Die Grootheid van Ons God

Te Midde van die Vloedgolwe het Hy Alles Onder Beheer
David Wilkerson

Ons bediening het ‘n gewyde webwerf waarin ons boodskappe van Christene regoor die wêreld ontvang. Gelowiges in verskeie lande skryf nou dieselfde ding: Vrees pak mense beet.

Soos in die Skrif geprofeteer is, skud God alles wat geskud kan word. Dit is moeilik om die onrus wat tans in die wêreld plaasvind te begryp. Dink aan die baie fronte waar nasies in opstand is:

  • Japan word deur naskokke getref na ‘n verwoestende aardbewing. Daardie land grawe steeds uit die puin terwyl bestraling die atmosfeer besoedel.
  • Arabiese regimes in die Midde Ooste word omver gewerp met verskeie lande in oproer. Israel hou hierdie verandering fyn dop en wonder of Arabiese regerings hulle anti-Israeli gevoelens sal hernu.
  • Voortgesette ekonomiese vrese heers in verskeie lande. Griekeland wankel op die randjie van die uiterste chaos.

Te midde van al hierdie dinge versprei vrees en angs, terwyl Christene nie immuun daarteen is nie. Baie Christene skryf dat hulle deur die ergste storm van hulle lewens gaan. Hulle beskryf finansiële krisisse, spanning in die familie en depressie — en die probleme hou nie op nie. Sommige word oorweldig deur groter probleme as wat hulle nog ooit ervaar het.

Nog nooit in my 58 jaar van bediening het ek so baie mense gesien wat aan kanker ly nie. In my eie familie, verduur my dogter en kleinseun tans ernstige beproewings. Soms is ons grootste vrese die pyn en lyding van hulle wat die naaste en kosbaarste vir ons is.

Baie van God se mense roep uit, “Here, dit is genoeg. U Woord belowe verlossing. U het gesê dat U nie sal toelaat dat ek meer as wat ek kan verdra, sal ly nie en dat U vir my uitkoms sal beskik. Maar waar is die uitkoms? Waar is U grootheid te midde van my grootste beproewing?”

In moeilike tye soos hierdie, kom die vyand in soos ‘n riviervloed.

Wanneer ons groot beproewings en moeilikhede trotseer, dan beweeg die duiwel in om voordeel te trek. Die Skrif beskryf hom as ‘n rivier van vrees wat ons met vloedgolf op vloedgolf tref. Hierdie demoniese rivier het selfs ‘n stem: “Die riviere het hulle gebruis verhef; die riviere verhef hulle geraas" (Psalm 93:3).

Het jy agtergekom dat moeilikheid en lyding dikwels in sarsies kom? Net as jy deur een probleem werk, dan volg ‘n volgende een in sy spoor. Die apostel Johannes praat van baie mense wat vandag in ‘n toestand van angs weggevoer word: “En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier" (Openbaring 12:15).

Maar God antwoord die stem van elke demoniese rivier: "Meer as die gebruis van groot, geweldige water, van die golwe van die see, is die Here geweldig in die hoogte!" (Psalm 93:4, kursief myne). Eenvoudig gestel, God se Woord praat harder as enige riviervloed wat teen ons kom. Sy grootheid oorheers selfs ons grootste beproewing.

Dawid het hierdie waarheid vasgegryp terwyl hy in geloof gebid het, “Laat die waterstroom nie oor my loop en die diepte my nie verslind nie, en laat die put sy mond bo my nie toesluit nie" (Psalm 69:16). Dit is nie ongewoon vir selfs die goddelikste persoon om probleme soos stygende vloedwaters te beleef nie. Soos Dawid, kan ons ons verdiep in God se woord, getrou bid en toegewy wees aan die Here, maar steeds oorweldig voel deur die dreunende golwe van vrees.

Ek het die Here vir ‘n boodskap gevra om in hierdie uur mense se geloof op te bou.

