Aan Jesus Geboei

David Wilkerson

Ons is geroep om vir ons families te sorg. Ons het werk, loopbane en ons beleef finansiële probleme — maar ons moet God vertrou om ons te lei. Hierdie hele boodskap gaan daaroor om ons aan sy leiding vas te bind.

Ek wil vir jou vertel van ‘n diep betekenisvolle ervaring in my wandel met die Here. Dit het vir my ‘n geestelike mylpaal geword. En ek glo dit is ‘n les wat direk praat van wat die kerk van Jesus Christus vandag nodig het.

Ek was in gebed en het uitgeroep, “Here, gryp my vas. Plaas my in u greep en besit my. Neem my gevange vir u heerlikheid.”  Terwyl ek dit geuiter het, het ek geen idee gehad dat die Heilige Gees besig was om my voor te berei om geboei te word nie.

IDit is skriftuurlik om te bid dat God ons moet boei. Dit beteken om Hom te vra om boeie aan ons hande te sit en ons gevange te neem. Paulus het dikwels na homself verwys as “die gevangene van Christus Jesus" (Efésiërs 3:1). In Efésiërs het hy gesê dat om die Here se gevangene te wees, eintlik sy roeping is. Hy het daaraan gedink as ‘n gawe van God se genade aan hom (sien Efésiërs 4:7).

Paulus skryf ook aan Timótheüs, “Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie" (2 Timótheüs 1:8). Selfs in sy ouderdom, het Paulus homself daarin verheug dat hy deur die Here aangekeer en gevangene geneem is tot sy wil. “Ek, Paulus, as ‘n ou man en nou ook ‘n gevangene van Jesus Christus" (Filémon 9).

Paulus kon vir jou die presiese uur sê waarin die Here hom geboei en gevange geneem het.

Paulus was op die pad na Damaskus met offisiële briewe van die hoëpriester. Aan Hom is die mag gegee om Christene te arresteer en hulle na Jerusalem terug te bring. Die Skrif sê hy het “dreiging en moord geblaas teen die dissipels van die Here.” Met ander woorde, Paulus was vol haat, bitterheid en woede in sy misleide ywer vir God.

Maar toe Paulus Damaskus genader het, “omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af" (Handelinge 9:3). Hy was heeltemal verblind deur daardie lig, wat Christus se heerlikheid was.

Paulus het oor en oor getuig van hoe hy aan die hand gevat moes word en na Damaskus gelei moes word. Kortliks, hy was ‘n hulpelose gevangene. Hy het drie dae in ‘n afgesonderde kamer sonder sig gespandeer terwyl hy geweier het om te eet. Hy was heeltemal gevange geneem — in gees, siel, verstand en liggaam.

So, wat het in die drie dae in daardie tronkagtige kamer gebeur? Die Here het Saulus geboei en hom Paulus, die gevangene van Jesus Christus gemaak. Jy sien, God het Paulus se volle aandag gehad — en gedurende daardie tydperk, was Paulus se oë vir die waarheid van die evangelie oopgemaak. Dit was toe dat hy van sy eie ywer en onafhanklikheid ontslae geraak het en homself onderwerp het aan die juk van Christus.

As ons Handelinge 9 lees, kan ons amper Paulus se pynlike gebed hoor: “Here, ek het gedink ek doen u wil. Hoe kon ek so blind wees? U het my vleeslike sig weggeneem — en aan my geestelike oë gegee om te sien! Ek het nog die hele tyd my eie weg gevolg. Ek het gedoen wat ek ookal gedink het reg was. Maar ek kan nie my eie gedagtes vertrou nie.

“Here, maak my eie wil dood. Dit sal my net op die verkeerde pad neem. Hierso Jesus — boei my hande aan U s’n. Hou my geboei aan u magtige arm. Ek wil sterf aan my onafhanklikheid en in plaas daarvan ‘n gevangene van u wil wees!”

Baie goddelike mans en vrouens regdeur die Skrif het verstaan wat dit beteken om aan die Here geboei te wees. Dawid was een van hulle. Hy het van die Here gesê, “U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my" (Psalm 139:5). "Ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou" (139:10). Die woord vir “vashou” in die oorspronklike Hebreeus is “greep.”

Dawid het bedoel, “Ek word gelei om myself aan die Here te boei. As ek probeer om te vlug, sal Hy dit nie toelaat nie. As ek opvaar na die hemel, of vlerke neem probeer en vlieg, selfs dan is sy hand op my" (see Psalm 139:7-13).

Niemand verstaan beter om aan Jesus geboei te wees as Petrus nie.

Petrus het ‘n ongelooflike ontmoeting met die opgestane Jesus gehad. Die Here het geprofeteer oor die dissipel se noodsaaklikheid om geboei te word: “Toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie" (Johannes 21:18).

