Gesifte Heiliges

David Wilkerson

Die Here het gesê, “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk" (Lukas 22:31–32).

Toe Jesus op die aarde gewandel het, het Hy al te goed geweet van die wrede magte van die bose. Satan het elke wapen in die hel teen Christus se dissipels aangewend. En Hy het Jesus ook versoek.

Ek glo nie enigeen van ons sal ooit die groot konflik wat daar in die geestelike realm woed, verstaan nie. Ons kan ook nie besef hoe vasbeslote die duiwel is om dissipels soos Petrus te vernietig nie. Hy het ‘n teiken op die rug van elke gelowige, wie se hart stewig op Christus gerig is, geverf.

Jy sien, op een stadium in die Christelike wandel, trap ons oor wat ek die “gehoorsaamheidslyn” noem. Dit is dan wanneer ons in ons harte besluit om die hele pad met die Here te stap. Ons besef dat daar niks in die hierdie wêreld is wat ons hier hou nie en ons is vasbeslote om God se Woord in alle opsigte en ten alle koste te gehoorsaam.

Die oomblik wat ons oor daardie lyn trap — die oomblik wanneer ons ‘n lewe van gehoorsaamheid aan en afhanklikheid van Christus betree en besluit om nooit terug te draai nie — dan gaan elke alarm in die hel af. Hoekom? Ons het ‘n bedreiging vir die koninkryk van die duisternis geword. Daarom het ons ‘n teiken vir elke mag en heerskappy geword.

Miskien was jy eens ‘n halfhartige volgeling van Christus. Jy het Hom liefgehad, maar jy was nie ten volle aan Hom toegewy nie. Miskien wou jy Hom met jou eie ambisies volg. Jy het jou eie planne beraam in plaas daarvan om sy roeping en rigting in jou lewe te volg.

Dinge het toe heel glad in jou lewe verloop. Die duiwel het jou nie veel geteister nie, omdat jy eenvoudig net nie ‘n groot bedreiging vir hom was nie. Maar dinge het verander. Jy het erns met God gemaak. Die Woord van die Here het vir jou lewend geword en jy het dit hongerig begin lees. Jy het ywerig begin bid en maklik geween vir hulle wat verlore is. Jy het ‘n groot hartsverandering beleef.

Toe jy besluit het om jou alles vir die Here te gee, het jy begin golwe maak in die onsigbare wêreld. Dit is die presiese tyd wat jy ‘n voorkeur teiken vir die vyand geword het. Van toe af het die duiwel begeer om jou te sif, net soos hy met Petrus gedoen het.

“Simon, Simon...Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif" (Lukas 22:31). Dit is hier waar Jesus die onderwerp ingelei het van hoe die vyand God se mense wil sif. Sifting beteken om soos graan geskud en geskei te word deur skielike beproewings in jou lewe. Dit is bedoel om ons te skok, deur gebeure en situasies te verontrus, sodat dit ons fondamente moet skud.

In Christus se tyd, het graanwerkers ‘n sif gebruik voor hulle die geoeste graan in sakke gesit het. Eerstens het hulle die koring met ‘n graaf in ‘n vierkantige houer, wat met ‘n net oorgetrek was, gesit. Daarna het hulle die houer omgekeer en dit hard geskud. Die sand en grond sou deur die net val tot net die koringkorrels oorgebly het.

Jesus het aan Petrus gesê: “Satan dink nie dat jy ware geloof het nie. Hy dink wanneer hy jou in die sif sit en jou skud, sal jou geloof op die grond val soos waardelose vullis.”

Petrus se sifting het gekom net nadat hy ‘n openbaring ontvang het van groot seëninge wat sou kom.

Die Here het kort tevore vir Petrus belowe dat hy ‘n vrugbare bediening sou hê. “En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel" (Lukas 22:29–30).

