Die Swaarheid van Sonde!

‘n Boodskap van Waarskuwing en Hoop vir Christene wat Sukkel met Verborge Sonde
David Wilkerson

Jy ken die storie van Koning Dawid – hoe hy owerspel met Bátseba gepleeg het en in die geheim haar man se dood gereël het. Nadat die profeet Natan egter Dawid se sonde ontbloot en voor sy kop gehou het, het die gebroke koning hom bekeer van sy verskriklike misdade. En later het hy vier psalms geskryf waarin hy die vrees en angs wat hy gevoel het as gevolg van sy sonde, beskryf het.

Dawid se beangste hartsgeroep word gevind in Psalm 6, 32 en 51 – sowel as in die Psalm waarop ek in hierdie boodskap wil fokus, Psalm 38. In al hierdie psalms, het Dawid teruggekyk en die foltering onthou wat hy ervaar het tydens hierdie donker periode in sy lewe. In Psalm 38 in besonder, het hy beskryf oor hoe hy getref is deur ‘n skuldige gewete: “ Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal” (Psalm 38:2).

Die harde werklikheid was dat Dawid die skande moes uitleef wat deur sy sonde veroorsaak is. Sy verskriklik val het vinnig algemene kennis geword en die hele volk het daaroor begin praat. Al die mense – insluitende Dawid se kamstige vriende – het gesê, “ “Hoe het die magtige held geval! Dit is klaarpraat met Dawid. Sy mag, invloed en waardigheid is alles geruïneer!”

Selfs Israel se vyande het hulle verlekker oor Dawid se val. Natan het dit vir hom uitgewys, “Maar omdat u die vyande van die HERE deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster...” (2 Samuel 12:14). Hierdie woorde het Dawid waarskynlik die meeste van alles seergemaak. Hy het skande oor sy kosbare Here se Naam gebring!

Baie Bybelkenners glo dit was gedurende hierdie tydperk – toe Dawid moreel en geestelik swak was – dat sy seun, Absalom, beplan het om sy heerskappy oor te neem. Dawid kon selfs van die komplot te hore gekom het. Ek glo inderdaad hy het Absalom in gedagte gehad toe hy geskryf het:

“Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan; en die wat my lewe soek, span strikke; en die wat my ongeluk soek, spreek van ondergang, en hulle bedink die hele dag bedrog” (Psalm 38:12-13).

Dit is duidelik dat Dawid geweet het een of ander misleiding was aan die gang. So, waarom het hy dit nie op die lappe gebring nie? Waarom het hy nie die bose planne van die konkelende boosdoeners uitgewys nie? Dit was omdat hy swaar belas was met sy eie verborge sonde!

Spreuke sê vir ons, “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spreuke 28:13). Die frase “sal nie voorspoedig wees nie,” verwys nie na materiële voorspoed nie; dit praat eerder van fisieke gesondheid, emosionele toestand en geestelike welstand. God se Woord sê dat iemand wat sy ongeregtigheid bedek, afgesny sal word van alle geestelike voorspoed. En Dawid se lewe bewys dit!

As jy vir Dawid sou vra wat meer pynlik was – Om sy geheime sonde te herberg, of om dit openbaar te hê met al die skande – glo ek hy sou sê om sy sonde openbaar te hê, sou ‘n baie ligter las wees!

Vir ‘n hele jaar lank het Dawid die verskriklike las gedra van sy owerspel en moord. Slegs sy millitêre bevelvoerder, Joab, het daarvan geweet. Toe het Natan dit te wete gekom deur ‘n openbaring van die Here. Maar totdat sy sonde ontbloot was, was dit ‘n verskriklike, angswekkende tyd vir Dawid!

Deel van Dawid se angs kon gewees het, omdat hy nooit vir Bátseba die volle waarheid vertel het oor hoe haar man, Uria, gesterf het nie. Hy kon waarskynlik die feite van haar weerhou het. Maar Bátseba mag moontlik in elk geval vermoed het dat Dawid ‘n hand gehad het in Uria se dood – bloot omdat sy daagliks haar nuwe man se emosies in onrus gesien het.

