Hou Vas Aan Jou Geloofsvertroue

David Wilkerson

“Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. Nog net ‘n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe" (Hebreërs 10:35–39 NV).

Hierdie verse was gerig aan sommige van die mees vervolgde, geteisterde, beproefde en lydende Christene op aarde. Hierdie geliefde heiliges het getrou in die vrees van God gewandel. Hulle was berouvol, bekeerd en het na die koms van die Here uitgesien. Hulle het Christus as hulle Hoëpriester geken en het in volle geloofsversekering gewandel. En hulle was standvastig in die Here. Hulle het hulle getuienis sonder enige twyfel styf vasgehou. Hulle het vertrou op die God wat “getrou aan sy beloftes” is.

Hierdie heiliges het ook alle waarskuwings teen afvalligheid ter harte geneem. Hulle het geweet dat gelowiges wat opsetlik sondig na hulle die kennis van die waarheid ontvang het, kon wegval en “verslind word deur die vyand.”

Hulle het geweet dat dit ‘n belangrike deel van hulle geloof was, omdat hulle van die begin af, verskriklike vervolging moes ly. Hulle was “voorwerpe van bespotting,” en moes blywende skande verdra. Hulle het allerhande soorte verdrukkinge gely. Nie net was hulle reputasie deur die bose geskend nie, maar hulle eiendomme was gekonfiskeer, wat hulle brandarm gelaat het. Ten slotte was hulle leier in die tronk gegooi sodat hulle herderloos was.

Wat was aan die gang dat hierdie Christene so baie moes ly?

Al hierdie verskriklike swaarkry het op daardie Christene gekom onmiddellik nadat hulle “verlig geword het.” Dit was toe dat hulle “’n groot lydensworsteling deurstaan het” (Hebreërs 10:32). Dink na oor hierdie sin: Dit kom lynreg te staan teen elke moderne leer van voorspoed en ‘n pynlose wandel met Christus.

Jy mag vra, “Waarom lyk dit of sommige Christene moeiteloos deur die lewe gaan? Ek ken mense wat lyk of hulle nooit ly nie. Hulle het net voorspoed. Hulle lyk altyd gelukkig, asof hulle geen probleme het nie.”

Inderdaad, as jy na sulke Christene kyk, mag jy wonder, “Wat is met my verkeerd? Waarom moet ek die een probleem na die ander verduur, nadat ek my alles vir Jesus gegee het? Toe ek koud en louwarm in die geloof was, het alles goed gegaan. Ek het nie eers geweet sulke swaarkry bestaan totdat ek ernstig met God geword het nie.”

Jou antwoord word vervat in die volgende vers: “toe julle verlig geword het,” wat beteken, “toe julle die lig gesien het.” Dit was na jy jou lewe vir Jesus oopgemaak het en jy gevul was met sy lig dat jou groot stryd van beproewings begin het.

Jy sien, Satan val ons aan volgens die mate van die lig wat ons ontvang en waarin ons wandel. Hulle wat in ‘n klein ligstraaltjie wandel, is geen bedreiging vir die duiwel se koninkryk nie. Hy mik sy “groot lydensworsteling” op hulle wat die lig liefhet en alles wat Christus vir hulle het, in besit neem.

Sulke heiliges het geen deel aan die duisternis nie. Hulle het ‘n geloof in besit geneem wat hulle “volharders” gemaak het. Hulle het verander in krygsmanne wat in volle geloofsversekering wandel. As gevolg van hulle geloof, het hulle teikens van wrede aanvalle uit die hel geword.

Die vyand kom soos ‘n riviervloed teen sulke krygsmanne.

Satan kan dit laat lyk of alles in hulle lewens ineenstort: Dit lyk of hulle gebede verhinder word en die hemel soos koper is, terwyl hulle van alle kante af verdrukking ly. In sulke tye, kan hulle harte veroordelend fluister:

“Jy het te min geloof. As jy net meer regverdig was in jou geloof — as jy net nader aan Jesus was, as jou gedagtes nie so boos was nie — dan sou niks hiervan met jou gebeur het nie. Jy sou in beheer van alles gewees het, net soos hulle wat jy rondom jou sien. Jy sou oorvloed geniet het en duidelik van God gehoor het.”

Dit is nie so nie! Hierdie Hebreërs wat aangeval was, het ‘n ware geloof gehad wat hulle tot God laat “toetree het met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekering.” Inderdaad, hulle word in hierdie sendbrief “heilige broeders” genoem (Hebreërs 3:1). Die skrywer weet dat daar ‘n stryd om hulle harte is te midde van hulle groot verdrukking.

Eenvoudig gestel, Satan se hoofdoel is om die lig te laat verflou, om dit uit te doof en af te skakel. Wys vir my ‘n Christen wat skielik uit geestelike duisternis uitgekom het en in die lig van Christus en sy heiligheid en reinheid ingekom het, en ek sal vir jou een wys wat in die stryd van sy lewe gewikkel is.