Sommige Bybelskoliere dink dat die Here aan Petrus gewys het hoe hy sy laaste dae sou spandeer: in ‘n seniele hulpeloosheid, half blind en rondgesleep teen sy wil. Maar die apostel Johannes het na ‘n ander betekenis verwys: “En dit het Hy gesê om aan te dui deur deur hoedanige dood hy (Petrus) God sou verheerlik" (Johannes 21:19). Inderdaad, tradisie sê dat Petrus onderstebo gekruisig was met sy arms uitgestrek. Johannes sou sekerlik daarvan geweet het, omdat hy sy evangelie na Petrus se dood geskryf het.

Wat Christus egter hier aan Petrus gesê het, het ‘n groter betekenis as hierdie interpretasies. In Petrus se eie sendbriewe, vind ons dat die apostel selfs nog in sy ouderdom aan die brand was met die vuur van die Heilige Gees. Hy het dwaling bestry, false profete geopenbaar en met gesag gepreek. Hy het sy roeping so verduidelik, “En ek beskou dit as reg, so lank ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek" (2 Petrus 1:13).

Ek het geen twyfel daarin dat Jesus in Johannes se evangelie vir Petrus vertel het hoe hy sou sterf nie. Maar Christus het baie meer as dit gesê. Hy het ‘n geestelike proses beskryf. In werklikheid, ek glo hy het nie net vir Petrus geprofeteer nie, maar vir almal wat Hom sou volg. Die volgende is wat ek glo Christus ons almal roep om te doen.

Ware liefde vir Jesus moet lei tot die dood van alle onafhanklike eie-wil.

Moenie fout maak nie: Petrus het Christus liefgehad. Drie keer het Jesus hom in die oë gekyk en gevra, “Het jy my lief?” Petrus het geweet dat Jesus sy gedagtes kon lees. En die dissipel kon eerlik antwoord, “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet" (Johannes 21:17).

Petrus het nie net die Here baie liefgehad nie. Hy het waarkskynlik meer ywer in sy liefde gehad as die ander dissipels. Hy het altyd gehaas om by Jesus uit te kom, of hy nou uit die boot moes klim om op water te loop, of op die Opstandingsdag na die leë graf gehardloop het.

Ten spyte van sy groot liefde en ywer vir die Here, was Petrus egter steeds ‘n man vol moedswillige onafhanklikheid. Selfs op hierdie stadium van sy geestelike lewe, sou niemand hom vertel wat om te doen nie. Sy onafhanklike wil was nie gebreek nie.

Dink daaraan. Hierdie man het selfvertroue en bekwaamheid uitgestaal. Petrus was selfstandig en het op sy eie opgetree. Hy was ‘n visserman wat sy eie boot besit het en deur woeste water en weer moes sukkel om sy inkomste te verdien. Hy was self-gemaak, altyd in beheer. (Soms het hy seker gevoel dat die Here hom net soveel nodig het as wat hy die Here het!)

In werklikheid, die wêreld hou van en bewonder so ‘n man. Die Amerikaanse droom word toegelig in mense wat selfgemaakte rykdom en invloed bekom het, onafhanklike denkers en almal wat groot dinge bereik deur hulle eie weg te volg.

Maar in die koninkryk van God, is daardie onafhanklikheid ‘n seker teken dat ‘n persoon nie by die kruis was om sy of haar vlees dood te maak nie. Eenvoudig gestel, Petrus het nie aan sy eie vlees gesterf nie. Jy kan nie aan Jesus geboei wees en ‘n onafhanklike gees behou nie. Om ten volle aan Hom gebind te wees, moet jy jou hande in totale oorgawe uitsteek.

Jesus moes die eerlikheid in Petrus se stem gehoor het toe hy getuig het van sy liefde vir Hom. Die Here het dit egter nie openlik erken nie. In plaas daarvan het Christus gekies om op die nugter werklikheid te fokus en dit voor Petrus te stel. In wese het Jesus gesê:

“Vandat jy jonk was, was jy gewoond daaraan om te doen wat jy ookal wou. Jy het dinge op jou manier gedoen op jou eie tyd. Dit is jou geaardheid, Petrus. Dit is die soort man wat jy is.” “Jy [het] jouself omgord [self opgetree]...en rondgegaan waar jy wou" (Johannes 21:18).

Selfs na die Kruisiging het Petrus se onafhanklike selfgeldende gees uitgekom: “Ek gaan visvang!" (Johannes 21:3). Ons weet nou dat Jesus hom geroep het om te gaan visvang — maar vir mense, nie vir vis nie! Eenkeer het Petrus sy nette neergelê, sy loopbaan gelos en Jesus gevolg om siele te gaan vang. Petrus wou nou egter op sy eie manier gaan visvang — nie die Here s’n nie.