Hoe waar is Moses se woorde, “...en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind” (Numeri 32:23). Terwyl Dawid nou Psalm 38 geskryf het, was sy sonde reeds aan die lig gebring, met niks verborge nie. En hy het begin om die verskriklike prys van sy dwase keuse weer te gee: “Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ‘n swaar pak het hulle vir my te swaar geword” (Psalm 38:5).

Teen die tyd dat Natan Dawid gekonfronteer het, het hierdie gefolterde man aan die einde van homself gekom. Hy was verpletter deur die las van sy verborge sonde en hy het geen krag gehad om voort te gaan nie. Hy het uitgeroep, “Kyk na wat alles my sonde aan my gedoen het in my fisieke liggaam, my familie en my land. Dit is te swaar vir my om te dra. Ek kan nie meer onder hierdie swaar las lewe nie!”

Geliefde, daar is geen groter las wat ‘n gelowige kan dra as die swaar las van ‘n verborge, onbelyde sonde nie. Moses beskryf dat sonde plesier verskaf net vir ‘n seisoen (sien Hebreërs 11:25) – maar wat ‘n kort seisoen is dit egter! Dit kan een nag van ‘n verbode plesier wees, ‘n paar uur van donker oorgawe, of net ‘n tydelike “hoog” wees. Na die tyd egter, kom daar altyd ‘n verlammende swaarheid.

Dawid het vir ‘n hele jaar onder so ‘n swaarheid geleef. Hy het voortdurend God se bestraffende hand gevrees en die lewe onder daardie druk het hom siek gemaak. Sy verborge sonde het ‘n verskriklike tol geëis op sy liggaam en dit het hom waarskynlik geteister met maagsere, volgens wat sommige Bybelkenners glo.

Natuurlik is nie alle siektes die gevolg van onafgelegde sonde nie; Job se voorbeeld bewys dit. Net so seker as wat deelname aan die Here se Nagmaal op onwaardige wyse tot siekte kan lei, net so kan verborge, onafgelegde sonde lei tot ernstige en soms dodelike siektes.

So, het God Dawid steeds liefgehad deur dit alles heen? Ja, Hy het. Maar was God kwaad vir hom oor sy sonde? Natuurlik was Hy. En het Hy Dawid getugtig gedurende die jaar waarin hy sy ongeregtigheid bedek het? Ja – absoluut.

Laat my jou nou vra: Het God sy mense lief vandag? Ja, sonder twyfel. Maak ons verborge sondes God egter kwaad? Natuurlik. En tugtig God ons omdat ons ons sonde bedek? Ja –absoluut!

Dawid lys verskeie verskriklike emosionele en fisiese gevolge van om te lewe met ‘n dodelike, geheime sonde!

Van Dawid se dag af tot by ons eie, het sonde nog altyd dieselfde vreesaanjaende uitwerking oor God se mense gebring. Beskou hierdie lys van emosionele en fisieke ongesteldhede wat veroorsaak is deur verborge sonde:

1.  “Daar is geen heel plek in my vlees...nie” (Psalm 38:4). Die Hebreeus hier dui op, “My verstand en liggaam word verteer deur ‘n vrees van God se misnoë met my!”

Dawid het in wese gesê, “Ek word elke oggend wakker wetend dat ek sonde in my hart wegsteek. ‘n Donker, onheilspellende wolk hang altyd oor my.” Net so, as jy ‘n verborge, bedekte sonde het, sal jou eens blye gees van jou weggeneem word. Jy sal nooit met vrede wakker word nie!

2.  “...daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie” (Psalm 38:4). Die woord “gebeente” hier kan vertaal word as “liggaam.” Dawid het in wese gesê: “Daar is geen gesondheid in my liggaam meer oor nie. My sonde het my fisieke welstand beïnvloed!”

In die drie ander boetpsalms vewys Dawid ook na sy gebeente:

“Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik. Ja, my siel is baie verskrik...” (Psalm 6:3-4). “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag” (Psalm 32:3). “Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het” (Psalm 51:8). Eenvoudig gestel, hoe langer Dawid sy sonde bedek het, hoe swakker het sy liggaam geword.

