Die Geheim vir Krag in Onseker Tye

God het ‘n heilige oorblyfsel van gelowiges, wat geleer het wat die geheim is om geestelike krag te kry en te behou in hierdie onseker tye.
David Wilkerson

Wanneer die wêreld lyk of dit in beroering gebring word, sal daar ‘n volk opstaan wat weet hoe om hulle krag te midde van dit alles te behou. Hulle is mense, wat tot die Here nader in tye van krisis.

Volgens die Skrif, maak dit nie vir hierdie mense saak of die maan en sterre uit die hemel val nie, of as die berge bewe en in die see val nie. Hulle sal steeds geloof in die Here behou om hulle te red, en hulle sal nie toelaat dat hulle geloof geskud word deur enigiets wat kom nie.

In Psalm 31, stel Dawid ‘n frase bekend aan God se mense: “die skuilplek van u aangesig.” Hy skryf:

“o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders! U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die sameswering van mense; U steek hulle weg in ‘n hut vir die twis van die tonge” (Psalm 31:20-21, kursief myne).

Dawid sê hier iets baie deurslaggewend vir die liggaam van Christus.

Dawid vertel vir ons in wese: “Alle ware krag kom wanneer ons tot die Here nader. Inderdaad, die maatstaf van ons krag is eweredig aan ons nabyheid aan Hom.”

Eenvoudig gestel, hoe nader ons aan Jesus is, hoe sterker gaan ons wees. In werklikheid, al die krag wat ons ooit sal nodig hê, sal kom deur ons verskuilde gebedslewe.

Die Skrif sê dat ons eevoudig na Jesus moet nader en Hy sal tot ons nader. En deur tot Hom te nader, sal ons ‘n nuwe bron van daaglikse krag kry. Dit is die “skuilplek van sy teenwoordigheid” waarna Dawid in Psalm 31 verwys.

Jy sien, die duiwel het ‘n groot vrees vir die Here se teenwoordigheid in ons lewens. Hy bewe aan die gedagte van ‘n gelowige se nabyheid aan Jesus. Wanneer sy duiwelse hordes jou sien bid en nader tot in die teenwoordigheid van jou hemelse Vader, dan neem die hel kennis daarvan:

“Die Here is met hierdie gelowige. Hy het die goddelike teenwoordigheid verkry. Wat kan ons nou teen Hom doen?”

Om hierdie rede, sal Satan enigiets in sy vermoë doen om jou te beroof van die Here se teenwoordigheid. Dit is waarom hy soveel keer probeer om jou siel besig te hou met bekommernisse oor die toekoms.

Eenvoudig gestel, die vyand van jou siel wil jou dreineer van alle krag. Daarom sal hy enigiets wat hy kan, selfs “goeie” dinge, gebruik om jou daarvan weg te hou om tyd alleen met Jesus te spandeer. Hy weet dat jou tyd saam met Christus jou in staat stel om vrees en angs te weerstaan, selfs in kommerwekkende tye.

Die hele wêreld is daarvan bewus dat ons baie moeiliker tye beleef as ooit tevore in die geskiedenis.

Terwyl ek hierdie boodskap skryf, erken die wêreld uiteindelik dat ons op ongelooflike verandering afstuur. As gelowiges, kom elkeen van ons te staan voor ‘n belangrike vraag: “Hoe naby is ek aan Jesus in hierdie uur?”

Ek glo dat wanneer alle dinge deurmekaar is, is die feit dat die Christen algehele vrede het, die kragtigste getuienis. Terwyl die res van die samelewewing paniekbevange is – flou val en in sommige gevalle sterf van vrees – sal die biddende gelowige voortdurend sterker word. Dit sal so wees omdat daardie goddelike dienaar meer en meer bemoediging van die Heilige Gees ontvang. Die Bybel praat van dit wat nie geskud kan word nie!

As jy in staat wil wees om standvastig in die storm te wees, is die Skrif se raad eenvoudig: Jy moet die Here se teenwoordigheid in jou daaglikse lewe besit.

Hoeveel kwaliteit tyd moet jy alleen saam met Jesus spandeer? Groei jy nader aan Hom met elke dag wat verbygaan? Bid jy sonder ophou – dit is, om stilweg tot Hom uit te roep dwarsdeur die dag en aand? Hy belowe om jou te hoor roep, selfs wanneer ons in swakheid uitroep.

