God Sal Nooit Sy Mense Verlaat Nie

David Wilkerson

“Want die Here het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei” (Psalm 37:28).

In Lukas 22 het Jesus ‘n ernstige waarskuwing gerig aan waarskynlik sy mees toegewyde volgeling. Christus het die apostel Petrus eenkant geroep en vir hom baie duidelik die volgende gesê: “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie” (Lukas 22:31–32).

Baie min Christene sal verbaas wees dat Satan Petrus wou toets, want die Skrif stel Petrus as ‘n leier tussen die dissipels voor. Vir die meeste Bybellesers, is dit geen wonder dat die duiwel God se toestemming wou hê om teen hierdie moedige dissipel te kom nie. Die Skrif maak dit duidelik dat Satan se hoofdoel was om die geloof van Jesus se dienaars te vernietig. En in Jesus se binnekring van twaalf, staan Petrus uit as ‘n man wat ywerig was om sy geloof in Christus uit te leef.

Daar is egter iets oor hierdie gedeelte wat baie Christene verbasend sal vind. Dit is die volgende: Die Here het Satan toegang tot Petrus gegee om hom te toets! Ja, ons hemelse Vader het toegelaat dat hierdie kosbare dienaar kwesbaar geword het vir die duiwel se liste.

Dink daaraan: Jesus het reeds Petrus se verklaring van geloof geneem as die fondament waarop Hy sy kerk sou bou. Christus het nou sy eie woorde in gedrang gebring deur Petrus te onderwerp aan die Satan se vurige pyle. En ten spyte van Petrus se groot geloof, weet ons dat hy ‘n man vol gebreke was.

Wat as Petrus die toets gedruip het? Hoe kon Christus sy kerk bou op die woorde van iemand wat kwesbaar vir die Satan se aanvalle was? Verder, hoe kon ‘n liefdevolle God sy geliefde dissipel onderwerp aan so ‘n aanslag? Dit is wat baie Christene kommerwekkend vind.

Vir sommige gelowiges, maak hierdie feit oor ons hemelse Vader nie sin nie.

Vir baie in die kerk, is dit eenvoudig net te moeilik om hierdie feit oor ‘n liefdevolle Vader te aanvaar. Die Skrif wys egter vir ons keer op keer, dat dit wat met Petrus gebeur het, ook met baie ander getroue geliefdes van die Here gebeur.

By voorbeeld, dit is presies wat met Job gebeur het. Dink aan alles waardeur hierdie regverdige man moes gaan: hy het al sy besittings verloor, sy huis en selfs sy kosbare kinders. Dit is geen wonder dat toe Job hierdie angsvolle verliese beleef het, was sy goddelike vriende stomgeslaan. Hulle kon eenvoudig nie die idee aanvaar dat God die Satan toegelaat het om een van sy getroue dienaars so erg te beproef nie. In hulle gedagtes was hulle doodseker dat Job hierdie aaklige verliese op homself gebring het.

Tog was niks verder van die waarheid af nie. In die eerste hoofstuk van die boek van Job, het Satan die hemel betree om God se toestemming te kry om Job te toets. En God het dit gegee! Hy het die duiwel toestemming verleen om ‘n regverdige man deur sulke folterende beproewings te laat gaan, dat dit hom tot by die uiterstes van sy geloof geneem het.

Geliefde, in elke geval maak die Bybel dit baie duidelik: Die enigste manier waarop die duiwel ooit toegelaat word om die geloof van enige dienaar van God te toets — insluitende die regverdige Job en ywerige Petrus — is deur die uitdruklike toestemming van die hemelse Vader. Ons weet dat God nooit verander nie, dat sy Woord gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is (sien Hebreërs 13:8). Daarom kan ons seker wees dat wat met daardie geliefde dienaars gebeur het, ook met elkeen wat bely dat hulle Jesus volg, sal gebeur.

Tog, omgekeerd, dink aan hierdie waarheid: Satan kan nie die geloof van enige kind van God skud of toets sonder die Here se toestemming nie. Wat sê dit vir ons? Eenvoudig die volgende: God het ‘n doel en plan agter elke beproewing wat Satan in ons lewens bring.

