God Het ‘n Behae in Jou!

David Wilkerson

“Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek. Hy het my verlos van my magtige vyand en van my haters, omdat hulle te sterk was vir my. Hulle het my oorval op die dag van my nood; maar die Here was my steun. En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het" (Psalm 18:17–20, kursief myne).

In hierdie Psalm, het Dawid teruggekyk na ‘n groot verlossing. Hy was verheug omdat die Here hom van sy vyande verlos het. Saul het ‘n losprys op sy kop geplaas en hom meedoënloos gejag, terwyl hy Dawid geforseer het om in grotte, kuile en oop velde te slaap.

Dawid sê van daardie donker tyd, “Die droefheid van die hel het my omring, en ek het in angs gelewe. Goddelose mense het my bevrees gemaak. Hulle het my almal gehaat.” Maar God het bulderend uit die hemel gekom om Dawid te verlos: “En Hy het die hemel gebuig en neergedaal...En die Here het in die hemel gedonder...Hy het my verlos van my magtige vyand" (Psalm 18:10, 14, 18).

Die vyand het ingekom soos ‘n riviervloed. Tog was Dawid in staat om te sê, “God het donderend gekom en my uit die maalkolk verlos. Hy het my van al my moeilikheid gered!”

Die Heilige Gees het aan Dawid geopenbaar wat die sleutel van alle verlossing is.

Dawid kon sê, “Die rede waarom God my van al my vyande verlos het – van al my droefheid en die magte van die hel – is omdat ek vir Hom kosbaar is. My God verheug Hom in my! “En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het" (Psalm 18:20).

Het jy verlossing nodig? Van ‘n wellus, ‘n versoeking of beproewing? Van ‘n probleem wat verstandelik, geestelik, emosioneel of fisiek is? Die sleutel tot jou oorwinning is in hierdie vers. God verheug Hom in jou. Jy is vir Hom kosbaar!

In Hooglied van Salamo, sê die Here van sy bruid: “Hoe mooi en hoe lieflik is u, o liefde, onder al die genietinge!" (Hooglied 7:6). Drie van die Hebreeuse woorde in hierdie vers is sinonieme: mooi, beteken “kosbaar”; lieflik dui op “plesier”; en genietinge.

Hierdie woorde beskryf Jesus se gedagtes oor sy bruid terwyl Hy na haar kyk. Hy kyk na haar en sê, “Hoe mooi, aangenaam en lieflik is jy. Jy is vir my kosbaar, O geliefde.” Op haar beurt, roem die bruid, “Ek is my beminde s’n, en sy begeerte is na my" (Hooglied 7:10). Dit beteken, “Hy hardloop agter my aan met blydskap. Hy jaag my, omdat ek vir Hom so kosbaar is.”

Dieselfde gedagtes word reg deur die Psalms gevind: “Die Here het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop" (Psalm 147:11). "Want die Here het ‘n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil" (Psalm 149:4).

Ek kan probeer om jou van God se behae in jou te vertel, deur te sê, “Jy is kosbaar vir die Here.” Jy mag egter dink, “Dit is goed. Maar dit is net ‘n lieflike gedagte.”

Nee, hierdie waarheid is baie meer as net ‘n gedagte. Dit is die sleutel tot jou verlossing van elke stryd wat in jou siel woed. Dit is die geheim om in die rus wat God jou belowe het, in te gaan. Totdat jy dit begryp het en daaraan vashou — totdat dit ‘n fondament van waarheid in jou hart word — sal jy nie in staat wees om die beproewings van die lewe te deurstaan nie.

Jesaja het ‘n openbaring van God se groot behae in ons gehad. Hy het geprofeteer, “O Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie as jy deur die vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie" (Jesaja 43:1–2).

Jesaja het nie van ‘n letterlike rivier of vuur gepraat nie. Hy het gepraat van dit waardeur mense geestelik en verstandelik gaan. Israel was op daardie stadium in ballingskap; hulle water was beproewings, hulle vure was versoekings en hulle riviere was toetse. Dit was alles pogings van Satan om God se mense te vernietig en te oorweldig.

Jesaja se woorde was ‘n boodskap van suiwer genade vir Israel.

Die mense was in ballingskap weens hulle eie onnoselheid en dwaasheid. Maar God het vir hulle ‘n profeet met ‘n gebroke hart gestuur wat gesê het, “God wil hê dat ek vir julle sê dat julle aan Hom behoort.”

Op hierdie oomblik mag jy in jou eie malende water wees. Jy mag oorweldig voel deur ‘n beproewing of ‘n versoeking, wat dreig om jou te verteer.