Beskryf dit jou? Gaan jy tans deur ‘n groot stryd? Geliefde, dit is heel moontlik nie weens twyfel of sonde nie, maar omdat jy die lig omhels het. Lig produseer vertroue in Jesus. En hoe meer lig jy ontvang, hoe groter is jou vertroue in Hom. Dit is jou vertroue en vrymoedigheid in Christus, wat Satan vasbeslote is om te laat skipbreuk ly. Hy het al die magte van die hel op jou gemik om jou tot in vrees en ongeloof af te trek.

Die skrywer van Hebreërs het vermoeienis en ongeloof, wat by hierdie gelowiges ingesluip het, bespeur.

Om hierdie vermoeienis aan te spreek, het die skrywer aan hierdie Christene gesê, “Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het” (Hebreërs 10:36). Hy het Satan se mees effektiewe wapen teen hulle, wat moeg word om goed te doen, geïdentifiseer: ongeduld met God.

Dit werk so. Na ‘n lang tydperk van verdrukking, plant die duiwel die volgende in jou gedagtes, “God weet dat jy Hom vertrou. Jy was tot nou toe getrou. Jy het nooit sy gewilligheid en vermoë om jou te help in twyfel getrek nie. So, waar is Hy na al hierdie tyd? Waarom help Hy jou nie? Is dit hoe Hy reageer op sy dienaars se getrouheid?”

Waarskynlik het die geduld van hierdie gelowiges min geraak. Die daaglikse stryd was moeilik genoeg, maar dit het net voortgesleep met geen einde in sig nie.

Dit is presies die soort strategie wat Satan vandag teen baie geliefde heiliges gebruik: Hy plant ongeduld met God. Hy sê vir jou dat die Here nie jou behoeftes gaan aanspreek nie — dat jy as ‘n tweede-klas Christen sal leef, terneergedruk en op jou eie vir die res van jou lewe. Hy vul jou met negatiewe gedagtes, “Jy gaan jou werk verloor. Al jou gebede en vertroue sal pure verniet wees. Dit is duidelik dat jy ‘n mislukking in die geloof is. Die tyd het vir jou aangebreek om op te gee en terug te gaan.”

Dink aan wat die skrywer van Hebreërs vir hierdie lydende heiliges sê.

Wat ‘n boodskap om te lewer aan mense wat diep in die moeilikheid vasgeval is. Hulle het hulle eiendomme en besittings verloor. Hulle het verdrukking ondergaan en ‘n groot stryd oor ‘n baie lang tydperk verduur. Nou word hulle deur iemand met gesag vertel, “Julle het te min geduld. Glo net en wag. Die belofte is oppad.”

Ek weet nie van jou nie, maar ek kan nie sommige van hierdie gelowiges blameer as hulle versoek word om te sê, “Het ek meer geduld nodig? Ek het alles verduur sonder om te kla. Ek is rondgeskop, gestoot en gestamp, geslaan en verneder. My spaargeld is weg. My huis is weg. Ek moet leef op die vrygewigheid van my vriende en hulle omstandighede is ook beroerd. Ten spyte van alles, het ek elke stryd met ‘n stil blydskap en geloofsvertroue verduur. So, wat bedoel jy dat ek geduld nodig het?”

Goddelike geduld is ‘n gewilligheid om op God se tydsberekening te wag. Daar is iets soos Heilige Gees tydsberekening. “Nog net ‘n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie” (Hebreërs 10:37). Hierdie vers praat van meer as net Christus se tweede koms. Dit gaan ook oor Christus wat kom om jou behoefte te vervul.

In der waarheid, is daar nie so ‘n ding soos God wat te laat is nie. Maria en Martha het gedink dat Jesus te laat was toe hulle broer, Lasarus, gesterf het. Hulle het gesê, “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie” (Johannes 11:21). Met ander woorde: “Jesus, U het te laat hier aangekom. U het die spertyd gemis.”

Verbeel jou hoe seergemaak die Here daaroor moes gewees het. In wese, het Hy hulle geantwoord, “Nee, Ek is nie te laat nie. Lasarus sal weer opstaan. Ek is hier en Ek is die opstanding. Alle lewe is in My.”

Die huishouding van Jaïrus het ook gedink dat Jesus te laat was. Hulle het aan hierdie prominente man vertel, “U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig?” (Markus 5:35). Weereens was die boodskap, “Jesus was te laat. Dit is alles verby. Hy het nie betyds geantwoord nie. Hy het ons teleurgestel.”

Te laat? By die Here is daar nie so iets nie! Jy mag versoek word om die stryd gewonne te gee en in wanhoop weg te sink. Maar ons Vader is so vol liefde vir sy kinders, dat Hy nie gekeer kan word om iets uit niks te maak nie.

Diepe wanhoop en angs kan teen Jesus kom vanaf hulle vir wie Hy die meeste omgee.

Maria en Martha het hulle geloofsvertroue prysgegee. Jaïrus se huishouding het ook hulle geloofsvertroue prysgegee. Hulle het almal Jesus beskuldig dat Hy te laat was, asof Hy harteloos is.

Steeds het dit net ‘n woord van Hom gekos, “Staan op!” en alles het binne ‘n oomblik verander. Dit is al wat die Here ooit nodig het om te doen. Hy spreek ‘n woord en skielik verander alles. Satan verloor sy greep, die dood vlug, lewe spring op en die hemel se beloftes breek oral deur.