Inderdaad, toe Jesus hierdie waarskuwing aan Petrus gerig het, het Hy hom bemoedig met hierdie ongelooflike woorde: “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie” (Lukas 22:32). Dit is duidelik dat Christus geweet het dat Petrus deur hierdie toets sou kom met sy geloof in een stuk. Dit wys dat Jesus ‘n spesifieke plan vir Petrus se lewe gehad het deur die ernstige beproewings wat hy sou trotseer.

Dieselfde is waar vir ons vandag. Jesus se belofte om vir sy dissipel te bid, was nie net vir Petrus gemaak nie, maar vir almal wat Jesus in die daaropvolgende geslagte sou dien. Ons Here het ‘n plan om elke beproewing waardeur ons gaan te gebruik.

Dink aan die talle maniere waarop die Skrif Christus se waarskuwings in hierdie gedeelte weerspieël.

Openbaring vertel vir ons dat Satan in hierdie laaste dae met woede gekom het, omdat hy net ‘n kort tyd oor het. En op hierdie oomblik is hy besig met ‘n volskaalse aanslag teen die heiliges: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

Ons word vertel dat ons vyand, Satan, rondloop soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om te verslind: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Kortliks, die duiwel se doel is om die geloof van God se uitverkorenes te verslind en in te sluk.

Net so, word ons vertel dat Satan soos ‘n dief kom teen almal wat glo: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes” (Johannes 10:10). So ‘n dief steel nie net van sy slagoffers nie, maar wil hulle geloof heeltemal uitwis.

Ten slotte word ons vertel dat Satan ‘n riviervloed teen God se mense bring, waardeur hy probeer om ons geloof met verskriklike vrees en oorweldigende aanslae weg te voer: “En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier” (Openbaring 12:15).

Dit is alles ontnugterend om aan te dink. Dit is duidelik dat Petrus Christus se gebed nodig gehad het, sodat sy geloof ongeskonde kon bly. Maar dit het gelyk of Petrus ‘n dowe oor gehad het vir Jesus se waarskuwing.

In sy heldhaftigheid, was Petrus oortuig dat sy geloof alle aanvalle van die Satan sou kon deurstaan.

Die meeste Christene onthou hoe Petrus geroem het in sy eie geloof: “Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan” (Lukas 22:33). Wat Petrus hier so selfvoldaan sê, mag oorkom as geestelike durf. Maar in der waarheid, verteenwoordig dit ‘n soort vleeslike astrantheid wat aanleiding gegee het tot Paulus se waarskuwing aan die kerk: “Daarom wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korinthiërs 10:12).

Volgens Paulus, moet ons altyd ‘n nederige houding handhaaf wanneer dit by die geestelike stryd kom. Judas weerspieël dit wanneer hy skryf: “Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering, durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou’” (Judas 9). God se Woord maak die noodsaaklikheid van sulke nederigheid duidelik.

Ten spyte hiervan, mis baie Christene dit egter steeds. Dikwels hoor ek wat gelowiges sê, “Ek is bereid om ‘n martelaar te wees. Dit maak nie saak wat ek moet trotseer nie. Ek is gereed om vir die Here te sterf.” Petrus het net so geroem. Tog, toe sy uur aangebreek het, was hy nie daarop voorbereid nie. Net toe Petrus gekonfronteer is met die werklike vooruitsig om vir Jesus te sterf, het hy iets gedoen wat hy nooit gedink het hy sou doen nie. Hy het die Here verloën.

Te midde van hierdie krisis, toe Petrus die geleentheid kon gebruik om sy geloof in Jesus te verklaar, het hy gevloek. In daardie donker oomblik van vrees en angs, het hierdie dissipel paniekbevange vir almal rondom hom geskree, “Ek ken die man nie!” Wat ‘n verwoestende oomblik moes dit nie vir Petrus gewees het nie. Die dapperste van al die gelowiges het geval tot die uiterste lafhartigheid, terwyl hy vir sy lewe gevrees het.