Die Griekse woord vir “beskik” word geneem van ‘n wortelwoord van beteken “te kanaliseer.” Christus het hiermee ‘n ongelooflike belofte aan sy dissipels gemaak. In wese, het Hy vir hulle gesê, “Ek gaan my koninkryk deur julle bou. Net soos die Vader My ‘n werktuig van sy heerlikheid gemaak het, gaan Ek met julle doen.”

Dink aan wat Jesus vir hulle gesê het. Nie net gaan hierdie manne werktuie van Christus se heerlikheid word nie, hulle gaan ‘n sitplek by die Here se tafel kry om intimiteit met Hom te geniet! Hulle sou as prinse langs sy magstroon  heers en regeer.

Min het Petrus geweet dat terwyl Jesus hierdie kosbare beloftes vir hulle genoem het, was Christus se hart in gebed vir hom. Ons Here kan duidelik in die onsigbare geestelike wêreld sien op ‘n manier wat ons nie kan nie. En Hy het Satan by die Vader se troon gesien staan, waar hy Petrus aangekla het en toestemming gevra het om sy hande aan hom te slaan. Die duiwel wou met Petrus doen wat hy met Job gedoen het. Sy beskuldiging moes soos die volgende geklink het:

“Jou Jesus noem hierdie man, Petrus, ‘n ‘Rots.’ Hy sê hy gaan sy kerk op hierdie soort geloof wat Petrus het, bou. Hy wil hierdie man ‘n fondamentsteen van ‘n nuwe liggaam van gelowiges maak. Ek sê, hierdie Petrus is geen rots nie. Hy is net die teenoorgestelde — kaf, onwaardig om ‘n werktuig van u heerlikheid te wees. Laat my toe om hom te skud en op die proef te stel. Hy sal nie uithou nie. Sy geloof sal misluk!”

Inderdaad, Satan kan nie enige ware gelowige toets behalwe deur God se toestemming nie. En hy wil net hulle, wat sy werk bedreig, toets. So, waarom het Satan begeer om Petrus op hierdie stadium te toets? Waarom was hy so angstig om hom te beproef?

Die rede is as volg. Vir drie jaar, het Petrus duiwels uitgedryf en siekes gesond gemaak. Satan het gehoor en geweet wat God vir Petrus beplan het. In werklikheid, daardie afgelope drie jaar was niks teenoor die groter werke wat hy en die ander dissipels uiteindelik sou doen nie. Satan het gehoor van Jesus se belofte van ‘n ander doop, hierdie keer met Heilige Gees krag. En dit het die duiwel laat sidder.

In werklikheid is Satan se teiken die boom, wat die potensiaal het om die meeste vrugte te dra. Op een of ander manier het die duiwel geweet dat die man, Petrus, afgesonder was om baie vrug te dra. Hy het geweet dat God hom mag en gesag sou verleen, wat magtig teen sy eie koninkryk van die duisternis gebruik sou word. Nadat hy reeds vir Judas laat val het, het Satan gedink hy sien ook ‘n mate van feilbaarheid in Petrus, waarop hy kon bou om Petrus te laat misluk.

Laat my jou oor jou eie lewe vra. Voel jy of jy tans in ‘n soort sif is? Word jy geskud en gesif? As dit so is, vra jouself af: Waarom jy? En waarom nou? Satan sif jou omdat jy ‘n belangrike rol in God se kerk in hierdie laaste dae speel. Jy is deur Hom afgesonder, uitverkies en voorberei deur sy eie hand om ‘n kragtige getuienis voor baie te wees. Hoe groter jou oorgawe aan Jesus, hoe groter sal jou salwing wees. En hoe groter potensiaal jy vir God se koninkryk is, hoe erger sal jou sifting wees.

Petrus het gedink hy was geestelik sterk genoeg om vir Christus te sterf.

Petrus was nie bewus van enige ooglopende swakheid in homself nie. Sy eie getuienis was as volg: “Here, ek is gereed om saam met U te gaan. Ek het drie wonderlike jare van die beste moontlike opleiding in die Woord ontvang. En ek het baie beleef en ondervinding opgedoen — U weet dit. Ek het duiwels sien vlug. Ek het skares na die Vader getrek. Ek het soveel gegroei. Ek is eenvoudig nie meer die man wat ek drie jaar gelede was nie. Ek is gereed om die hele pad saam met U te stap.”

