Wanneer Jy Aan Die Einde Van Jouself Kom

David Wilkerson

In Psalm 38 vind ons Dawid aan die einde van homself. Hy was mismoedig en moedeloos en sy struwelinge het hom kragteloos gelaat. Dawid ween, “ek loop die hele dag en treur, want my lyf brand van die koors en daar is nie meer 'n gesonde plek aan my liggaam nie. Ek is gedaan en heeltemal platgeslaan, my hart jaag en ek brul van die pyn. U weet waarna ek smag, Here, my gesmeek is vir U geen geheim nie. My hart jaag, my krag het ingegee, ek kan nie eers meer sien nie” (Psalm 38:6,8,10).

Hierdie is dieselfde man wat God se Woord gevrees het en uitbundige psalms geskryf het om die Here se glorie te prys. Maar in sy depresiewe toestand het Dawid gedoen wat baie moedelose Christene vandag doen: Hy redeneer dat God besig is om hom te tugtig: Hy ween, “Moet my tog nie in u toorn bly straf nie, Here, en my langer in u gramskap tugtig nie” (Psalm 38:1-2).

Dawid beskryf iets wat elke volgeling van Jesus die een of ander tyd moet trotseer. Hy praat van `n demoniese aanval van `n lastige gees van ontmoediging. Hierdie is Satan se magtigste wapen teenoor God se uitverkorenes. Geen Christen bring dit oor homself nie, en nog minder stuur die Here dit. Dit kom direk vanuit die dieptes van die hel. Satan wil ons oortuig dat ons God se wraak oor onsself gebring het deurdat ons nie voldoen het aan sy “heilige” standaarde nie.

Paulus waarsku dat ons nie die prooi moet word van hierdie geestelike valstrik nie: “Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed” (2 Korinthiërs 2:11). Paulus waarsku, “Sien hierdie ontmoediging vir wat dit is: `n demoniese wapen. Dit is Satan se pyl wat maak dat jy in jouself twyfel. Hy weet hy kan jou nie verlei om jou rug op Jesus te draai nie. So, hy oorweldig jou met leuens om jou so depressief te maak dat jy wil handdoek ingooi.”

Dawid se beproewing was nie uniek nie.

Ek het baie biografieë van toegewyde manne en vroue gelees wat die Here magtig gebruik het, en elkeen van hulle het deur die selfde verlammende moedeloosheid gestruwel. Die Britse prediker C.H. Spurgeon het `n menigte na die Here toe gelei deur sy kragtige predikings maar hy het aaklige aanvalle van neerslagtigheid (of depressie in vandag se terme) beleef. Hy het op `n keer gekla, “Ek het die swartste hart in Engeland.” Spurgeon sou in sy tuin ingaan, sy hande omhoog na God lig, en skreeu, “Here, Ek het U nog nooit meer begeer as nou nie, en tog my gees was nog nooit so laag nie. Waar is U?”

Ek het al evangelistiese uitreike gelei waar duisende op een slag na Christus toe gekom het. Ek het gehelp om `n menigte dwelmverslaafdes en alkoholiste na Jesus en redding te lei. Maar baie keer binne dae van die gebeurtenis word ek geweldig ontmoedig. Ek het gedink, “My lewe was ‘n totale vermorsing. Ek is `n mislukking.” Ek het geïdentifiseer met Dawid se woorde, “ My hart jaag, my krag het ingegee, ek kan nie eers meer sien nie” (Psalm 38:11).

Ons kan met God praat net so veel as wat ons wil oor ons gevoel van mislukking. Ons kan Hom vertel van ons wanhoop oor ons sondes en dwase foute. Ons Here nooi ons, en Hy sal altyd sag met ons wees in ons hulpelose toestand. Maar ons moet nooit die gedagte koester dat God ons verlaat het nie. Selfs in sy wanhoop het Dawid dit in die Psalm uitgeroep, “Ek vertrou op U, Here, U sal antwoord, Here my God” (Psalm 38:15).

As jy `n demoniese aanval van moedeloosheid beleef, dan stel ek drie dinge voor:

1. Moenie op jou eie redenasie staatmaak om jouself uit die situasie te kry nie.

Jy is nie opgewase teen die demoniese gees wat jou aanval nie. Die stryd is ver bo wat jou menslike vermoë of krag kan vermag. Hierdie geveg is in die geestelike koninkryk en moet in die gees baklei word.

