‘n Uitroep vanuit die Grafte

David Wilkerson

In Markus 5 het Jesus net klaar onderrig gegee in ‘n kusdorpie en die skare laat gaan. Daarna het Hy ‘n dorpie Gádara aan die ander van die water in sy visier gehad. Ek glo net toe Jesus die seile gespan het om daarheen te gaan, het die hel gebewe.

Daar was baie grafte in die buitewyke van Gádara. En tussen hierdie grafte het daar ‘n man, wat besete was met 2,000 onreine geeste, gebly. Ons kan nie begin om die teistering te verstaan waardeur hierdie duiwelbesete man moes gaan nie. Die Skrif sê dat hy heelnag lank gehuil en geskree het, sy klere geskeur het en homself met klippe gesny het. Eenvoudig gestel, hy het soos ‘n wilde dier geleef en niemand kon hom help nie. Satan het van hierdie gefolterde man sy eiendom gemaak.

Toe Satan Jesus egter op die pad na Gádara gesien het, moes hy gevrees het. Hy het geweet dat wanneer Christus hom sou teëkom, dat Hy nie langer sou toelaat dat die man in daardie soort helse foltering sou bly nie.

In die Gees, het Jesus die geroep van die besete man gehoor.

In Gádara sou daar geen wagtende skares wees nie. Daar sou geen massa genesings en geen gelykenisse wees nie. Christus se sending was om een persoon te bereik, die Gádareense duiwelbesetene. Markus se evangelie skets ‘n dramatiese toneel:

“En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet ‘n man met ‘n onreine gees, wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie; want... die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie... En toe hy Jesus van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer en skreeu met ‘n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie” (Markus 5:2-7).

Waarom het die man dit gesê? Dit is omdat bose geeste gepynig word wanneer hulle Christus teëkom. Hulle weet dat hulle vir ewig in kettings vasgebind gaan word!

Jesus het direk op die demone wat hom gepynig het gereageer: “Onreine gees, gaan uit die man uit” (Markus 5:8). Dit was toe die 2,000 onreine geeste (wat hullself “Legio: want ons is baie” genoem het) die duiwelbesetene verlaat het. Dadelik het hulle in ‘n trop varke ingevaar, wat wild van die krans afgehardloop, in die see gespring en verdrink het (sien Markus 5:9,11-13).

Wat ‘n vreemde toneel was dit nie nou nie. Die duiwelbesete man, wat so genadeloos gefolter was nag en dag, het kalm en by sy volle verstand voor Jesus gesit. Dan lees ons iets verstommends: “Toe... het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom [Jesus] gesmeek om by Hom te kan bly” (Markus 5:18). Hierdie man het gepleit om saam met Jesus op sy sendingtogte te gaan. Hy wou by die Messias, wat hierdie magtige bevryding bewerkstellig het, wees!

Wat ‘n wonderlike wonderwerk het Jesus nie gedoen nie? Die doel van die storie is duidelik bedoel om ons te leer van die Here se gesag oor elke mag van die duisternis, maak nie saak hoe uitdagend nie. Daar is egter baie meer in hierdie storie vir ons. Ek glo daar is ‘n belangrike boodskap wat bedoel is om Christus se kerk vandag te versterk.

Op hierdie oomblik kom ons te staan teen ‘n soortgelyke demoniese verdrukking waarin ‘n hele geslag deur onreine geeste oorstroom word.

In Openbaring, praat die Bybel van ‘n vloedgolf van boosheid wat uit die hel op die aarde losgelaat word. Dit gaan in die laaste dae gebeur wanneer die duiwel weet dat sy tyd kort is.

Ek glo dat ons die begin daarvan nou reeds sien. Beide Christene en ongelowiges vra, “Wat gebeur met ons nasie? Daar is geen sin van reg of verkeerd nie. Dit gaan woes in die samelewing met elke man sy eie god.” Selfs die nuus kommentators skud hulle koppe oor die vinnige verval van enige sin van moraliteit.