Dink aan wat in hierdie toneel gebeur. Vir enige gelowige wat kan onderskei, sou Jesus se waarskuwing skokkend gewees het. Dit sou hulle laat huiwer het, sodat hulle kon besin en hulle harte ondersoek. Christus se waarskuwing het egter nie Petrus se selfvertroue in die minste geskud nie. Die Here het probeer om hom bewus te maak van die gevaar wat voorgelê het. Maar dit is asof Petrus nie ‘n woord gehoor het van wat Hy gesê het nie.

Petrus was in groot gevaar en enkele ure weg van die aaklige sonde wat hy sou pleeg. Tog het hy vol selfvertroue voortgegaan en in wese geroem. “Ek is gereed. Ek sal nie misluk nie. As enigiemand die hele pad saam met die Here gaan stap, is dit ek.”

Miskien is daar iemand wat nou hierdie boodskap lees wat soos Petrus is. God het sy hand op jou, jy het gegroei in die Here, en jy het Hom met jou hele hart lief. Jy het altyd ‘n seker woord vir jou sukkelende broers en suster. En nou het Satan begeer om jou te sif. Jy is op pad om deur die vyand aangeval te word soos nog nooit tevore nie. Petrus is ons voorbeeld hierin. En God wil in hierdie laaste dae enige geestelike hoogmoed wat in die harte van sy dienaars is, uitdryf.

Mag ons na hierdie waarskuwings van sy Woord luister. Jy sien, binne net vier-en-twintig uur nadat hy voor Jesus geroem het, het Petrus ‘n morele kreupele geword. Hy het aan die vloek gegaan, terwyl hy deur lafhartigeid oorval is en Christus drie keer verloën het. Wat Petrus gedoen het, was so boos en sleg, dat hy nooit gedink het dat dit moontlik was nie.

Al sou Petrus se val so ongelooflik wees, sou Jesus dit nie keer nie. Hy wou hierdie hardnekkige dissipel reinig van ‘n neiging wat drie jaar van onderrig onder die Here self nie kon doen nie. Wonderwerke en tekens het dit nie gedoen nie. Selfs Christus se waarskuwings het nie ‘n effek gehad nie. Daar was vir Jesus niks anders oor as om Petrus deur die vuur te laat gaan — in Satan se hande in en in die oorweldigende vloedstroom wat hy sou bring.

Jesus was vir ons ‘n voorbeeld van hoe ons ons mede-gelowiges moet hanteer wanneer hulle val tydens die siftingsproses. “Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie.” Terwyl ek hierdie wonderlike voorbeeld van Christus se liefde beskou, besef ek dat ek amper niks weet van hoe om hulle wat val, lief te hê nie. Verseker is Jesus die “vriend wat sterker aanhang as ‘n broer" (Spreuke 18:24). Hy sien beide die goeie en die slegte in ons. En Hy kom tot die gevolg, “Satan begeer jou, maar Ek begeer jou baie meer.” Jesus weet dat jy Hom waarlik liefhet.

En so het die Here vir sy dissipel gesê, “Petrus, Ek het vir jou gebid.” Let op Hy het nie gesê, “Ek sal vir jou bid nie.” Kortliks, Christus het dit al lankal sien kom. Hy het waarskynlik baie ure met die Vader oor Petrus gepraat — hoe lief Hy hom het, hoe nodig hy was in die koninkryk en hoe waardevol hy as ‘n getroue vriend was.

Terwyl ek dit lees, is my eie gebed: “Here, gee ons almal daardie soort liefde vir mekaar!” Wanneer ons sien dat iemand op pad is na moeilikheid of rampe, laat ons hom genoeg liefhê om hom as ‘n vriend wat omgee, te waarsku. Laat ons in staat wees om te sê, “Ek het vir jou gebid. Ek bid vir jou. En ek sal vir jou bid. Ek is hier vir jou, maak nie saak wat nie.”