3.  “My lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek aan my vlees nie” (Psalm 38:8). Die woord “lendene” in Hebreeus beteken “my krag, my vertroue.” En “onsteking” hier beteken “krimp, opdroog.” Soos Dawid sy sterkte en vertroue in die Here verloor het, het dit ook sy fisieke gesondheid laat kwyn.

4.  “My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid” (Psalm 38:6). Dawid sê in wese hier, “Toe sonde heerskappy oor my gevoer het en ek dwaas opgetree het, het ‘n morele stank my verwond. My ongeregtigheid het bekend geword aan die wêreld – en dit het gestink soos ‘n ontsteekte wond!”

Dawid was nie bedroef omdat sy eie naam beswadder was nie. Hy was bedroef omdat sy naam altyd met die Here s’n geassosieer was – en nou het hy skande op God se Naam gebring. Hy het gesê, “My naam het eens vir iets gestaan. Wanneer mense dit gehoor het, het hulle die Here verheerlik. Maar nou het my sonde my die lied van dronkaards gemaak!”

5.  “Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou” (Psalm 38:7). Die Hebreeuse woord vir “krom” hier beteken “’n donker, donker gekleurde droefheid.” Dawid het in wese gesê, “My skouers hang letterlik van die las van skuld wat ek dra. Ek gaan deur die dag met geen vrede hoegenaamd nie!”

6.  “Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart” (Psalm 38:8). Praat van ‘n gesteun wat nie uitgespreek kan word nie; Dawid het in wese gesê, “Ek kla en steun, want daar is ‘n voortdurende gebrul in my hart.”

Wat was hierdie gebrul in Dawid se siel? Dit was ‘n gesteun vir ‘n verlore vrede! Sonde het hom beroof van sy vryheid. Hy het alle rus in God verloor, sowel as al God se guns en seëninge.

7.  “...en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie” (Psalm 38:11). Dawid se sonde het hom ook sy geestelike onderskeiding gekos. Dit is een ding om jou emosionele welstand, jou fisieke gesondheid en jou reputasie te verloor. Maar die ergste van alles is om die lig van waarheid te verloor – die openbaring van Christus!

Met elke stelling wat Dawid in hierdie Psalm gemaak het, het sy las van sonde swaarder en swaarder geword. Hy het teruggekyk en sy siel se swaarheid beskryf – en hy het ons gewaarsku: “Jy hoef nie die pad te loop wat ek gekies het nie. Ek het verswak en gebroke geword as gevolg van my sonde. Ek het God se kosbare guns verloor!”

Verskeie jare gelede, by ‘n belydeniskonferensie wat gehou was deur ons bediening, het ‘n welbekende evangelis van jare gelede dit bygewoon. Dwarsdeur dekades van bediening het hierdie man ‘n geheime sonde van homoseksualiteit geherberg.

Hy was toe ongeveer sewentig jaar oud. Ek het hom nog nooit voor die konferensie ontmoet nie. Die man het sy hand uitgesteek – en toe ek uitgereik het om dit te skud, het dit gevoel soos ‘n dooie vis. Ek het in sy oë gekyk – en hy het soos ‘n dooie man voorgekom. Hy het geen lewe hoegenaamd in hom gehad nie. Al sy lig was weg – weens die emosionele tol van verborge sonde. En lig verteenwoordig onderskeiding!

Jy kan jou reputasie of jou gesondheid verloor – maar mag God jou genadig wees as jy jou lig verloor!

Omdat Dawid sy geestelike lig verloor het, het hy ook sy vermoë om sondaars tereg te wys verloor. Sy tong was stil weens sy eie sonde: “Maar ek is soos ‘n dowe; ek hoor nie, en soos ‘n stomme wat sy mond nie oopmaak nie. Ja, ek is soos ‘n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie” (Psalm 38:14,15).

Die apostel Paulus het Timótheüs beveel, “...weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timótheüs 4:2). Die mens wat egter sy sonde bedek, hoor ‘n ander woord wat donder in sy siel: “Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet? Want, soos geskrywe is, die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster” (Romeine 2:23-24).