Geliefde, dit is alles die werk van die magte van die hel. Satan en sy hordes doen hulle bes om baie in duisternis vas te vang. Ons lewe in die tydperk wat verklaar, “Enige iets is toelaatbaar!” En die vyand gebruik hierdie ingesteldheid om besit van menigtes te neem.

As die kerk van Jesus Christus, moet ons bewus wees dat ons getuies is van Satan se laaste wanhopige opstand teen God se mense. In New York Stad was dit vir jare partytjie tyd reg deur die dag sonder limiete. Al hierdie plesier malligheid eindig egter in ‘n angsvolle geroep. Uiteindelik word die hoogtepunte laagtepunte wat nie opgehef kan word nie. Die alkohol, dagga en kokaïne word ‘n verslawing wat vir meer, meer en meer skreeu totdat dit die hele liggaam, siel en verstand besit.

Toe die man van Gádara sy vlees gesny het, was hy deur die bose geeste gedring om homself te vernietig. Net so is dit met hierdie geslag. In die vroeë ure van die oggend in New York, begin jy die krete op die strate hoor. Daar is die geskreeu van die gefolterde siele wat die duiwel vasgevang en van besit geneem het. In enige hospitaal se noodgevalle saal kan jy op ‘n Vrydag of Saterdag nag gaan kyk na die resultaat van Satan se werk: aaklige gesigte van selfvernietiging van dwelms, alkohol en selfmoordpogings wat skeefgeloop het.

Hierdie uitroepe word egter nie net in voorstedelike gebiede soos New York gehoor nie. In die afgelope dekade het ‘n plaag oor Sentraal Amerika beweeg en dit sluit landelike gebiede in. Tik (kristal metamfetamien) laboratoriums het regoor die nasie opgeskiet, en die goedkoop dwelm verslaaf nuwe legioene van verslaafdes. Satan het nou nuwe maniere gevind om op ‘n massiewe skaal mense te besit en te martel.

Vandag lewe menigtes in die grafte van selfvernietiging en word deur bose geeste gemartel. Miljoene harte wat gemartel word roep op hierdie oomblik uit. En hulle sê dieselfde woorde as die man van Gádara: “Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God?” (sien Markus 5:7).

So seker as wat Jesus die duiwelbesetene se geskreeu gehoor het, so hoor Hy die krete van Satan se slagoffers vandag. Ons meëlewende Here reageer steeds op elke soortgelyke uitroep. En menigtes in hierdie geslag gaan verlos word deur sy krag.

Ek glo Jesus het ons ‘n geïllustreerde preek gegee hoe om te reageer op die uitroepe wat  vandag vanuit die grafte van marteling kom.

Op elke sendingtog saam met Jesus, was die dissipels in opleiding. Christus het hierdie manne bestem om die pilare van sy kerk te wees. Dosyne ander het Christus ook van naby gevolg. Toe Jesus die dissiples saam met Hom oor die see geneem het, het ander klein bootjies waarskynlik gevolg.

Hou in gedagte, die dissiples en die ander volgelinge van Jesus was almal getuies van die ontmoeting by Gádara. Dit was asof Jesus aan elke geslag wat sou volg gesê het: As jy My volg, sal jy te staan kom teen legioene van bose, verleidende geeste. En die boosheid wat Satan in hierdie wêreld vrystel gaan erger en erger word. Met hierdie duiwelbesete man gaan Ek julle wys hoe om hulle te bedien wat deur die duiwel vasgevang en gemartel word. Julle sal my werktuie van vrymakende krag wees.”

Ons weet nie hoe hierdie getuies gereageer het toe hulle daardie jammerlike, gepynigde man gesien het nie. Maar ons weet hoe Jesus gereageer het. Ek glo hy het ‘n traan in sy oë gehad. Hoe moes sy hart nie uitgegaan het na hierdie man wat so ondenkbaar gefolter was nie. En hoe woedend moes Hy nie gewees het om hierdie voorbeeld te sien van Satan se wrede teistering nie.