Dawid se vrae was nie as gevolg van twyfel in God nie. In werklikheid begin hy Psalm 42 deur pragtig sy diep dors vir die Here uit te druk. “Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.  Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn?” (Psalm 42:1-2). Dawid het gesmeek vir `n openbaring en gesȇ, “Here, Ek het U nog nooit liewer gehad nie. Hoekom is ek so droefgeestig?”

Ontmoediging was nog altyd die vyand se wapen van keuse teen God se uitverkorenes deur die eeue heen. Wanneer die aanval teen jou kom, moenie dink dit is ongewoon nie. Petrus skryf, “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie” (1 Petrus 4:12). God laat hierdie tipe van beproewing toe met al sy heiliges — en Hy sal ons daardeur bring.

2. Gaan aanbid en laat die Heilige Gees toe om sy werk te doen.

Wanneer jy mismoedig en ontmoedig is, voel jy nie daarna om te bid nie. Jy mag dalk nie eers `n gebed kan fluister nie. Maar jy kan met Jesus deur jou gees praat: “Here, help my. Hierdie aanval is te veel vir my. Ek kan niks doen behalwe om hier in geloof te sit nie. Ek vertrou in U Gees  om hierdie wanhopigheid uit my uit te dryf.”

Moenie bekommerd wees of probeer om jou uit hierdie gevoel van wanhoop te bid nie. Dit is tyd vir God se Gees om in jou te werk. Jesus belowe, “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees…Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Johannes 14:16,18).

Die eerste ding wat die Gees doen wanneer hy kom, is om Satan se leuens te ontbloot. “En wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26). Dit is die werk van die Heilige Gees. Hy ontknoop die leuens van die vyand en bring bemoediging van Bo.

3. Waag dit om aan ongelooflike goeie dinge te glo wat die Heilige Gees jou gaan vertel.

`n Menigte van Christene is elke dag in God se teenwoordigheid en verwag om deur Hom berispe te word. Hoe moet dit nie ons Here grief nie! Wanneer ons gaan bid moet ons bereid wees om `n goeie woord van ons liefdevolle Vader af te hoor. Almal wat op Hom wag, sal sy glorieryke beloftes ontvang:

“Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God” (1 Korinthiërs 2:9-10).

Kyk meer intens na die twee versies in hierdie paragraaf:

* “dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet” (1 Korinthiërs 2:9). Satan sal jou aanval, jou verswelg met leuens en bang maak met woorde. Maar as jy net bly wag op die Here, sal sy Gees kom en al die duiwel se leuens uitdryf. Hy doen dit deur aan jou `n openbaring te bring dat God net goeie dinge voorberei het vir jou omdat jy Hom liefhet.

Ons God het `n wonderlike plan vir elkeen van sy kinders. En geen sataniese aanval teen ons kan ooit die uitkoms van daardie planne verander nie. God ken die hartseer, die stryd en pyn wat ons elke dag trotseer — en tog weet Hy ook van die glorieryke dinge wat Hy vir ons beplan het. Hy weet watter openbaring ons gaan kry, die nuttigheid wat ons gaan geniet, die vrug wat ons sal sien, die vreugde en vrede wat ons sal besit. Hy het `n goeie woord vir almal wat Hom liefhet.

* “Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak”  (1 Korinthiërs 2:10). God begeer om ons sy goeie woord te wys rakende dit wat Hy vir ons voorberei het. En sy Gees is die boodskapper wat die goeie nuus bring. Die Heilige Gees sal vlerke gee aan ons sinkende gees met sy openbaring en ons sal soos arende kan vlieg uit die valstrik van Satan.

“Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie” (Jesaja 40:28-31).

Dit is die werk van die Heilige Gees om ons te motiveer. Ons werk is slegs om Hom te vertrou om dit te doen wat die Vader Hom voor gestuur het. Gaan nou na jou binnekamer, selfs, terwyl jy mismoedig is en word stil voor die Here. Al het jy nie die krag om te praat nie, jy kan Hom aanroep deur jou gees. Praat in gebed met Hom:

“Here ek weet U woon in my. En ek weet U het U Gees gestuur om my te vertroos, te versterk en om die gees van Christus aan my te openbaar. Spreek U vertroosting aan my. Ek het geen krag meer oor nie. U sal my moet ophef en lei.”

Die Heilige Gees sal jou nie mislei nie. Hy sal jou die goeie dinge wys wat God vorentoe vir jou beplan. Maar jy moet dit waag om te glo dat Hy met jou sal praat.

Jy sal nie flou val nie. Jy gaan triomferend uit jou beproewing kom, want jou geloof sal  getoets word en so suiwer soos goud bevind word. En jy sal sien dat die Here elke belofte wat Hy aan jou gemaak het vervul het. Amen!