Met ander woorde: “Hoe durf jy ander leer hoe om te lewe as jy self ‘n verborge sonde in jou eie lewe het? Jy laster God se Naam!”

Die las wat Dawid vir ‘n hele jaar lank gedra het, het hom duur te staan gekom. Dit het sy gesondheid aangetas, sy gedagtes gefolter en sy gees verwond. Dit het chaos in sy huis veroorsaak, ontnugtering in God se mense en ‘n spottery onder die goddeloses. Uiteindelik het hy uitgeroep, “Ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my” (Psalm 38:18). Die Hebreeuse woord beteken ook “val.” Hy het in wese gesê, “Ek is op die punt om te val deur hierdie swaar las van smart!”

Sommige Christene mag egter na Dawid in sy onrus kyk en dink, “Wat ‘n tragedie was Satan in staat om oor Dawid te bring. Hoe kon hierdie eens gevoelvolle psalmis tot by die rand van ‘n val kom? God moes vreeslik kwaad gewees het vir hom.”

Nee! Dit was nie die duiwel wat Dawid se sonde so swaar gemaak het nie – dit was God! In sy groot barmhartigheid, het God toegelaat dat hierdie man na die dieptes sink, omdat Hy hom die uiterste sondigheid van sy sonde wou laat sien. Hy het Dawid se onbelyde sonde so swaar gemaak, dat hy dit nie langer kon verdra nie – en hy was gedryf na berou en belydenis!

Trouens, slegs ‘n regverdige man soos Dawid kon so kragtig deur sy sonde beïnvloed word. Jy sien, sy gewete was steeds teer – en hy het die skerp pyne van elke pyl van oortuiging van sonde wat God in sy hart gesteek het, gevoel. Dit is waarom Dawid kon sê, “...my smart is altyddeur voor my” (Psalm 38:18).

En dit is die geheim van hierdie hele storie: Dawid het ‘n goddelike berou gehad! Hy het ‘n diep en kosbare vrees vir God gehandhaaf. Hy kon erken, “Ek sien die Here se tugtigende hand hierin, wat my tot op my knieë gedruk het. En ek erken dat my sonde sy toorn verdien. Al hierdie verskriklike uitwerkinge van my verborge sonde is oor my gebring deur my hemelse Vader!”

Die skrywer van Klaagliedere sê, “Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid. My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig...Hy het...my gebeente verbreek. Hy het my met bouwerk omsingel...Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak...Hy het my weë toegemuur met gekapte klip...” (Klaagliedere 3:1-9).

Die skrywer se punt is duidelik: Wanneer ons met verborge sonde leef, maak God self ons boeie so swaar, chaoties en skrikwekkend, dat ons gedryf word tot openlike belydenis en diep berou.

Beskou Dawid se voorbeeld: Hy het owerspel gepleeg. Hy het gereël dat ‘n getroue soldaat vermoor word, sodat hy sy jong vrou kon opeis (en Dawid het reeds vyf vroue van sy eie gehad). Hy het sy verskriklike duisternis vir ‘n hele jaar weggesteek het het gekom tot op die rand van algehele vernietiging. Hy het skande oor Israel en oor sy hemelse Vader se naam gebring.

Selfs na al hierdie dinge het God Dawid “’n man na sy eie hart” genoem. Hoe kon dit wees? Die geheim word geopenbaar in die volgende vers: “Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde” (Psalm 38:18). Net voor Dawid op die punt was om te val, het hy homself verneder en bely en berou gehad! Hy het geroep, “Here, ek het genoeg gehad! Ek kan hierdie las nie meer dra nie. Dit is te swaar vir my. Ek bely – ek bely my sonde vrylik. God, asseblief, moenie my verlaat nie!”

“Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou...Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my...Skep vir my ‘n rein hart, o God...neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Psalm 51:6,5,12,14).

Die Here het elke verborge plek in Dawid se lewe oopgemaak – om hom by ‘n volle en algehele berou en bekering te bring!

Hierdie boodskap strek verder as Dawid se belewenis van die hoë prys van sonde!