Die woord wat ek van die Here ontvang het, het my eie geloof opgebou. Ek bid dat dit dieselfde vir jou sal doen. Ek kan hierdie boodskap in een sin opsom: OM TE KYK NA DIE GROOTHEID VAN GOD, IS ‘N ANKER VIR ONS SIELE.

Ek is oortuig dat die kerk op hierdie oomblik een ding nodig het: ‘n ewig-toenemende openbaring van God se grootheid. So baie angstige mense oor die wêreld draai na valse gode te midde van oorweldigende vrese. Maar volgelinge van Jesus het net nodig om aan een ware God herinner te word. Ons moet vas oortuig word van sy krag, mag en grootheid ter wille ons.

Soos die onlangse globale gebeurtenisse begin toeneem het, was ek herinner aan ‘n boek met die naam van Triumph Through Tragedy, wat ek tien jaar gelede gepubliseer het. In daardie boek getuig Christene van God se hulp tydens hulle moeilikste tye. In elke geval het hulle hoop gekry in die openbaring van God se grootheid.

Drie dinge het uit hierdie mense se stories vir my duidelik geword:

1. Tydens elke vloedgolf van swaarkry, het God se mense twee keuses.

Ons eerste keuse tydens groot beproewings is om ons met geloof te omgord — om ons liefdevolle Vader te vertrou maak nie saak wat kom nie. Tog is dit nie ‘n outomatiese refleks nie — dit is ‘n keuse. In der waarheid, wanneer pyn op sy ondraaglikste is, moet ons kies om in geloof na God uit te roep.

Elkeen wat ‘n storie bygedra het tot Triumph Through Tragedy het getuig dat hulle ‘n keuse gehad het om te maak. En toe hulle geloof gekies het, het God hulle ‘n hernude intimiteit met Jesus gegee. Dit het egter gebeur wanneer hulle pynlike beproewing op sy ergste was. Dawid het getuig van sy ergste uur, “Hierdie ellendige het geroep, en die Here het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos" (Psalm 34:7).

Ons ander keuse is om in kommerwekkende angs te bly. As ons onsself vandag toelaat om oor een ding bekommerd te wees, dan sal ons môre oor twee dinge bekommerd wees. Kortliks, ons vrese sal voortdurend toeneem soos die vloedgolwe van probleme aanhou kom. As ons vrese nie uitgewis word nie, sal ons bekommerde gemoed ons laat afsak in ‘n bodemlose put.

Ons moet eenvoudig oortuig wees dat ons geliefd is by ons hemelse Vader, maak nie saak hoe erg ons beproewing word nie. Ons mag stemme van vrees onder die stygende vloedgolwe van probleme hoor, maar Dawid het duidelik getuig: “God se stem word bo die vloedgolwe gehoor!”

2. Wanneer ‘n vloedgolf kom, het hulle almal ‘n “verduistering van geloof” ervaar.

Hierdie mense se getuienisse het iets anders in gemeen gehad: Hulle het elk gestoei met die donker nag van die siel. Ek het oor die jare  oortuig geword dat dit ‘n ervaring is wat elke getroue dienaar van Christus beleef.

Hulle almal beskryf ‘n tydperk waarin dit lyk of alles onder ‘n wolk van duisternis is, terwyl God se stem stil is. Hulle het alles gedoen wat hulle geweet het om te doen om van die hemel te hoor, maar die duisternis het net voortgeduur.

Dit is vir tye soos hierdie dat die Skrif sê ons moet die liefde wat God vir ons het ken en daarin glo. Wanneer ons wêreld omgekeer word, word ons kwesbaar vir die vyand se leuens. Satan sal probeer om ons krisis te gebruik om ons in ‘n put van wanhoop te gooi. Gedurende daardie tye moet ons kan terugval op ons kennis van God se liefde vir ons.

In my tagtig jaar op aarde het daar baie beproewinge oor my pad gekom. En dit is die een waarheid wat my deur dit alles geanker het: God het my te alle tye lief, selfs deur elke beproewing van die lewe.

