Die Huidige Grootheid van Christus

David Wilkerson

Ek wil hê jy moet dink aan ‘n gebed wat Paulus vir die kerk van Jesus Christus gebid het. Hy het gebid, “Mag God nie net Christus se vorige grootheid aan julle openbaar nie, maar ook sy huidige grootheid.”

Paulus se spesifieke gebed was as volg: “Sodat julle kan weet...wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte” (Efésiërs 1:18–19).

Vandag het die kerk groot eerbied vir die Jesus wat op die aarde gewandel het. Ek verwys na die Galiliër, die seun van Maria, die Meester en Wonderwerker. Ons word nooit moeg om van die grootheid van Jesus Christus van Nasaret te hoor en te vertel nie.

Ons hou daarvan om onsself te herinner hoe hierdie Jesus duiwels uitgedryf het en allerhande versoekings kragtig weerstaan het. Hy het blinde oë geopen, dowe ore oopgemaak, kreupeles laat opspring, verdorde hande herstel en melaatses gesond gemaak. Hy het water in wyn verander, menigtes gevoed met net ‘n paar broodjies en vissies, en op meer as een geleentheid het Hy die dooies opgewek.

Op ‘n stadium in die geskiedenis, het Christene egter die huidige krag van ons groot wonderwerkende Verlosser begin beperk. Die kerk het ‘n teologie ontwikkel wat Christus die God van die geestelike gemaak het, maar nie van die natuurlike nie.

Laat my jou ‘n voorbeeld gegee. In vandag se tyd, glo ons Jesus kan ons sondes vergewe en ons skuld vryspreek. Ons glo Hy kan ons met vrede en blydskap vul en aan ons die ewige lewe gee. En Hy doen dit alles in die onsienlike, onsigbare wêreld.

Maar min van ons ken Jesus as God van die natuurlike wêreld waarin ons lewe. Ons ken Hom dikwels nie as Here van ons daaglikse sake, as God van ons huis, ons kinders, huwelik, werk en rekeninge nie.

Paulus vertel vir ons dat ons ‘n openbaring van Jesus se krag nodig het, vanaf die tyd toe Christus uit die dood opgewek is. En op hierdie oomblik sit Jesus aan die regterhand van God, met al die mag in die hemel en op die aarde aan wat aan Hom gegee is. “(God) het alle dinge onder sy voete gestel” (Efésiërs 1:22).

Terwyl ek hierdie gedeelte gelees het, het die Heilige Gees my hart aangeraak met ‘n magtige waarheid: “Jesus was nog nooit magtiger as op hierdie oomblik nie.” Verder, volgens Paulus, is Christus, “bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige” (Efésiërs 1:21).

As ons dit waarlik glo, is die implikasies vir ons wonderlik. Jy sien, die Christus van Galiléa het nooit moed verloor wanneer dit by die dooies kom nie. Inderdaad, daar was geen groter bewys van Jesus se krag op die aarde toe Hy die dood oorwin het nie. Hy het keer op keer gedemonstreer dat Hy alle mag oor die dood het.

“Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil” (Johannes 5:21). Jesus het nie net die mag oor die dood geëis deur te sê, “Ek is die Opstanding en die Lewe” nie, Hy het dit bewys!

Waag ons dit om te glo wat Jesus oor die opstandingslewe gesê het?

“Daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê” (Johannes 5:25–26, kursief myne).

Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, het Hy nie net na die laaste opstanding verwys nie. Hy het aan ons sy huidige mag, om dit wat gesterf het op te wek en om ons met lewe te vul, geopenbaar.

In der waarheid het ons almal ‘n geheime begraafplaas in ons lewens. Ek praat van iemand of iets waarmee ons lankal moed verloor het. Ons het dit begrawe, ‘n grafsteen daaroor gesit en die sterfdatum daarop geskryf.

Ek dink aan ‘n geliefde kennis wat vir my en my vrou vertel het dat sy na haar kinders se gradeplegtigheid toe gegaan het. Hierdie vrou se man het haar jare tevore vir ‘n ander vrou verlaat. By die gradeplegtigheid, het hy en sy nuwe vrou, saam met sy hele familie opgedaag.

Hoe moeilik moes dit vir haar gewees het. Op daardie stadium, was ons vriendin se voormalige huwelik lankal verby die kans op herstel. Tog, terwyl sy ‘n paar meter van haar gewese man en sy nuwe vrou gesit het, het God haar laat teruggaan na die graf van haar huwelik. En toe het sy begin bid vir die redding van haar vorige man en sy vrou.

