Die Kerk se Grootse Uur Lê Nog Voor

n Uitroep tot Gebed vir die Volgende Geslag
David Wilkerson

Toe Israel die Rooi See oorgesteek het, het hulle God se lof besing vir sy magtige verlossing. Dink aan die verstommende wonderwerk wat hulle pas ervaar het. Reuse watergolwe het vir húlle oopgegaan, maar hulle magtige vyand ingesluk. Terwyl hulle die gebeure aanskou het, was hulle verwonderd. Hulle moes seker vir mekaar gesê het:

“Daar sal nooit weer so ‘n groot wonderwerk soos hierdie wees nie. Geen volgende geslag sal ooit so ‘n magtige demonstrasie van God se krag sien nie. En nooit sal sy volk weer so ‘n groot krisis beleef soos hierdie nie. Geslag na geslag sal hierdie dag onthou. Hulle sal hierna terugverwys as die grootste bewys van God se magtige werk onder die mensdom.”

Vir baie jare was dit inderdaad so. In werklikheid was Israel beveel om alle opvolgende geslagte te vertel van God se groot wonderwerkende krag, wat Hy gedemonstreer het by die Rooi See toe Hy namens hulle opgetree het: “Sal ons...aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het” (Psalm 78:4).

Eeue later het Dawid teruggekyk na Israel se wonderlike verlossing uit Egipte om die volk se geloof op te wek. Hy het Israel aangemoedig, “Kom en aanskou die dade van God, Hy wat gedug is in werking oor die mensekinders. Hy het die see verander in droë land; hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar was ons bly in Hom" (Psalm 66:5–6).

As kind moes Dawid bekoor gewees het deur die storie, terwyl hy dit oor en oor by sy pa gehoor het: hoe God hulle voorvaders van die Farao verlos het, hoe Hy die golwe laat terugrol het vir die ontsnappingsroete, hoe Hy daarna die magtige Egiptiese leër verpletter het. Dawid het aan sy eie kinders dieselfde storie vertel en gesê, “Julle weet God lewe omdat Hy ons voorvaders deur die Rooi See op droë grond laat trek het. Gaan en vertel nou die storie aan julle kinders en kleinkinders."

Toe Dawid koning was, het hy die hele volk herinner aan God se bevel om elke geslag van die verstommende getuienis te vertel: “Ek wil my mond open met ‘n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom. Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel...sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders" (Psalm 78:2–4, 6).

“Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen...Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos ‘n wal" (Psalm 78:12–13).

‘n Tyd het aangebreek waarin Dawid nie langer net die storie kon oorvertel nie – hy moes God vra om dit weer te doen!

Skielik was dit nie meer vir Dawid genoeg om te praat oor wat God in die verlede gedoen het nie. Hierdie goddelike man wou sien dat die Here sy volk uit hulle huidige krisis sou verlos. “O God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel: ‘n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd. U self het met u hand nasies verdrywe... omdat U ‘n welbehae in hulle gehad het" (Psalm 44:2–4).

Dawid het bedoel, “Here, my hele lewe lank het ek gehoor wat U in die verlede gedoen het. Ek het die ongelooflike stories van hoe U u heerlikheid aan my vaders getoon het, vertel en oorvertel.” Toe het Dawid hierdie smeekgebed uitgeroep: “U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob" (Psalm 44:5). Met ander woorde: “Here, U is ook my Koning. Doen weer hierdie dinge vir u volk vandag! Ek kan nie langer net van u vorige wonderwerke wat U vir Jakob en Israel gedoen het, hoor nie. Ek moet nóú self daardie verlossing vir U volk soek.”

Terwyl Dawid hierdie woorde gespreek het, was hy saam met die hele volk van Israel in ‘n groot beproewing. Hulle het ‘n wonderwerk nodig gehad. Daarom het Dawid goeie redes gehad waarom God sy versoek moes toestaan:

“Here, by die Rooi See het u kinders gedink dat daar nooit weer so ‘n groot krisis sal wees nie. Maar vandag staar u volk ‘n krisis in die gesig wat net so krities is. Dit is asof ons by die Rooi See staan, terwyl ons kyk hoe Farao op ons afkom. Ons het u verlossing nou nodig. Ons moet eenvoudig net ‘n magtige openbaring van u magtige, uitgestrekte arm hê. Doen dit weer, vandag!”