Jy moet uit hierdie Bybelse voorbeelde verstaan dat die Here nie altyd die water kalmeer nie. Hy keer nie altyd die vloedwater of blus die vuur nie. Hy belowe egter die volgende: “Ek sal met jou wees deur dit alles. Hierdie beproewing of omstandighede sal jou nie vernietig nie. Dit sal jou nie verteer nie. So, gaan voort. Jy sal aan die ander kant uitkom met My aan jou sy.”

Dit was al wat die drie Hebreeuse kinders nodig gehad het om te hoor. Toe hulle in die vurige oond gegooi is, was daar ‘n vierde man saam met hulle: Jesus. Hulle het nie verbrand nie. In werklikheid, hulle klere en hare het nie eers na vuur geruik nie. Dit is die soort verlossing, wat God na jou geestelike vallei wil bring.

Wat is God se motivering waarom Hy jou wil verlos? Is dit omdat jy een of ander ding, wat Hom tevrede gestel het, gedoen het? Het jy meer tyd in gebed gespandeer? Het jy meer Bybel gelees? Al hierdie dinge is goed. Maar Jesaja het die ware openbaring gehad: “Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet...Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou" (Jesaja 43:4–5).

God het aan Israel gesê, “Jy is op die punt om deur vure en riviere te gaan. Maar moenie bekommerd wees nie, Ek sal saam met jou deur dit alles gaan. En Ek sal jou op die ou end verlos net omdat jy Myne is. Ek ken jou by die naam. En jy is ‘n plesier vir my hart.”

“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie" (Efésiërs 2:8–9).

Selfs as jy sou leef tot 500 jaar oud, sal jy nie lank genoeg leef om God deur jou eie werke te behaag nie.

Dit maak nie saak hoe hard jy probeer om jouself reg te kry nie. Jou vlees is nie aanvaarbaar voor God nie; dit kan nie eers verbeter word nie. ‘n Nuwe mens het nou voortgekom: Die Christus mens. Ware geloof is om vertroue te hê in wat Hy vir jou gedoen het.

Jy mag sê, “O, ek kan glo dat God Hom verlustig in getroue pastore. Hulle bid en spandeer soveel tyd in sy Woord. Ek kan glo dat ouderlinge vir Hom kosbaar is. Hulle verduur lyding, toetse en beproewings en hulle kom as oorwinnaars daaruit.

“Maar ek vind dit moeilik om te glo dat ‘n bekommerde, struikelende Christen soos ek, vir Hom kosbaar kan wees. Hy moet gewalg wees met my lewe wat so op-en-af is. Ek het probleme waardeur ek skynbaar nie kan kom nie. Ek glo steeds dat Hy my liefhet, maar Hy is sekerlik teleurgesteld in my.”

Verstaan asseblief: Jesaja se wonderlike profesie van genade was gerig aan ‘n volk wat beroof, geplunder, gevang en in die gevangenis gegooi is — net oor hulle eie dwaasheid en ongeloof. Dit was op hierdie stadium dat God vir hulle gesê het, “Nou — na al julle mislukkings — kom Ek met hierdie boodskap van hoop. En dit is omdat julle myne is."

Ek sal nooit die pyn vergeet wat ek verduur het, toe een van my tiener kinders na my toe gekom en bely het, “Pa, ek het nog nooit gevoel of ek Pa behaag nie. Ek het nog nooit gevoel dat ek Pa se liefde waardig is nie. Ek voel dat ek Pa nog my hele lewe lank teleurgestel het. Pa moet regtig teleurgesteld in my wees.”

Geen woorde kan my ooit seerder maak nie. Ek vra myself af wat ek kon gedoen het wat my kind so laat voel het. Toe, met diepe hartseer in myself, het ek my tranerige kind omhels. Ek het gedink, “Hoe verkeerd! Ek het my liefde aan hierdie kind van my betoon. Ek het dit keer op keer gesê en dit gewys. Al my ander kinders voel verseker van my liefde. Hoe kon hierdie kind so ‘n wanvoorstelling hê en soveel onnodige ongelukkigheid en skuld vir so lank ronddra?”

Ek het my geliefde kind vertel, “Jy was nog altyd vir my spesiaal. Jy is my oogappel! As ek aan jou dink, dan word my hele wese verlig. Jy het verseker soms dwase dinge aangevang, maar jou broers en susters ook. En jy was vergewe. Jy was werklik jammer en ek het nie een oomblik minder van jou gedink nie. Jy is vir my net ‘n plesier. Jy maak my gelukkig jou hele lewe lank. Jy maak my hart bly!”

Dit gaan so met baie Christene in hulle verhouding met die hemelse Vader.

Die duiwel het hierdie gelowiges oortuig dat hulle God nog net teleurgestel het en dat hulle Hom nooit sal kan behaag nie. Daarom aanvaar hulle eenvoudig nie God se liefde nie. In plaas daarvan, lewe hulle asof sy toorn altyd oor hulle is. Wat ‘n aaklige manier om deur die lewe te gaan! En hoe seergemaak moet God nie wees as Hy sien hoe sy kinders op hierdie manier lewe nie.

