesien het nie! Hy het vir homself gesê:

“My broer het al die gebooie gebreek – hy het ons vader in die skande gesteek. Hy mag nie so maklik daarvan afkom nie! Ek het jarelank gewerk om gehoorsaam te wees. Ek het gewerk en gesweet en pligsgetrou goeie dade gedoen. En tog, toe my sondige broer uit ‘n varkhok uitgekruip kom, het hy ‘n held se verwelkoming ontvang. Dit is nie reg nie. Ek is die sondelose een, nie my broer nie!”

Dit is tipies die wettiese gedagtegang om te protesteer teen die vrygewige uitstorting van genade op ‘n afvallige sondaar wat hom bekeer. Talle Christene, wat sit langs een of ander dwelmverslaafde of alkoholis in die kerk, dink, “Dank God, dat ek nog nooit op hierdie manier gesondig het nie. Hy kan môre weer val. Ek sal my afstand hou van hom totdat ek kan onderskei of sy terugkeer opreg is.”

Die Skrif sê egter hierdie soort trots is dodeliker as enige verslawing: “...wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korinthiërs 10:12).

Toe die verlore seun in der waarheid sy ouer broer oor hom sien frons het deur die venster, het hy waarskynlik gedink, “O, broer – as jy net geweet het hoe ek jou bewonder! Jy het nog altyd ywer, dissipline en getrouheid betoon. Jy het nooit uitgegaan en gesondig soos ek nie. Jy het ‘n beter getuienis. En my hele lewe lank moet ek leef met die herinnering dat ek skande oor ons familie se goeie naam gebring het.

“Ek weet ek verdien geen van hierdie dinge nie. Trouens, jy moet hier wees in my plek. Hoe wens ek ek kon gemeenskap met jou hê!”

Dit is die uitroep van ‘n ware berouvolle en nederige hart!

Die jonger seun het die genade misbruik – en die ouer seun het genade verkeerd verstaan!

Beide broers was ewe sondig. Om genade te misbruik – om dit te verkwis, te verdraai en dit dit oneer aan te doen – is verkeerd. En om genade verkeerd te verstaan – om dit nie te waardeer nie of om ander dit te ontsê – is net so verkeerd.

Die jonger seun het nie die doel van genade verstaan nie – wat beteken om te groei in die volwassenheid van heiligheid. Maar die ouer seun wat protes aangeteken het, het nooit sy vader se hart geken nie. Hy het altyd gesoek om sy vader se liefde te verdien deur te gehoorsaam en te dien. Hy kon nie aanvaar dat sy pa hom nog altyd onvoorwaardelik lief gehad het nie, sonder sy goeie dade. Sy vader het hom in der waarheid liefgehad, omdat hy bloot uit hom gebore was – been van sy been en vlees van sy vlees.

“En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom. Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ‘n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met die hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.” (Lukas 15:28-30).

Die ouer seun het vir sy vader gesê, “Ek voel nie lus om fees te vier nie – ek voel nie bly soos u nie – omdat ek onder ‘n las is! Al hierdie jare het ek so hard gewerk om u te behaag, maar u net nooit hierdie soort liefde aan my betoon nie. Ek voel nie u liefde vir my nie, Vader!”

Dit som die wortel van die probleem van die protesterende seun op: Hy het gedink dat hy deur goeie werke verdien het, dit wat sy jonger broer uit onverdiende genade ontvang het!

Elke wetties mense het ‘n moeilike tyd om die werke van sy vlees ter syde te stel. Waarom? Ons vlees wil namens God optree! Ons wil in staat wees om te kan sê, “Ek het my vrede in die Here verdien. Ek het gevas en gebid en alles gedoen om oorwinning te behaal. Ek het hard gewerk – en nou het ek dit uiteindelik gemaak!”

As ons eerlik is, sal ons sien dat ons vlees altyd protes aanteken teen afhanklikheid van die Here. Ons wil nie vertrou op sy barmhartigheid en genade nie, of glo dat ons eenvoudig na Hom kan kom met berou en geloof en Hy sal al ons sonde uitwis nie. Ons wil nie erken dat net Hy ons die krag, wysheid en gesag kan gee om te lewe as oorwinnaars nie.

