Liefde vir die Verlorenes

David Wilkerson

Daar word so baie gepraat oor die verskriklike situasie waarin die wêreld is. Die een nasie na die ander kom in die moeilikheid en is op die rand van ‘n ekonomiese ineenstorting. Tog, te midde van al die vrese en onrus wat die wêreld knel, het God steeds verlore siele lief en red hulle.

Sy wonderlike werk van verlossing verander nooit nie. Dit word nie deur die ekonomie belemmer nie. Die Heilige Gees se inwerking en oortuiging van sonde word nie verhinder deur toestande in Wall Street of kwynende globale finansies nie. God se reddende mag was nog nooit beperk deur krimpende bankrekeninge nie.

Die feit bly staan, ons Here verander nooit sy beloftes nie. Hulle is altyd ‘ja en amen,” te alle tye en in alle omstandighede. God het nie belowe om in al ons behoeftes te voorsien nie tensy ons werkloos is. Hy het nie belowe om Jehovah Jireh, ons Voorsiener, te wees nie, tensy ons ekonomiese tye vreesaanjaend raak.

Ons Here se beloftes verander nooit. En dit sluit sy belofte oor die redding van die verlorenes in.

Toe God ons beveel het om die hele wêreld in te gaan en die wat verlore is, te wen, het Hy nie ‘n vrystellingsklousule ingesit nie. Hy het nie gesê, “Verkondig die evangelie van my Seun Jesus Christus aan alle nasies — behalwe in moeilike tye” nie. Hy het nooit gesê, “Glo vir die redding van talle — behalwe wanneer die wêreld grootliks geskud word” nie.

Dank God, Hy het nooit gesê dat die wêreld te boos, te hardvogtig, te oorgegee aan die wellus is, om bereik te word deur sy Goeie Nuus nie. Op geen tydstip in die geskiedenis het die Here ooit sy liefdevolle genade beperk nie – en Hy sal ook nie. Huidiglik, is Amerika en die res van die wêreld steeds die oordeel gespaar — indien daar egter ware berou is. Natuurlik sal sulke berou ‘n groot verootmoediging en massa bekering terug na die Here vereis. Maar ons God het nog nooit sy wonderlike aanbod van genade herroep nie.

Inderdaad, die Here het voorsiening gemaak dat niemand verlore hoef te gaan nie. Die Skrif vertel ons dat God geen vreugde vind in die dood van die goddelose nie. In teendeel, Hy het sy eie Seun gegee, sodat niemand verlore mag gaan nie en almal die ewige lewe kan hê.

Ten spyte van God se groot gawe, haat die wêreld die Christus, wat hulle liefhet.

Jesus het verklaar dat Hy gekom het om die wat verlore is te soek en te vind. Hy het die krag om die winde en die golwe stil te maak, Hy kon vuur uit die hemel stuur om die goddelose te vernietig, Hy het geregtigheid vergestalt — maar dieselfde Jesus het as ‘n nederige dienskneg gekom.

En Hy het genesing na die mense gebring. Christus het geduldig geluister toe gebroke, lydende menigtes vir verlossing van hulle verdrukkings gepleit het. Hy het blinde oë geopen. Hy het kreupeles laat loop. Hy het die siekes gesond gemaak. Hy het stommes se tonge losgemaak en dowe ore oopgemaak. Jesus het selfs die dooies opgewek. Eenvoudig gestel, Jesus het die gevangenes vrygemaak net soos Hy gesê het Hy sou. Hy het getrou elke vorm van slawerny wat Hy teëgekom het, verbreek.

In werklikheid, het geen mens ooit die verlorenes meer liefgehad as Jesus nie. Hy het oor hulle getreur terwyl hulle soos uitmekaar gejaagde, verwarde skape was wat ‘n herder nodig gehad het. Hy het geween oor hulle geestelike blindheid. En Hy het sy lewe vir hulle uitgestort aan die kruis. Geen persoon in die geskiedenis moes meer geliefd en gerespekteerd gewees het nie. Christus moes deur almal geëer en gerespekteer word. Maar ten spyte van al sy uitstortings van opofferende liefde, het die wêreld Hom sonder oorsaak gehaat.