Jare gelede het ek dieselfde smeking van my prediker seuns beleef. Hulle het aan my gesê, “Pa, ons weet van al die wonderwerke wat God vir Pa gedoen het. Toe Pa jare gelede in geloof na New York Stad gekom het om met tienderjarige bendes en verslaafdes te werk, het God Pa bonatuurlik gelei. Hy het wonderwerke van geopende deure gegee of fondse voorsien of verharde mense soos Nicky Cruz verander.

“Ons loof God vir al daardie dinge. Maar nou het ons nodig om God se wonderwerkende verlossing in ons eie bedienings te sien. Ons hele lewe lank het ons gehoor wat God in daardie vroeë jare gedoen het, maar nou moet ons sy werke self beleef. Dit is ‘n ander geslag en Amerika en die kerk beleef beide groot krisisse. Ons moet eenvoudig net sien hoe God vandag werk.”

Oor die laaste dekade het ek gehoor van baie jong predikers wat die geskiedenis van herlewings bestudeer. Hierdie getroue, jong manne is desperaat om God se magtige hand vir hulleself te sien werk. Hulle verlang daarna om te sien hoe Hy wonderwerke van verlossing en redding doen. Sê my, is dit ook die smeekgebed van jou hart?

God se wonderwerkende krag mag nie saam met die huidige geslag uitsterf nie.

Laat ek jou vra: As ek met die Israelite by die Rooi See kon praat en hulle van vandag se globale krisis vertel, hoe dink jy sal hulle reageer? Wat sou hulle sê oor die baie Christene wat vrees oor die ontstellende dinge wat plaasvind — terrorisme, volksmoorde, tsunami’s, vernietigende oliebesoedeling en aardbewings?

Ek is seker daardie Israeliete het in hulle dag gedink, “Daar sal nooit weer nog ‘n krisis soos ons s’n wees nie.” Vandag is daar egter soveel onrus, dat mense in elke volk na God kyk om op te tree. Dit is verstommend dat baie Christene glad nie daarvan bewus is nie. Hulle is te begaan met die ekonomie, politiek en die vreesaanjaende dinge wat hulle op die nuus sien. Om op te som, hulle het oor ‘n tyd lank ontmoedig en terneergedruk geword en baie het die hoop vir ‘n geestelike herlewing verloor.

Geliefde, aan ons is laaste-dag verlossings belowe wat baie groter is as die opening van die Rooi See. Wat God vir ons wil doen, is baie magtiger as enigiets wat in die verlede gesien is. Hy begeer om iets so groot te doen dat ons eenvoudig nie langer net na vorige wonderwerke sal kyk nie. Dit is nie een of ander wonderlike profetiese woord uit my eie gedagtes nie. Dit kom uit God se Woord:

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here...[dat] hulle nie meer sal sê: So waar as die Here leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie" (Jeremia 23:5, 7). Luister na wat Jeremia hier sê: “Al daardie vorige wonderwerke was ongelooflik. Maar hulle sal nie langer ons bewyse wees dat God magtig aan die werk is nie. Ons God belowe dat Hy ‘n nuwe ding vir ons sal doen!"

Volgens Jeremia is die dag aan die kom waarin die kerk met verwondering sal getuig: “Ons ervaar groot verlossings van slawerny. Ons sien verstommende reiniging van harte. God is magtig aan die werk. Die wêreld moet sê, ‘Verseker leef die Here. Hy doen wonderwerke en verander lewens voor ons oë!’”

Jeremia gee ons die “nuwe” getuienis: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek... hulle nie meer sal sê: So waar as die Here leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie; maar: So waar as die Here leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het" (Jeremia 23:5–8, kursief, myne).