In Petrus sien ons dat dit moontlik is om die mees ongelooflike openbaring van die opgestane Christus te hê — en om Hom lief te hê — maar nog steeds nie sy gevangene te wees nie en steeds nie aan ons Meester geboei te wees nie.

Ons wil almal nog een groot visvangs te hê voor ons geboei word.

Die taal van onafhanklikheid is nie net, “Ek gaan visvang” nie. Dit is iets dieper in die hart en dit fluister, “Ek moet nog net een laaste groot visvangs hê. Dan kan ek geboei word.”

Petrus was op pad om meer as net ‘n paar visse te vang. Dink daaraan: As hy net wou ontspan het, kon hy ‘n visstok en ‘n paar wurms geneem het en kniediep in die golwe gaan staan het en sy lyn uitgegooi het. Nee, Petrus wou sy ou boot en ou bemanning en al die ou nette hê. Hy moes een laaste kans kry om te doen waarin hy goed is — op sy eie onafhanklike koers. Hy sou een laaste keer kon visvang en dan sou hy dit alles uit sy siteem uit hê.

Het jy al ooit ‘n oomblik soos Petrus s’n ervaar? Dit was een laaste oplewing van onafhanklike wil. Jesus het egter op die strand gestaan en geweet wat in Petrus se hart is en Hy het uitgeroep, “Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry" (Johannes 21:6). Die Here het toegelaat dat Petrus een laaste keer visvang.

Eers het Petrus nie vir Jesus op die strand herken nie. Terwyl die nette voor sy oë vol geword het, het hy so opgewonde geraak en al waaraan hy kon dink, was, “Ons het ‘n groot slag geslaan. Wat ‘n visvangs!”

Die apostel Johannes was saam met Petrus in die boot. En toe hy sien wat gebeur, het hy in sy hart oortuig geword. Hy het hierdie soort groot, wonderlike seëning waarin visse vermenigvuldig het, tevore gesien. Daarom het hy Petrus gegryp en vir hom gesê, “Dit is die Here!" (Johannes 21:7).

Petrus het afgekyk na die groot aantal visse in die net — en hy het dit gelos. Dit was die grootste visvangs van sy lewe. Maar iets groters was op die spel en hy het dit geweet. Hy het skielik onthou van die Here se roeping op sy lewe: “Ek sal jou My visser maak. Jy gaan vir My siele van mense wen. Kom, volg my.”

Toe het Petrus gesien hoe betekenisloos sy ambisie was. Hy het geweet dat selfs ‘n duisend groot visvangste hom nooit sou tervrede stel nie. Hy kon nooit weer vervulling daarin vind om dinge op sy eie te doen nie. Ek glo Petrus het op daardie oomblik vir homself gesê: “Ek sal nie toelaat dat ek ‘n gevangene op hierdie boot word om drome van groot vangste te droom nie. Ek wil ‘n visser van mense word! Om dit te doen, moet ek ‘n gevangene van Jesus word. Ek kan nie betekenis, doel en vervulling op my eie vind nie. Ek het Hom nodig om my te lei — en slegs dan sal ek vervulling vind. Ek wil aan Hom geboei wees!”

Bedink Petrus se storie. Die ware toets van die liefde van Christus is nie dat jy eenvoudig na Hom toe terugkom wanneer jy op jou eie misluk het nie. Dit is om die leegheid in jou eie groot geleentheid te sien en elke selfsugtige droom te laat gaan sodat jy sy gevangene kan word.

Dink aan die vissers in die bote daar naby. Hulle kon gedink het dat Petrus van sy verstand af was: “Wat doen jy? Jy het dit alles! Dit is nou jou groot kans. Jy is ‘n dwaas om weg te hardloop wanneer jou groot geleentheid aan jou deur klop.”

Maar Petrus het aan sy Meester se woorde gedink, “Wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?” Petrus het nou oë vir die ewige dinge gehad. En hy het dit bo alles begeer. Daarom het hy die nette en die ander dissipels agtergelaat, in die water gespring en na Jesus op die strand geswem.

Het Petrus een laaste wens gehad?

Het Petrus een laaste pluk aan sy hart gevoel, terwyl hy die ander dissipels daardie groot visvang aan land gesleep het? As hy het, het Jesus dit aangespreek toe Hy hom vra, “Simon, seun van Jona, het jy my waarlik lief, meer as hulle hier?" (Johannes 21:15).

Geliefde, ek weet hoe Petrus op daardie oomblik gevoel het. Daar was tye waarin ek gedink het dat ek oorwinning oor materialisme het — wanneer ek alles gelos het en na Jesus toe geswem het — dan, ‘n rukkie later, kom dieselfde stryd weereens.