Daar was derduisende redes om Jesus lief te hê en nie een enkele rede om Hom te haat nie. Wat het Hy gedoen dat Hy so gehaat en verag sou wees? Die evangelies praat van Christus as liefdevol, geduldig, lydsaam, vergewensgesind, vol teerheid en genade en onwillig dat enigiemand sou verlore gaan. Hy word genoem ‘n herder, ‘n leermeester, ‘n broer, ‘n lig in die duisternis, ‘n geneesheer, ‘n advokaat en ‘n versoener. Hy het rondgegaan en net goed gedoen. Niemand het ooit enige rede gehad om Hom te haat nie. So, waarom dan die diep, venynige haat teenoor Christus? Waarom die geweld teen Hom en sy naam?

Jesus was deur die wêreld gehaat omdat Hy as ‘n lig gekom het om die wêreld van duisternis te red. Johannes het geskryf, “En dit is die oordeel [die rede waarom hulle Hom haat]: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf [ontdek] mag word nie” (Johannes 3:19–20).

Jesus het van Homself verklaar, “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12). Dit verklaar die een rede waarom Jesus so gehaat was. Sy evangelie is ‘n wekroep tot die wêreld: “Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Romeine 13:12).

Hier is die wêreld se rede waarom hulle Christus haat, toe en nou.

Jesus het belowe om sondaars van die kettings van duisternis te verlos, om hulle vry te maak van sataniese magte. Maar hulle wou nie dit hê nie. Waarom? Wat ‘n Christen as vryheid sien, sien die wêreld as gevangenskap.

“Vryheid? Wat se vryheid?” vra hulle wanneer hulle vryheid in Christus aangebied word. “Ek is reeds vry. Ek is vrygemaak van alle beperkinge en alle seksuele taboes. En ek is vrygemaak van die slawerny van die Bybel. Ek is vry om my eie god van my eie keuse te dien en in my geval, is dit geen god nie.”

Die eenvoudige werklikheid is dat die wêreld die dinge van die wêreld liefhet. En hulle geniet die plesiere van sonde. Soos Jesus dit stel, hulle verkies die duisternis. Daarom, soos Jesus sy dissipels gewaarsku het, “Omdat ek julle uit die wêreld uitverkies het, gaan die wêreld julle haat net soos wat hy My gehaat het.”

“As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19). Waarom is dit so? Waarom die haat teenoor ons vir die eenvoudige rede omdat ons die Here liefhet? Jesus verduidelik, “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het” (Johannes 5:18).

Dit is waarom die samelewing ‘n massiewe poging van stapel gestuur het om alles wat met Jesus te doen het, uit te wis...waarom daar minagting vir sy volgelinge is... waarom howe probeer om die noem van sy Naam te verbied...waarom daar soveel afkeur en selfs woede is teen diegene wat aanspraak maak dat die Bybel hulle morele kompas is. Dit het alles te doen met ons sending as sy ligdraers.

Dink daaraan: As Christus se getuies, word ons geroep om ‘n skynbaar onmoontlike taak te verrig. Ons vra die wêreld om die dinge wat die kosbaarste vir hulle is, neer te lê. In hulle oë, lyk die Christelike wandel — ‘n lewe van reinheid en heiligheid — vir hulle soos ‘n vorm van slawerny. Ons idee van hemel lyk vir hulle meer soos hel. Wanneer hulle ons hoor praat van die evangelie, is dit ‘n ergernis teen hulle lewenstyl. Christus se evangelies roep hulle om hulle te bekeer van die sondes wat hulle liefhet, om hulle te bekeer van hulle verwerping van die God wat vir hulle aan die kruis gesterf het. Dit roep om ‘n lewe van heiligheid, terwyl hulle vir jare probeer het om hulle gewetens stil te maak en enige aanduiding dat daar ‘n dag van afrekening kom, te smoor.

Christus se evangelie vertel hulle dat hulle eie persoonlike goedheid nie die ewige lewe kan verdien nie. Dit vra die self-gemaakte mens om vir homself en sy ambisies te sterf en sy lewe vir ander te gee. Dit verklaar dat sy eie sin van integriteit niks beteken in God se oë nie. So ‘n evangelie is ‘n bedreiging vir sy waardevolle pêrel: sy persoonlike prestasies, die dinge waaraan hy lank en hard gewerk het om te verkry. As jy vir hom sê dat sy geregtigheid nie verlossing kan bereik nie, sal hy jou verag.