Laat ons daardie mense getrou na God se troon neem terwyl ons vir hulle pleit, sodat hulle met hulle geloof in een stuk deur hulle siftingsproses sal kom. Jesus het nie vir Petrus gepreek nie. Hy het nie vir hom gesê, “Petrus, as jy maar net geluister het. As jy tog net saam met my in die tuis wakker gebly het. As jy net nie so trots was nie.” Nee, Jesus het eenvoudig gesê, “Ek het vir jou gebid.”

Toe Jesus gesê het, “Ek het vir jou gebid,” was die Griekse woord “jou” in die meervoud – soos “julle.” Jesus het hoofsaaklik met Petrus gepraat, maar ook met al die dissipels en met ons vandag: “Ek bid vir hulle; Ek bid vir nie vir die wêreld nie, maar vir hulle wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort...Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam die wat U My gegee het...Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar" (Johannes 17:9, 11, 15).

Maak nie saak waardeur jy gaan of wat vir jou voorlê nie – as jy ‘n hart vol liefde vir Jesus het, bid Hy vir jou. Jesus het nie gebid dat Petrus bewaar sou word van Petrus se siftingsproses nie. Hy het eerder net gebid dat sy geloof nie sou ophou nie.

En dit is Satan se primêre teiken: ons geloof. In die tydperk van slegs ‘n paar ure, het die duiwel omstandighede in Petrus se lewe ingebring wat sy geloof en sy liefde vir Jesus ernstig getoets het.

Daar is beproewings en daar is ‘n siftingsproses: ‘n alles omvattende aanslag wat bedoel is om ons geloof te vernietig.

Sifting is gewoonlik saamgedruk in ‘n kort, maar baie intense tydperk. Vir Jesus was dit veertig dae en veertig nagte. Satan het teen Hom gekom met elke misleiding van die duisternis. Vir Petrus was dit ‘n paar dae. Maar daardie dae sou die mees geloof-skuddende, skokkende en berouvolle dae van sy lewe wees. Verduur jy nou so ‘n siftingsproses in jou lewe?

Hoe moet ons hierdie aanslag oorwin? Weer het Jesus die voorbeeld gestel. Toe Hy gekonfronteer was met die duiwel se planne, het Hy hulle met God se woord oorwin: "Daar is geskrywe." "Daar is geskrywe; Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan" (Matthéüs 4:4). "Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie" (Matthéüs 4:7). "Daar is geskrywe; Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien" (Matthéüs 4:10).

Vandag, as gevolg van die Kruis, het ons nog ‘n “Dit is geskrywe.” Dit is die volgende: "Ek het vir jou gebid dat jou geloof nie ophou nie." Ons kan vir die Satan sê, “Jy mag toestemming hê om my te sif, duiwel. Jy mag probeer om my geloof af te breek. Maar jy het net nodig die volgende te weet: My Jesus bid vir my.”

Petrus se geloof was beproef en geskud en as gevolg van sy eie afhanklikheid, het hy gestruikel. Maar in antwoord op die Meester se gebed, was die wortels van Petrus se geloof nie vernietig nie. Daarom het sy geloof op die ou end nie opgehou nie, net soos Jesus gebid het. Net so, bid die Here vir jou in die tyd van jou siftingsproses.

In een oomblik, kan alles verlore lyk. Satan kan hom verheug oor ons twyfel. Hy kan sy vinger na ons wys en sê, “Ek het nog ‘n gesalfde afgetrek tot in die put van wanhoop.” Dan, met een kyk in die oë van Jesus, smelt ons harte. “En die Here het Hom omgedraai en het Petrus aangekyk...En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween" (Lukas 22:61–62). Die frase “bitterlik geween” in Grieks beteken werklik “’n deurdringende, geweldige uitroep.” “Petrus het die woord van die Here onthou wat Hy vir hom gesê het...jy [sal] My drie maal verloën" (Lukas 22:61).