Met ander woorde, God se naam sal deur die wêreld geken word oor ‘n nuwe wonderwerk. Jeremia praat hier van ‘n tyd van groot verlossing, wonders wat groter sal wees as die wonderwerk van die Rooi See. Christus is die Saad van Dawid, die Spruit van geregtigheid, wat in die lewens van God se mense regeer. En die “dae wat kom” verwys na ‘n tyd waarin Jesus se bediening in die wêreld groter sal wees as alle vorige wonderwerke.

God het belowe om sy kerk “meer as in die begin” te seën en te vermeerder.

“En Ek sal mense op julle vermeningvuldig, die hele huis van Israel, almal saam... en hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees... en Ek sal... aan julle weldoen meer as in julle vroeër dae" (Esegiël 36:10–11). Let wel dat hierdie vers nie ‘n kerk, wat aan die slaap en begaan is met die globale ekonomie, beskryf nie. In plaas daarvan, bevat dit die belofte dat God in hierdie laaste dae ‘n groot werk sal doen wat selfs groter sal wees as Pinkster.

Dink terug aan ons eie geestelike begin, net nadat jy vir Jesus ontmoet het. Jy was so gelukkig en opgewonde dat jy gered is. Dit was die wonderbaarlikste en kosbaarste tyd in jou lewe. Nou sê God aan jou, “Ek gaan groter werke doen.”

“Beter as die Rooi See?” vra jy. “Beter as Elia wat vuur uit die hemel laat kom het en dit met reën geblus het?” Ja, God het iets beter en groter in die geestelike koninkryk beplan.

“Wat op aarde kan beter wees?” mag jy vra. “Ons geloof is op hierdie groot voorbeelde gebou.” Volgens die Skrif, moet ons nog die volle openbaring van Jesus Christus in die geskiedenis van die mensdom beleef. En hier is een van die mees verstommende dele van hierdie wonderwerk: God gaan die mees sonde verharde, ongelowige geslag van alle tyd neem en menigtes red, terwyl Hy hulle liefdevolle harte gee en hulle harte na Christus toe bekeer.

“Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape...soos die geheiligde skape" (Esegiël 36:37–38). God gaan “skape,” bedoelende ‘n menigte van mans en vroue, red en verlos. Eerstens gaan God ‘n groot aantal gelowiges bymekaar maak wat deur hulle eie godsdienstige slaap “verstrooi” was. En tweedens, sal ons sien hoe sondaars van elke denkbare vlak van die lewe na Jesus getrek word en ernstig word oor die dinge van God — insluitende Jode en Moslems, rykes en armes, kriminele en gemeenskapsleiers, mense van enige denkbare agtergrond.

Jy mag sê, “Nie een van hierdie dinge is nuut nie. God het nog altyd sondaars gereining. Hy doen dit al sedert die kruis.” Dit is waar, maar sonde word ook meer. En waar sonde meer word, gaan God se wonderwerkende krag nog baie meer word.

Vandag is daar ‘n verskil. By die Rooi See was die duiwel op die aanval en het gedreig om God se volk te vernietig. Maar in hierdie uur het hy alreeds baie van die kerk oorheers en is daar baie meer gelowiges as ooit in groot nood. “Omdat hulle julle van alle kante verwoes en vertrap het, sodat julle vir die oorblyfsel van die nasies ‘n besitting kan wees, en julle in opspraak gekom het en deur die mense beskinder is" (Esegiël 36:3).

God gaan tot aksie oorgaan, “Omdat die vyand ha, ha! oor julle roep; en; Die ewige hoogtes het vir ons ‘n besitting geword" (Esegiël 36:2). Satan en sy volgelinge spot en lag en eis, “Ons is op die punt om die naam van God heeltemal van die aarde af uit te wis.” Maar die Here sê, “Ter wille van my Naam, gaan Ek ‘n magtige verlossing bewerk.”

Hierdie wonderwerk gaan op die mees behoeftige, mees kritiese tyd in die geskiedenis van die kerk kom. Wat is die wonderwerk? God gaan sy mense te midde van vurige beproewings ontmoet. Hy gaan sy groot liefde aan sy geteisterdes openbaaar.