Jy mag vir my sê, “Ek dink ek is goed voorbereid vir enige storm. Buitendien, ek is ‘n getroue getuie vir die Here. Ek skaam my nie vir die evangelie nie. En ek leef ‘n rein, morele lewe. Ek gee tiendes, lees my Bybel en ek woon gereeld kerk by.”

Dit is moontlik om ‘n gelowige te wees en tog ver van die Here af te wees. Die feit van die saak is, dat as jy nie tyd met Hom spandeer nie – as jy nie jou krag van Hom kry nie – sal jou hart flou en uitgeput word. Jou woorde sal min of geen krag of resultate hê nie en jou getuienis sal leweloos wees. Waarom? Omdat jy weggedryf het van jou bron van krag.

Moenie die fout maak om jou wandel met Christus te meet aan jou goeie werk in die bediening, in plaas van aan sy teenwoordigheid in jou lewe nie.

Jy kan eenvoudig nie die Here meer behaag – meer vervuld wees of in die middel van sy wil wees – as deur die eenvoudige daad van om in gebed tot Hom te nader nie.

Ons weet dit van die apostel Paulus se lewe. Paulus het baie moeilike, swaar tye beleef. Hierdie goddelike man het geweet wat dit beteken om alles te verloor: om honger en dors te wees, om gebrek te lei, om in armoede te leef, om in die steek gelaat te word, om vasgeketting te lê in ‘n donker, klam tronksel, alleen te wees en verlaat te word deur selfs sommige van sy naaste vriende.

Paulus het nie flou geval of moedeloos geword nie. Inderdaad, die apostel het sterker geword deur elke beproewing. Hoe kon dit wees? Dit het gebeur omdat Paulus geweet het wat die geheim was om ware krag kry en te behou.

Paulus het getuig: “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee...En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid!” (2 Timótheüs 4:16-18, kursief myne).

Toe Paulus die woord maar in hierdie gedeelte gebruik het, het hy eenvoudig bedoel, “ten spyte van.” Hy vertel vir ons, “Here het my bygestaan en my krag gegee ten spyte van al die moeilike tye wat ek beleef het.”

Paulus het geweet dat as hy tot die Here nader, sou Christus hom eer deur saam met hom te staan.

Die apostel Paulus het effektief verklaar: “Oral waarheen ek gegaan het, was daar moeilikheid en benoudheid. Tog, toe ander my teleurgestel het – toe ek alleen was en net swaar tye kon sien – het die Here na my gekom en my met sy krag vervul. Hy het my van my vrese gered. Hy het my die versekering gegee dat Hy my van elke bose werk sal bewaar en dat Hy sal aanhou om my te bewaar totdat ek in die hemel kom.”

Paulus was verheug om te sien dat sy geestelike kinders hierdie idee van “ten spyte van” in hulle eie lewens begryp het. Jaar vir jaar, het Hy gesien hoe die Here hulle versterk om hulle in staat te stel om standvastig te wees te midde van selfs die moeilikste van tye.

Geliefde, jy kan nie hierdie soort versekering en krag op enige ander plek as in die teenwoordigheid van die Here self kry nie. Ons weet dat Paulus in voortdurende gemeenskap met Christus was deur gebed en dat dit die rede is waarom slegte nuus of beproewinge hom nie kon skud nie. Elke keer wat Paulus nog ‘n verskriklike beproewing beleef het, het hy na gebed gevlug, na Jesus gehardloop om ontslae te raak van die las in sy hart.

Die skrywer van Hebreërs prys die getuienis van daardie gelowiges wat deur getroue gebed versterk was: “Maar...julle...het...’n groot lydensworsteling deurstaan...omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het...en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar” (Hebreërs 10:32-34).

Dink daaraan: Die mense wat hier beskryf word, het hul huise, inkomste en alles verloor. En tog kon hulle saam met hul pastoor, Paulus, getuig, “Maar, ten spyte van die moeilike tye – ten spyte van elke beproewing wat oor ons pad gekom het – het die Here by ons gestaan. Hy het daagliks na ons gekom ons al die krag te gee wat ons nodig gehad het om te oorwin.”