Miskien het jy grootgeword in ‘n liefdelose, hartelose familie. Miskien het jou ma of pa of sibbe jou laat voel asof jy niks werd is nie. Jy het nog nooit gevoel dat jy spesiaal of kosbaar vir enigiemand is nie. Niemand het nog ooit sy arms rondom jou gesit en vir jou gesê, “Ek het jou lief. Jy is spesiaal vir my. Ek is so trots op jou!” nie.

Hoeveel kinders het grootgeword terwyl hulle so graag spesiaal vir hulle pa of ma wou wees? En hoeveel jong volwassenes sukkel vandag met perfeksionisme omdat hulle nooit gevoel het dat hulle kosbaar of geliefd vir ‘n ouer was nie?

Oor die jare het dwelmverslaafde mans en vroue se vele treurige stories oor hulle kinderjare my tot trane gedryf. Baie het my vertel dat hulle ma of pa op hulle geskel en geskree het, “Jou niksnut! Jy sal nooit enigiets in jou lewe bereik nie.” Hulle het grootgeword met die gevoel dat hulle absoluut waardeloos is, asof hulle niks vir enigiemand beteken nie.

Vandag, is ons strate vol wegloopkinders wat beroof is van alle sin van waardigheid. Hulle voel vir niemand kosbaar nie. Hulle gee hulleself aan die eerste persoon op straat wat hulle selfs net ‘n bietjie spesiaal laat voel. Hulle bied hulle liggame aan vir pimps, wellus-gedrewe mans en vroue en ander tieners — enigiemand wat hulle laat dink dat hulle iets werd is.

O, dank God vir Jesus! Vir Hom was jy nog altyd kosbaar. Dit maak nie saak watter soort huislewe jy gehad het of hoe jou aardse ouers was nie. Niks daarvan kan ooit vergelyk met die liefde van jou hemelse Vader nie. Van die dag wat jy gebore is, was jy vir Hom spesiaal!

“’n Ander se vrou maak jag op ‘n kosbare lewe" (Spreuke 6:26).

Die “ander se vrou” in hierdie vers verwys na Satan. En hy maak jag op hulle wat kosbaar is vir God. Die Bybel gee ons ‘n duidelike illustrasie hiervan in Númeri 13-14. Israel het twaalf verspieders uitgestuur om die Beloofde Land te gaan verken. Toe die verspieders teruggekeer het na die veertig dae, het tien van hulle leuens in die harte van God se volk geplant:

  1. "Daar is te veel mense in die land. Hulle is te sterk vir ons."
  2. "Die stede se mure is te hoog. Die vestings is ondeurdringbaar."
  3. "Daar is reuse in die land en ons weeg glad nie op teen hulle nie. Ons is hulpeloos, dis klaarpraat met ons."

Hierdie leuens het Israel laat moed verloor. Die Skrif sê dat die volk ‘n nag van wanhoop verduur het: “Toe het die hele vergadering uitgeroep — hulle het hulle stem verhef, en die volk het dié nag geween" (Númeri 14:1). Meer as 2 miljoen mense het geween, geweeklaag en gemurmereer — terwyl hulle net op hulle swakhede en onvermoëns gefokus het. Hulle klagtes vol ongeloof het die hemele gebombardeer.

Geliefde, vandag val die duiwel God se mense aan met dieselfde drie leuens: “Jou beproewings is te veel. Jou versoekings is te oorweldigend. Jy is te swak om die mag wat teen jou kom te weerstaan.”

Kyk deeglik na daardie toneel. Sien jy jouself daar? Het jy ooit so ‘n nag soos daardie gespandeer — bedroef, weens duiwelse leuens wat in jou gees geplant is? Het jy ooit uitgeroep, “Ek het nou genoeg gehad. Ek kan nie meer nie! Hierdie vestings in my sal nooit verbreek word nie. Dit is alles verby vir my. Ek het die stryd verloor.”

Die Woord wat God tot Israel gespreek het, is ook vir ons vandag: “Julle [sal] my eiendom [skat] uit al die volke wees, want die hele aarde is myne" (Exodus 19:5). “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God, en jou het die HERE uitverkies om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is" (Deuternómium 14:2).

Ek is seker dat Israel kosbaar en spesiaal vir die Here gevoel het toe Hy hulle die eerste gered het. Nadat Hy hulle uit slawerny in Egipte verlos het, die Rooi See vir hulle oopgemaak het en hulle van Farao se leër gered het, moes hulle gesê het, “Kyk na die groot wonderwerk wat God ter wille van ons gedoen het. Hy het ons waarlik lief!”