Mag God verhoed dat ek ooit my kinders al liefhê op grond van wat hulle vir my doen. En mag God verhoed dat hulle ooit sal kompeteer vir my liefde deur dinge te doen om my te behaag nie. Ek sê, soos enige ouer sou, “Ek het al my kinders ewe veel lief – bloot omdat hulle my vlees en bloed is!”

Alle gehoorsaamheid word soos ‘n besoedelde kleed – ontaarde sonde – wanneer ons daarop vertrou om God se aanvaarding te verdien. Wanneer dit genade verdring, is dit waardeloos!

Die beswaar wat ek nou en dan hoor, is: “Jy is te sag met sonde! Waar is die deurdringende veroordeling van hierdie man se sonde? Waar is die voorhou van die wet om vir hom sy foute te wys? Hy kan maklik weer val. Laat hom sy bekering bewys! Hy het nie tyd gehad om heiligheid te leer en God se gebooie te gehoorsaam of om opofferings te maak nie.”

Sommige van die bitterste, veroordelende mense wat ek ken, is Christene wat dieselfde dinge sê. 'n Paar jaar gelede was ons kerk gasheer vir Russiese pastoor wat ‘n aantal jare in die tronk deurgebring het ter wille van sy geloof. Terwyl ek na hom gekyk het tydens ons aanbiddingsdiens, het hy heeltyd gefrons.

Na die diens het ek vir hom gevra, “Wat is verkeerd?” Hy het gesê, “Ek verstaan nie hoe julle mense die reg kan hê om te klap en bly te wees nie. Julle was nie tronk toe nie. Julle het nie ‘n prys betaal nie. Die enigste manier na oorwinning is deur daardie soort lyding.

Nee – dit is nie skriftuurlik nie! Ons kom in die blydskap van die Here deur sy onverdiende genade. Enigiets minder maak Jesus se offer aan die kruis goedkoop!

Ons moet versigtig wees om nie protes aan te teken soos die ouer broer, die regverdige man nie. Dit is ‘n protes van menslike geregtigheid – en dit is ‘n stank in God se neus!

Ter afsluiting, laat my die punte van hierdie hele gedeelte opsom:

Genade word vrylik geskenk aan diegene wat gesterf het aan eie-waarde en hulle verlorenheid erken!

“Toe sê hy (die vader) vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joune. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind” (Lukas 15:31-32).

Die jonger seun – vasgevang in ‘n modderige eensaamheid wat deur sonde veroorsaak is – was dood aan sy eie wil. En in sy ellende, het hy iets beleef wat verder gestrek het as sy pyn: Hy het sy verlorenheid beleef!

Toe hy aan sy vader gedink het, wou hy teruggaan na hom toe – en homself heeltemal oorgee! Hy het geweet hy kon nooit sy vader terugbetaal of hom behaag deur goeie werke nie. Hy het gesien dat hy geheel en al van sy vader se genade en liefde afhanklik was vir enige soort herstel.

Maar die ouer seun het nooit ‘n gevoel van sy verlorenheid gehad nie – van hoe hopeloos dit was om die kloof tussen hom en God te probeer oorbrug. En daarom het hy nog nooit gedeel met die noodsaaklikheid om aan homself te sterf nie.

Geliefde, daardie skeiding kan nooit deur werke, beloftes of eie poging oorbrug word nie. Ons aanvaarding deur die liefde van die Vader kom slegs deur die bloed van Jesus Christus. Daar is geen ander verontskuldiging nie. Die kruis alleen oorbrug daardie kloof.

Jy mag protesteer teen alles wat ek hier geskryf het. Jy mag sê, “Broer Wilkerson, jy sê vir sondaars dat as hulle hul net sal bekeer, sal alles skielik reg wees – dat God hulle verlede sal uitwis en hulle onmiddellik in sy guns en seën sal inbring.”

Ja, dit is presies wat ek verkondig – omdat dit presies is wat Jesus in hierdie gelykenis sê! Wanneer ‘n sondaar hom ook al tot die Here bekeer met algehele berou, gebrokenheid en nederigheid, word hy onmiddellik in die liefdevolle arms van die Herder opgeneem. Halleluja!