Liewe heilige, laat my jou vra: Het jy ‘n maar in jou lewe?

Het jy by die plek gekom waar jy kan sê, “Ten spyte van dit alles, weet ek dat Jesus my in swaar tye sal bewaar. En Hy sal my alles gee wat ek nodig het omdat Hy my bron van krag is.”

Paulus het hierdie geheim van krag by sy bekering geleer. Nadat hy op die pad na Damaskus verblind is, het hy drie dae gespandeer om te vas en te bid, terwyl hy vasbeslote was om die werklike teenwoordigheid van die Here, wat Homself aan hom openbaar het, te ervaar.

Dit was toe dat die Here ‘n gelowige genaamd Ananías gelei het, “Gaan, bedien Paulus.” “Want kyk, hy bid” (Handelinge 9:11). Net daarna sê die Skrif van Paulus, “Maar Saulus het al meer krag ontvang” (Handelinge 9:22).

Ons sien hierdie waarheid geïllustreer in ‘n gelykenis van Jesus oor die man wat brood soek by sy vriend teen middernag.

Die man het self geen brood gehad nie, maar hy het geweet dat sy vriend al die brood gehad het wat hy nodig het. Daarom het hy aangehou klop aan die deur totdat sy vriend opgestaan het, die deur oopgemaak het en aan hom brood gegee het.

Geliefde, daardie vriend met die brood is Jesus. Hy is nader as ‘n broer en Hy sal ons met alles voorsien wat ons nodig het. Dit sluit nie net kos, klere en skuiling in nie (sien Matthéüs 6), maar ook bemoediging, krag en vrede.

Die Bybel maak dit alles so duidelik: Daar is ‘n sekere, spesifieke voorbereiding wat ons almal nou moet doen, en dit is om te begin om ons geloof en geestelike krag op te bou. Die enigste manier om dit te doen, is om tot Jesus in gebed te nader. Ons sal eenvoudig nie die krag wat ons nodig het op enige ander manier vind nie.

Dawid gee ons opdrag, “Die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders...U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig” (Psalm 31:20-21). Dit is tyd om onsself saam met Hom af te sonder en ons harte daagliks voor Hom uit te stort.

Wanneer die woede van die storm toeslaan, sal elkeen van ons ons eie bron van krag nodig hê.

Wanneer ons in die middel van die storm is, sal nie een van ons dit kan maak op die krag van enigiemand anders nie. Ons sal nie in staat wees om krag van ons maat, ons pastoor, ons vriend of selfs van ‘n ware profeet van God te kry nie.

Ons sien dit uitgebeeld in Jesus se gelykenis van die dwase maagde. Toe die maagde probeer het om olie van hulle wyse eweknieë te leen, was vir hulle gesê, “Gaan koop olie vir julleself. Ons het nie genoeg vir beide ons en vir julle ook nie.”

Hoor jy wat Jesus in hierdie gelykenis sê? Hy waarsku al sy kinders: “Niemand anders het genoeg geloof om jou te dra nie. Jy moet jou eie bron van geloof en vertroue in my hê.”

Geliefde, dit is baie eenvoudig: Jy het jou eie bron van krag nodig. Jy kan dit nie kry deur net na preke en bandopnames te luister nie. En jy kan dit nie net kry deur betrokke te wees by gemeenskaplike aanbidding of deur goeie werke te doen nie. Jy kry dit deur alleen saam met die Here in sy teenwoordigheid te wees.

Ek praat met elke Christen: Die tyd het vir jou gekom om tot Jesus te nader soos nog nooit tevore nie.

Jy het sy teenwoordigheid meer nodig as ooit tevore.

Die Psalmis sê van diegene wat voor die Here in Sion verskyn: “Hulle gaan van krag tot krag” (Psalm 84:7). Ons word vertel, “Die biddende gelowige sal nie beswyk in moeilike tye nie. Hy sal sterker en sterker word omdat hy op God vertrou eerder as op seuns van mense.”

Ek sluit af met hierdie kragtige woorde uit Jesaja:

“Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg nie of mat nie;

“Daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoede krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.

“Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:28-31).