Ek wil nou praat met die Christen wat in baie groter gevaar is as wat Dawid ooit was, selfs op sy laagste toestand. Dit is die gelowige wat homself glad nie kan vereenselwig met Psalm 38 nie. Hy ken niks van droefheid oor ongeregtigheid, die swaarheid van sonde of die treffende pyle van sy gewete nie – omdat sy hart verstok is met hardheid!

Hierdie Christen het geen ware vrees van die Here nie. Hy kan sondig sonder berou. Niks kan die mure van sy gepantserde hart binnedring nie. Hy neem sy sonde ligtelik op en noem dit “net een klein probleempie in my lewe.” So ‘n Christen is in gevaar van om oorgegee te word aan ‘n harde hart – heeltemal mislei deur sy sonde!

Nie lank gelede nie, het ‘n baie eerlike Christen vrou vir ons bediening geskryf:

“Ek is bang! Ek dien die Here nou al vir ‘n aantal jare, maar onlangs het ek begin wedryf en koud word teenoor God. Ek het geen las vir verlore siele nie, geen dringendheid om te bid of die Bybel te lees nie. ‘n Geestelike duisternis is besig om my te oorval. Wat my egter die bangste maak, is dat ek nie begaan is oor wat met my aan die gang is nie. Ek is bang omdat ek nie bang is nie!”

Hoeveel duisende Christene het geen berou meer oor hulle sonde nie? Menigtes vandag verskoon hulle boesemsondes en dink, “Dit is net ‘n eenvoudige, menslike swakheid. Ek kan hierdie een fout bekostig.”

Nee – nooit! Die profeet Esegiël gee vir ons ‘n duidelike illustrasie van wat met ‘n volk gebeur wat hulle sonde ligtelik opneem. In hierdie verhaal, het die sewentig oudstes van Juda na Esegiël gegaan om ‘n woord van die Here te hoor. Hierdie mans was almal in die diens van die tempel en terwyl hulle by die profeet vergader het om te aanbid, was ‘n verstommende visioen aan Esegiël gegee:

“...terwyl ek in my huis sit en die oudstes van Juda voor my sit, het die hand van die Here HERE daar op my geval...Ek kyk toe – en daar was ‘n gestalte wat soos vuur gelyk het: van wat soos sy lendene gelyk het en ondertoe, was vuur...iets net soos ‘n hemelglans wat soos blinkende metaal geskyn het.

“Toe steek Hy iets uit wat die vorm van ‘n hand het, en vat my aan die kuifhare van my hoof; en die Gees het my opgehef tussen die aarde en die hemel en my in gesigte van God na Jerusalem gebring...” (Esegiël 8:1-3).

Die Heilige Gees het op hierdie vergadering geval en God se vuur het die plek met lig gevul: “En kyk, die heerlikheid van die God van Israel was daar...” (Esegiël 8:4).

Ons weet nou dat wanneer God se vurige teenwoordigheid in ‘n vergadering verskyn, word sonde altyd geopenbaar. Trouens, let op hoe die Here se heerlikheid ‘n impak op Esegiël gehad het: In hierdie visioen, het God hom bokant die tempel opgelig en hom oor alles laat sweef. En Hy het Esegiël se oë oopgemaak vir die geheime van die sewentig oudstes se harte.

Skielik het die profeet gesien dat daardie mans se gedagtes vol was met “...allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode...” (Esegiël 8:10). Hy beskryf demoniese vestings, bose wesens. En hulle het God se huis geïnfiltreer deur die bediening!

Daar het die sewentig oudstes egter kalm en rustig gesit. Hulle het gelyk soos aanbidders wat leiding van die Here soek en eerbied betoon vir Esegiël se profetiese amp. Maar in der waarheid het hulle ‘n geheime, verborge sonde bedek!

Jy sien, hierdie mans het deur die uiterlike aanbiddingsprosedures van die tempelbediening gegaan – lammers geslag, hulle hande gewas en die heilige plek binnegegaan. In werklikheid het hulle egter almal behoort aan ‘n geheime vereniging van sonaanbidders. Hulle het prostitute in die tempel aangestel wat voor Tammus, die god van vrugbaarheid geween het. En as deel van die aanbiddingsritueel, het hierdie skynbare goddelike oudstes, deelgeneem aan hoerery.