3. Geloof is ‘n bevel en God reageer op hulle wat dit uitoefen.

Die getuienisse wat ons ontvang, bevat ook hierdie waarheid. Elke keer wanneer ‘n gelowige die waarheid van God se Woord uitoefen, kom Jesus na daardie persoon toe. En sy dienende Gees bring aan hulle vertroosting en vernuwe hulle krag in hulle donker uur.

Natuurlik is dit nie altyd maklik om geloof uit te oefen wanneer ons ly nie. Dikwels het ons net nie die krag wanneer lyding ons oorweldig nie. In sulke tye kan Christene God se beloftes laat verby glip.

C.H. Spurgeon, een van die grootste predikers in die geskiedenis, het aan erge depressie gely. (Gedurende hierdie era het hierdie toestand bekend gestaan as “melancholie.”) Wat was Spurgeon se oplossing? Hy het aan die Psalms vasgehou. God se ewigdurende beloftes was vir Spurgeon die enigste ware bron van vertroosting, wanneer dit vir hom gevoel het of sy wêreld rondom hom in duie stort. Wanneer hierdie groot prediker nie die krag gehad het om dit self te lees nie, het hy iemand gevra om dit vir hom te lees. Hy het geweet dat dit vir hom vertroosting en krag sou bring. “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God" (Romeine 10:17).

“Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek" (Hebreërs 11:6). Ek glo hierdie woord is veral bedoel vir gelowiges in hulle tyd van beproewing. Die Here sê, “Ek het ‘n beloning vir jou in jou beproewing. Jaag dit na! Ek het vir jou ‘n seëning van krag bewaar vir hierdie tyd en Ek wil hê dat jy dit moet ontvang.”

Ons moet onsself versadig met God se Woord — om met sy beloftes bekend te wees, om op sy getrouheid te vertrou en om aan die waarheid vas te hou. Dit is die enigste manier waarop ons die demoniese stemme van die riviervloed kan stil maak.

Hoe beter ons die grootheid van ons God verstaan en glo, hoe beter sal ons voorbereid wees vir toekomstige dae.

Ek het baie navorsing oor hierdie onderwerp gedoen. En ek wil met jou die waarhede deel wat in God se woord verborge is en my so geseën en bemoedig het. Dit het alles te doen met sy grootheid.

Daar is geen ander groter lofsanger van God se grootheid as Dawid nie. Terwyl hy sy psalms gekomponeer het, het Dawid sy eie geloof op die ewig-toenemende kennis van God se grootheid gebou. Beskou die volgende beroemde gedeeltes:

“Die Here is groot en baie lofwaardig...dat hierdie God onse God is, vir ewig en altyd; Hy sal ons lei tot die dood toe" (Psalm 48:1, 14). "Wie is ‘n groot God soos God? U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak" (Psalm 77:14–15).

“Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie...want U is groot en doen wonders, U alleen is God" (Psalm 86:8, 10).

Volgens Dawid verdwyn al ons vrese met die kennis van God se grootheid. Dit is waarom hy so baie aspekte van die grootheid van God loof. Dit is alles bedoel om ons geloof te bou.

  • Dawid loof die grootheid van God se wonderwerkende krag.

“Want die Here is ‘n grote God, ja, ‘n groot Koning bo al die gode. In wie se hand die diepste plekke van die aarde is, en die toppe van die berge is syne" (Psalm 95:3–4).

“Hy wat alleen groot wonders doen...Wat die hemele met verstand gemaak het...Wat die aarde op die water uitgespan het...Wat die groot ligte gemaak het...die son om te heers oor die dag...Die maan en die sterre om te heers oor die nag" (Psalm 136:4–9).