Ek glo dit is die vraag vir ons almal soos die laaste dae nader kom en die finansiële wêreld buite beheer raak. Natuurlik het ons Jesus lief. Maar het ons Hom meer lief as ons finansiële sekuriteit? Meer as gemak? Meer as wat enige sukses ons in hierdie wêreld kan gee?

Kortliks, is jy gereed om uit die boot te spring soos Petrus het — om jou vol net te verlaat — en na Jesus toe te swem? Is jy gereed om jou laaste bietjie onafhanklikheid prys te gee en jouself te boei aan die Een, wat weet wat jou werklik sal vervul? Wanneer ons doel met die Here s’n bots, word ons altyd versoek om ons eie belange eerste te plaas.

Toe Jesus vir Petrus gevra het of hy Hom liefhet, het Hy eintlik vir hom gesê, “Noudat jy jou onafhanklikheid prysgegee het, wil ek vir jou wys waarheen jy oppad is. Soos jy groei en volwasse in die Gees word, sal jy leer om langs My te loop met uitgestrekte hande. Jy sal My gevangene wees — my wil doen, My toelaat om jou te lei, selfs wanneer jy nie wil gaan nie.

“So, steek jou hande uit, Petrus. Jy sê dat jy My liefhet? Wees dan my gevangene. Vertrou My om jou deur alles in die lewe te lei.”

Jesus weet alle dinge. En Hy het gesien wat vir Petrus na Pinkster voorgelê het. Hy het geweet dat Petrus nie na die Heidene met die evangelie sou wou gaan nie. Hy het geweet hy sou nie na Cornelius se huis wou gaan en die dinge eet wat onrein vir die Jode is nie. Maar Petrus het geleer om sy hande uit te steek, om daar die boeie te aanvaar en deur die Gees gelei te word.

Natuurlik het Petrus uiteindelik deur die Heilige Gees se leiding na Cornelius se huis gegaan. En hy het die evangelie aan die Heidene gebring. Die wêreld was nooit weer dieselfde nie.

Dink weer aan Jesus se woorde: “En ‘n ander een sal jou gord" (Johannes 21:18). Wie is die “ander een”? Dit is Christus! Hy neem van ons besit, klee ons met sy wapenrusting en lei ons na plekke en mense wat ons nooit gedink het ons sal ontmoet nie — alles vir die koninkryk se onthalwe.

Dit is die roeping wat ons het. Ons moet onsself aan sy boeie onderwerp en sê, “Neem my, Here. Maak my ‘n gevangene van u wil. Ek sal my onafhanklikheid prysgee en alles voor u voete neerlê.”

Baie van ons maak verskonings om nie deur die Here gebind te word nie.

Dit is die taal van hulle wat weier om geboei te word: “En hulle het hul almal eenparig begin veronskuldig" (Lukas 14:18). Jesus het ‘n gelykenis vertel van ‘n groot fees wat gehou sou word. Die gasheer verteenwoordig God en die fees self verteenwoordig die Huweliksmaaltyd van die Lam.

Op hierdie oomblik beweeg die Heilige Gees deur die wêreld en roep alle genooide gaste om hullself voor te berei om te kom: “Kom, want alles is nou gereed" (Lukas 14:17). Maar die meeste het verskonings gemaak om dit nie by te woon nie. Ek vra vir jou: Het jy ‘n verskoning waarom jy nie op sy uitnodiging reageer nie? Word jy versoek om vir een laaste keer te gaan visvang? Word jy vasgehou deur een of ander onafhanklike drang of ambisie?

In die gelykenis wat Jesus vertel het, het niemand vir die Here tyd gehad nie. En die verskonings wat hulle gegee het, het alles wettig geklink: familiebelange, beleggings, besittings — alles goeie, aardse dinge. Ek sien vandag dieselfde ding onder baie Christene, veral in hierdie onstuimige ekonomiese tye: Hulle weier om hulleself heeltemal aan Jesus te onderwerp. Hulle word vasgevang in ‘n liefde vir die dinge van hierdie wêreld.

Wat is die Here se reaksie hierop? “Toe het die eienaar van die huis kwaad geword...dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie" (Lukas 14:21, 24).

Jesus kon nie dit op ‘n meer eenvoudige wyse gesê het nie. Hy waarsku ons teen die laaste-uur versoeking van verliefheid op hierdie wêreld. Ek dring by jou aan: Gee jou oor aan Hom, onderwerp jouself aan Hom en wees aan Hom geboei. Bid saam met my hierdie gebed:

“Here, ek is siek en sat vir my onafhanklike gees. Nou steek ek my arms na U uit. Ek wil mense vir U vang, nie my eie doel najaag nie. Plaas u liefdevolle boeie op my. Bind my aan U vas!”

Op hierdie wyse sal jy voorberei word vir die grootste seëning van alles: om teenwoordig te wees by die Huweliksmaaltyd van die Lam. Maak dit vandag jou gebed!