Waarom sou sy dit doen? Sy wou hom laat opstaan van die sondedood. Jy sien, omdat sy Christus ken, het sy geweier om moed op te gee met die dooies. Sy weet Jesus besit ‘n hedendaagse opstandingskrag om lewe uit die dood voort te bring.

Jesus gee nooit moed op met die dooies nie.

Ons Here bring lewe uit die dood voort. Al wat nodig is, is sy woord, sy asem en skielik kom dit, wat dood en hopeloos lyk, tot nuwe lewe.

Ek ken ‘n pa wat ween oor sy sestienjarige dogter, wat verslaaf is aan “crack.” Sy was eens so onskuldig en liefdevol en het dit geniet om lang ente saam met haar pa te gaan stap en diep geselsies oor geloof te hê. Maar nou bly sy op die strate en verkoop haar liggaam om haar verslawing te onderhou. Haar liggaam is uitgeteer; op ‘n manier is sy meer dood as lewend.

Haar pa het haar baie lief en huil oor haar hoërskoolfoto. Tans het hy alle hoop verloor. Hy wag vir die gevreesde foonoproep wanneer die stem van ‘n vreemdeling vir hom vra, “Is jy die vader van...? Kom asseblief na die lykshuis toe.”

Maar Jesus gee nooit moed op met die dooies nie! Hy het al die mag om hierdie meisie van die graf van dwelms te red. Duisende soos sy het al opgestaan van allerhande soorte verslawings.

‘n Treurende vader genaamd, Jaïrus, het eens na Jesus gekom vir die genesing van sy sterwende dogter. “En daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy Hom sien, val hy aan sy voete neer en smeek Hom dringend en sê: My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe. En Hy het saam met hom gegaan. En ‘n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring” (Markus 5:22–24).

Dit is duidelik dat Jaïrus ‘n groot geloof gehad het. Hy het by Jesus aangedring, “Kom, lê hande op haar en sy sal genees word.” Wat ‘n verklaring van sy geloof! Dit het Jaïrus se diep geloof geopenbaar: “My dogter het net Jesus se aanraking nodig. Hy besit al die mag. Hy kan keer dat sy sterf.”

Ek glo Jaïrus se gesindheid verteenwoordig die meeste Christene vandag. Wanneer ons in ‘n groot krisis is, weet ons dat Jesus ons enigste hoop is. En daarom haas ons ons na Hom toe in ons nood, val voor sy voete neer en soek sy genade en hulp.

Jesus het op Jaïrus se geloof gereageer deur saam met hom te gaan. Kan jy jouself indink watter groot hoop daardie treurende man se hart moes gevul het? Terselftertyd, glo ek egter, dat ‘n aaklige gedagte by Jaïrus moes opgekom het: “Wat as ons te laat is? Dit is wonderlik om Jesus aan my sy te hê. Maar ons het tyd nodig. Met elke tree wat ons na my huis toe gee, vloei die lewe uit my dogter uit.”

In ons eie krisis, sê die meeste van ons dieselfde ding as Jaïrus: “Ek het U nodig, Jesus. Maar ons tyd raak min.” Sou Jaïrus regtig geweet het wie Jesus was — die Opstanding en die Lewe — sou hy in sy hart gerus gewees het. Hy sou sy bekommerde gees as volg gerusstel, “Jesus bestaan buite tyd. Ons het nie tyd nodig nie. Ons het net Hom nodig!”

Jesus het toegelaat dat die tyd vir Jaïrus uitgeloop het.

Die Here wil baie meer van ons hê as ‘n geloof wat net tot op die randjie van die dood gaan. Jesus begeer ons geloof in sy opstandingskrag. Ek praat van ‘n krag wat verby die dood en hopeloosheid strek.

Die nominale gelowiges in Jaïrus se huishouding het ‘n beperkte geloof gehad. Hulle het geglo tot by die randjie van die dood. Solank daar ‘n bietjie lewe en ‘n bietjie hoop in die meisie oor was, het hulle Jesus gesoek en nodig gehad. Hulle pleidooi was, “Ons glo Jesus is die groot Geneesheer. Maar ons het nodig dat Hy gou maak. Ons kleintjie mag enige oomblik sterf. Dan het ons Hom nie meer nodig nie!”

Ek vra jou, watter soort geloof is dit? Dit is geloof wat net tot op die randjie van hopeloosheid strek. Dit glo net tot by die graf. En dit is nie werklik geloof nie.

Jaïrus se dogter het gesterf. Ek stel myself voor dat iemand die dogtertjie se pols geneem en haar dood verklaar het. Die klein bietjie geloof wat daardie mense oorgehad het, was nou weg. En die eerste ding om te doen was om die Geneesheer te laat weet, dat Hy nie meer nodig was nie. Hulle het hierdie boodskap aan Jesus gestuur: “Terwyl Hy nog spreek, kom daar mense van die owerste van die sinagoge se huis en sê: U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig?” (Markus 5:35, kursief myne).