Geliefde, dit maak nie saak waardeur jy gaan nie, al wat die Here nodig het om te doen, is om ‘n enkele woord te spreek en duiwels slaan op die vlug. Die skepping bewe. Skielik het jy die antwoord wat jy gesoek het. So, jy vra, waarom het die Here jou nog nie geantwoord nie? Waarom duur jou lyding voort? Waarom lyk alles so hopeloos vir sommige van God se heiligste mense?

Al wat ek weet is dit. In sulke krisisse, groei God se mense in geloofsvertroue of hulle onttrek hulleself en gee hulle geloofsvertroue prys. “En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe” (Hebreërs 10:38–39).

Die Here is vasbeslote om ons van alle vertroue in die vlees te stroop, sodat ons net ‘n totale vertroue in Hom oor het.

As ons eerlik is, sal ons erken dat ons dikwels ons vertroue in ander geplaas het tydens ons groot uur van beproewing. Ons het na pastore, beraders, vriende en huweliksmaats gegaan vir antwoorde. Ons het ure, dae en weke gespandeer om te probeer dink hoe om ons probleem op te los. En as ons oplossing nie vinnig genoeg gekom het nie, het ons aangehou met manipulering en dit van elke hoek beskou, totdat al ons menslike hulpbronne uitgeput was.

Dikwels hoor ek Christene sê, “As hierdie transaksie net wil deurgaan.” Of, “As so-en-so net ‘n goeie woord vir my wil insit. Al wat ek nodig het is ‘n kans.”

Dank God vir al die hulp van ander, maar ons moenie wag dat ‘n engel verskyn of ‘n skip inkom nie. Paulus verklaar, “(Ons) wat in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie” (Filippense 3:3). Dit is vir ons siel se behoud, dat God wag totdat ons verder as menslike hulpbronne kyk en Hom alleen vir hulp vra. Hy gebruik wel mense in ons lewens, maar ons moet Hóm dit laat orkestreer.

“Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou” (Psalm 118:8). “Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie...Maar ek sal uitsien na die HERE, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor” (Miga 7:5, 7).

Paulus het alles geweet van die magteloosheid van die vlees. Hy het erken dat hy nie slim was nie. Sy kritici het sy prediking veragtelik genoem en sy teenwoordigheid onvanpas — kortliks, hulle het gesê hy was vervelig. Maar Paulus het geen probleem met sulke kritiek gehad nie, omdat hy nie op sy vlees vertrou het nie. Hy het geweet dat Jesus nie sy stryd met skranderheid, vermoëns of charisma beveg nie, maar met alle vertroue op die Vader.

Paulus het aan die Korinthiërs vertel, “Ek gaan nie na julle toe kom met selfvertroue of vrymoedigheid van die vlees nie. Ek sal nie so voor julle optree nie. Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons nie die stryd in die vlees nie.”

Met ander woorde: Ons het nie nodig om ons selfvertroue op te bou nie. Ons het nie nodig om ondersteun te word met vleitaal nie. Al die menslike vermoëns in die wêreld sal nie ‘n enkele vesting van die Satan neerwerp nie. “Sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 1:29).

Daar is ‘n heerlike belofte in Hebreërs 3:14 vir almal wat onwrikbaar aan hulle vertroue in Jesus vashou.

Hierdie vers sê, “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:14). Die betekenis hier is: Wanneer ons ‘n onwrikbare vertroue in die Here het, sal Hy ons enigste ware bron van voorsiening word. Ons het nie nodig om op ‘n ander plek te gaan soek nie.

“En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19). Ons word belowe, “In Christus is al die rykdom in heerlikheid. In Hom is alle volheid.  Alles wat jy nodig het vir ‘n lewe en goddelikheid, het God aan jou geskenk in Jesus, wat jou hele bron van voorsiening is.”

Min Christene twyfel dat Jesus die bron is van alles wat hulle nodig het. Maar hulle het nie altyd die vertroue en versekerdheid dat Hy wel vir hulle sal gee wat hulle nodig het nie. Geliefde, laat my jou herinner aan net ‘n paar wonderlike verse oor die Here se besorgdheid oor jou:

Hy ken al jou persoonlike behoeftes. “Want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Matthéüs 6:8).

Hy gee werklik vir jou om en Hy word deur jou behoefte aangeraak. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7). Die Griekse betekenis hier is, “Dit maak vir Hom saak.” Te midde van jou lang beproewing mag dit moeilik wees om te verstaan. Maar God stel selfs nou baie belang in elke aangeleentheid wat jou lewe raak: werk, familie, kinders, verhoudings, gesondheid. Hy is waarlik begaan oor jou; jy maak vir Hom baie saak.

“Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in” (Hebreërs 10:35). God sê, “Hou vas aan jou vertroue, want Ek is ‘n beloner.” Eenvoudig gestel: “Dit betaal om vas te hou.” “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).

Wil jy Christus werklik behaag? Gee Hom dan al jou vertroue. Hou vas en moenie twyfel nie. En onthou sy belofte aan jou:

“En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe” (Hebreërs 10:38–39).