Soos die tye erger word, gaan ons ‘n onuitspreeklike uitbreek van boosheid sien wat dié van Sodom en Gomorra sal oortref. Alreeds word menigtes opgevang in dwalings deur Satan se kragtige aantrekking tot sensualiteit. Hierdie misleiding gaan net toeneem in die dae wat kom. Dit sal vir baie in die kerk lyk asof die Heilige Gees elke ding wat die woede van die hel terughou, weggeneem het.

Maar in hierdie uur van groeiende hopeloosheid en wetteloosheid, gaan God iets wonderliks in sy kerk doen. Dit is wat ek sien wat die Here in die komende dae gaan doen.

1. God gaan sy mense herinner aan sy krag om bose geeste uit te dryf.

Baie Christene het toegelaat dat Satan onbetwis in hulle lewens en huise werk. Hulle het toegelaat dat hy hulle emosioneel en geestelik teister. Geliefde, ons het egter dieselfde Jesus wat in ons leef as die Een wat ‘n legioen duiwels uit die man in die grafte uitgedryf het. Die wonderbaarlike bevryding in Gádara is Christus se boodskap aan ons vandag en dit sê:

“Moenie die Satan en sy magte van die duisternis vrees nie. Moenie oortuig wees dat hy die oorwinnaar is nie. Ek het jou my gesag oor elke mag van die duisternis gewys. Nou roep Ek jou om op te staan en my woord te spreek. Neem die gesag wat Ek vir jou gegee het. Laat die duiwel vlug!”

Inderdaad, in Lukas 9:1-2 het Jesus aan sy dissipels al die krag en gesag oor Satan se demoniese hordes gegee: “En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siekes te genees. En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak.” Nêrens in die Skrif word dit geskryf dat hiedie gesag of mag herroep of teruggetrek is nie. Met ander woorde, Jesus roep ons om sy gesag te gebruik, om gebonde gevangenes te bevry en die duiwel op die vlug te laat slaan.

Die tyd vir Christus se kerk het gekom om terug te keer na sy bedieningsopdrag: “Genees die siekes en dryf die duiwels uit.” Uitroepe van wanhoop kom van alle dele van die wêreld. En die Gees raak God se mense aan om te reageer. Op hierdie oomblik sien ek hoe Jesus ‘n heilige terugveg in sy kerk plaas. Dit is ‘n tydige werk en broodnodig want ek sien Heilige Gees kerke wat spoedig sal oorloop met vreesagtige, wanhopige mense wat hulp soek. Hulle gaan bevryding nodig hê wat net Jesus kan voorsien.

Op hierdie oomblik, hoor ek die Gees aan God se mense sê dat ons moet terugkeer om ons gawes te gebruik. Ons moenie bang wees om vir genesings en bevrydings te bid nie. Laat elke pastoor, ouderling en leke prediker verantwoordelik in die geloof vorentoe beweeg. Volgens Jesus, moet ons verwag dat hierdie bose geeste op sy bevel sal vlug!

2. By Gádara het Jesus ons gewys hoe om die magte van die duisternis met Sy gesag vreesloos te konfronteer.

Jesus het nie die man van Gádara veroordeel nie. Hy het hom nie gevra hoe hy so gebonde geraak het nie. Daar was geen bestraffing nie, nie eers ‘n vraag nie. In plaas daarvan het Christus ‘n wonderlike wonderwerk van bevryding vir die gefolterde man bewerkstellig. Hy het die wêreld gewys hoe God se gesag die mag het oor elke mag van die duisternis.

In hierdie donker tye, sê Christus vir ons, “Gaan en doen net so.” Soos ons sy opdrag hoor, laat ons opstaan en gaan en die werk van bevryding doen wat so baie mense nodig het. Dan sal die menigtes wat vasgevang is in Satan se greep, sien hoe diep God se liefde vir hulle is as Hy kragtig ter wille van hulle werk. Amen!