Die woorde klink so finaal: “U dogter is dood.” Sê vir my, is daar soortgelyke woorde, wat in jou ore klink oor iets wat in jou lewe doodgegaan het? “Jou huwelik is dood. Dit is nie nodig om na God daarmee te gaan nie,” “Jou bediening is dood. Dit help nie om te bid nie.” “Jou kind is dood in sonde. Laat hom gaan.” “Jou verhouding met daardie geliefde is dood. Kom daaroor.”

Nee! Al hierdie gevreesde woorde beteken vir Jesus absoluut niks nie. Hy gee nooit moed op met die dooies nie. Ek praat van geestelike dood. Hy is die opstandingslewe vir dit wat ons dink dood is.

Hoe het Jesus gereageer op die nuus van Jaïrus se dogter? Die beste vertaling sê, “Asof Jesus nie gehoor het wat gespreek was nie, het Hy vir die owerste van die sinagoge gesê: Wees nie bevrees nie, glo net” (sien Markus 5:36).

Vergelyk dit met die finaliteit van die boodskap: “Waarom val jy die Meester nog lastig?” Met ander woorde, “Waarom glo jy nog wanneer alles verby is. Dit is nou ‘n dooie saak. Laat dit daar.” Maar met Jesus is dit nooit verby nie.

As Jaïrus na sulke twyfel geluister het, hoe dink jy sou hy teenoor Jesus gereageer het? “Dankie, Here, ek weet U het goed bedoel. Miskien sou sy geleef het as ons nie vertraag was deur daardie vrou, wat aan bloedvloeiing gely en die soom van u kleed aangeraak het nie. Ek het regtig geloof gehad. Ek glo as ons betyds by die huis gekom het, toe sy nog asem gehaal het, sou sy geleef het.”

Toe Jesus geroep was om Lasarus te genees, het Hy dieselfde soort beperkte geloof teëgekom. “En toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie” (Johannes 11:32). Die gedeelte gaan voort om te wys dat Maria en haar vriende net tot by die randjie van die dood geloof gehad het. “En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?” (Johannes 11:37).

Vir hulle was Jesus net nodig tot op die randjie van die dood. Nie Maria of Martha of ‘n enkele persoon by daardie graf, het geloof in Christus as die opstanding en die lewe gehad nie.

Terwyl ek die verhaal lees van die gebeure toe Jesus by Jaïrus se huis gekom het, was ek verstom.

Wat ‘n verskriklike toneel was dit nie. Daar was totale verwarring, twyfel, vrees en geween. “En Hy kom in die huis van die owerste van die sinagoge en sien ‘n rumoer: mense wat baie ween en huil” (Markus 5:38).

Toe Jesus daar aangekom het, het die mense gereageer asof Hy net nog ‘n roubeklaer was wat sy laaste eer kom betoon het. Ek kan hulle hoor fluister, “Ten minste is Hy ordentlik genoeg om na die begrafnis te kom. Liewer laat as nooit.”

Wonder jy waarom daar so baie ontwrigtings is in die lewens van so baie van ons Christene? Waarom is daar so baie hartseer en droefheid? Dit is omdat ons nie glo dat Jesus, dit wat skynbaar dood is, kan opwek nie. As ons eerlik is, sal baie van ons erken dat daar tye is, wat ons nie glo dat Jesus weet wat Hy doen nie. Ons glo nie dat Hy ‘n lewegewende plan vir ons het nie. Ons dink dat Hy te laat is en dat dinge verby is.

Hierdie gesindheid het posgevat toe Jesus vir Jaïrus se huishouding gesê het om te bly hoop. “En toe Hy binnegaan, sê Hy vir hulle: Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap” (Markus 5:39). Die roubeklaers se reaksie was as volg: “En hulle het Hom uitgelag” (Markus 5:40, kursief myne).

Terwyl ek daardie twyfelaars in my geestesoog sien, wil ek vir hulle vra, “Waaroor lag julle? Waarom het julle moed verloor? Hou vas! Vertrou Hom. Hy kan haar weer lewend maak. Dit was nog heeltyd die plan.”

Dink daaraan: Hierdie mense was dieselfde biddende mense wat met geloof gewag het vir Jesus om te kom. Net ‘n uur tevore het hulle verklaar, “Jesus is ons antwoord. Hy is die oplossing van ons probleem. Gaan haal hom!” Dieselfde gelowiges het Hom spottend uitgelag. Met die dogtertjie wat dood was, het hulle Hom eenvoudig geïgnoreer. Vir hulle was Hy maar net nog ‘n man.