Vandag sal die meeste Christene dieselfde ding oor hulle Verlosser en Here sê: “O ja, God het my van die sonde gered. Kyk na al die dinge waarvan Hy my gered het. Ek moet spesiaal vir Hom wees!”

My vraag is: Wat het gebeur? Na net ‘n paar jaar, word baie Christene soos antieke Israel. Wanneer al die probleme en beproewings van die wêreld oor hulle kom, dan dink hulle, “Eens was ons kosbaar in God se oë — kosbaar genoeg om gered te word. Maar nou, nadat ons Hom jare lank gedien het, is ons net sprinkane. Ons is voedsel vir ons vyande.”

Sulke verslane gelowiges ervaar nie meer dat God Homself in hulle verlustig nie. In werklikheid, baie glo dat God hulle verlaat het. Toe Israel gesê het, “Ons is sprinkane in die oë van die reuse,” het hulle bedoel, “God het ons soos hulpelose insekte, wat op die punt is om doodgetrap te word, behandel. Ons vyand gaan ons in die grond in vertrap. Ons is nie beter af as insekte nie.”

Josua en Kaleb was van ‘n ander gees.

Josua en Kaleb was tussen daardie groep van twaalf verspieders wat uitgestuur was.  Maar in teenstelling met die ander, het hulle vol hoop terug gekom. Hulle het nie oor hulle toestand gekla nie. In plaas daarvan, was hulle verheug nadat hulle die land deursoek het. Hulle was vol geloof en visie.

Jy sien, Josua en Kaleb het ‘n openbaring van hulle kosbaarheid in God se oë gehad. Hulle het geweet dat Israel spesiaal vir die Here was. Dit was die sleutel tot hulle hoopvolle gees. Josua het gesê, “As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee" (Númeri 14:8). Met ander woorde: “Omdat Hy Homself in ons verlustig, is die land reeds so goed soos ons s’n.”

Dit is dieselfde openbaring wat Dawid gehad het: “Hy het my uitgebring en verlos — omdat Hy Homself in my verlustig!” Net so, het elke oorwinnende Christen vandag dieselfde openbaring van hulle liefdevolle hemelse Vader: “Ons kan nie misluk nie. Al ons vyande is vir ons kos, omdat ons dierbaar vir die Here is!”

Deur van Josua en Kaleb te vertel, sien ons die groot genade van God as volg. Israel het die nag in rebellie teen God gespandeer, terwyl hulle in ongeloof rondgerol en geween het asof God hulle verlaat het. Ten slotte het hulle ‘n hoof aangestel om hulle na Egipte toe terug te neem. Maar die Here het Josua en Kaleb na hulle gestuur om vir hulle te sê, “Ten spyte van julle nag van verwarring, murmurering en gekla, het God steeds ‘n behae in julle. Hy sal julle vorentoe lei. Moenie vrees nie, julle is vir Hom kosbaar!”

Hier is ook ‘n waarskuwing. Israel het geweier om God se boodskap van hoe kosbaar hulle in sy oë was, te glo. Hulle het verkies om liewer op hulle eie toestand te fokus – op hulle swakhede en onvermoëns. Hulle het geswig voor hulle vrese.

Op die ou end het God geduld met hulle verloor. Hy het vir Israel gesê: “Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle...uitroei" (Númeri 14:11–12).

Die Here het Israel ter wille van Moses vergewe. Maar hulle was nie toegelaat om die land binne te gaan nie. In plaas daarvan, was hulle verdoem tot ‘n woestyn bestaan, ‘n lewe wat kwesbaar was vir voortdurende vrees en vernietigende twyfel. Kortliks, hulle was gered en vergewe, maar hulle het ongelukkig gebly. Hulle het die hoop, rus en vrede wat kom met die aanvaarding van hoe spesiaal God se kinders vir Hom is, verloor.

Die enigste tyd wat God se geduld vandag met ons opraak, is wanneer ons keer op keer weier om te aanvaar hoe lief Hy ons het. Vandag het baie Christene teruggedraai na ‘n woestyn wat hulle self geskep het. Hulle het geen blydskap en geen oorwinning nie. As jy na hulle kyk, sal jy dink dat God hulle jare gelede reeds verlaat het. Nee — Hy het hulle eenvoudig oorgegee aan hulle eie klagtes en murmurering.

Dank God dat Josua en Kaleb die Beloofde Land binne gegaan het. En hulle het soos groen bome in sy huis gestaan tot hulle dood. Hulle was mans van krag en visie, omdat hulle geweet het dat hulle vir God kosbaar was.

Jy is ook kosbaar vir die Here, ten spyte van jou probleme en mislukkings. Jy kan ook ‘n groen boom in God se huis wees, net soos Josua en Kaleb. Staan eenvoudig op wat sy Woord belowe: “En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het" (Psalm 18:16–19). Dit is die fondament van ware geloof!