“En ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee...En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig, sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies nie. Dan sal julle dink aan julle verkeerde weë...en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels" (Esegiël 26:30–31).

Hierdie groot beloftes word aan ons gegee, sodat ons dit in vervulling sal bid.

God vertel sê vir ons vandag, “Ek wil julle geloof vermenigvuldig.” Hy sê ook vir ons om vir hierdie vermenigvuldiging te bid. “Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape" (Esegiël 36:37).

Ek moet erken dat my gebed as volg was, “Here, U moet dit doen. Ek kan dit nie sien nie. Maar U het geen ander keuse as om dit te doen nie, omdat U dit belowe het.”

Ek glo God wil hê dat ons so moet bid. Selfs wanneer ons dit nie vir onsself kan sien nie, is gebed God se beloftes wat in petisies verander word. Eenvoudig gestel, ons is veronderstel om die beloftes van God te bid. Ons moet aanspraak maak op sy beloftes in elke area van ons lewens. En ons moet daardie beloftes in besit neem totdat God van ons besit geneem het.

Volgens Esegiël, sal die verlossing van menigtes van sondaars veroorsaak dat die wêreld God se krag sal leer ken. Alle vlees sal sy verstommende dade van liefdevolle genade sien en ken.

So wonderbaarlik en wonderlik as wat hierdie beloftes is, sal nie een vervul word sonder dat God se mense dit in vervulling bid nie. Waarom het die Here sy beloftes op die voorwaarde van gebed gebaseer? Dit is omdat gebed wys dat ons wil hê wat God wil hê. Dit wys dat ons sy begeertes hoog genoeg ag om ons lewens in ooreenstemming daarmee te bring — ons begeertes, tyd en energie. En die Heilige Gees gebruik die proses van gebed om ons te verander.

Geliefde, hierdie geslag gaan sien dat ‘n groot aantal mense na die Here toe kom. En dit sal nie gebeur deur bekpratery, advertensies of prominente name nie. ‘n Herlewing kan nie opgewerk, geforseer of gekoop word nie. Herlewing gebeur omdat “die hele huis vra.”

Dit is nou die tyd vir die hele huis van God om op te hou terugkyk na sy verlossing en liewer vorentoe te kyk. Dit is tyd om met verwagting te bid vir die wonderbaarlike werk van die Heilige Gees.

Ek dank die Here vir alles wat Hy deur die geskiedenis vir sy mense gedoen het; Hy is inderdaad al die lof en danksegging waardig. Hy het egter self gesê dat Hy begeer om ‘n nuwe ding te doen!

Berei voor om die geboorte van die mees toegewyde en dinamiese geslag in die geskiedenis in die kerk te sien.

God is getrou — ons seuns en dogters gaan hulle gebede beantwoord sien. Geregtigheid gaan op hierdie geslag neer reën en die Here gaan toelaat dat hulle sy grootste werke ooit sien. As ons ernstig en onophoudelik bid, sê God, sal Hy die volgende doen:

“Ek kom en wend My na julle toe... Ek sal mense op julle vermenigvuldig... hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees... die smaad van die volke sal jy nie meer dra nie...

“En die nasies sal weet dat Ek die Here is... van al jul onreinhede sal ek jou reining...Ek sal julle ’n nuwe hart gee...

“Ek... sal maak dat julle my insettinge wandel en my verordening onderhou en doen...Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees...

“Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die Here, opgebou het wat afgebreek was...so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat Ek die Here is" (Esegiël 36:9–11, 15, 23, 25–26, 27, 31, 36, 38).

Wat ‘n ongelooflike lys van beloftes wat in een hoofstuk van Esegiël gevind word. Hoe sal ons hierdie beloftes vervul sien? Slegs deur hulle in vervulling te bid.

Jy mag wens jy was by Pinkster. Maar die Here het reeds gesê dat Hy sy beste wyn vir die laaste dae gebêre het. Dit beteken dat meer van Christus se heerlikheid as ooit tevore te voorskyn sal kom. Vergeet daarom die “goeie ou dae.” Die beste dae van die kerk van Jesus Christus lê nog voor. Begin nou te bid!