Ek stel my voor die dissipel loop na die Judese heuwels, val op sy aangesig met sy hande uitgestrek en roep uit, “Jesus was heeltemal reg. Ek het nie geluister nie! Hy het my gewaarsku dat Satan sou probeer om my geloof te vernietig. Ek sien nou dat ek nie gereed is om te sterf nie. Sterf vir Jesus? Ek kon nie eers opstaan teen ‘n jong diensmaagd nie. Vergewe my, Here — ek het U lief. Na wie toe sal ek gaan?”

Ek glo dat Petrus se geloof toe aan iets vasgegryp het wat Jesus hom in sy waarskuwing gegee het. Christus het afgesluit met die volgende hoopvolle woorde: “En as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk" (Lukas 22:32). Hoeveel keer het Petrus dit oor en oor in sy verstand en hart bepeins? Hoe dikwels het hy gewonder, “Jesus het die woord “bekeerd” gebruik. Dit beteken “terugbring.” Het hy nie gesê dat ek steeds ‘n bediening sal hê nie? Ek kan dit net nie nou sien verwesenlik nie. Na dit wat ek gedoen het, hoe sal ek ooit in staat wees om ander te help?”

Die Vader het sy Seun se gebed vir Petrus verhoor.

Ek kan sien hoe Petrus van die grond af opgestaan het met die Gees van God wat deur Hom vloei. Ek sien dat hy sy arms in die lug steek en uitroep, “Satan, wyk. Ek het my Here teleurgestel. Maar ek het Hom steeds lief! Hy het belowe — in werklikheid, Hy het geprofeteer — ek sal terugkom en ‘n vertroosting vir ander wees. Ek sal ‘n rots vir baie wees. Ek gaan nou terug na my broers en susters!”

Petrus was by die ander tien dissipels (Judas was nou weg) toe Jesus in hulle midde verskyn het. En hy was daar in aanbidding toe Jesus opgevaar het in heerlikheid. Hy was die eerste dissipel wat na die graf gehardloop het, toe daar vertel is dat Christus opgestaan het. Dit was Petrus, wat net weke later, by Pinkster as God se woordvoerder gestaan en preek het.

In die laaste dae, sal daar ‘n oorvloed van nuwe bekeerlinge kom – Jode, Heidene en baie teruggevalle gelowiges. Waar sal hulle die krag kry in die moeilike tye wat ons beleef? Dit sal kom van “bekeerde” heiliges wat gesif is en met beproefde geloof daardeur gekom het. Hulle sal met gesag kan sê, “Ek vertrou nie op myself nie. Ek vertrou nie op my eie krag nie. Jesus het alles wat ons nodig het om ons deur te dra.”

Geliefde, jy hoef nie te misluk soos Petrus nie. As ons hierdie storie lees, moet ons daardeur gewaarsku word. Maar as jy misluk het, as jy die Here bedroef het, hardloop in die arms van Jesus in en onthou dat Hy vir jou bid. Bekeer jou, draai terug en deel jou ervaring met andere wat ook gesif word. Volgens die Griekse teks het Jesus het nie vir Petrus gesê, “As jy bekeerd is nie.” Hy het gesê, “Wanneer jy bekeerd is.”

Ek wil in staat wees om enige treurende, gebroke broer of suster in die oë te kyk en met hoop en vertrou te sê: “Wanneer hierdie siftingsproses verby is, wanneer jy terugkom en jou geloof sterker is, gaan God jou gebruik. Hy het ‘n doel hiermee. Hy hou nog heeltyd toesig oor alles.”

Moenie moed verloor in jou geloof nie. En moenie moed verloor met ander wat val nie. Satan sou nooit teen jou gekom het, tensy hy ‘n mate van bedreiging bespeur het nie. Jy behoort aan die Here deur alles in hierdie lewe. Rus in sy onvoorwaardelike liefde vir jou!