By die Nagmaal het Jesus gesê, “’n Nuwe gebod gee ek julle” (Johannes 13:34).

Tydens sy laaste oomblikke saam met die dissipels voor sy kruisiging, het Jesus gewaarsku, “Sommige van julle sal verwerp word, sommige in die tronk gooi word, sommige sal doodgemaak word. Almal van julle sal vervolg word” (sien Johannes 16:2). Wat ‘n afskeidsboodskap. Die dissipels sou gehaat word en as die uitvaagsels van die aarde beskou word!

Jesus het egter op daardie oomblik ook vir hulle ‘n woord van leiding gegee. Wat was sy laaste opdrag? Dit was hoe om hulle generasie te bereik nadat Hy weg was. Hierdie woord van leiding het niks te doen gehad met metodes van evangelisasie nie. Jesus het reeds aan die dissipels gesê dat hulle die hele wêreld sou ingaan en die evangelie verkondig, en dat hulle die krag van die Heilige Gees sou nodig hê om dit te doen. Daardie twee dinge was reeds vir hulle duidelik.

Toe het Hy gesê, “Ek gee julle ‘n nuwe gebod.” Jesus het eenvoudig vir hulle vertel: “As julle hierdie nuwe gebod gehoorsaam, sal alle mense weet wie julle is. En hulle sal presies weet waar julle staan. Hulle mag julle miskien haat. Hulle mag julle dalk fanaties noem en julle uit hulle sinagoges ban. Maar hulle sal weet dat julle Myne is.”

Jesus se bevel aan sy dissipels was as volg: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34, kursief myne). Let op dat dit nie ‘n keuse is nie; dit is Jesus se bevel. En dit is waar elke evangelisasie poging moet begin.

Jy sien, die Skrif maak dit duidelik dat ons die hongeres moet voed en die kerk wil dit altyd getrou doen. Ons is veronderstel om baie goeie werke te doen, waardeur ons Christus vrymoedig verkondig. Maar om deur hierdie “groot duisternis” te dring, moet ons hierdie nuwe gebod van Jesus vasgryp. Waarom is ons gehoorsaamheid aan hierdie gebod noodsaaklik om die duisternis te verbreek? Christus verduidelik: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35, kursief myne).

Volgens Jesus, sal net hierdie spesifieke liefde — ‘n liefde vir medegelowiges — die aandag van ‘n verlore geslag trek. Dit is dieselfde soort selfverloëning, opofferende liefde wat Jesus aan elkeen van ons openbaar. En sulke liefde vir ons familie in Christus kan nie net in woord alleen wees nie, maar dit moet in daad ook toegepas word.

Hierdie gebod bereik twee dinge. Eerstens is dit die enigste manier om te reageer op die haat wat van die wêreld kom: “soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Ons liefde vir mekaar is ‘n toevlug en ‘n veilige hawe vir almal in die liggaam van Christus.

Tweedens, deur middel van hierdie gebod openbaar die Heilige Gees aan ons generasie hulle groot gevoel van behoefte. Waarom is daar so baie jongmense wat hulle oorgee aan sinnelose drankmisbruik? Waarom is daar soveel menigtes wat dwelms gebruik soos nog nooit tevore nie? Waarom is selfmoord aan die toeneem? Die verduideliking is eenvoudig: Orals is mense stukkend. Daar is sonde-siekte onder die massas, met menigtes wat deur leegheid geteister word.

Vandag het mense so min om op te vertrou. Jarelange betroubare instellings verkrummel. Ekonomiese en morele strukture verbrokkel. Daar is geen finansiële of persoonlike sekuriteit nie. Na wie kan mense gaan? Waar kan hulle voorbeelde van ware, blywende liefde kry in so ‘n wankelrige, gevaarlike tyd?

Die wêreld het geïllustreerde preke nodig — magtige persoonlike voorbeelde — van God se liefde.