Ek is oortuig dat die meeste Christene glo dat hulle nooit dieselfde sonde sal doen as wat Petrus hier gedoen het nie. Hulle vertel hulleself dat hulle verhewe bo so ‘n ernstige sonde is. Hulle verbeel hulleself dat wanneer die oomblik aanbreek, hulle Jesus tot die dood sal volg. Ek het iets om te sê vir elke derglike gelowige: Daar is nie ‘n enkele volgeling van Christus wat verhewe bo Job of Petrus se mislukkings is nie. Wanneer ons geteister word deur ontstellende hartseer en beproewings van die bose, dan word ons almal kwesbaar vir ‘n groot geloofskrisis, net soos met hierdie mans gebeur het.

Dit is nie my bedoeling om enigiemand af te skrik met hierdie stelling oor ons vermoë om te misluk nie.

Ek maak eenvoudig hierdie stelling, omdat dit ‘n baie ernstige saak is. Die Bybel maak dit duidelik. En ek sien baie gelowiges rondom my op die randjie van ‘n soortgelyke mislukking.

Op hierdie oomblik, weet ek van kosbare dienaars, wie se geloof geskud word. Ek praat van mans en vroue met groot geloof, waarvan sommiges predikers van genesing en wonderwerke is. Hulle is heiliges wat ek nooit gedink het die getrouheid van God in twyfel sou trek nie. Ek was oortuig, “As enigiemand dit deur enige storm sal maak, dan sal dit hierdie dienaars wees wat dit kan doen.”

Maar nou twyfel sommige gelowiges dat God selfs gebede verhoor. Eens wat hulle vertroue in Hom so sterk, dat dit geloof in ander opgewek het. Maar nou, soos Job en Petrus, het daar swaarkry oor hulle gekom wat hulle nooit gedink het moontlik is nie. En hulle vind hulleself oorweldig deur die felheid van hulle beproewings en dit laat hulle twyfel.

Toe Petrus hierdie soort aanslag verduur het, het Jesus vir hom gebid. Vir my was die volgende vers een van die mees bemoedigende verse in die hele Skrif: “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie” (Lukas 22:32). Dink aan wat Jesus hier vir Petrus gesê het. Hy het hom verseker dat dit nie saak maak wat hy mag beleef nie — dit maak nie saak waardeur hy gaan nie, insluitende sy verloëning van Christus — sy geloof sou nie ophou nie.

In werklikheid was Petrus nie deur God verlaat nie — nie vir een oomblik nie. Hy was selfs nie verlaat nadat hy Jesus verloën het en van die toneel gevlug het nie. Hierdie eens vreeslose dissipel, gebroke en beangs oor sy mislukking, was nooit vir een oomblik alleen nie. En geliefde, ons ook nie.

Dit maak nie saak wat jou beproewing is nie – watter pyn jy verduur, watter toets jy beleef en watter mislukking jy oor bekommerd is nie.

Op hierdie oomblik — te midde van jou storms, jou pyne en jou swaarkry — bid Jesus vir jou. Hy bepleit jou saak. En Hy sal jou nooit verlaat nie.

Dink aan die aansporing wat Jesus vir Petrus saam met die waarskuwing gegee het: “En as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk” (Lukas 22:32). Dit kom net na Jesus se waarskuwing aan Petrus dat hy gesif sou word. Inderdaad, dit is dieselfde vers!

Geliefde, daar is gerusstelling en bemoediging vir elkeen van ons. Die Here van die skepping hou ons in sy hande. Hy sê vir ons, net soos vir Petrus, “Staan nou op. Moenie op jou mislukkings fokus nie. Gaan liewer en laat my skape wei. Waarsku my kosbare kinders oor die vyand se planne teen hulle. En vertel hulle dat Ek hulle tydens elke beproewing in my hande vashou.”

Kortliks, Petrus het werk gehad om te doen. En hy was toegerus met eerstehandse ervaring om die boodskap waarvoor hy geroep was, te verkondig. Jy sien, Jesus het sy kerk vertel dat ons nie kan bekostig om onkundig oor die Satan se planne te wees nie. Petrus was in staat om met God se kosbare kinders te praat, nie net oor die beproewings wat hulle sou beleef nie, maar ook oor die getroue God wat hulle deur die moeilikste tye sou dra.