Die ergste van alles was dat hierdie mans nie oortuig was van sonde oor hulle verskriklike afgodery nie. Terwyl God se vurige teenwoordigheid nou die vertrek gevul het, het hulle bloot bedaard gesit, sonder die vermoë om iets te hoor of te sien – heeltemal onaangeraak. Hoe kan dit wees, vra jy? Daar is slegs een rede: Hulle het hulle eie ongeregtigheid as onbelangrik beskou. Hulle het dit verskoon as iets nietigs!

Die Here het vir Esegiël gevra, “Is dit dan vir die huis van Juda te gering om die gruwels te doen wat hulle hier bedrywe?...” (Esegiël 8:17). God het in wese gesê, “Hierdie manne is onaangeraak omdat hulle sonde nie sien soos Ek nie – uitermatig sondig. Vir hulle is dit net ‘n grap!”

Die sewentig oudstes het hulleself oortuig dat God hulle afgodery oorsien: “...Want hulle dink: Die HERE sien ons nie...” (Esegiël 8:12). God maak egter ‘n kragtige stelling oor hulle. Hy sê vir Esegiël, “En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou” (Esegiël 8:17).

Hierdie vers beskryf ‘n antieke gebaar van minagting. Die Israeliete sou ‘n takkie optel, dit afbreek, dit onder hulle neuse sit en dit dan buig. Die hedendaagse ekwivalent sou vir ons wees om neus op te trek vir iemand, as om te sê, “Ek dink niks van jou nie!”

God sê van hierdie mans, “Julle sit in my huis, hoor gesalfde prediking en beleef my geopenbaarde teenwoordigheid – en tog bedek julle jul sonde asof dit ‘n klein dingetjie is. Julle wil nie toelaat dat my Gees julle oortuig van sonde nie. Julle trek julle neuse op vir My!”

Hierdie oudstes was nie soos Dawid, wat swaar belas was met sy sonde nie. Hulle het geen pyle van treffende oortuiging gevoel nie, geen verlies aan fisieke krag of emosionele pyn nie. Hulle het geen innerlike gebulder of gesteun gehad nie. In  plaas daarvan, was hulle mislei deur wat Moses ‘n “valse vrede” genoem het:

“En as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel – om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk” (Deuteronómium 29:19).

Met ander woorde: “’n Misleide mens is soos ‘n dronkaard – hy het alle vermoë om te onderskei verloor. Hy kan selfs nie onderskei tussen dors en dronkenskap nie!”

Ek vra vir jou – Hoe swaar is jou sonde?

Is jy verontrus en bedroef oor jou boesemsonde? Hou dit jou brandend van binne, gee dit jou slapelose nagte, emosionele pyn, smart, skuld en wanhoop? Voel jy of jy op die rand van ineenstorting is onder die swaar las daarvan?

Roep jou hart uit, “Here, my sonde is oor my kop, bokant my begrip. Tog weet ek al my moeilikheid kom uit u tugtigende hand. O, God, ek wil nie ‘n slaaf vir my bose gewoontes wees nie. Asseblief – gee my my vryheid terug!”

As dit jou gebed is, dan is jy op pad na genesing en verlossing. Jy sien, toe Dawid bely het, was hy uiteindelik in staat om ‘n kykie te kry op die lig aan die einde van die tonnel. Luister na sy triomfantlike gebed:

“My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe...U is ‘n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid; U omring my met vrolike gesange van bevryding” (Psalm 32:5,7).

Geliefde, jy kan jou gejubel en jou blydskap terugkry. Bely en laat staan jou sonde – en die Here sal jou vergewe en verlos. Soos die verlore seun se vader, is Hy gereed om jou nek te soen, jou in ‘n kleed van geregtigheid te tooi en ‘n groot fees vir jou te hou. Dan sal jy saam met Dawid kan getuig:

“Die goddelose het baie smarte, maar hy wat op die HERE vertrou - met goedertierenheid sal Hy hom omring. Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” (Psalm 32:10-11).

Halleluja!