In Johannes 17:21 het Jesus hierdie gebed gebid: “Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (kursief myne).

Dink daaraan: Selfs in sy laaste uur, het Jesus steeds gehunker na ‘n verlore mensdom. En Hy het aan sy kerk spesifieke voorskrifte gegee hoe om daardie verlore menigtes te wen. Dink aan sy laaste woorde oor die onderwerp: “Wees soos een! Stel alle stryery en verdeeldheid ter syde, sodat die wêreld in My kan glo.”

Jy mag dink. “Dit klink so eenvoudig. Is dit regtig hoe die kerk verharde harte gaan bereik? Dit dit hoe ons veronderstel is om groot duisternis te beveg? Voorsien eenvoudige liefde vir mekaar werklik bonatuurlike krag om haat te bestry?”

Die antwoord is ja, ja en ja, natuurlik! Volgens Jesus, word die kragtige liefde van God baie duidelik aan die wêreld geopenbaar deur onvoorwaardelike liefde onder sy mense.

Op hierdie oomblik, is een van Satan se strategieë teen die kerk om verdeeldheid en twis te plant. Oral waar ek wêreldwyd na die liggaam van Christus kyk, is ek oortuig dat horde demone tussen die kerkmure ingestuur is met ‘n opdrag. En hulle doel is om die liefde van Christene vir mekaar te vernietig.

Die duiwel se strategie is subtiel: Hy bring konflik tussen rasse, en tussen rykes en armes in die liggaam van Christus. Die rassestryd, spesifiek, word wêreldwyd gevoed deur televisie en ander media. Ek het in jare nog nie gesien dat sulke rassehaat verkondig word nie en nou dring dit in tot tussen die mure van God se huis.

Ek dank God dat Times Square Church gestig is met geen kleurgrense nie en geen onderskeid tussen ryk en arm nie. Almal wat by ons deure inkom, word met dieselfde respek en verwelkomende liefde behandel. Ons geniet nou al vir twee-en-twintig jaar God se seëninge en ek glo dit is deels omdat ons Christus se gebod om mekaar lief te hê soos Hy ons liefgehad het, gehoorsaam.

Natuurlik beweer elke Christen dat hulle geen vooroordeel het nie. Maar as ons God nie in hierdie saak gehoorsaam nie — as ons nie tot Hom roep om ons harte te reinig van selfs die geringste saadjie van verdeeldheid nie — sal ons getuienis aan die wêreld sy krag verloor. Ons sal nie in staat wees om impak te maak in die groot duisternis nie. En die getuienis wat God aan ons toevertrou het, sal verlore gaan.

Dit is tragies dat die godsdienstige wêreld al vir eeue lank vedeeld is.

Deur die geslagte heen, het verskriklike verdeeldheid Christene teen mekaar in konflik laat kom. Broer het teen broer te staan gekom, suster teen suster en ganse denominasies is vernietig.

In werklikheid, het ek net my broer lief wanneer ek langs hom kan staan, terwyl ons Jesus saam aanbid. Ek weet dat ek waarlik my broer liefhet as ek met vertroue voor Christus se troon kan staan, met die wete dat ek niks in my hart teen hom het nie. Ek weet dat ek my broer waarlik liefhet, wanneer ek dieselfde liefde vir hom het as wat Jesus aan my bewys het.

Hoe het ons mekaar werklik lief soos wat Christus ons liefgehad het?

Dit gebeur wanneer ons diegene vergewe wat ons seergemaak het, net soos Christus vergewe het.

Dit gebeur wanneer ons uitreik na diegene wat teruggeval het en alles in ons vermoë doen om hulle te herstel.

Dit gebeur wanneer ons ander hoër ag as onsself.

Liewe heilige, ek pleit by jou vandag: Lê alle bitterheid, twis en minagting af. Moenie die seëninge van God in jou lewe en huis verhinder nie. Gehoorsaam sy nuwe gebod aan jou en onthou sy Woord: “Hieraan sal almal weet dat julle myne is — as julle liefde onder mekaar het!” Dan sal die verlorenes God se liefde sien en ken deur sy gehoorsame, vreugdevolle, opofferende mense – die kerk. Amen!