Ons moet ten volle bewus wees van die vyand se planne en metodes. En die magtigste wapen in Satan se arsenaal is ‘n leuen — ‘n bose leuen teen ons, uit die mond van die meester leuenaar! Wat is sy grootste leuen? Dat God nie getrou aan sy mense is nie.

Net soos hy deur die hele geskiedenis gedoen het, het Satan God se toestemming gevra om ons vandag te sif. Hy wil ons huise, ons huwelike, ons kinders, ons gesondheid, ons werk en loopbane en ons geloof in die Here aanval. Dit is die rivier waarvan Openbaring praat: ‘n riviervloed van angswekkende beproewings teen die getroues.

Jy mag wonder: “Presies hoe sleg kan dit vir ‘n gelowige word? Wat doen God wanneer Hy toestemming gee dat ons gesif moet word?” Ek verwys jou na Hebreërs 11 waar ons lees van die menigte van beproewings wat deur die helde en martelare van die geloof verduur is. Die Skrif sê van hulle, “En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie” (Hebreërs 11:39).

Dieselfde soort diep lyding en swaarkry wat daardie martelare gely het, gebeur met gelowiges reg deur die wêreld vandag.

Ek dink aan menigtes van Irakse Christene in die oorlogsone wat onder ernstige bedreiging is weens hulle geloof. Baie van hierdie geliefde heiliges moes uit hulle huise, werke en kerke vlug vir hulle lewens. Om te oorleef moes hulle vlug na Sirië, Jordanië en ander omringende lande, wat vyandig teenoor Christenskap is. Hierdie Irakse gelowiges het geen werke of huise en geen toevlugsoord waarheen hulle kan vlug nie. Hulle moet daagliks vir kos bid. Baie is doodgemaak. Tog, bedien hulle steeds die evangelie in die vreemde nasies waarna hulle verban is tydens die oorlog.

Ek het verslae van sommige van hierdie Irakse gelowiges ontvang. Hulle skryf, “Broer David, moeilike tye is nie aan die kom nie. Ons beleef al vir jare moeilike tye.” Omdat hulle swaarkry al vir geslagte lank geken het, het hulle geleer om aan die geloof vas te hou. Soos Petrus, is hulle met krag toegerus om Christus se waarskuwing aan sy kerk te lewer.

Ek glo werklik dat die meeste goddelike mense in die wêreld vandag onder die hel se aanvalle deurloop, terwyl hulle duiwelse en skynbaar hopelose omstandighede moet verduur. Wat van jou? As jy nie ‘n beproewing beleef nie, dring ek by jou aan: Wees baie dankbaar. Wees ook nederig en moet nooit in jou eie krag of geloof roem nie.

Satan wag totdat die beproefde gelowige moeg word en van alle krag en uithouvermoë gedreineer is. Hy wag totdat alle gebede lyk of dit onbeantwoord bly – totdat alles hopeloos lyk en ons buite raad is. Dit is wat met Petrus gebeur het toe hy gesien het hoe sy Meester voor die Joodse Raad verneder word. Dit is wat met Job gebeur het toe hy gedwing was om te bepeins oor die verlies van alles wat vir hom kosbaar was.

Wanneer die vrae begin opkom in die gedagtes van die beproefde siel – “God, waar is U? Waarom word my gebede nie beantwoord nie?” — dan is dit die oomblik wanneer Satan kies om sy aaklige leuen in ons gedagtes te plant: “God het jou verlaat. Hy het jou begewe. Hy hoor jou nie.”

God het jou nie verlaat nie — en Hy sal nooit nie. Inderdaad, op hierdie oomblik vertel Hy vir jou: “Ek verseker jou dat Ek jou nooit sal verlaat nie. Staan nou op, laat my skape wei. Wees waaksaam teen die Satan se planne teen jou. En weet, Ek is met jou tot die einde van die wêreld.” Amen!