Vandag is baie van ons net so skuldig soos daardie twyfelende skare van roubeklaers.

Is dit nie ook waar van baie van ons nie? Ons roep uit tot God in ons moeilikheid. Ons eis dat Hy ons antwoord voor dit te laat is. Dan, wanneer ons antwoord nie betyds kom nie, word ons begrafnisgangers. Ons bewe voor die mag van die duiwel, asof duiwels die oorwinning behaal het. Ons kom tot die gevolgtrekking, “Jesus het hierdie stryd verloor. Die duiwel het op die ou end gewen.”

Ek sê vir jou, dit is nie genoeg om Christus lief te hê, te dien en te aanbid tot op die rand van hopeloosheid nie. Waarom vertrou ons Hom nie ook wanneer alle hoop weg is nie? Ek vra dit van myself. Waarom vertrou ons Hom nie wanneer dit lyk of ons nooit ‘n werk gaan kry nie? Wanneer dit vir ons menslik onmoontlik lyk om aan te gaan?

Laat my jou die vraag vra: Wat as Jesus in jou huidige situasie ingestap het? Wat sou Hy vind? Sal jy steeds treur oor jou omstandighede? Sal jou hart net so vol onrus wees soos daardie roubeklaers by Jaïrus se huis?

Of sou jy vir Jesus sê, “Here, dit lyk hopeloos. Ek was op die punt om moed te verloor. Maar U is steeds dieselfde as wat U in Jaïrus se huis was. U kan hierdie probleem oplos. U is die opstanding en die lewe. U kan lewe uit die dood voortbring!”

Let op wat Jesus by Jaïrus se huis gedoen het: “Maar Hy het almal uitgedryf en die vader van die kind saamgeneem en die moeder en die wat by Hom was, en ingegaan waar die kind lê” (Markus 5:40).

Jesus het niemand anders saamgeneem as net “die wat by Hom was.” Dit beteken hulle wat in Hom geglo het: sy dissipels, sowel as, die dogtertjie se ouers, wat ook geglo het. Hulle was almal daar om te sien hoe Hy lewe uit die dood voortgebring het.

Let ook op dat Christus nie geïnteresseerd was om sy mag aan die ongelowiges te openbaar nie. In werklikheid, nadat Hy die dogtertjie uit die dood opgewek het, het Hy aan diegene rondom Hom beveel “dat niemand dit moes weet nie” (Markus 5:43). Met ander woorde: “Moenie vir ander vertel wat julle gesien het nie. Die wonderwerk bly net tussen ons, wat in hierdie kamer is.”

Vertel vir my, liewe heilige, as Jesus jou wonderwerk doen, soos Hy vir Jaïrus en vir Maria en Martha gedoen het, sal jy in die kamer saam met hulle wees wat in Hom glo? Of sal jy buitekant wees? Ek wil aan die binnekant wees wanneer Jesus lewens opwek. Ek wil aan die geloofkant wees!

Jesus was nog nooit meer gewillig om sy opstandingskrag te openbaar as nou nie.

Ons geloof moet eenvoudig verder strek as die randjie van die dood. Ons moet alles wat dood is, konfronteer en verklaar, “Jesus gee nooit moed op met dit wat skynbaar dood is nie.” Ons het ‘n geloof nodig wat weier om met enigiets of enigiemand moed op te gee, dit maak nie saak hoe hopeloos die situasie lyk nie.

Christus sal ons met sy krag verwonder. Inderdaad, as jy vashou aan ‘n onwankelbare geloof, sal jy ‘n heerlike openbaring van sy opstandingslewe beleef. Net jy en die Here sal al die diepgaande werkinge van sy wonderwerk ken. Maar Hy sal jou verbaas en opgewonde maak wanneer Hy sy groot heerlikheid aan jou wys.

Die Skrif sê dat ons voorsien is van dieselfde energieke, opstandingslewe wat in Christus is: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Romeine 8:11). Hy vul ons sterflike liggame fisies met krag deur die energie van God.

“En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak” (Kolossense 2:13). “Maar God...het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus” (Efésiërs 2:4–5). “Dit is die Gees wat [ons] lewend maak” (Johannes 6:63). “Die laaste Adam [het] ‘n lewendmakende gees [geword]" (1 Korinthiërs 15:45).

Titus praat van “die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5). “Sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend” (Psalm 103:5).

Hoe duidelik is sy boodskap aan ons: Die Heilige Gees woon in ons om konstante lewe in ons voort te bring. Dit is Christus se huidige grootheid. Glo in Hom.

JOU SITUASIE IS NIE HOPELOOS NIE. BEHOU DIE GELOOF!