Onlangs het ek ‘n dokumentêr gekyk oor die sterre en melkweë. Sterrekundiges vertel vir ons dat daar nie net miljoene nie, maar biljoene melkweë in die heelal is. Hulle is ontelbaar en ons God het elkeen geskep. Inderdaad, Hy ken elke ster en het hulle almal name gegee: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name" (Psalm 147:4).

Ons kan eenvoudig nie die groot hoeveelheid wonderwerke van ons God inneem nie. Sy grootheid is ver bokant ons begrip.

  • Dawid loof die grootheid van God se genesingskrag.

God het elke menslike hart geskep. En daar is geen ander mag wat waarlik ons harte kan genees nie. “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde" (Psalm 147:3).

Die Here verstaan meer as enige mens hoe diep ons lyding is: “Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig" (Psalm 147:5). Slegs die Here wat ons gemaak het, weet wat ons harte nodig het om ons deur ons grootste beproewings te dra.

  • Dawid loof die grootheid van God se krag oor enige vloed.

Dawid herinner ons aan God se grootheid, selfs te midde van oorweldigende vloede. Ons huidige vloedgolf mag sy stem luid opgehef het, maar God heers oor die hele natuur. Hy alleen is in beheer.

Dawid gee stem aan die smekinge van hulle wat deur vloedgolwe in hulle siele oorweldig is: “Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom. Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my.  Ek is moeg van my geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op my God" (Psalm 69:1–3).

Dawid het ons egter te midde van elke groot vloed ook die antwoord gegee: “Meer as die gebruis van groot, geweldige waters, van die golwe van die see, is die Here geweldig in die hoogte" (Psalm 93:4).

Op hierdie oomblik, styg vloedwater vir baie gelowiges — in verdrukkinge, beproewings en groot probleme. Maar God het sy belofte verklaar: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie: as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie" (Jesaja 43:2).

  • Dawid loof die grootheid van God se genade.

“Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid...Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees...Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders" (Psalm 103:8, 11, 17).

“Want u goedertierenheid is groot bo die hemel uit en u trou tot by die wolke...en u heerlikheid bo die hele aarde" (Psalm 108:5–6).

“Maar ek sal wees soos ‘n groen olyfboom in die huis van God: ek vertrou op die goedertierendheid van God vir ewig en altyd" (Psalm 52:10).

  • Dawid loof God se grootheid om hulle, wat op Hom vertrou, te seën.

“o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders! U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in ‘n hut vir die twis van die tonge" (Psalm 31:20–21).

Toe Dawid uitgeroep het, “O, hoe groot is God se goedheid!” het hy gesê, “Ek is oorval deur al die goedheid wat God vir ons in gedagte het.” Hy vier die ongelooflike stoorkamer van genade en goedheid wat God vir ons opsy gesit het. Dawid het getuig dat hy sou beswyk het “as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie" (Psalm 27:13).

God se goedheid en belonings word nie vir “eendag” in die hemel weggebêre nie — dit is bedoel vir sy mense in hulle huidige beproewings.

God sê Hy sal ons geloof beloon. En Hy wil hê ons moet Hom nou, te midde van ons krisis, vir daardie belonings soek. Soek jy na ‘n teken van hoop vir ‘n rebelse seun of dogter? Het jy nodig om net een deurbraak in die wolke van jou finansiële storm te sien? Roep die Here in geloof aan; Hy sal na jou toe kom om jou te vertroos en te versterk. Hy wil jou beloon met nuwe hoop om jou met al die krag in jou huidige vloedgolf van beproewing te voorsien. Sy stem styg bo elke vloedwater uit!

Ek laat jou met die volgende: God se Woord maak dit duidelik dat ons nie bekommerd oor wêreldkrisisse moet wees nie. Ons moenie bekommerd wees oor die ekonomie nie. Hy wil alle spanning oor ons geliefdes, ons familie, ons smarte en ons beproewings verwyder. En Hy het ons die rede vir hierdie groot vertroosting en versekering gegee: Ons God is groot en baie lofwaardig!

Halleluja!